Die sonnestelsel

Hoofstukoorsig

(3 weke)

Die volgorde van die hoofstuk in Gr.8 Planeet Aarde en die Ruimte in die KABV is as volg:

  1. Die sonnestelsel
  2. Buite die sonnestelsel
  3. Kyk na die ruimte

Hoewel dit die volgorde in die KABV is en ook hoe die inhoud van hierdie werkboek gerangskik is, beveel ons aan dat jy met Hoofstuk 3 oor 'Kyk na die ruimte' begin. Jy kan daarna aanbeweeg na die ander twee hoofstukke. Dit maak konsepsueel meer sin om eers te leer hoe ons na die ruimte kyk met 'n verskeidenheid teleskope voor ons na die voorwerpe kyk wat in ons sonnestelsel en verder waargeneem is.

Leerders het reeds in Gr.6 oor die sonnestelsel geleer. In Gr.7 was die fokus op die Son-Aarde-Maan-stelsel. Leerders behoort vertroud te wees met die feit dat die Son in die middel van die sonnestelsel is en dat die planete om die Son wentel. Hulle behoort te weet dat daar twee tipes planete is: kleiner rotsagtige planete en groter gasreuse. Hierdie hoofstuk kyk in meer detail na die sonnestelsel en maak 'n opsomming van die verduideliking vir die bestaan van twee tipes planete. Leerders gaan die kenmerke van die verskillende planete vergelyk en die inligting gebruik om te verduidelik waarom die Aarde tans die enigste planeet in ons sonnestelsel is wat lewe kan onderhou. Die hoofdoel van die hoofstuk is om seker te maak dat leerders die volgende verstaan:

  • Die Son is 'n ster en produseer hitte en lig (energie) deur kernreaksies.
  • Die planete, dwergplanete en asteroïede wentel almal om die Son en word deur gravitasiekrag in hulle wentelbane gehou.
  • Verskillende planete het verskillende waarneembare eienskappe en kenmerke.
  • Die Aarde is in 'n spesiale sone om die Son waar lewe moontlik is.

Afdeling 1.1 behandel die eienskappe van die Son. Afdeling 1.2 behandel al die ander voorwerpe in die sonnestelsel. Afdeling 1.3 behandel ons spesiale plek in die sonnestelsel.

Konsepkaarte: Die konsepkaarte in hierdie werkboeke is deur Siyavula geskep met 'n oopbronprogram genaamd CMapTools. Jy kan die program by hierdie skakel aflaai as jy jou eie konsepkaarte wil skep.[link] http://cmap.ihmc.us/download/

Dink jy dit is belangrik om sterrekunde op skool te onderrig? Lees hierdie interessante en insiggewende artikel wat die voordele en toepassings van sterrekunde uiteensit. http://www.iau.org/public/themes/why_is_astronomy_important/

Burgerwetenskap bied jou 'n gratis, maklik toeganklike en inspirerende geleentheid om regte wetenskap in die klaskamer in te bring. Vind meer uit oor hoe om regte wetenskap in jou klaskamer te inkorporeer met Zooniverse se burgerwetenskapprojekte by Zooteach:[link] http://www.zooteach.org/.. Zooteach is 'n webwerf waar onderwysers en opvoeders lesplanne en hulpmiddels van hoë gehalte, wat die Zooniverse-burgerwetenskapprojekte toelig, kan deel.

Het jy geweet dat hierdie werkboeke by Siyavula geskep word met die hulp van 'n klomp bydraers en vrywilligers? Blaai na die voorblad en jy sal die lang lys sien. Lees meer oor Siyavula op ons webtuiste: www.siyavula.com. Jy kan ook by ons gemeenskapsblad aansluit as jy in kontak wil bly en by ons projekte betrokke wil raak.

Siyavula het ook 'n reeks handboeke vir ander grade en vakke geskep en ons gaan nóg meer produseer. Hierdie handboeke en werkboeke het 'n oop lisensie en is vrylik beskikbaar vir jou om te gebruik, af te laai, te kopieer, aan te pas en te versprei. Die Siyavula-handboeke wat tans beskikbaar is, is:

1.1 Die Son (1,5 uur)

Take

Vaardighede

Aanbevelings

Aktiwiteit: Neem die Son met 'n teleskoop waar

Waarneming, beskrywing

Voorgestel

Aktiwiteit: Neem die Son met 'n gaatjiekamera waar

Waarneming

Alternatief tot bogenoemde aktiwiteit

Aktiwiteit: Neem sonvlekke op die Son se oppervlak waar

Waarneming, identifisering, analisering

Opsioneel, uitbreiding

1.2 Voorwerpe om die Son (6 uur)

Take

Vaardighede

Aanbevelings

Aktiwiteit: Die skaal van die sonnestelsel

Simulasie, visualisasie, meting

KABV-voorstel

Aktiwiteit: Maak 'n hangende sonnestelsel

Simulasie, visualisasie, meting

KABV-voorstel (ook 'n alternatief tot bogenoemde aktiwiteit)

Aktiwiteit: Planete se temperature

Lees van tabelle, gee grafieke byskrifte

KABV-voorstel

Aktiwiteit: Vergelyk aardplanete en gasreuse

Vergelyking, herroeping

Opsioneel

Aktiwiteit: Vergelyk die binne- en buiteplanete

Vergelyking, lees van tabelle, analisering

KABV-voorstel

Aktiwiteit: Planeet-vakansies

Skryf, doen van navorsing

KABV-voorstel

Aktiwiteit: Feiteblad oor 'n planeet

Skryf, doen van navorsing

KABV-voorstel (ook 'n alternatief tot bogenoemde aktiwiteit)

Ondersoek: Impakkraters

Ondersoek, waarneming, meting, analisering

Voorgestel

Aktiwiteit: 'n Komeet se ioonstert

Waarneming

Voorgestel

1.3 Die Aarde se posisie in die sonnestelsel (1,5 uur)

Take

Vaardighede

Aanbevelings

Aktiwiteit: Die Son se bewoonbare sone

Teken van grafieke, interpretasie van grafieke, analisering

KABV-voorstel

  • Hoe wek die Son sy energie op?
  • Hoe kan ons die Son waarneem sonder om ons oë te beskadig?
  • Watter voorwerpe wentel om die Son in ons sonnestelsel?
  • Waarom is daar twee tipes planete?
  • Hoe verskil die planete in ons sonnestelsel?
  • Wat is asteroïede en komete?
  • Wat is die verskil tussen 'n planeet en 'n dwergplaneet?
  • Waarom is lewe op Aarde moontlik?

Ons sonnestelsel bevat die Son en al die voorwerpe wat om die Son wentel. Jy sal leer dat daar 'n verskeidenheid voorwerpe om die Son wentel: agt planete, baie dwergplanete, asteroïede, Kuipergordelvoorwerpe en komete.

Dit is baie belangrik dat jy nie direk na die Son kyk nie. Die Son kan jou oë permanent beskadig!

Die Son

  • sonnestelsel
  • ster
  • kernfusie of -versmelting
  • konveksie
  • sonvlek
  • sonwind

In hierdie afdeling leer die leerders hoe die Son energie in sy kern opwek en hoe die energie na die oppervlak en dan in die ruimte in vervoer word. Die effek wat die Son op die Aarde het word ook kortliks genoem. Die afdeling fokus op om waarnemings van die Son te maak en na beelde van die Son te kyk om die oppervlakkenmerke, wat sonvlekke insluit, te bestudeer.

Daar is twee aktiwiteite in hierdie afdeling wat waarneming van die Son behels. Dit is baie belangrik dat leerder NIE DIREK NA DIE SON KYK NIE, selfs met 'n sonbril, omdat hulle hul oë permanent kan beskadig.

Die ontstaan van die sonnestelsel (video).

Voordat ons die Son van naderby kyk, kom ons som eers op wat jy in Gr.6 en 7 oor die Son geleer het:

  1. Die Son is die naaste ster aan die Aarde en is baie belangrik vir lewe op Aarde aangesien dit lig en warmte gee.
  2. Die Son is in die middel van ons sonnestelsel.
  3. Die Aarde en ander planete wentel om die Son en word in hulle wentelbane gehou deur gravitasiekrag.

Hierdie simulasie wys die effek van gravitasie op die wentelbane van die Son, die Aarde en die Maan. http://phet.colorado.edu/en/simulation/gravity-and-orbits

Hoe dink jy sou die Son gelyk het as dit verder weg was, soos die ander sterre wat ons in die aand sien?



Alhoewel die Son die helderste voorwerp in ons lug is, is dit net omdat dit so naby aan ons is. Die Son is in werklikheid 'n mediumgrootte ster van gemiddelde helderheid vergeleke met ander sterre. As die Son verder weg was sou dit soos 'n klein puntjie lig gelyk het soos die ander sterre in die lug

Kom ons kyk van nader na die Son.

'n Beeld van die Son wat met die SOHO-ruimtesatelliet geneem is.

Die geheime van 'n dinamiese Son (video).

Hoe die Son werk.

Weet jy waaruit die Son bestaan? Die Son bestaan meestal uit waterstofgas (omtrent 71%), heliumgas (omtrent 27%) en net 'n klein hoeveelheid ander gasse. Die temperatuur by die Son se oppervlak is baie hoog, ongeveer 5500 °C. Dit is niks in vergelyking met wat dit diep binne-in die Son is nie, waar die kern omtrent 15 miljoen °C is. Dit is so warm by die Son se kern dat kernreaksies kan plaasvind wat atome van een element na 'n ander verander. In die geval van die Son, word vier waterstofkerne saamgepers en versmelt om 'n nuwe heliumkern te vorm. Hierdie proses word kernfusie of -versmelting genoem.

