Fotosintese en respirasie

Hoofstuk-oorsig

2 weke

Hierdie hoofstuk dien as 'n inleiding tot en hersiening van fotosintese en respirasie ter voorbereiding van 'n studie van die ekosisteem. Leerders het al reeds in vorige grade fotosintese en respirasie bestudeer. Hulle weet dat respirasie een van die sewe lewensprosesse van lewende dinge is. Hulle is ook in Gr. 5 en 6 al bekendgestel aan fotosintese binne die konteks van groen plante en die voedselketting. In hierdie hoofstuk is die klem op energieverbruik en op hoe stralingsenergie (lig) na chemiese potensiële energie omgesit word en later tydens respirasie vrygestel word. Hierdie konsep is ontwikkel binne die riglyne van die KABV-voorskrifte en sal in die volgende hoofstuk gebruik word as 'n raamwerk om die oordrag van energie in die ekosisteem te verduidelik. Ter inleiding mag onderwysers verkies om die volgende video aan die klas te vertoon:

Hierdie tabelle en hoe om hulle te gebruik word in die Onderwysersgids Oorsig voor in die boek verduidelik. Ons het ook daar verduidelik hoe om die bit.ly skakels na webbladsye en videos te gebruik.

1.1 Fotosintese (3.5 ure)

Take

Vaardighede

Aanbeveling

Aktiwiteit: Die sewe lewensprosesse

Onthou, verduidelik, skryf

Opsioneel (Hersiening)

Aktiwiteit: Vereistes en produkte van fotosintese

Opsomming, verduidelik, skryf

KABV voorstel

Ondersoek: Watter blare fotosintetiseer?

(Toets vir die teenwoordigheid van stysel)

Hipotese-ontwikkeling, ondersoek, waarneming, meting, analise, skryf, groepswerk

KABV voorstel

Ondersoek: Hoekom word piesangs soeter soos hulle ryper word?

Hipotese-ontwikkeling, ondersoek, waarneming, meting, rekordhouding, analise, skryf, groepswerk

Opsioneel

1.2 Respirasie (2.5 ure)

Take

Vaardighede

Aanbeveling

Aktiwiteit: Bevat jou asem koolstofdioksied?

(Toets vir die teenwoordigheid van koolstofdioksied deur helde kalkwater te gebruik)

Ondersoek, waarneming, meting, rekordhouding, analise, skryf, groepswerk

KABV voorstel

Aktiwiteit: Vereistes en produkte van respirasie

Verduidelik, skryf

KABV voorstel

  • Wat dryf lewe op Aarde en in ekosisteme aan?
  • Hoekom fotosinteer groen plante terwyl geen ander organisme hul eie kos kan maak nie?
  • Wat doen plante met die kos wat hulle vervaardig?
  • Hoekom moet ons kos eet? Wat verskaf dit aan ons?
  • Ons weet dat respirasie een van die sewe lewensprosesse is, maar wat gebeur in organismes tydens respirasie?

Energie is noodsaaklik om lewe te onderhou en daarsonder sou niks op Aarde kon lewe nie. Ons belangrikste bron van energie is die Son. In hierdie hoofstuk gaan ons die prosesse wat betrokke is by die oordrag van die son se energie na ons liggame, sodat ons hierdie boek kan lees, ondersoek. Hierdie twee belangrike prosesse is fotosintese en respirasie.

Fotosintese

  • chemiese potensiële energie
  • chlorofil
  • chloroplast
  • glukose
  • fotosintese
  • stralingsenergie
  • respirasie
  • stysel
  • oplosbaar
  • onoplosbaar

Hierdie webblad het heelwat interessante artikels oor wetenskap en wetenskapverwante beroepe. Dit is volgens onderwerp geklassifiseer en gee raad oor hoe om die onderwerpe in die klaskamer in te skakel. As jy belangstel om wetenskap uit die werklike lewe in jou klas in te sluit, kan jy begin deur na hierdie webblad te kyk: http://www.sciencenewsforkids.org/news-in-the-classroom/

Al die Nuwe woorde in die kantlyn se definisies is in die woordelys aan die einde van hierdie afdeling.

Energie onderhou lewe

Alle lewe op Aarde het energie nodig om die sewe lewensprosesse te handhaaf.

Die sewe lewensprosesse

INSTRUKSIES:

  1. Onthou jy wat die sewe lewensprosesse is? Onthou jy dat jy die letters R(of A)VVBE(of U)GS gebruik het om jou te help onthou?
  2. Skryf die sewe lewensprosesse neer.

B


V


R


G


V


E


S


Die sewe lewensprosesse is: beweging, voeding, respirasie (gaswisseling vir respirasie), groei, voortplanting, ekskresie (uitskeiding), sintuiglike waarneming (sensitiwiteit) (neem die omgewing waar).

Die energievorm wat vanaf die son kom, staan bekend as stralingsenergie. Al verskaf die son lig en hitte, gebruik plante net die son se ligenergie vir fotosintese.

http://www.flickr.com/photos/gr33n3gg/3445868159/
Die son verskaf energie in die vorm van lig en hitte. http://www.flickr.com/photos/gr33n3gg/3445868159/

Die meeste organismes kan nie die son se stralingsenergie direk gebruik om die sewe lewensprosesse te onderhou nie. Reptiele kan byvoorbeeld in die son lê om warm te word van die hitte-energie, maar dit verskaf nie die nodige energie vir die dier om te beweeg, voort te plant of afvalprodukte uit te skei nie.

Behalwe vir 'n paar naakslakke in die see, is plante die enigste organismes op Aarde wat die son se stralingsenergie kan absorbeer en dit kan omskakel na voedsel vir die plant self en vir ander lewende organismes.

Stralingsenergie na chemiese potensiële energie

Die BESOEK-boksies in die kantlyne bevat die skakels na interessante webblaaie en videos. Tik die skakel presies soos dit gedruk is in die adreslyn van jou internet soekenjin.

  • pigment

Wat is potensiële energie? Onthou jy dat ons energie vir beweging (kinetiese energie) en gestoorde energie (potensiële energie) bespreek het in Energie en Verandering in Gr 6 en 7? Noem 'n paar dinge wat kinetiese energie het en 'n paar wat potensiële energie het. Onthou om notas in die kantlyn van jou werkboek te maak soos wat julle dinge in die klas bespreek.



Vra hierdie vrae aan die leerders as hersiening van die werk wat hulle in vorige grade geleer het. Voorbeelde van voorwerpe met kinetiese energie is 'n bewegende voertuig, 'n bonsende bal, 'n waaiende blaar, 'n waaier wat waai, ens. Voorwerpe met potensiële energie is byvoorbeeld 'n boek op 'n tafel (dit het swaartekrag potensiële energie omdat dit tot op die grond kan val), 'n bonsende bal wanneer dit by die bo-punt van die bons is omdat dit ook grond toe kan val, 'n battery, fossiel-brandstowwe en voedsel.