Atome ioniseer by die temperatuur wat mens by die kern van die Son kry. Kernfusie is dus die versmelting van atoomkerne eerder as atome self.

Hersien die atoommodel waarvan jy in Materie en Materiale geleer het as hy onseker is oor van die terme wat hier gebruik word. 'n Voorbeeld is die term kern, wat in die middel van 'n atoom is en uit protone en neutrone bestaan.

Kernfusie-reaksies stel energie vry omdat die nuwe heliumkerne wat gevorm word 'n effe kleiner massa het as die vier waterstofkerne waaruit hulle gevorm is. Hoe is dit moontlik? Volgens die bekende wetenskaplike Albert Einstein is dit omdat energie ekwivalent aan massa is. Van die massa in die waterskofkerne word omgeskakel en vrygestel as energie wanneer die kerne versmelt om helium te vorm. 'n Baie groot hoeveelheid energie word vrygestel. Hierdie energie beweeg weg van die Son se kern na sy oppervlak. Die energie bereik uiteindelik tussen 17 000 en 100 000 jaar later die Son se oppervlak. Die Son se energie versprei dan in die sonnestelsel in, in die vorm van warmte en lig.

Albert Einstein het die ekwivalensie van massa en energie verduidelik met die beroemde vergelyking E = mc2.

Verduideliking van E = mc2 (video).

Verskillende studies oor die beweging van fotone binne-in die Son het verskillende tye beraam om die oppervlak te bereik. Van die ouer studies het tye van miljoene jare gerapporteer. Hierdie tye is almal nou afwaarts aangepas na tiene, honderde of duisende jare.

Hoewel ons dikwels sê dat die Son sy waterstofgas tot helium 'verbrand', brand die Son nie soos 'n vuur nie, omdat dit nie aan die brand is nie. Die energie wat die Son opwek kom van die fusie van atoomkerne om 'n nuwe atoomkern te vorm. As gevolg van die ekstreme temperature oral in die Son begin die gasse gloei en gee lig af. Ons gewone ervaring van brand (of vuur) is eintlik 'n chemiese reaksie waar atome verbind om molekules te vorm bv. wanneer suurstof met koolstof meng om koolstofdioksied te vorm.

Die woord fusie beteken om te verbind. Kernfusie-reaksies vind dus plaas wanneer ligter atome versmelt om swaarder atome te vorm.

Jy gaan nou die Son waarneem deur na die kenmerke van sy oppervlak te kyk. Onthou, jy moet nooit direk na die Son kyk nie aangesien dit jou oë permanent kan beskadig. Jy kan óf 'n teleskoop met 'n filter óf 'n prikgaatjie gebruik om 'n beeld van die Son op 'n skerm te projekteer waar jy veilig daarna kan kyk.

Neem die Son met 'n teleskoop waar

Hierdie aktiwiteit moet buite gedoen word. Jy gaan 'n teleskoop of verkykers nodig hê. 'n Alternatiewe aktiwiteit wat nie 'n teleskoop of verkyker benodig nie, word hierna ingesluit. Jy gaan 'n beeld van die Son op 'n wit karton of skerm projekteer wat jou leerders kan waarneem.

As jy nie toegang tot 'n teleskoop of verkykers het nie kan jy dalk die plaaslike amateursterrekundeklub skakel. Hulle is gewoonlik gretig om betrokke te raak by opvoedkundige aktiwiteite. Dit is belangrik dat leerders nie, met of sonder 'n sonbril, direk na die Son kyk nie. Die projeksiemetode wat in die aktiwiteit gebruik word is veilig en 'n groot voordeel is dat dit ook die sonvlekke op die Son wys. Sonvlekke is gebiede op die Son se oppervlak waar die temperatuur effe laer is en dit lyk dus donkerder. As jy nie toegang tot 'n teleskoop het nie, maar wel internettoegang het, kan jy na die skakel http://sohowww.nascom.nasa.gov/data/realtime-images.html gaan kyk. Hier word elke dag 'n beeld van die Son opgelaai.

Die veronderstelling is dat hierdie demonstrasie deur die onderwyser gelei word. Daar is egter geen rede waarom leerders nie kan bydra deur die skadukraag te bou en die karton op te stel nie. As jy 'n verkyker eerder as 'n teleskoop gebruik, moet jy een van die lense bedek sodat net die een lens gebruik word. As jy die teleskoop na die Son probeer draai, is dit 'n goeie idee om na die skaduwee van die teleskoopbuis te kyk: as dit direk na die Son gedraai is, sal die kant van die buis geen skaduwees hê nie. Jy sal dalk 'n paar verskuiwings moet maak terwyl jy die teleskoop opstel. Gee dus vir jou leerders 'n kort taak om te doen terwyl jy die teleskoop opstel as jy nie vooraf genoeg tyd gehad het om dit te doen nie.

Sonvlekke is soms (nie altyd nie) op die Son se oppervlak sigbaar. Jy sal makliker sonvlekke kan sien wanneer die Son die aktiefste is, tydens son-maksimum. Die Son se aktiwiteit varieer oor 'n 11 jaar siklus. Son-maksimum word tans voorspel vir 2013. Son-minimum word tans voorspel vir 2019. As 'n uitbreiding kan jy hierdie aktiwiteit oor 'n paar dae doen om te kyk of enige sonvlekke, of groepe sonvlekke, verander van vorm, grootte of posisie.

MATERIALE:

  • teleskoop
  • wit karton
  • stoel om die karton op te sit
  • karton om die skadukraag te maak
  • skêr
  • potlood

Moet NOOIT direk na die Son kyk nie, nie eers met 'n sonbril nie. Jy kan jou oë permanent beskadig.

INSTRUKSIES:

  1. Neem 'n stuk karton en hou dit teen die dunste punt van die teleskoop.
  2. Trek 'n lyn om die rand van die teleskoop op die karton om as gids te gebruik wanneer jy jou kraag sny.
  3. Sny die sirkel wat jy geteken het uit sodat die karton oor die teleskoop pas, soos in die figuur hierbo gewys. Die diagram wys dat jy een snit in die sirkel kan maak van die rand van die karton af.
  4. Sit die kraag om die teleskoop. Verander die grootte van die uitgesnyde sirkel indien nodig. (Jou teleskoop is dalk effe wyer in die middel as aan die punt. Dit is dus dalk nodig om die sirkel bietjie groter te maak). Die kraag gooi skaduwees oor die area waar die beeld sal val, sodat ander lig nie daarop val nie.
  5. Kies die lens met die laagste vergroting en sit dit in die teleskoop se oogstuk.
  6. Stel die teleskoop se fokus deur na 'n veraf voorwerp te kyk (NIE die Son NIE).
  7. Draai die teleskoop na die Son toe (MOENIE deur die teleskoop kyk as jy dit doen nie).
  8. Sit 'n stoel agter die teleskoop en sit 'n wit stuk karton daarop neer. Die karton moet na die teleskoop gekantel wees.
  9. Verander die rigting waarin die teleskoop wys totdat die beeld van die Son op die wit karton verskyn. Dit kan 'n tydjie neem.
  10. Hou die teleskoop stil. Beweeg die wit karton nader of verder weg van die oogstuk totdat die beeld van die Son in die middel van die karton is. Verander die posisie van die stoel indien nodig.
  11. Verander die helling van die karton totdat die beeld van die Son 'n sirkel is.

Vra dat leerders interessante kenmerke uitwys wat hulle oplet. Daar kan dalk sonvlekke (donker kolle) sigbaar wees. Jy behoort ook te sien dat die beeld helderder in die middel is as om die rande. Dit is omdat as ons na die middel van die Son kyk ons dieper in die Son in kan kyk as wanneer ons na die rand kyk. Die temperatuur van die Son verhoog hoe dieper dit raak. In die middel van die Son kan ons 'n warmer area sien. Aangesien die intensiteit van lig proporsioneel tot temperatuur is, lyk die Son die helderste in die middel.

VRAE:

As jy mooi kyk sal jy sien dat die beeld van die Son stadig oor die wit karton beweeg. Wat veroorsaak hierdie beweging?


Die rotasie van die Aarde om sy as.

Gebruik die sirkel hieronder om 'n prent te teken van hoe die oppervlak van die Son op die wit karton lyk.

Leerder-afhanklike antwoord.

Waarvandaan kry die Son sy energie?

Drie van die Son se jare in drie minute.

As jy nie toegang tot 'n teleskoop of verkyker het nie, kan jy eerder die volgende aktiwiteit doen om die Son te ondersoek.

Neem die Son met 'n gaatjiekamera waar

In hierdie aktiwiteit sal jy 'n beeld van die Son op 'n wit karton of skerm projekteer sodat jou leerders dit kan waarneem. Die voordeel van hierdie metode is dat dit nie 'n teleskoop of verkyker benodig nie, maar die beeld van die Son wat dit voortbring gaan bietjie onduidelik wees. Dit behoort goed genoeg te wees om groot sonvlekke te wys. Hierdie aktiwiteit is ontwerp om deur die onderwyser gelei te word. As jy 'n sonnige venster of deur na jou klas het, kan jy die aktiwiteit in die klas doen. As jy nie 'n klaskamer met 'n sonnige venster het nie, of as jou klas baie klein is, kan jy die aktiwiteit buite doen deur die beeld van die Son op 'n muur in die skaduwee of terug in die donker klaskamer in te reflekteer.

As 'n ruwe riglyn, begin met 'n afstand van 8 m tussen die wit karton en die spieël. Hoe verder weg jy die spieël van die wit skerm sit, hoe dowwer en groter sal die beeld wees. Hoe korter die afstand, hoe helderder sal die beeld wees, maar dit is dalk nie goed gefokus nie.

Soos in die vorige aktiwiteit genoem, is sonvlekke soms (nie altyd nie) sigbaar op die Son se oppervlak. Jy kan dus die aktiwiteit oor 'n paar dae herhaal om te sien of enige van die sonvlekke of groepe sonvlekke van vorm, grootte of posisie verander.

MATERIALE:

  • klein sak- of handspieël
  • stuk gewone karton (of papier) om oor die spieël te pas (jy kan maskeerband ook gebruik)
  • wit kartonskerm
  • swart vullissak of gordyne om die klaskamer te verdonker

METODE:

  1. Sny die karton of papier sodat dit oor die spieël pas.
  2. Sny of pons 'n baie klein gaatjie, omtrent 5 mm in deursnee, in die middel van die karton.
  3. As jy nie karton het nie kan jy maskeerband gebruik om alles behalwe 'n klein deel van die oppervlak van die spieël te bedek.
  4. Sit die spieël op 'n vensterbank waar dit in die Son lê en kantel dit effens sodat dit die sonlig vang en dit terug in die klas in reflekteer. As jou klas baie klein is, is dit dalk 'n beter opsie om die spieël buite op 'n stoel te sit om 'n groter beeld te kry.
  5. Gebruik gordyne of swart vullissakke om die klaskamer oral, behalwe waar die spieël is, te verdonker.
  6. Reflekteer die sonlig van die spieël op 'n muur in die donker klaskamer.
  7. Sit die wit karton of papier teen die muur waar die gereflekteerde lig die beeld van die Son toon.
  8. Neem die beeld van die Son waar.
  9. Verwyder die wit karton van die muur en neem drie treë nader aan die spieël. Die karton moet steeds na die spieël wys. Kyk wat gebeur met die beeld van die Son op die karton.

VRAE:

Wat het met die beeld van die Son gebeur toe jy die wit karton nader aan die spieël gebring het?


Die beeld behoort kleiner en helderder te word.

Gebruik die sirkel hieronder om 'n prent te teken van hoe die oppervlak van die Son op die wit karton lyk.

Leerder-afhanklike antwoord.

Wat kan jy van die invalshoek en die weerkaatsingshoek sê indien die Son van die oppervlak van die muur af gereflekteer word.


Die hoeke is gelyk. Dit sluit aan by wat ons verlede kwartaal in Energie en Verandering geleer het.

Het jy enige kenmerke op die Son se oppervlak opgelet toe jy in die klas daarna gekyk het? Ons gaan in die volgende aktiwiteit kyk wat van hierdie kenmerke kan wees.

Vlammende reënring op die Son (video).

Neem sonvlekke op die Son se oppervlak waar.

Dit is 'n addisionele uitbreidingsaktiwiteit. In hierdie aktiwiteit gaan leerders na beelde kyk wat in 2013 op drie agtereenvolgende dae geneem is. Die beelde is met die Helioseismiese en Magnetiese Beeldopnemer aan boord van die Solar Dynamics Observatory-ruimtesatelliet geneem. In die beelde is twee groot sonvlekgroepe sigbaar: een in die Son se noordelike hemisfeer en een in die Son se suidelike hemisfeer. Leerders behoort die twee groepe te kan identifiseer en waar te neem dat hulle in elke opeenvolgende beeld van links na regs oor die Son beweeg.Die sonvlekke beweeg só omdat die Son om sy eie as draai.

As inleiding tot die aktiwiteit kan jy die leerders vra of hulle enige uitstaande kenmerke op die Son se oppervlak opgelet het toe hulle in die klas daarna gekyk het. Daarna kan jy hulle vra om na die prente hieronder te kyk.

INSTRUKSIES:

  1. Kyk na die beelde van die Son wat in Junie 2013 geneem is.
  2. Beantwoord die vrae wat volg.
A: DATUM: 02.06.2013
B: DATUM: 03.06.2013
C: DATUM: 04.06.2013

VRAE:

Hoeveel groepe donker vlekke kan jy in elke beeld sien?



Daar is twee hoofgroepe: een in die boonste helfte van die Son en nog een in die onderste helfte.

Wat het jy in elke beeeld opgelet oor die posisie van die vlekke?


Hulle beweeg van links na regs oor die Son se beeld.

Waarom dink jy beweeg die vlekke?


Die Son draai om sy eie as (een keer ongeveer elke 25 dae).

Wat dink jy is hierdie vlekke?


Hulle word sonvlekke genoem en is gebiede waar die temperatuur koeler as op die res van die Son se oppervlak is.

Sonvlekke en die Son se oppervlak

Hierdie verrykingsmateriaal is om leerders se kennis oor die Son uit vorige grade aan te vul. Hier is 'n skakel vir 'n aflaaibare pdf-dokument met 'n aktiwiteit om sonvlekke intyd waar te neem. Data afkomstig van SOHO word gebruik: http://sohowww.nascom.nasa.gov/classroom/docs/Spotexerweb.pdf

Leer meer oor die navorsing wat NASA met die Son- en Heliosfeerobservatorium (SOHO) oor die Son doen. http://sohowww.nascom.nasa.gov/home.html

Die Son se oppervlak het dikwels klein kolletjies op. Hierdie donker kolletjies word sonvlekke genoem. Dit is areas wat effe koeler as die res van die Son se oppervlak is. Die Son se oppervlak is normaalweg omtrent 5500 °C en 'n tipiese sonvlek het 'n temperatuur van omtrent 3900 °C.

Hierdie inligting oor die Son se oppervlak en sonvlekke is ekstra inligting wat interessantheidshalwe ingesluit is. Wees nuuskierig; ontdek meer!

'n Beeld van 'n sonvlek. Om dit in perspektief te plaas, kyk na die grootte van die aarde onder aan die linkerkant.

Kyk na intydse beelde van die Son en volg die sonvlekke. http://sohowww.nascom.nasa.gov/sunspots/

Aangesien die Son uit gas bestaan is daar geen soliede oppervlak soos op die Aarde nie. Waarna kyk ons dan eintlik as ons sê ons kyk na die Son se oppervlak? Stel jou voor dat jy en 'n vriend in digte mis staan. Jy kan dinge naby aan jou sien, soos jou hand voor jou en jou vriend wat langs jou staan. Die mis is egter so dig dat jy nie ver kan sien nie. Net so, as ons na die Son kyk, kan ons nie tot in die middel van die Son sien nie. Soos jy dieper en dieper inbeweeg, na die middel van die Son toe, word die gas dikker en dikker sodat ons nie daardeur kan sien nie. Die diepste diepte wat ons in die Son se gas in kan sien, is wat die Son se oppervlak genoem word.

Sonvlekke is areas wat effe koeler, en daarom donkerder, as die res van die Son se oppervlak is. 'n Tipiese sonvlek duur slegs 'n paar dae. Wanneer 'n sonvlek 'n paar dae duur kan jy dit waarneem terwyl dit oor die Son se beeld beweeg. Die sonvlek lyk of dit oor die Son beweeg omdat die Son stadig om sy eie as draai.

Die aantal sonvlekke op die Son vermeerder en verminder in 'n reëlmatige patroon wat elke 11 jaar herhaal. Wanneer daar meer sonvlekke is, is die Son meer aktief, is daar meer sonstorms en meer van die Son se energie bereik die Aarde.

Die buitenste atmosfeer van die Son word die korona genoem. Gasdeeltjies van die korona ontsnap voortdurend die ruimte in en dit vorm die sonwind. Wanneer die Son baie aktief is, is daar geweldige uitbarstings, wat sonvlamme genoem word, op die Son se oppervlak.

'n Groot lus gas strek meer as 35 keer die Aarde se deursnee van die Son se oppervlak af.

Voorwerpe om die Son

Hierdie afdeling kyk na al die voorwerpe wat om die Son wentel, insluitend die agt planete, dwergplanete, asteroïede, Kuipergordel, Oortwolk en komete. Leerders behoort uit hulle werk in Gr.6 vertroud te wees met die agt planete in die sonnestelsel. Hulle sal egter nie noodwendig weet van die ander komponente van die sonnestelsel nie. Die eerste deel van hierdie afdeling is bedoel as hersiening om leerders te herinner aan die eienskappe van die agt planete. Die twee tipes planete, aardplanete (rotsagtig) en gasreuse word in fyn besonderhede vergelyk. Die tweede deel van die afdeling behandel kleiner liggame in die sonnestelsel, soos dwergplanete, komete en asteroïede. Dit moet beklemtoon word dat nuwe ontdekkings gereeld gemaak word en dus sal die aantal mane om die planete en die aantal dwergplanete mettertyd verander.

  • aardplaneet
  • gasreus
  • dwergplaneet

Verken die sonnestelsel deur jou rekenaar met hierdie 3D omgewing http://eyes.nasa.gov/ en kyk na enige voorwerpe in die sonnestelsel met hierdie interaktiewe simulator http://space.jpl.nasa.gov/

Die Son is verreweg die grootste en mees massiewe voorwerp in die sonnestelsel. Dit maak 98% van die totale massa van die sonnestelsel uit. As gevolg van die Son se massiewe grootte veroorsaak sy groot gravitasiekrag dat planete en ander voorwerpe in die sonnestelsel daarom wentel.