Alle lewende organismes kan energie in die vorm van chemiese potensiële energie vir lewensprosesse gebruik. Dit is die energie wat gestoor is in die kos wat die organismes eet. Plante kan die stralingsenergie van die son vasvang en omskakel na chemiese potensiële (gestoorde) energie vir ander organismes om te gebruik. Hulle doen dit deur die proses van fotosintese. Alle organismes stel die potensiële energie wat gestoor is in die kos wat hulle eet vry, om hulle lewensprosesse te onderhou. Hierdie proses word respirasie genoem.

Vind uit hoekom plante wat fotosinteer groen is.

Fotosintese vind plaas in klein strukture wat chloroplaste genoem word en wat binne-in die selle van die blare en stingels van groen plante voorkom. In die chloroplaste is groen pigmente wat chlorofil genoem word. Dit is wat die plante groen laat lyk. Fotosintese is die proses waartydens chlorofil-molekules die stralingsenergie van die son absorbeer en omskakel na chemiese potensiële energie. Die enigste funksie van chlorofil is om die energie in sonlig vas te vang; chlorofil word nie vervaardig of opgebruik tydens fotosintese nie.

Chloroplaste is 'n soort organel wat net in plante gevind word. 'n Sel is die basiese eenheid van alle lewende dinge. Ons sal volgende jaar in Gr 9 meer leer van die struktuur en funksie van selle.

Chloroplaste kom net in plante voor. Party naakslakke in die see het geleer hoe om die chloroplaste van die groen alge, wat hulle inneem vir voedsel, te absorbeer en hulle kan daarom self fotosinteer!

http://commons.wikimedia.org/wiki/File:Elysia\_chlorotica\_\%281\%29.jpg
Elysia chlorotica, 'n naakslak in die see, het ontwikkel om die chloroplaste uit die groen alge, wat hy vir voedsel inneem, te absorbeer en daarom kan hy fotosinteer. Hierdie dier kan daarom sy eie kos vervaardig en hy is groen. http://commons.wikimedia.org/wiki/File:Elysia_chlorotica_%281%29.jpg http://commons.wikimedia.org/wiki/File:Elysia_chlorotica_%281%29.jpg

Daar is meer as net sonlig nodig vir fotosintese om te kan plaasvind. Wat is hierdie vereistes? Kyk na die volgende diagram wat die proses van fotosintese opsom.

Plante gebruik die son se stralingsenergie in 'n reeks chemiese reaksies om koolstofdioksied uit die lug en water uit die grond na glukose om te skakel. Die proses stel suurstof vry.

Vereistes en produkte van fotosintese

INSTRUKSIES:

  1. Som op wat jy oor fotosintese geleer het in die diagram hieronder.
  2. Vul die vereistes vir fotosintese in die linkerkantste blok in. Vul in watter soort energie nodig is en wat die naam van die pigment is wat die energie absorbeer.
  3. Vul die produkte van fotosintese in die regterkantste blok in.

Die leerder se diagram behoort so te lyk:

Die proses van fotosintese kan in die vorm van 'n vergelyking voorgestel word:

Wat gebeur met die glukose wat plante tydens fotosintese vervaardig?

Glukose-opberging en gebruik

Die glukose wat deur die plant vervaardig word tydens fotosintese word deur die plant as kos gebruik. Die plant kan hierdie glukose direk gebruik en energie vrystel wanneer dit respireer of dit kan die glukose stoor en later omskakel na ander chemiese verbindings.

Glukose is oplosbaar in water. Soos wat ons in Materie en Materiale in Gr. 6 geleer het, beteken dit dat glukose in water kan oplos. Dit is goed vir die plant, want dit beteken dat die glukose in water vervoer kan word tot daar waar dit op 'n ander plek in die plant nodig is. Om groot hoeveelhede glukose te kan stoor, het die plant egter nodig om dit om te skakel na verbindings wat onoplosbaar in water is. Die plant skakel die glukose om na stysel, wat nie in water kan oplos nie. Hoekom dink jy is dit dalk nodig dat die plant glukose ook moet stoor?



Bespreek hierdie met die leerders. Die glukose word aanhoudend gedurende die dag vervaardig terwyl die son skyn, maar alles word nie gelyktydig deur die plant gebruik nie. As groot hoeveelhede glukose opbou verander dit die waterpotensiaal in die blare. Van die glukose word daarom omgeskakel na stysel tot dit benodig word.

Plante kan ook glukose na sellulose omskakel. Sellulose word gebruik om die plant te ondersteun en te versterk. Diere het nie sellulose vir ondersteuning nie. Diere het 'n ander manier om die liggaam te ondersteun en te beskerm. Kan jy onthou wat dit is?


'n Skelet

Glukose word ook omgeskakel na ander chemiese verbindings wat die prosesse soos voortplanting en groei onderhou.`

Plante gebruik suikers (glukose) as 'n basismolekule om honderde ander verbindings te vervaardig, byvoorbeeld proteïene, olies, vitamine, blomme se kleurvolle pigment, chemikalieë met sterk smake (brandrissieplant), nektar wat soet smaak en geure wat soet ruik.

Ons het nou geleer hoe plante glukose vervaardig en dit stoor as stysel, maar hoe kan ons seker wees? As jong wetenskaplikes moet ons die akkuraatheid van hierdie verduideliking van fotosintese bevraagteken. Is daar 'n ondersoek wat ons kan doen om te toets vir die teenwoordigheid van hierdie verbindings? Kom ons vind uit!

Ons het geleer dat plante glukose vervaardig tydens fotosintese en dit stoor in die vorm van stysel. Daarom, om te sien of 'n plant fotosinteer, kan ons toets of die plant stysel vervaardig het.

Bestudeer die volgende eienskappe van stysel en glukose saam met die klas. Dink aan 'n moontlike toets wat gedoen kan word om uit te vind of 'n plant stysel of glukose vervaardig het. Skryf 'n paar van julle besprekingspunte neer.

Bespreek dit as 'n klas tydens die voorbereiding tot die ondersoek.

  • Glukose proe soet maar stysel proe glad nie soet nie.

Leerders kan voorstel dat hulle proe aan die verbinding om te bepaal of dit 'n stysel of glukose is. Dit is belangrik dat leerders moet weet om nie aan onbekende stowwe te proe nie, omdat dit mag giftig wees. Hierdie spesifieke punt is ingesluit om onderwysers die kans te gee om hierdie reël te beklemtoon aan die leerders. Ons doen net 'n proetoets as ons sonder twyfel weet dat die stof eetbaar is.

  • Glukose sal in water oplos terwyl stysel nie in water sal oplos nie.

Hoewel hierdie as 'n redelike eenvoudige, fisiese toets gebruik kan word is daar heelwat probleme. Die watertemperatuur sal byvoorbeeld die tempo waarteen dit oplos beïnvloed en so ook die hoeveelheid van die verbinding wat gebruik word, ens.

  • Jodium verander van bruinerige oranje tot donker swartblou wanneer dit in kontak kom met stysel. Kyk na die volgende foto's wat dit illustreer.