Rondom die Son wentel die agt planete saam met hulle mane, dwergplanete en 'n aantal baie kleiner voorwerpe soos asteroïede, Kuipergordelvoorwerpe en komete. Jy sal later in die hoofstuk oor hierdie voorwerpe leer.

'terra' is die Latynse woord vir Aarde

Die vier planete naaste aan die Son is Mercurius, Venus, Aarde en Mars. Hulle word aardplanete of terrestriale planete genoem omdat hulle soliede rotsagtige oppervlakke het. Verder weg lê die gasreuse Jupiter, Saturnus, Uranus en Neptunus. Hulle is baie groter as die aardplanete en bestaan hoofsaaklik uit gas met klein kerne van rotsagtige materiale. Tussen hierdie aardplanete en die gasreuse lê die asteroïedgordel en ver buite die wentelbaan van Neptunus lê die Kuipergordel.

Is daar gravitasie in die ruimte?

Soos jy kan sien is daar baie verskillende soorte voorwerpe wat om die Son wentel, en hulle is nie almal planete nie! Om as planeet geklassifiseer te word, moet 'n voorwerp:

  1. om die Son wentel
  2. groot genoeg wees dat sy eie gravitasie hom in 'n sferiese vorm trek
  3. kleiner voorwerpe uit sy wentelbaan verwyder deur hulle óf in 'n ander wentelbaan te gooi óf hulle aan te trek en aan homself te laat vassit (dit beteken dat daar geen voorwerpe van 'n soortgelyke grootte in hulle omgewing wentel nie)

Pluto is in 2006 van 'n planeet na 'n dwergplaneet herklassifiseer. Hoewel Pluto om die Son wentel en amper rond is, het dit nie ander voorwerpe uit sy wentelbaan verwyder nie en dus kan dit nie as 'n planeet geklassifiseer word nie. Daar is nog baie ander dwergplanete wat dieselfde afstand van die Son is as Pluto.

Van die ouer handboeke of webtuistes wat jy besoek, kan steeds na Pluto verwys as 'n planeet aangesien hulle nog nie opdateer is nie.

Jy sal later in die hoofstuk meer leer oor planete en ander voorwerpe wat om die Son wentel. Kom ons begin deur te kyk na die grootte en skaal van die sonnestelsel.

Bou jou eie sonnestelsel met hierdie wentelbaannabootser. http://phet.colorado.edu/en/simulation/my-solar-system

Die skaal van die sonnestelsel

Leerders sal in hierdie aktiwiteit 'n idee kry van die skaal van die sonnestelsel. Deur 'n model te gebruik waar die Son volgens skaal tot die grootte van 'n pomelo verklein word, word die ander planete ook volgens skaal verklein en op die regte afstand volgens die skaal in hulle wentelbane om die pomelo-Son geplaas. Hierdie aktiwiteit het baie spasie nodig. Die afstand wat jy van die Son na Neptunus nodig het is 321 m. Die skaal in die aktiwiteit is 14 miljard tot 1. Jy kan die skaal verander om jou spasie te pas.

'n Opsommende tabel met die groottes en afstande van die planete volgens skaal word vir verwysing ingesluit. Leerders kan 'n maatband gebruik om die afstande af te meet. As jy nie 'n maatband het nie, word die geraamde afstand in treë gegee.

Voorwerp

Ware deursnee (D) of afstand van die Son (d)(km)

Mate volgens skaal in model

Voorgestelde model

Son

D = 1,4 x 106

10 cm

Pomelo

Mercurius

D = 4,9 x 103

d = 58 x 106

0,35 mm

4,2 m

Soutkorrel

4 groot treë

Venus

D = 12 x 103

d = 108 x 106

0,86 mm

7,7 m

Papawersaadjie

8 groot treë

Aarde

D = 13 x 103

d = 150 x 106

0,91 mm

10,7 m

Papawersaadjie

11 groot treë

Mars

D = 6,8 x 103

d = 228 x 106

0,48 mm

16,3 m

Soutkorrel

16 groot treë

Jupiter

D = 143 x 103

d = 778 x 106

10,0 mm

55,6 m

Klein druiwekorrel

55 groot treë

Saturnus

D = 128 x 103

d = 1426 x 106

8,57 mm

102 m

Ertjie

100 groot treë

Uranus

D = 51 x 103

d = 2868 x 106

3,65 mm

205 m

Peperkorrel

200 groot treë

Omtrent twee keer die lengte van 'n rugbyveld

Neptunus

D = 45 x 103

d = 4500 x 106

3,55 mm

321 m

Peperkorrel

320 groot treë

Omtrent drie keer die lengte van 'n rugbyveld

Alpha Centauri (die naaste ster)

d = 4,0 x 1013

2900 km

Van Kaapstad na Lusaka!

Die wentelbane en planete in die sonnestelsel wat ons gaan voorstel.

MATERIALE:

  • pomelo
  • peperkorrels
  • soutkorrels
  • papawersade
  • ertjie
  • druiwekorrel
  • maatband

INSTRUKSIES:

  1. Gaan buitentoe na 'n groot veld toe vir hierdie aktiwiteit. Begin aan die een kant van die veld.
  2. Sit die pomelo op die grond, dit verteenwoordig die Son.
  3. Meet 4,2 m weg van die pomelo en sit 'n korrel sout op die grond neer. Dit stel Mercurius voor. As jy nie 'n maatband het nie, kan jy vier groot treë van die pomelo af gee.
  4. Herhaal die proses vir elkeen van die planete in die sonnestelsel. Die onderwyser sal vir jou sê hoe ver elke planeet van die Son af is en sal vir jou die gepaste voorwerp gee om jou planeet voor te stel.
  5. Raai hoe ver jy dink die tweede naaste ster naas die Son is.

Kyk na die tabel wat voorsien is.

Kom ons maak nou 'n kleiner model van die sonnestelsel.

Vergelyk die planete met hierdie instrument van NASA. http://solarsystem.nasa.gov/planets/compchart.cfm?Object1=Earth&Object2=Mars

Maak 'n hangende sonnestelsel

In hierdie aktiwiteit gaan leerders op hulle eie werk om 'n hangende sonnestelsel te maak.

MATERIALE:

  • karton van omtrent 30 cm in deursnee
  • papier
  • tou of gare
  • skêr
  • kleeflint
  • potlood, kryte of merkpenne
  • passer (om sirkels te teken)
  • spyker (om gaatjie in die karton te maak)

INLIGTINGSTABEL

Voorwerp

Radius van wentelbaan (cm)

Radius van voorwerp (cm)

Son

-

5,0* - NIE op skaal nie

Mercurius

0,4

0,2

Venus

0,7

0,8

Aarde

1,0

0,8

Mars

1,5

0,4

Jupiter

5,0

5,1

Saturnus

9,2

4,1

Uranus

18,6

1,6

Neptunus

29,1

1,6

*Let op dat as die Son op dieselfde skaal as die res van die planete geteken sou word, sy radius 50 cm eerder as 5 cm moet wees!

Die skaal van die wentelbane verskil van die skaal van die voorwerpe se groottes in hierdie tabel. As hulle op dieselfde skaal was, sou die Son en die planete baie, baie kleiner gewees het.

INSTRUKSIES:

  1. Sny die karton in 'n sirkel met 'n radius van 15 cm. Gebruik 'n passer en 'n potlood om die sirkel te trek.
  2. Merk die middelpunt van die sirkel. Dit sal die posisie van die Son wees.
  3. Gebruik 'n passer en teken die wentelbane van die agt planete op die karton. Die eerste vier planete wentel redelik naby die Son. Dan is daar 'n gaping (die asteroïedgordel) en dan volg die laaste vyf planete se wentelbane baie ver van die Son af. Die radius van elke sirkel, wat elke planeet se wentelbaan verteenwoordig, is in die tabel hierbo getoon.
  4. Gebruik die skerp punt van die skêr se lem of 'n groot spyker om 'n gaatjie in die middel van die karton te druk (dit is waar die Son sal hang).
  5. Druk 'n gaatjie op elke sirkel (wentelbaan); 'n planeet sal van elke gaatjie hang.
  6. Sny een sirkel uit die papier om die Son voor te stel.
  7. Herhaal dit vir elkeen van die planete. Die omvang in groottes van die Son en die planete is heeltemal te groot om akkuraat voor te stel, dus gebruik ons ruweg die radiusse soos uiteengesit in die tabel om die sirkels te maak. Mercurius en Mars is baie klein in vergelyking met die ander planete. As jy sukkel om sulke klein sirkels te sny, kan jy hulle bietjie groter maak.
  8. Kleur elke planeet en die Son in dat dit soos die prente wat later in die hoofstuk gegee word, lyk.
  9. Plak 'n stuk tou of wol aan die Son en elke planeet vas.
  10. Steek die ander punt van elke stuk wol of tou deur die regte gaatjie op die kartonsirkel.
  11. Plak die punt van die tou bo-op die karton vas.
  12. Nadat al die planete en die Son vasgeplak is, verstel die lengtes van die toue sodat die planete en Son almal op dieselfde hoogte is as die sirkel in die lug gehou word.
  13. Om jou model op te hang, bind drie stukke tou aan die bokant van die karton om die rand vas. Bind dan hierdie drie toue saam en bind hulle aan 'n langer tou vas (waaraan jy jou model sal hang).

VRAE:

Waarom het jy die toulengtes so aangepas dat die Son en al die planete op dieselfde hoogte hang?


Die planete wentel om die Son in 'n plat vlak wat die Son insluit.