Hierdie is ingesluit as 'n inleiding tot die ondersoek wat hierop volg. Leerders moet deur die onderwyser toegelaat word om die maniere te ondersoek waarop hierdie toets gebruik kan word om te toets vir stysel.

http://www.flickr.com/photos/tessawatson/3216911479/
Die buis aan die linkerkant bevat 'n verdunde jodium-oplossing en die buis aan die regterkant bevat verdunde jodium-oplossing met stysel. http://www.flickr.com/photos/tessawatson/3216911479/

Beklemtoon asseblief aan die leerders dat hulle moet verwys na jodium-oplossing en nie net na jodium nie (wat 'n blouswart vastestof is).

'n Video oor die styseltoets.

Noudat ons weet dat plante glukose vervaardig en dit omskakel na stysel, kan ons uitvind of alle blare dieselfde hoeveelheid stysel vervaardig tydens fotosintese.

Watter blare fotosinteer?

Vir hierdie ondersoek het jy bont- en normale groen blare nodig. Bont blare het wit patrone (dele sonder chlorofil). Daar is baie voorbeelde van Suid-Afrikaanse plante wat bont blare het, byvoorbeeld sommige malvas, viooltjies, klimop, ens. Jy kan ook in die omgewing van jou skool rondloop en kyk of jy enige bont blare vind. Leerders moet eers na die blare kyk en die ondersoek bespreek. Hulle kan dit in groepe doen. Hierdie ondersoek kan oor twee klasperiodes gedoen word. Een stel potplante moet in 'n donker kas geplaas word die dag voor jy deel 1 van die ondersoek wil doen. Nadat deel 1 gedoen is kan jy deel 2 in die volgende klasperiode doen. In deel 2 moet die leerders 'n eksperimentele verslag skryf. As jy nie tyd het om beide dele te doen nie kan jy jou leerders deur deel 1 laat lees, en dan deel 2 met hulle doen, waarna elkeen 'n verslag moet skryf oor hulle eksperiment.

Daar is twee dele aan die ondersoek. Eers wil ons uitvind watter blare kan fotosinteer. Ons gaan party potplante in die lig los vir 'n dag en ander potplante in 'n donker kas los vir 'n dag. Ons gaan dan die blare van beide stelle plante ondersoek.

In die tweede deel van die ondersoek gaan ons dít wat ons geleer het gebruik om te ondersoek watter dele van bont blare fotosinteer.

Deel 1: Blare in lig en donker

DOEL:

Wat wil jy bepaal deur hierdie ondersoek?


Leerder-afhanklike antwoord

Moontlike antwoorde sluit in: "Om te bepaal of blare in die nag fotosinteer", of "Om te ondersoek of lig nodig is vir fotosintese".

HIPOTESE:

Wat dink of verwag jy gaan gebeur wanneer jy hierdie ondersoek doen?



Leerder-afhanklike antwoord

Die blare wat in die lig was sal positief toets vir stysel omdat hulle gefotosinteer het, terwyl die blare in die donker nie kon fotosinteer nie en negatief sal toets vir stysel.

MATERIALE EN APPARAAT:

  • handskoene
  • 'n reeks potplante wat maklik rondgeskuif kan word
  • 100 ml beker of glasbottel in 'n kastrol met water
  • Bunsen brander, spiritusstofie of 'n stoof
  • knyptangetjie
  • etielalkohol (of gemetileerde spiritus)
  • glas petribakkies, wit piering of wit teël
  • stophorlosie
  • glaspipet of drupper
  • jodium-oplossing

METODE:

Voor hierdie ondersoek begin word moet al die plante in 'n donker kas gehou word vir tot 48 uur, om seker te maak dat die plante nie gestoorde stysel in hulle blare het voor die proses begin nie.

  1. Werk in groepe van drie of vier.
  2. Sit die helfte van die plante in die donker vir ten minste 24-48 uur en die ander in 'n goedverligte deel van die klas wat baie natuurlike sonlig kry.
  3. Na 24 uur, gooi 50 ml van die etielalkohol in die beker en sit dit in die kastrol met water. Verhit die kastrol oor die Bunsen brander of die stoof. Die water in die kastrol sal die hitte versprei om die etielalkohol eweredig warm te maak.

In plaas van 'n kastrol met water en 'n beker met alkohol, kan onderwysers besluit om 'n beker met water en 'n proefbuis met gemetileerde spiritus of alkohol te gebruik. Die houer met die alkohol moet net veilig omring wees met water en nie direk verhit word of in kontak met die vlam kom nie.

  1. Verwyder een gesonde blaar van die potplante wat in die goedverligte area aan direkte sonlig blootgestel is.
  2. Gebruik die knyptangetjie en doop 'n blaar in die kokende water vir 1-2 minute. Dit help om die wasagtige lagie wat die blaar bedek te verwyder en die selwande af te breek.
  3. Plaas die blaar daarna in die beker met die etielalkohol.

Waarskuwing: Die alkohol moet ook verhit word, maar dit kan nie direk verhit word nie omdat dit baie vlambaar is. Dit moet daarom in 'n warm waterbad verhit word. Maak die vlam dood!

  1. Los die blaar in die alkohol tot al die chlorofil uit die blaar verwyder is en die alkohol groen word.
  2. Plaas die blaar in warm water om dit te laat sag word en die alkohol te verwyder.
  3. Haal die blaar uit die warm water en sit dit op 'n wit teël of in 'n petribakkie bo-op 'n wit oppervlak.
  4. Gebruik die pipet of die drupper om versigtig 2 of 3 druppels van die verdunde jodium-oplossing op die blaar in die petribakkie te drup. Skryf neer wat jy sien.

Die hoeveelheid verdunde jodium-oplossing wat nodig is hang af van die blaar wat getoets word. Dit mag nodig wees om sommige blare heeltemal te bedek met jodium-oplossing. Sit die blaar in 'n petribakkie en bedek dit met die jodium-oplossing.

  1. Herhaal hierdie proses met nog twee blare uit die lig-area.
  2. Haal die plante wat vir ten minste 24 uur in die donker was uit. Gebruik die toets hierbo om te bepaal of daar stysel is in die blare van die plante wat in die donker was.
  3. Skryf neer wat jy sien.

'n Baie goeie demonstrasie van die verskillende eksperimente in hierdie en volgende afdelings is by . Dit begin deur vir koolstofdioksied met kalkwater te toets en demonstreer daarna die styseltoets.

RESULTATE EN WAARNEMINGS:

Hou boek van jou waarnemings. Trek 'n tabel om jou resultate neer te skryf en te vergelyk.











Leerders moet hulle eie tabelle trek om hulle waarnemings neer te skryf. Hierdie is die eerste ondersoek wat hulle in die hoërskool gaan doen en die onderwyser kan dit gebruik om hulle vaardigheidsvlakke te bepaal.

Warm water verwyder die wasagtige lagie en die alkohol los die chlorofil op sodat die groen kleur van die blaar losgelaat word. Nadat die blare uit die etielalkohol gehaal is moet hulle wit wees. Die chlorofil moet uit die blaar verwyder word sodat die kleurverandering wat ons met die jodium-oplossing verwag, nie weggesteek word nie. Wanneer jodium-oplossing op die blaar gedrup word, word dit blouswart in die teenwoordigheid van stysel. Dit is 'n aanduiding dat die blaar gefotosinteer het en glukose vervaardig het wat na stysel omgesit is.