Lees meer oor die huidige navorsing by NASA se Mars Science Laboratory. http://mars.nasa.gov/msl/

Noudat jy 'n idee het van die grootte en skaal van die planete in ons sonnestelsel kan ons die twee groepe planete vergelyk: die binneplanete, Mercurius, Venus, Aarde en Mars, met die buiteplanete, Jupiter, Saturnus, Uranus en Neptunus. Kyk na die volgende prente wat die kenmerke van die twee groepe planete vergelyk.

Die doel van hierdie afdeling is om leerders te herinner aan die twee tipes planete. Hulle het reeds in Gr.6 kennis gemaak met die twee tipes planete: die binneste rotsagtige aardplanete en die buitenste gasreuse. Dié afdeling behandel weer die inligting en verduidelik dan hoekom daar twee tipes planete is. Vir 'n opsomming van elke planeet se eienskappe kyk na http://nssdc.gsfc.nasa.gov/planetary/factsheet/

Die relatiewe groottes van die aardplanete en gasreuse; van links na regs: Mercurius, Venus, Aarde, Mars, Jupiter, Saturnus, Uranus en Neptunus. Let op dat die planete nie in die werklikheid ewe ver van mekaar af is nie, maar hulle word so uitgebeeld sodat die voorstelling op die bladsy kan pas.

Hoe vergelyk die groottes van die aardplanete met dié van die gasreuse?


Die gasreuse is baie groter as die aardplanete.

Kom ons kyk nou na die samestelling van die twee tipes planete.

Die beeld hierbo wys die binnestruktuur van die aardplanete. Hulle het almal 'n metaalkern, 'n rotsagtige mantel en 'n dun buitekors. Hulle het ook 'n dun atmosfeer (Mercurius het 'n uitsonderlike dun atmosfeer). Die Aarde se atmosfeer is die enigste in die sonnestelsel wat baie suurstof bevat. Dit is noodsaaklik om lewe op Aarde te onderhou.

Wanneer dit winter is op Mars kan jy sien dat yskappe by die pole vorm, net soos op die Aarde gebeur. Anders as die Aarde se yskappe wat uit bevrore water bestaan, word Mars s'n van bevrore koolstofdioksied gemaak. Die bevrore koolstofdioksied kom uit Mars se atmosfeer.

Die beeld hieronder wys die struktuur van die gasreuse. Hulle bestaan meestal uit waterstof- en heliumgasse en is baie minder dig as die rotsagtige aardplanete.

As jy dieper in Saturnus en Jupiter se atmosfeer sou inbeweeg, raak die atmosfeer digter en digter totdat dit uiteindelik vloeistof word. Hierdie vloeibare waterstof word metaalwaterstof genoem. Nog dieper het hulle 'n soliede kern van rotsagtige materiale.

Diep binne Jupiter en Saturnus is waterstof 'n vloeistof omdat die waterstofmolekules saamgepers is deur die enorme druk by daardie dieptes. Hierdie druk word veroorsaak deur die gewig van die planeet se atmosfeer.

Uranus en Neptunus het dik atmosfere wat metaan, waterstof en helium bevat. Die metaan veroorsaak die planete se blou kleur. Wetenskaplikes dink dat daar onder hulle atmosfeer 'n papperige mantel van water, ammoniak en metaan-yse is. In die middel het hulle 'n kern van rotse en ys.

Ys verwys nie net na water-ys nie, maar ook na alle bevrore elemente en verbindings. Die rotse en ys in die materiale lyk nie soos enige rotse of ys wat jy op die Aarde sal sien nie omdat die temperature en druk op hierdie planete en op die gasreuse baie, baie hoër is.

Kyk na die prente hieronder. Hulle wys beelde van die gasreuse. Watter kenmerke kan jy sien wat al die gasreuse in gemeen het?


Hulle het almal ringe.

Die beeld van Saturnus is met die Hubble-ruimteteleskoop geneem. Kan jy van sy mane sien?
Uranus, afgeneem met die Hubble-ruimteteleskoop. Wat sien jy wat vreemd is aan Uranus?

Uranus lê op sy sy.

Neptunus is net buite sig regs onder op die prent. Die foto is met die ruimteverkenningstuig Voyager 2 geneem toe dit in 1989 verby Neptunus gevlieg het.

Ontdek meer aanlyn by NASA se webtuiste oor die verkenning van die sonnestelsel. http://solarsystem.nasa.gov/index.cfm

Jy kan sien dat al die gasreuse ringe het. Geen aardplaneet het ringe nie.

Nog 'n verskil tussen die binneste rotsagtige planete en die buitenste gasreuse is die aantal mane wat om elke planeet wentel. Kyk na die tabel hieronder wat die aantal mane toon wat elke planeet in ons sonnestelsel het.

Planeet

Aantal mane

Mercurius

0

Venus

0

Aarde

1

Mars

2

Jupiter

67

Saturnus

62

Uranus

27

Neptunus

13

Daar word voortdurend nuwe mane ontdek, dus kan hierdie getal mettertyd verander.

Wat kan jy oor die algemeen sê oor die aantal mane wat die twee tipes planete het?



Die aardplanete het geen of min mane, terwyl die gasreuse baie mane het.

Die aardplanete is baie nader aan die Son as die gasreuse. Die aardplanete neem dus 'n korter tyd as die gasreuse om om die Son te wentel aangesien hulle 'n korter afstand moet aflê.

Kom ons kyk hoe die afstand vanaf die Son die planete se temperature affekteer.

Planete se temperature

In hierdie aktiwiteit vergelyk leerders die temperatuur van verskillende planete. Leerders gebruik die tabel wat voorsien is om elke planeet op die regte plek op die termometer hieronder aan te dui. Hierdie aktiwiteit vereis dus dat leerders inligting uit 'n tabel en van 'n grafiek moet kan lees.

INSTRUKSIES:

  1. Kyk na die tabel wat die oppervlaktemperatuur van elk van die planete wys.
  2. Dui elkeen van die planete op die regte plek op die termometer aan. Gebruik die inligting oor temperatuur wat in die tabel voorsien is.

Planeet

Temperatuur (°C)

Mercurius

167

Venus

464

Aarde

15

Mars

-65

Jupiter

-110

Saturnus

-140

Uranus

-195

Neptunus

-200

Die skets met byskrifte:

VRAE:

Watter planeet het die laagste gemiddelde temperatuur?


Neptunus.

Waarom dink jy is dit so?


Dit is die verste planeet van die Son.

Wat let jy op oor die gemiddelde temperatuur van die aardplanete in vergelyking met die gasreuse?


Die gemiddelde temperatuur van die aardplanete is baie hoër as dié van die gasreuse.

As jy Venus uitsluit, hoe vergelyk die rangskikking van die planete van die Son af met hulle gemiddelde temperatuur?



Oor die algemeen, hoe verder weg van die Son 'n planeet is, hoe laer is die temperatuur.

LET WEL: Venus is 'n uitsondering omdat dit 'n baie dik atmosfeer het en daar 'n weghol-kweekhuiseffek op die planeet aan die gang is. Leerders sal later in die hoofstuk hieroor leer.

Die aardplanete en die gasreuse het duidelik baie verskillende eienskappe. Kom ons vergelyk hulle.

Vergelyk aardplanete en gasreuse

In hierdie aktiwiteit moet leerders die twee tipes planete vergelyk. Hulle moet die inligting wat hulle tot dusver in die afdeling gekry het, gebruik.

INSTRUKSIES:

  1. Die tabel hieronder vergelyk die twee tipes planete. Vul die ontbrekende inligting in.

Aardplanete

Gasreuse

naby die Son

__________ van die son

naby gespasieerde wentelbane

wyd gespasieerde wentelbane

klein massas

groot massas

klein radiusse

__________ radiusse

meestal rotsagtig

meestal __________

soliede oppervlak

__________ oppervlak

hoë digtheid

__________ digtheid

stadiger rotasie

vinniger rotasie

__________ mane

baie mane

__________ ringe

baie ringe

dun atmosfeer

__________ atmosfeer

warm

__________

Aardplanete

Gasreuse

naby die Son

ver van die Son

naby gespasieerde wentelbane

wyd gespasieerde wentelbane

klein massas

groot massas

klein radiusse

groot radiusse

meestal rotsagtig

meestal gasagtig

soliede oppervlak

geen soliede oppervlak

hoë digtheid

lae digtheid

stadiger rotasie

vinniger rotasie

min of geen mane

baie mane

geen ringe

baie ringe

dun atmosfeer

dik en digte atmosfeer

warm

koud

Waarom dink jy is daar so 'n groot verskil tussen die twee tipes planete?



Leerder-afhanklike antwoord. Antwoord in die teks hieronder.

Toe die sonnestelsel gevorm is, het die verskil in temperatuur regdeur die vroeë sonnestelsel veroorsaak dat die binneplanete rotsagtig en die buiteplanete gasagtig is. Naby die Son was dit warm en slegs materiale met baie hoë smeltpunte, soos metale, kon vaste stowwe bly en planete vorm. Verder weg van die Son was dit koud en verbindings soos water en metaan het gevries. Sterrekundiges noem hierdie bevrore verbindings yse. Die kerne van die gasreuse bevat rotsagtige en ysagtige verbindings. Daar is baie min metale in die heelal en dus is die binneplanete baie kleiner as die gasreuse. Die gasreuse kon ook groot hoeveelhede waterstof en helium na hulle atmosfere aantrek as gevolg van hulle grootte.

Kom ons vergelyk die rotsagtige planete en die gasreuse verder.

Vergelyk die binne- en buiteplanete

In hierdie aktiwiteit gaan leerders die inligting in die tabel hieronder gebruik om vrae te beantwoord wat die eienskappe van die rotsagtige planete en die gasreuse vergelyk. Dit is 'n goeie oefening om leerders te kry om inligting uit tabelle te lees en patrone in data te soek.

INSTRUKSIES:

Gebruik die inligting in die tabel om die vrae wat volg te beantwoord.

Planeet

Digtheid

(kg/m3 )

Deursnee (km)

Afstand van die Son (miljoen km)

Lengte van dag (uur)

Lengte van jaar (aarddae)

Mercurius

5427

4879

57,9

4222,6

88

Venus

5243

12104

108,2

2802,0

224,7

Aarde

5514

12756

149,6

24,0

365,25

Mars

3933

6792

206,6

24,7

687,0

Jupiter

1326

142984

740,5

9,9

4331

Saturnus

687

120536

1352,6

10,7

10747

Uranus

1271

51118

2741,3

17,2

30589

Neptunus

1638

49528

4444,5

16,1

59800

Die daglengte wat hier gegee word is die gemiddelde tyd in uur wat dit vir die Son neem om by 'n punt op die ewenaar van 'n posisie in die lug om twaalfuur in die middag weer by dieselfde posisie te kom. Dit is nie dieselfde as die tyd wat dit die planeet neem om een rotasie om sy eie as ten opsigte van die sterre te voltooi nie. Die Aarde voltooi, byvoorbeeld, een rotasie om sy as ten opsigte van die sterre in 23,9 uur. Omdat die Aarde in sy wentelbaan bly beweeg terwyl dit om sy as draai, neem dit eintlik 24 uur vir die Son om na dieselfde posisie in die lug terug te keer (wat is hoe ons gewoonlik 'n dag op die Aarde definieer - van middaguur tot middaguur).

VRAE:

Gegee dat die digtheid van water 1000 kg/m3 is, watter van die planete sou op water kon dryf? Verduidelik jou antwoord.



Saturnus sou op water kon dryf aangesien sy digtheid minder as dié van water is.

LET WEL: Dit sluit aan by wat leerders in Kwartaal 2 in Materie en Materiale oor die deeltjiemodel van materie geleer het.

Vergelyk die digtheid van die rotsagtige planete en die gasreuse. Watter tipe planete is geneig om digter te wees? Verduidelik hoekom.



Die binneste, rotsagtige aardplanete is digter as die buitenste gasreuse aangesien die binneste planete van soliede rots, wat digter as gas is, gemaak is.

Watter planeet het die kortste dag?


Jupiter.

Vergelyk die daglengte van die rotsagtige planete en die gasreuse. Watter tipe planeet is geneig om die kortste dag te hê? Wat sê dit vir jou oor hoe vinnig die twee tipes planete om hulle eie as draai?



Die gasreuse is geneig om die kortste dae te hê. Dit beteken dat hierdie planete vinniger om hulle eie as draai as die aardplanete.

Watter planeet wentel die vinnigste om die Son? Waarom?



Mercurius, want dit is die naaste planeet aan die Son en moet die kortste afstand aflê.

Watter planeet se jaar is korter as sy dag?


Mercurius.

Teken 'n staafgrafiek wat die afstand wat elke planeet van die Son is aandui. Gebruik die volgende spasie om jou grafiek te teken.













Hieronder is 'n voorbeeld van 'n grafiek. Jy kan Assesseringsrubriek 3 agter in die Onderwysersgids gebruik as jy die taak wil assesseer.

Solar System 101: NASA se 'Huiswerk-helper' kan jou wys waar om nog inligting te kry. http://solarsystem.nasa.gov/kids/index.cfm?Filename=homework&Target=SolarSys#

Mercurius

Die volgende bladsye verskaf interessante bykomende inligting oor die planete in ons sonnestelsel.

Mercurius, afgeneem deur die Messenger-ruimtetuig, is nes ons Maan vol kraters.
  • Mercurius se atmosfeer is baie dun en word voortdurend in die ruimte in verloor. Dit is omdat die planeet se gravitasiekrag te klein is om dit vas te hou.
  • Mercurius het die mees ekstreme temperature in die sonnestelsel; dit kan 426 °C in die dag bereik en -173 °C in die nag.

Venus

Die oppervlak van Venus in valse kleur (onder links) en die bokant van die atmosfeer (regs bo) soos deur die Magellan-ruimtetuig waargeneem.

Venus het 'n dik, digte atmosfeer wat meestal uit koolstofdioksied bestaan - wat 'n effektiewe kweekhuisgas is. Dit is hoekom, in die aktiwiteit oor die temperature van die planete, gesien is dat Venus die hoogste oppervlaktemperatuur het.

  • Venus is die warmste planeet in ons sonnestelsel. Die temperatuur is warm genoeg om lood te smelt!
  • Venus het wolke van swaelsuur.
  • Venus draai in die teenoorgestelde rigting as al die ander planete.

Venus het berge, vulkane en sandduine net soos die Aarde.

Aarde

Hierdie bekende foto van die Aarde is in 1990 deur Voyager 1 van 6 miljard kilometer weg geneem is. Die Aarde lyk soos 'n klein spikkel (die blouerige wit spikkel omtrent halfpad teen die bruin band af, aan die regterkant). Die gekleurde bande is verstrooide ligstrale van die Son.

Terwyl Voyager 1 besig was om uit die sonnestelsel te vaar, het Carl Sagan, 'n bekende sterrekundige, versoek dat hulle die kamera omdraai om 'n foto van die Aarde oor 'n groot afstand te neem.

Carl Sagan - Pale Blue Dot (video).

'n Strokiesprent van Carl Sagan se bekende toespraak oor die 'Pale Blue Dot'. http://zenpencils.com/comic/100-carl-sagan-pale-blue-dot/

  • Tot op hede is die Aarde die enigste planeet in die heelal wat lewe kan onderhou.
  • Die gemiddelde afstand tussen die Son en die Aarde word 'n astronomiese eenheid (AE) genoem en is gelyk aan 150 miljoen kilometers.

Mars

Mars se bynaam is die Rooi Planeet vanweë sy rooi oppervlak wat so lyk omdat die rotse ryk aan yster is. Die wit vlekke in die middel is wolke van water-ys.
  • Mars se oppervlak is soos 'n droë, rooi woestyn. Nes die Aarde het Mars berge, vulkane en valleie.
  • Die diepste en langste vallei in die sonnestelsel, Valles Marineris, is op Mars. Dit is amper so breed soos Australië.

Die grootste vulkaan in die sonnestelsel, Olympus Mons, is op Mars en is drie keer hoër as die berg Everest.

Mars en die soeke na lewe

Wetenskaplikes is baie geïnteresseerd in Mars aangesien hulle dink dat daar eens op 'n tyd vloeibare water op die oppervlak was, en miskien selfs lewe ook. Daar is oral op Mars kanale, valleie en klowe, wat impliseer dat daar in 'n stadium water deur hulle gevloei het. Hoewel daar nie nou vloeibare water op die planeet se oppervlak is nie, dink wetenskaplikes dat daar dalk steeds water in van die skeure en klein gate in die ondergrondse rots kan wees.

Daar is al baie keer robot-landingstuie na Mars gestuur. Die eerste tuig, NASA se Viking 1, het in 1976 op Mars geland - lank voor enige van julle gebore is! Dit het die eerste nabyfoto's van die oppervlak van Mars geneem, maar daar was geen tekens van lewe nie. Die Mars-landingstuie het water-ys onder die planeet se oppervlak ontdek, asook minerale wat daarop dui dat daar in 'n stadium vloeibare water was. Die mees onlangse landingstuig, wat op die oomblik op Mars ontdekkingsreise doen, is NASA se Mars Science Laboratory-sending met sy verkenningstuig Curiosity. Curiosity het in Augustus 2012 op Mars geland en ondersoek die planeet se rotse naby 'n groot krater genaamd die Gale-krater. Een van die hoofdoele van die Mars-wetenskaplaboratorium is om te bepaal of Mars al ooit 'n omgewing gehad het wat lewe kon onderhou.

Kyk na die eerste 12 maande van Curiosity se ontdekkingsreise in twee minute.

NASA se Curiosity vind in 2013 water in Mars se grond.

Jupiter

Magnetiese storms veroorsaak die auroras wat op Jupiter naby sy pole gesien kan word.
  • Jupiter se deursnee is meer as tien keer die Aarde s'n.
  • Jupiter se rotasie is effe vinniger by die ewenaar (onthou dit is nie 'n soliede voorwerp nie, maar 'n groot gasbal).
  • Jupiter se bekende groot rooi kol is 'n groot orkaan wat vir minstens 300 jaar al woed. Die storm se oppervlakte is groter as die Aarde.

Saturnus

Saturnus van naby (video).

Saturnus se pragtige ringe wat deur die Cassini-ruimtetuig afgeneem is.
  • Saturnus sou op water kon dryf as mens 'n oseaan gehad het wat groot genoeg was.
  • Saturnus is bekend vir sy ringe. Die ringe is meer as 200 000 km breed en slegs 'n tiental meter dik.

Uranus

Uranus roteer op sy sy. Wetenskaplikes vermoed Uranus is vroeg in sy geskiedenis op sy sy gestamp deur 'n botsing met 'n groot voorwerp.
  • Uranus het glo 'n oseaan van vloeibare water, ammoniak en metaan bo sy rotsagtige kern.
  • Uranus is die eerste planeet wat met 'n teleskoop ontdek is.

Gaan op 'n virtuele reis verby Jupiter, Saturnus, Uranus en Neptunus in die Voyager 1 en 2.