GEVOLGTREKKING:

Wat het jy uit hierdie ondersoek geleer?




Plante wat sonlig gekry het, kon fotosinteer en het daarom positief getoets vir stysel (die jodium oplossing het blouswart geword). Die plante wat nie stralingsenergie gekry het nie, het nie gefotosinteer nie en het negatief getoets vir stysel (die jodium-oplossing het geelbruin gebly). Ons kan dus aflei dat lig nodig is vir fotosintese om plaas te vind.

VRAE:

Hoekom is sommige plante in 'n goedverligte area geplaas en sommige in die donker?




Dit is gedoen sodat party plante kon fotosinteer en ander nie. Die plante wat kon fotosinteer het stysel vervaardig en die wat nie kon nie het min of niks stysel gehad nie.

Verduidelik wat die resultate van die jodium-toets beteken.



As die jodiumoplossing van geelbruin na donker blouswart verander, dui dit aan dat die blaar of 'n ander deel van die plant stysel bevat en dus gefotosinteer het. As die jodiumoplossing nie van kleur verander nie, bevat die blaar of ander plantdeel nie stysel nie en het dit nie gefotosinteer nie.

Deel 2: Watter dele van bont blare fotosinteer?

Leerders moet hulle eie eksperiment vir Deel 2 beplan deur dit wat hulle in Deel 1 geleer het toe te pas. Hulle moet eksperimentele verslae skryf.

Kyk na die volgende foto's van verskillende plante. Wat let jy op in verband met die blare?

http://www.flickr.com/photos/dhwright/4710221438/
Klimop blare. http://www.flickr.com/photos/dhwright/4710221438/
http://www.flickr.com/photos/yimhafiz/2517494621/
Malvablare. http://www.flickr.com/photos/yimhafiz/2517494621/

Malvablare is 'n uitstekende opsie vir hierdie ondersoek. Klimop-blare het 'n dik waslagie en die jodiumoplossing kan nie maklik in die blaar intrek nie. Bont mentblaar is ook baie goed vir die ondersoek en is 'n algemene plant in Kwa-Zulu Natal.

Ons noem hierdie blare bont omdat hulle groen en wit dele het. In hierdie deel van die ondersoek wil ons uitvind watter dele van hierdie blare fotosinteer.

INSTRUKSIES:

  1. Jy moet hierdie ondersoek self ontwerp.
  2. Besluit eers watter vraag jy probeer antwoord en die doel van jou ondersoek.
  3. Stel 'n hipotese vir jou ondersoek op.
  4. Dink terug aan Deel 1 en ontwerp die metode vir jou ondersoek.
  5. Nadat die ondersoek voltooi is, moet jy 'n eksperimentele verslag skryf.
  6. In jou verslag moet jy die volgende opskrifte hê:
    1. Doel
    2. Hipotese
    3. Materiale en apparaat
    4. Metode
    5. Resultate
    6. Bespreking
    7. Gevolgtrekking
  7. In jou resultate-afdeling moet jy jou waarnemings op 'n wetenskaplike manier neerskryf. Jy kan 'n tabel, 'n diagram of 'n kombinasie van die twee gebruik. Dink mooi oor watter inligting jy moet neerskryf om tot 'n gevolgtrekking te kan kom aan die einde van die eksperiment.
  8. In jou bespreking moet jy jou resultate en wat dit beteken verduidelik. Jy moet ook jou ondersoek evalueer en verduidelik as daar enige onverwagse resultate was. Stel maniere voor wat toekomstige navorsers kan gebruik om die ondersoek te verbeter.
  9. Handig jou verslag op 'n aparte stuk papier in.

Hierdie aktiwiteit kan in groepe of individueel gedoen word. Tot nou het leerders 'n raamwerk ontvang waarbinne hulle die resultate moes opskryf. Vir hierdie ondersoek moet hulle dit self doen. Voorbeelde van die leerders se verslae volg:

Doel: Om uit te vind watter dele van bont blare fotosinteer en stysel stoor.

Hipotese: Die groen dele van bont blare sal blouswart word in jodium-oplossing, as aanduiding dat hulle fotosinteer en stysel stoor. Die wit dele sal nie blouswart word nie (sal bruin bly).

Materiale en apparaat: Hierdie lys behoort soortgelyk aan die lys in Deel 1 wees. Leerders moet die items puntgewys opskryf en metings neerskryf.

Metode: Hierdie moet ook soortgelyk aan Deel 1 wees. Elke stap in die metode moet genommer wees en in volsinne uitgeskryf wees. Leerders moet opskryf watter metings hulle gebruik het.

Resultate: Leerders moet 'n tabel trek om hulle resultate te lys. Hulle moet opskrifte vir die kolomme en rye en 'n opskrif vir die tabel verskaf. Leerders moet teken hoe die blare gelyk het aan die begin van die eksperiment en die verskillende kleure aandui, aangesien die alkohol-stap die kleur sal verwyder. Hulle kan dan hulle resultate op die blaar-diagram aanteken.

Bespreking: Meet die leerders se vermoë om hulle resultate te verduidelik. Hulle moet verwys daarna dat die wit dele van die blaar nie chlorofil bevat nie en daarom nie kan fotosinteer nie. Dit wys ook dat chlorofil noodsaaklik vir fotosintese is. Leerders moet enige veranderinge wat hulle kon maak, om beter resultate te kry, bespreek.

Gevolgtrekking: Hierdie is 'n kort stelling waarin hulle die doel of ondersoek-vraag moet beantwoord.

Blare is nie die enigste dele van plante wat stysel stoor nie. Stysel word ook in die stingels, wortels en vrugte gestoor. Het jy al ooit gewonder hoekom vrugte soeter word soos dit ryper word? Dink aan 'n groen piesang en 'n ryp, geel piesang. Watter een is soeter? Kon ons vind uit hoekom.

http://www.flickr.com/photos/design-dog/1249337589/
Ryp, geel piesangs en onryp, groen piesangs. http://www.flickr.com/photos/design-dog/1249337589/

Hoekom word piesangs soeter soos hulle ryper word?

Die is nie noodsaaklik om hierdie eksperiment te doen as daar nie tyd is nie. Dit is 'n opsionele uitbreiding van die styseltoets.

In hierdie ondersoek gaan ons aan die piesangs proe om te bepaal of hulle meer glukose of meer stysel het. Ons gaan ook 'n styseltoets doen op die ryp- en die groen piesangs om te sien watter een die meeste stysel bevat.

DOEL:

Wat wil jy bepaal deur hierdie ondersoek?



Leerder-afhanklike antwoord

'n Voorbeeld van 'n moontlike antwoord is: Om die teenwoordigheid van stysel in ryp en groen piesangs te ondersoek; Om te ondersoek hoekom piesangs soeter word soos hulle ryper word; ens.

HIPOTESE:

Wat dink of verwag jy gaan gebeur wanneer jy hierdie ondersoek doen?





As die groen, onryp piesang nie so soet soos die ryp piesang is nie, bevat dit dalk meer stysel en minder glukose. Die styseltoets kan dalk wys dat die groen piesang meer stysel het.