Neptunus

Neptunus en sy "Groot Donker Vlek" (links in die middel). Dit is 'n reuse-storm wat tot onlangs op die planeet gewoed het. Die winde het byna 1931 km/h bereik.
  • Neptunus beleef die sterkste winde in die sonnestelsel. Stormwinde van 10 keer so sterk soos die Aarde se orkane is al opgeteken.
  • Van al die gasreuse, het Neptunus die meeste metaan in sy atmosfeer. Dit gee die planeet sy blou kleur.

Planeet-vakansies

Hierdie is 'n kreatiewe skryfstuk wat leerders kan doen om die sonnestelsel op 'n verbeeldingryke manier te ondersoek. Leerders stel hulle voor hulle is kosmiese reisagente en stel 'n reisbrosjure op vir een van die planete in die sonnestelsel (nie die Aarde nie). Hierdie aktiwiteit kan as 'n groep of individueel gedoen word. Moedig leerders aan om navorsing oor die planeet wat hulle gekies het in die skool- of dorpsbiblioteek te doen, of gebruik die internet. Jy kan vir hulle 'n paar voorbeelde van reisbrosjures bring om hulle te help. Jy kan hierdie brosjures gratis by enige reisagent kry. Jy kan ook vra dat leerders 'n aanbieding in die klas doen.

In hierdie aktiwiteit sal jy 'n reisbrosjure vir 'n besoek aan jou gunsteling-planeet saamstel.

MATERIALE:

  • inligting oor die planete
  • prente van die planete
  • voorbeelde van reisbrosjures

INSTRUKSIES:

  1. Doen navorsing oor die planeet wat jy gekies het.
  2. Stel 'n reisbrosjure saam vir 'n besoek aan die planeet wat jy gekies het. Jy moet ware feite oor die planeet insluit en jy moet dink oor ongewone dinge wat mens op die planeet sou kon sien of doen.

Feiteblad oor 'n planeet

In hierdie aktiwiteit moet leerders al die feite wat hulle oor hulle planeet gekry het op een bladsy aanbied. Hierdie aktiwiteit is makliker as die aktiwiteit oor Planeet-vakansies aangesien dit minder verbeelding vereis. Dit kan as 'n alternatiewe aktiwiteit gedoen word.

In hierdie aktiwiteit gaan jy 'n feiteblad opstel oor jou gekose planeet.

MATERIALE:

  • inligting oor die planete
  • prente van die planete

INSTRUKSIES:

  1. Doen navorsing oor die planeet wat jy gekies het.
  2. Skryf 'n een bladsy lange feiteblad oor die planeet wat jy gekies het.

Kom ons kyk nou na van die ander voorwerpe wat ons in ons sonnestelsel kry.

Asteroïede

  • asteroïed
  • asteroïedgordel

Asteroïede is klein, rotsagtige voorwerpe wat waarskynlik oorblyfsels is van toe ons sonnestelsel 4,6 miljard jaar gelede geskep is. Hulle wissel in grootte van tientalle meter tot etlike honderde kilometer in deursnee en kom in 'n verskeidenheid vorms. Die meeste asteroïede word in die asteroïedgordel gevind, wat tussen die wentelbane van Mars en Jupiter lê. Meer as 100 000 asteroïede is in dié asteroïedgordel en duisende van die grootstes het al name gekry.

Die naaste op rekord wat 'n asteroïed nog by die Aarde verbygevlieg het.

In die deel van die asteroïedgordel naaste aan die Son is die asteroïede meestal metaalvoorwerpe. Dié verder weg is rotsagtig. Rotsagtige asteroïede lyk donkerder as metaalasteroïede.

'n Foto van asteroïed 951 Gaspra wat van 5300 kilometer weg met die Galileo-ruimtetuig geneem is. Gaspra is 19 x 12 x 11 km. Kyk hoe baie kraters is daar op die asteroïed se oppervlak.

Hoewel wetenskapfiksie-films die indruk skep dat die asteroïedgordel 'n beknopte area vol gevaarlike rotse is, is die asteroïede in werklikheid miljoene kilometers van mekaar af. Daar vind wel soms botsings tussen hulle plaas, wat die impakkraters op hulle oppervlakke verduidelik. Ons gaan in die volgende aktiwiteit na impakkraters kyk.

Gaan saam met NASA op 'n onderwatersending genaamd NEEMO, wat oor die verkenning van 'n asteroïed handel. Help die bemanning voorberei deur die onderwaterbeelde te klassifiseer. http://neemo.zooniverse.org/

Impakkraters

In hierdie aktiwiteit ondersoek leerders hoe kraters gevorm word deur balle in 'n bak sand te laat val. Jy kan ook die aktiwiteit met meel doen, maar sand werk beter. Die eksperiment bestaan uit twee dele. In die eerste deel gaan leerders ondersoek hoe die massa van 'n voorwerp die grootte van die krater wat vorm beïnvloed. In die tweede deel gaan leerders ondersoek hoe die hoogte waarvandaan die voorwerp laat val word die grootte van die krater beïnvloed. Jy kan meer voorwerpe in die ondersoek gebruik as jy tyd het. As 'n uitbreiding kan jy die effek van die invalshoek op die vorm van die krater bestudeer.

Jy moet die eksperiment vooraf doen om te bepaal watter tipe sand jy moet gebruik. Laat val albasters in die sand om te kyk watter tipe kraters dit vorm. Eksperimenteer om die beste opsie te kry. Jy sal byvoorbeeld dalk die sand bietjie nat moet maak sodat jy die kraters kan sien.

ONDERSOEKVRAE: Hoe beïnvloed die massa van 'n voorwerp die grootte van die krater wat dit maak? Hoe beïnvloed die hoogte van wat 'n voorwerp laat val word die grootte van die krater?

HIPOTESE:

Wat dink jy sal gebeur?



Leerder-afhanklike antwoord. Leerders moet redes gee vir hulle antwoorde.

IDENTIFISEER VERANDERLIKES:

Wat hou jy konstant in die eksperiment?




Terwyl die effek van massa ondersoek word, moet die hoogte van waar die voorwerp laat val word konstant gehou word.

Terwyl jy die invloed van die hoogte waarvandaan dit laat val word ondersoek, moet die massa van die voorwerp konstant bly.

Wat verander jy in hierdie eksperiment?



In die eerste geval - die massa van die voowerp wat laat val word.

In die tweede geval - die hoogte waarvandaan die voorwerp laat val word.

MATERIALE:

  • diep skinkbord of groot plastiekhouer
  • skale
  • liniaal
  • sand
  • 'n albaster
  • 'n koeëllaer ('ball bearing')
  • stoel of trapleer
  • maatband (minstens 2 m lank)

METODE:

  1. Gooi sand in die skinkbord of plastiekhouer tot 'n diepte van 10 cm.
  2. Maak die oppervlak met die lang kant van die liniaal glad.
  3. Meet die massa van die albaster en teken dit in die tabel op.
  4. Laat val die albaster van 'n hoogte van 1 m in die sand en neem die krater waar wat vorm.
  5. Verwyder die albaster versigtig sodat jy nie die vorm van die krater versteur nie en meet die deursnee daarvan met 'n liniaal.
  6. Teken die deursnee van die krater in die tabel op.
  7. Maak die sand glad.
  8. Herhaal stap 3-7.
  9. Meet die massa van die koeëllaer en teken dit in die tabel hieronder op.
  10. Laat val die koeëllaer van 'n hoogte van 1 m in die sand en neem die krater waar wat vorm.
  11. Haal die koeëllaer versigtig uit en meet die deursnee van die krater met 'n liniaal.
  12. Teken die deursnee van die krater in die tabel op.
  13. Maak die sand glad.
  14. Herhaal stap 9-13.
  15. Laat val die koeëllaer in die sand van 'n hoogte van 2 m. Jy sal dalk op 'n stoel of trapleer moet staan om dit te doen.
  16. Teken die grootte van die krater wat gevorm het in die tabel op.
  17. Maak die sand glad.
  18. Herhaal stap 15-17. Laat val die koeëllaer van hoogtes 1,5 m, 0,5 m en 0,25 m. Teken al jou mates in die tabel op.
  19. As jy tyd het, kan jy al die metings herhaal.

RESULTATE EN WAARNEMINGS:

Teken jou resultate en waarnemings in die volgende tabel op.

Voorwerp

Massa (kg)

Hoogte waarvandaan laat val (m)

Deursnee van krater - lesing 1 (cm)

Deursnee van krater - lesing 2 (cm)

Gemiddelde deursnee van krater (cm)

albaster

1

koeëllaer

1

koeëllaer

2

koeëllaer

1,5

koeëllaer

0,5

koeëllaer

0,25

EVALUERING:

Hoe betroubaar was jou eksperiment? Hoe kan jy dit verbeter?




Leerder-afhanklike antwoord. Leerders se antwoorde kan dalk insluit dat hulle meer metings moet neem.

GEVOLGTREKKINGS:

Skryf 'n gevolgtrekking vir die ondersoek gebaseer op jou resultate.




Leerder-afhanklike antwoord. Leerders moet hulle resultate opsom en 'n rede gee waarom hulle dink hulle hierdie resultate gekry het.

VRAE:

Hoe het die massa van die voorwerp die grootte van die krater beïnvloed?



Hoe groter die massa van die voorwerp, hoe groter is die deursnee van die krater.

Hoe het die hoogte waarvandaan die voorwerp laat val is, die grootte van die krater beïnvloed?



Hoe hoër die hoogte waarvandaan die voorwerp laat val is, hoe groter was die krater.