MATERIALE EN APPARAAT:

  • ryp en groen piesangs in skywe gesny
  • petribakkie of piering
  • jodium-oplossing
  • drupper

METODE:

Werk in groepe van drie of vier. Vat 'n stuk van die ryp piesang en 'n stuk van die groen piesang en vergelyk die smaak en tekstuur van elkeen. Skryf jou waarnemings neer in 'n tabel. Watter piesang dink jy bevat die meeste stysel en die minste glukose ('n suiker), gebaseer op die proetoets?


Leerder-afhanklike antwoord

Leerders moet die smaak en tekstuur van elke piesang kan beskryf: die ryp een is sag en soet, terwyl die onryp een hard is en nie soet nie. Leerders kan sê dat die groen piesang meer stysel en minder glukose bevat, omdat dit nie so soet soos die ryp piesang is nie. Hierdie is nie 'n baie akkurate toets nie. Leerders kan die smake verskillend ervaar, wat die resultate onbetroubaar maak.

  1. Gebruik die jodiumoplossing-styseltoets om te bepaal watter piesang, die ryp een of die groen een, die meeste stysel het. Skryf jou waarnemings in die tabel neer.

Leerders behoort hierdie maklik te sien, gebaseer op hoe vinnig die jodiumoplossing van kleur verander in die groen piesang.

  1. Vergelyk die resultate van hierdie toets met die resultate van die proe- en tekstuurtoetse om te bepaal watter piesang die meeste stysel bevat.

WAARNEMINGS:

Trek 'n tabel om jou waarnemings vir die proetoets en die jodiumoplossingtoets neer te skryf.









Leerder-afhanklike antwoord

Laat leerders toe om hulle resultate op enige manier te tabuleer, solank dit maklik is om te interpreteer en te verstaan. Gebruik hierdie as 'n geleentheid om die leerders wat dit nie kan doen nie te help en vergelyk die verskillende metodes wat gebruik is aan die einde van die eksperiment.

VRAE:

Vergelyk jou waarnemings van ryp en groen piesangs met dié van ander leerders in die klas. Het julle almal dieselfde waargeneem?



Leerder-afhanklike antwoord.

Gebruik hierdie vergelyking om leerders te help verstaan dat 'n eksperiment net betroubaar is as verskillende mense dieselfde toets doen en dieselfde resultate kry.

Wat is jou gevolgtrekking uit hierdie resultate? Watter toetsmetode is beter en hoekom dink jy so?




Die gevolgtrekking is dat groen piesangs meer stysel bevat as ryp piesangs. Die vraag is spesifiek ingesluit om leerders bloot te stel aan die konsep van geldigheid en betroubaarheid, en onderwysers word aangemoedig om die leerders hieroor te laat debateer in die klas.

Verduidelik wat jy dink met die stysel gebeur soos die piesangs ryp word.



Soos die piesangs ryp word, word die stysel na glukose omgeskakel.

Ons het nou gekyk na hoe groen plante hulle kos vervaardig. Kom ons vind uit hoe alle lewende organismes die energie wat in kos gestoor is vrystel om die lewensprosesse te onderhou.

Respirasie

  • helder kalkwater
  • respirasie

Die term respirasie verwys na twee verskillende prosesse. In fisiologie verwys respirasie (of gaswisseling) na die vervoer van suurstof uit die buitelug na die selle en die vervoer van koolstofdioksied uit die selle en na die buitelug. Dit word dikwels verwar met asemhaling, wat die beweging van lug in en uit die asemhalingsorgane, soos longe en kieue, is. Asemhaling vind nie in alle organismes plaas nie, maar respirasie (en gaswisseling) wel. Op biochemiese vlak verwys respirasie na sellulêre respirasie. Dit is die metaboliese proses in alle organismes waartydens suurstof met glukose gekombineer word om water, koolstofdioksied en energie in die vorm van ATP (adenosientrifosfaat) vry te stel. Sellulêre respirasie vind in die individuele selle van die organisme plaas, terwyl fisiologiese respirasie die grootskaalse vervoer van gasse en ander verbindings tussen die organisme en die omgewing is.

In hierdie afdeling kyk ons spesifiek na sellulêre respirasie omdat ons die chemiese reaksies wat energie uit kos vrystel gaan bespreek. Leerders het nog nie van selle geleer nie, so ons gaan net verwys na respirasie. Indien u wil, kan u hierdie onderskeid aan die leerders verduidelik en hulle bekendstel aan die term sellulêre respirasie, hoewel hulle eers in Gr 9 selle gaan behandel. Hulle gaan fisiologiese respirasie in Gr 9 teëkom wanneer hulle liggaamsisteme behandel en ook die sirkulatoriese en respiratoriese sisteme in detail gaan behandel.

Ter inleiding tot hierdie afdeling oor respirasie kan leerders die YouTube video oor selrespirasie kyk: bit.ly/1eupZUz. Die aanvanklike verduideliking is eenvoudig en geskik vir hierdie graadvlak, maar dit kan dieper insig gee oor wat regtig tydens die 3 fases van respirasie gebeur as daar leerders is wat meer nuuskierig is.

Ons het nou gesien hoe plante voedsel tydens fotosintese vervaardig. Die energie van hierdie voedsel moet gebruik word deur plante en al die diere wat daardie plante eet. Dit is inderdaad vir alle organismes nodig om voedsel af te breek om die chemiese potensiële energie wat daarin is vry te stel vir lewensprosesse. Hoe gebeur dit? Kom ons vind uit.

Energie uit voedsel

Ons liggame het energie nodig om te beweeg en te werk. Waarvandaan kom ons energie? Dit kom uit die kos wat ons, en alle ander organismes, eet.

Dink terug aan die werk wat jy oor brandstof en energie gedoen het in vorige grade se Energie- en Verandering-afdelings. Jy sal onthou dat brandstowwe, soos hout, steenkool en olie, chemiese potensiële energie bevat. Wanneer hierdie brandstof in die teenwoordigheid van suurstof verbrand word, word die chemiese potensiële energie omgesit na lig en hitte-energie. Op dieselfde manier kombineer die glukose van die kos wat jy eet met suurstof in 'n reeks chemiese reaksies om energie vry te stel. Die glukose word afgebreek en die energie word gebruik. Hierdie energie word dan gebruik om al die ander prosesse in jou liggaam aan te dryf. Dit word respirasie genoem. Ons kan respirasie in alle lewende organismes definieer as die proses waartydens energie uit glukose vrygestel word tydens 'n reeks chemiese reaksies.

Ons gaan volgende kwartaal meer leer oor chemiese reaksies in Materie en Materiale. Jy sal ook meer oor respirasie leer in latere grade.

Respirasie vind in alle organismes plaas, ook in plante. Plante, anders as die meeste ander organismes, het nie nodig om kos te eet nie, omdat hulle self voedsel vervaardig tydens fotosintese.

Fotosintese vereis sonlig en dit kan slegs gedurende die dag plaasvind. Leerders mag deurmekaar raak met die terminologie en dink dat, omdat fotosintese net deur die dag plaasvind, respirasie net deur die nag kan plaasvind. Maak seker dat die leerders verstaan dat respirasie aanhoudend is, gedurende die dag en nag.

Produkte van respirasie

Onthou jy hoe ons fotosintese as 'n vergelyking voorgestel het om te wys wat gaan in en wat kom uit? Respirasie kan op dieselfde manier as 'n vergelyking voorgestel word.

Ons weet wat in alle organismes nodig is vir respirasie om plaas te vind. Skryf die twee bestanddele neer wat noodsaaklik is vir respirasie.


Die twee bestanddele is glukose (kos) en suurstof. Volgende kwartaal in Materie en Materiale gaan ons na chemiese reaksies kyk en die "bestanddele" as reagense definieer. U kan ook terugverwys na hierdie voorbeeld van 'n chemiese reaksie (eintlik 'n reeks chemiese reaksies) wanneer die onderwerp volgende kwartaal bekendgestel word.

Ons weet ook dat respirasie energie vrystel. Die energie kom voor in die chemiese bindings van ATP-molekules. ATP is nie self energie nie, maar stoor energie. Die ATP-molekules het chemiese potensiële energie in hulle bindings. Wanneer die ATP-molekules afgebreek word, stel hulle energie vry sodat ander prosesse kan plaasvind.

Respirasie vorm nie net energie nie. Water en koolstofdioksied word as newe-produkte gevorm. Ons kan die volgende vergelyking vir respirasie skryf:

glucose + oxygen → energy + carbon dioxide + water

Anders as fotosintese, waar ons sonlig-energie bokant die pyl skryf en nie as een van die reagense in die vergelyking nie, word energie as 'n produk geskryf vir respirasie. Dit is omdat die energie binne-in die molekules wat vervaardig word (ATP) vasgevang is. Op hierdie vlak hoef die leerders nie die term te ken nie, en ons sal net die woord "energie" in die vergelyking gebruik. Aangesien dit moontlik is dat daar later misverstande kan ontstaan, is 'n nota ingesluit om te verduidelik dat die energie in die ATP-molekules vasgevang is.

Gedurende plante se fotosintese word suurstof as newe-produk gevorm. Ons noem dit 'n newe-produk omdat dit nie die hoofproduk is wat van die proses gevorm word nie. In fotosintese is glukose die hoofproduk wat uit die proses gevorm word. Wat is die newe-produkte van respirasie?


Vra die leerders hierdie vraag om te sien of hulle die konsep verstaan. Die newe-produkte is koolstofdioksied en water.

'n Newe-produk staan ook bekend as 'n afvalproduk, indien dit nie weer gebruik kan word nie en uitgeskei moet word.

Die koolstofdioksied wat tydens respirasie in 'n organisme se liggaam vorm moet verwyder word. In mense doen ons dit deur koolstofdioksied-ryke lug uit te asem. Ons gaan volgende jaar in Gr 9 meer leer oor die hele asemhalingsisteem, en hoe asemhaling, bloedsirkulasie en respirasie almal as een sisteem saamwerk.

Moenie asemhaling met respirasie verwar nie! Asemhaling is die aksie van inasem in die longe in en uitasem uit die longe uit. Respirasie is die metaboliese proses wat suurstof gebruik om energie vry te stel, met koolstofdioksied as 'n newe-produk.

Ons kan vir die produkte van respirasie toets deur ons eie asem te gebruik. Hoe toets ons of ons asem koolstofdioksied bevat? Dit is 'n kleurlose gas, so ons kan dit nie direk sien nie.

Daar is 'n baie bekende manier om vir koolstofdioksied te toets met helder kalkwater. Om te kyk of 'n gas koolstofdioksied bevat, borrel die gas deur helder kalkwater. As die helder kalkwater melkerig word, bevat die gas koolstofdioksied. Volgende kwartaal, in Materie en Materiale, gaan ons weer hierna kyk en uitvind wat die chemiese reaksie is wat plaasvind tydens die toets. Nou gaan ons die toets gebruik om te bewys dat ons asem koolstofdioksied bevat.

Bevat ons asems koolstofdioksied?

Kyk na die video van die aktiwiteit.

U moet kalkwater voorberei voor die aktiwiteit uitgevoer word. Hier is instruksies daarvoor:

  1. Sit 'n paar eetlepels kalsiumhidroksied, Ca(OH)2, in 'n helder 500 ml bottel. Vul die bottel met water en skud of roer om 'n melkerige suspensie te vorm.
  2. Los die suspensie vir 'n paar dae om af te sak. Die helder vloeistof bokant die soliede Ca(OH)2 is 'n versadigde oplossing van Ca(OH)2, ook bekend as helder kalkwater.
  3. Gooi versigtig soveel hiervan af soos wat jy nodig het, sonder dat jy die soliede Ca(OH)2 laag op die bodem versteur, of filtreer daarvan en gebruik die filtraat.
  4. Om meer te maak, gooi nog water by, skud en laat staan. Wanneer die laag onder heeltemal oplos, voeg nog soliede Ca(OH)2 by.

MATERIALE:

  • klein bekers (of proefbuise)
  • rubberbuise of strooitjies

Om gesondheidsredes moet daar een strooitjie of rubberbuis per leerder wees.

  • helder kalkwater
  • 20 ml spuit (of groter, as dit beskikbaar is)

Apteke is gewoonlik baie behulpsaam en help skole om goedkoop injeksiespuite aan te koop. Tegnologie-onderwysers by die skool mag dalk ook spuite hê vir hulle inspuitingsmeganika-lesse. 'n Alternatief tot 'n groot injeksiespuit is om 'n fietspomp of ballonblaser te gebruik. Veiligheidswaarskuwing: Verwyder die naalde van die injeksiespuite voor u die spuite in die klas uitdeel.

INSTRUKSIES

  1. Werk in groepe van drie.
  2. Merk een beker LUG en die ander een ASEM.
  3. Gooi elke beker halfvol met helder kalkwater.
  4. Blaas borrels deur die rubberbuis in die beker gemerk ASEM, soos aangetoon in die diagram. Doen dit vir ten minste 1 minuut. Let op wat met die helder kalkwater gebeur.
  1. Maak 'n rubberbuis aan die voorkant van 'n spuit vas. Trek lug uit die atmosfeer in die spuit op.
  2. Sit die rubberbuis in die beker wat LUG gemerk is, en blaas die lug in die spuit stadig en versigtig deur die kalkwater soos in die diagram gewys word. Let op wat met die helder kalkwater gebeur.

VRAE

Beskryf wat jy waargeneem het toe jy lug van jou longe deur die kalkwater geblaas het. Wat beteken dit?



Die helder kalkwater het melkerig wit geword. Dit beteken ons asems bevat koolstofdioksied, vanaf respirasie.

Beskryf wat jy waargeneem het toe jy lug van die atmosfeer met die spuit deur die kalkwater geborrel het.


Die helder kalkwater het nie verander nie en bly helder. Sommige leerders mag 'n baie effense verskil oplet, wat aandui dat daar 'n klein hoeveelheid koolstofdioksied in atmosferiese lug teenwoordig is.

'n Baie klein persentasie van atmosferiese lug is koolstofdioksied-gas (0.03%). Verklaar wat jy waargeneem het toe daar atmosferiese gas deur die kalkwater geborrel is?



Omdat lug so 'n klein persentasie koolstofdioksied bevat, is daar nie genoeg om 'n merkbare verskil in die kalkwater te veroorsaak nie. Bespreek met die leerders hoekom hulle dink die kalkwater melkerig raak met 'n mens se asem maar nie met die lug nie, al bevat lug koolstofdioksied. Wys hulle daarop dat lug uit die longe 'n baie hoër persentasie koolstofdioksied vanaf respirasie bevat, en dit kan die kalkwater gouer melkerig maak as wat atmosferiese lug dit kan doen.

Dink oor respirasie.

  1. Wat is die vereistes vir respirasie?
  2. Wat is die produkte van respirasie?

  1. Glukose en suurstof.
  2. Energie, koolstofdioksied en water.

Vereistes en produkte van respirasie

INSTRUKSIES:

  1. Som alles op wat jy oor respirasie geleer het in die opsommingsdiagram hieronder.
  2. Vul die vereistes vir respirasie in die blok aan die regterkant in.
  3. Vul die produkte van respirasie in die blok aan die linkerkant in.

Leerders se diagramme moet so lyk:

Het jy opgemerk dat die BESOEK blokkies in die kantlyn webskakels bevat? Tik die hele skakel in die adreslyn van die internet-soekprogram op jou rekenaar, tablet of selfoon en druk "Enter", soos hieronder:

Dit sal jou herlei na ons webblad waar jy die video kan kyk of die aanlynblad kan besoek. Wees nuuskierig en ontdek meer aanlyn op ons webblad!

Opsomming

  • Die behoefte na energie dryf die interaksies en interafhanklikheid in 'n ekosisteem.
  • Die son verskaf energie aan die Aarde in die vorm van stralingsenergie (lig) en hitte energie.
  • Fotosintese is die proses waartydens groen plante die koolstofdioksied uit die lug, water uit die grond en stralingsenergie van die son in 'n reeks chemiese reaksies gebruik om glukose (voedsel) en suurstof te vervaardig.
  • Plante kan fotosinteer omdat hulle chlorofil bevat. Chlorofil is 'n groen pigment wat stralingsenergie kan absorbeer.
  • Plante verander die glukose wat hulle vervaardig het na stysel, wat makliker gestoor kan word.
  • Plante vervaardig ook sellulose-vesels wat aan die plante ondersteuning en stewigheid gee. Vesel is belangrik vir ons spysvertering.
  • Die kos wat 'n plant vervaardig word deur diere gebruik wanneer hulle die plant eet, en deur ander diere wanneer hulle die dier eet.
  • Die kos bevat chemiese potensiële energie wat vrygestel kan word.
  • Respirasie is die proses waartydens alle lewende organismes energie uit glukose vrystel in 'n reeks chemiese reaksies.
  • Respirasie gebruik suurstof terwyl koolstofdioksied en water as newe-produkte vorm.

Konsepkaart

Gedurende die jaar gaan ons oefen om konsepkaarte vir Natuurwetenskappe te ontwerp en te maak. Die "Sleutelkonsepte" wat hierbo gelys is, is 'n opsomming wat uitgeskryf is in volsinne. 'n Konsepkaart is 'n manier om inligting (idees en konsepte) op 'n meer visuele manier voor te stel. Die voordele van 'n konsepkaart is dat jy die verband tussen verskillende konsepte kan aantoon. 'n Konsepkaart het gewoonlik 'n "fokusvraag" waaruit die ander konsepte vloei. In hierdie boeke is die fokusvraag die hoofonderwerp van die hoofstuk. Pyle met bindingsfrases, soos "lei tot", "sluit in", "kan wees", "was eers", "hang af", ensovoorts dui die verhoudings tussen verskillende konsepte aan.

Soos die jaar vorder moet leerders groter dele van die konsepkaarte self invul, en dan hopelik teen die einde van die jaar hulle eie kaarte teken. Hierdie onderwysersgids bevat die volledige weergawe van elke konsepkaart. Moedig die leerders aan om die konsepkaarte aan die einde van elke hoofstuk te bestudeer en te verstaan voor hulle die hersieningsvrae antwoord. Help die leerders om die konsepkaarte te leer lees en verstaan, deur vir hulle sinne te skep uit die kaart. In hierdie geval kan u byvoorbeeld lees: "Respirasie vind plaas in alle organismes en stel energie uit kos vry".

Leerders moet leer hoe om te leer! Hierdie is 'n vaardigheid wat hulle dalk later in hulle skoolloopbaan kan help, wanneer hulle baie meer inligting het om te verwerk en te leer en sin van te maak. Konsepkaarte is een metode om inligting op te som en te verstaan hoe verskillende konsepte by mekaar inpas. Ware kennis en insig vra dat jy met die vakgebied omgaan en nie net feite memoriseer nie.

"Knowledge is real knowledge only when it is acquired by the efforts of your intellect, not by memory." - Henry David Thoreau

Hierdie jaar in Natuurwetenskappe gaan ons leer hoe om ons eie konsepkaarte te maak.

In die opsomming het ons eers die "Sleutelkonsepte" vir die hoofstuk. Dit is 'n beskrywende opsomming waar die inligting van die hoofstuk opgesom word in woorde. Ons kan ook 'n konsepkaart van die hoofstuk ontwerp. Dit is 'n kaart wat wys hoe al die konsepte (idees en onderwerpe) in hierdie hoofstuk inmekaarpas en met mekaar skakel. 'n Konsepkaart gee ons 'n meer visuele manier om inligting op te som.

Verskillende mense verkies om op verskillende maniere te leer; party deur geskrewe opsommings, ander deur hulle eie konsepkaarte te teken terwyl hulle studeer en leer. Ander hou daarvan om dit nog meer visueel te maak, met prente en diagramme wat hulle opsommings is. Jy moet self uitvind watter metode die beste vir jou werk en daardie vaardighede ontwikkel, veral vir later in hoërskool en na skool!

Kyk na die konsepkaart vir "Fotosintese en Respirasie" hieronder. Sien jy die oop spasies? Jy moet die konsepkaart voltooi deur dit in te vul. Om dit te kan doen moet jy die kaart van bo tot onder deurlees en kyk na die konsepte wat eerste gekom het. Byvoorbeeld, lees die konsepkaart so: "Respirasie vind plaas in alle organismes. Alle organismes stel energie uit kos vry, genaamd ........." Watter tipe energie bevat kos? Onthou, kos is die brandstof vir ons liggame. Jy moet ook drie dinge invul wat plante gebruik om te fotosinteer. Jy moet kyk watter konsepte skakel in daarby om te weet waar om elkeen te plaas. Laastens, wat stel fotosintese as 'n newe-produk vry? Jy moet dit ook invul.

Onderwyser se weergawe.

Hieronder is die volledige konsepkaart met die antwoorde ingevul. Maak seker die leerders verstaan wat 'n konsepkaart is en dat hulle die regte konsepte in die regte spasies ingevul het. Leerders mag sukkel om dit te doen, veral om "potensiële energie" as die tipe energie in kos reg te kry. Help hulle deur hulle te herinner aan die twee tipes energie, kinetiese en potensiële energie. Jy kan vrae vra soos: "Wat kry plante van die son af wat hulle gebruik in fotosintese?" (sonenergie), "Wat kry plante uit die grond wat hulle gebruik in fotosintese?" (water), ens.

Hersieningsvrae

'n Gr 4 leerder wou boontjies kweek en het hulle versigtig geplant en natgegooi in 'n joghurtbak. Hy was bang dat sy klein boetie die bak sou omgooi, daarom het hy die bak in sy kas weggesteek.

  1. Verduidelik wat hy sou oplet 'n paar dae nadat die boontjies geplant is. [2 punte]

  2. Wat sou gebeur na 'n paar dae, met die boontjies steeds in sy kas? [2 punte]

  3. Verduidelik hoekom jy hierdie resultaat vir sy boontjies verwag. [2 punte]

  4. Wat moes hy doen om sy boontjies sterk en hoog te laat groei? [2 punte]

  1. Afhangende van waarin hy die boontjies geplant het, kon hy 'n wortel en eerste blare sien vorm het (ontkieming sal plaasvind).
  2. Die klein boontjieplantjies sou klein blaartjies gevorm het, maar die plante sal stadig begin doodgaan.
  3. Die boontjieplante sou doodgaan omdat die blare nie genoeg stralingsenergie kon kry om te fotosinteer en glukose vir die plant se ontwikkeling en groei te vervaardig nie.
  4. Hy moes die plante op 'n plek gesit het waar hulle genoeg stralingsenergie (sonlig) kon kry om te kan fotosinteer.

Wat is die vereistes vir fotosintese om te kan plaasvind? [3 punte]


Koolstofdioksied, sonlig en water.

'n Boer kweek tamaties. Hy het van sy dogter gehoor dat plante glukose vervaardig tydens fotosintese en hy besluit om dit self te ondersoek. Wanneer hy die blare toets vind hy nie veel glukose nie, maar wel baie stysel.

  1. Hoekom sien die boer hierdie resultaat? [2 punte]

  2. Beskryf die toets wat die boer gedoen het om te bewys dat die blaar stysel bevat. [5 punte]




  1. Die plante sit die glukose om in stysel omdat dit beter is om te stoor. Daarom sal die blare 'n hoë styselvlak hê.
  2. Die chlorofil moet verwyder word deur die blaar eers vir 1-2 minute in kookwater te hou om die waslagie te verwyder. Daarna word die blaar in alkohol geplaas en dit word warm gemaak in warm water om die chlorofil te verwyder. Die blaar word verwyder uit die alkohol en in warm water gedoop om dit sag te maak en die alkohol te verwyder, omdat die alkohol die blaar bros maak. Verdunde jodium-oplossing word daarop gedrup. Jodiumoplossing verander van oranjebruin na donker blouswart in die teenwoordigheid van stysel. Toe die boer dit op die blaar gedrup het, het dit na donker blouswart verander om aan te dui dat daar stysel teenwoordig is.

Ondergaan plante fotosintese en respirasie heeldag en heelnag? Gee redes vir jou antwoord. [4 punte]





Plante fotosinteer net deur die dag en nie deur die nag nie. Dit is omdat hulle sonligenergie nodig het om te fotosinteer. Plante respireer heeldag en heelnag. Alle lewende organismes het nodig om te respireer om energie vry te stel uit chemiese potensiële energie om die sewe lewensprosesse te onderhou.

'n Groep Gr 7 leerders wou bewys dat koolstofdioksied gebruik word om brood te laat rys, omdat die gis en suiker wat by die broodmengsel gevoeg word koolstofdioksied vorm. Hulle het die volgende twee eksperimente opgestel. Die gas wat hulle versamel het van elke proefbuis is deur helder kalkwater geborrel.

  1. Hoekom het hulle 'n rubberbuis vanaf proefbuis A na Proefbuis B laat strek? [3 punte]


  2. Verduidelik hoekom hulle proefbuis A met 'n prop toegemaak het. [1 punt]
  3. Die volgende foto wys een van die proefbuise aan die einde van die eksperiment. Watter proefbuis dink jy is dit en van watter opstelling? Gee redes vir jou antwoord. [2 punte]

    http://www.flickr.com/photos/tessawatson/379270115/
    Watter proefbuis is dit? http://www.flickr.com/photos/tessawatson/379270115/


  4. Hoekom dink jy het die gisoplossing in Opstelling 1 nie koolstofdioksied gevorm nie? [2 punte]

  1. Die leerders wou enige gas wat vorm uit die oplossing in proefbuis A opvang en deur die helder kalkwater borrel. As die kalkwater van helder na melkerig verander het, sou dit die teenwoordigheid van koolstofdioksied aandui. (Hierdie vraag toets die leerder se vermoë om die logika van die eksperiment te volg en die teorie aan die praktiese toepassing te verbind.)
  2. Die leerders wou nie enige gas wat potensieel kon vorm verloor voor dit tyd gehad het om deur die kalkwater te borrel nie. Dit is ook belangrik om seker te maak dat die enigste gas wat die kalkwater affekteer die gas uit die eksperiment is, en nie koolstofdioksied uit die atmosfeer nie. (Hierdie vraag toets die praktiese begrip van die proses wat onderneem is.)
  3. Dit is proefbuisbuis B omdat dit helder kalkwater bevat wat nou melkerig geword het. Dit is van Opstelling 2 omdat daar gis en suiker in Proefbuis A van Opstelling 2 was, so die gis het die suiker gefermenteer en koolstofdioksied vrygestel wat die helder kalkwater melkerig gemaak het.
  4. Die gis moet die suiker opgebruik om koolstofdioksied te vorm. Toe daar nie suiker beskikbaar was nie, kon dit nie reageer en koolstofdioksied vorm nie.

Bestudeer die volgende diagram en vul die ontbrekende inligting in. [6 punte]

Trek 'n tabel in die ruimte hieronder om die verskille tussen die twee prosesse, fotosintese en respirasie, aan te dui. [8 punte]









'n Voorbeeld van 'n tabel word hier gegee. (Let op dat leerders nog nie geleer het om die aanvangsbestanddele reagense te noem nie.)

Tabel van die verskille tussen fotosintese en respirasie

Eienskap

Fotosintese

Respirasie

Aanvangsbestanddele / vereistes / benodigdhede (reagense)

Koolstofdioksied, sonlig energie en water

Glukose en suurstof

Eindprodukte / wat deur die proses vervaardig word

Glukose en suurstof

Energie, koolstofdioksied en water

Organismes waarin hierdie proses plaasvind

Groen plante

Alle lewende organismes

Wanneer hierdie proses plaasvind

Gedurende die dag / wanneer daar sonlig is

Heeltyd aangesien organismes voortdurend respireer

U kan assesseringsrubriek 4 gebruik om hierdie tabel te merk indien u 'n meer in-diepte assessering verkies.

Totaal [44 punte]