Waarom dink jy beïnvloed die hoogte waarvandaan die voorwerp laat val word, die grootte van die krater?



Voorwerpe wat van 'n hoër hoogte laat val word, tref die sand met 'n hoër spoed en het dus meer energie (kinetiese energie). As hulle meer energie het, maak hulle 'n groter impakkrater.

Wat sê die ondersoek vir ons oor kraters op die oppervlakke van planete?




Dit sê vir ons dat die kraters op die oppervlakke van planete as gevolg van impak ontstaan het. Die voorwerpe wat daarteen gebots het moes baie vinnig beweeg het of baie groot gewees het, aangesien die kraters wat ons op ander planete kan waarneem baie groter as die kraters in die eksperiment is.

Aangesien Jupiter baie groter as al die ander planete in die sonnestelsel is, trek sy groot gravitasiekrag baie asteroïede en komete aan wat na die binneste sonnestelsel op pad is. Hierdie voorwerpe sou andersins moontlik met die Aarde gebots het.

Kuipergordelvoorwerpe

  • Kuipergordel
  • Kuipergordelvoorwerp
  • dwergplaneet
  • komeet
  • Oortwollk

Gerard Kuiper (1905-1973) word deur baie beskou as die vader van moderne planetêre wetenskap. Hy is goed bekend vir sy baie ontdekkings. Lees hier meer oor die ontdekkings. http://solarsystem.nasa.gov/people/profile.cfm?Code=KuiperG

Die Kuipergordel is 'n gebied in die ruimte wat gevul is met triljoene klein voorwerpe wat in die buitewyke van die sonnestelsel, verby Neptunus se wentelbaan, lê. Die Kuipergordel is tussen 30 en 50 keer die afstand van die Aarde van die Son af. Die gordel is soortgelyk aan die nadere asteroïedgordel, behalwe dat die voorwerpe nie van rots nie, maar van bevrore ys gemaak is. Hierdie ysvoorwerpe kan van 'n fraksie van 'n kilometer tot meer as 'n 1000 km in deursnee wees en word Kuipergordelvoorwerpe genoem. Die grootste bekende voorwerpe in die Kuipergordel is Eris en Pluto, wat albei dwergplanete is.

Die Kuipergordel (die ligblou kolletjies) word hier gewys buite Neptunus se wentelbaan. Die dwergplanete Eris en Pluto is deel van die gordel.

Wat hou die voorwerpe in die Kuipergordel in hulle wentelbaan om die Son?


Gravitasie (die gravitasie-aantrekking van die Son).

NASA het in 2006 'n ruimteverkenningstuig, die New Horison, gestuur om Pluto en ander Kuipergordelvoorwerpe van nader te bestudeer. Dit sal in 2015 by Pluto aankom.

Dwergplanete

Dwergplanete is voorwerpe wat, nes ander planete, om die Son wentel. Hulle is egter kleiner as ander planete. As gevolg van hulle klein grootte kan hulle nie voldoen aan die amptelike definisie van 'n planeet nie. Kan jy onthou wat die drie kriteria is om as planeet geklassifiseer te word? Skryf hulle hieronder neer.

Om as planeet geklassifiseer te word moet 'n voorwerp:




  1. om die Son wentel.
  2. groot genoeg wees dat sy eie gravitasie hom in 'n sferiese vorm trek.
  3. kleiner voorwerpe uit sy wentelbaan verwyder deur hulle in 'n ander wentelbaan te gooi of hulle aan te trek en aan homself te laat vassit.

Waarom Pluto nie meer 'n planeet is nie (video).

Asteroïede is duidelik nie planete nie aangesien hulle onreëlmatige vorms het en nie sferies is nie. Party dwergplanete is wel sferies, maar hulle voldoen nie aan die derde vereiste nie. Met hulle swak gravitasie kan hulle nie ander voorwerpe uit hulle wentelbane verwyder nie. Watter bekende eks-planeet is nou 'n dwergplaneet omdat dit nie aan die derde vereiste voldoen nie?


Pluto.

Pluto is vir baie jare as 'n planeet beskou. Sedert 1990 is daar 'n hele paar voorwerpe soortgelyk aan Pluto ontdek wat buite Neptunus se wentelbaan om die Son wentel. Dit het daartoe gelei dat nuwe kriteria opgestel is vir wanneer daar oorweeg word of 'n voorwerp 'n planeet is of nie. Pluto is dus tot 'n dwergplaneet herklassifiseer.

Pluto het sy naam in 1930 by Venetia Burney, 'n 11-jarige van Oxford, Engeland, gekry. Sy het voorgestel dat die planeet vernoem word na die Romeinse god van die onderwêreld, Pluto.

Tot op hede is vyf dwergplanete ontdek: Pluto, Haumea, Makemake, Eris en Ceres. Van hulle het hulle eie mane! Ceres is in die asteroïedgordel en die ander vier in die Kuipergordel.

Wetenskaplikes reken dat daar meer as 200 dwergplanete in die Kuipergordel is en dat daar duisende meer buite die Kuipergordel kan wees.

Komete en die Oortwolk

Die Oortwolk is nog nie waargeneem nie. Op hierdie stadium is dit bloot 'n hipotetiese verskynsel hoewel dit baie moontlik is dat dit bestaan. Die bestaan van die Oortwolk is nie 'n feit nie aangesien dit nog nie bevestig is nie. Ons verwys dus na die Oortwolk as 'n hipotetiese of voorspelde verskynsel.

Komete is ysagtige, stowwerige voorwerpe wat op groot afstande weg om die Son wentel. Komete word in die Kuipergordel en in die hipotetiese Oortwollk aangetref. Die Oortwolk is na bewering 'n groot wolk ysagtige voorwerpe wat rondom die Son op die rand van die sonnestelsel is, ongeveer 5000 tot 100 000 keer die Aarde se afstand van die Son af!

Die woord komeet kom van die Griekse woord kome, wat 'harig' beteken!

Suid-Afrikaanse navorsers het die eerste bewyse van 'n komeet wat die Aarde getref het, in 2013 gevind. Lees meer hieroor. http://mg.co.za/article/2013-10-08-sa-researchers-find-first-evidence-of-comet-hitting-earth

'n Komeet sal in die Kuipergordel of die Oortwolk bly tensy dit deur 'n ander komeet versteur word. As dit gebeur, sal die komeet se wentelbaan verander en soms sal die komeet in die binneste sonnestelsel inkom sodat ons dit kan sien.

Komete wat van die Kuipergordel kom se wentelbane om die Son neig om 200 jaar of minder te duur. Komete wat in die Oortwolk ontstaan neem selfs langer om om die Son te wentel.

Die hipotetiese Oortwolk is 'n groot wolk ysagtige voorwerpe of komete wat die buitewyke van ons sonnestelsel omring.

Ons kan net komete sien as hulle in die binneste sonnestelsel inkom aangesien hulle baie klein is en slegs weens gereflekteerde sonlig sigbaar is. As 'n komeet nader aan die Son kom, laat die Son se hitte die stof en yse waaruit dit bestaan, verdamp. Dit vorm 'n helder stofstert wat van die Aarde af sigbaar is. Sommige komete se stofsterte kan miljoene kilometer lank wees. Die stofstert wys gewoonlik agtertoe met die baan van die komeet langs.

Komete het gewoonlik 'n tweede stert wat 'n ioonstert genoem word. Die ioonstert bestaan uit ione wat weg van die komeet se kop gedruk word deur deeltjies wat van die Son se atmosfeer uitgestraal word. Dit word die sonwind genoem word. Kom ons vind meer uit oor hierdie tipe stert.

'n Ioon is 'n atoom wat 'n elektriese lading het as gevolg van 'n wins of verlies van elektrone.

'n Komeet se ioonstert

In hierdie aktiwiteit sal leerders ontdek dat 'n komeet se ioonstert altyd weg van die Son wys, ongeag die rigting waarin die komeet beweeg! Jy kan óf vra dat leerders hulle eie komeetsterte maak óf jy kan een maak en in die klas omstuur as jy nie baie materiale het nie.

In hierdie aktiwiteit sal jy jou eie komeet maak en ontdek hoe 'n komeet se ioonstert beweeg.

MATERIALE:

  • tafeltennisballetjie
  • kleeflint
  • sneespapier of kreukelpapier
  • skêr

INSTRUKSIES:

  1. Sny die sneespapier of kreukelpapier in 'n aantal (minstens vier) stroke van omtrent 1 cm breed by 15 cm lank.
  2. Plak die papierstroke aan die tafeltennisballetjie vas met die kleeflint. Die stroke moet eweredig om die middellyn van die balletjie gespasieer wees. Draai die kleeflint 'n paar keer om die balletjie om die papier in plek te hou, indien nodig. Nou het jy jou komeet en ioonstert gemaak.
  3. Hou jou komeet voor jou en blaas hard op die bal sodat die ioonstert weg van jou af waai. Jy verteenwoordig die Son en jou asem is die sonwind wat op die komeet se ioonstert blaas.
  4. Hou aan om redelik hard op die bal te blaas en beweeg die bal van links na regs. Kyk waarheen die papier beweeg.

VRAE:

In watter rigting het die ioonstert beweeg toe jy die komeet voor jou gehou en daarop geblaas het?


Direk weg van jou af (asof dit deur jou asem weggeblaas is).

In watter rigting het die ioonstert beweeg toe jy die bal van links na regs beweeg het terwyl jy geblaas het?



Dit het steeds direk weg van jou af beweeg aangesien jou asem dit weggeblaas het. Dit volg nie die rigting van die beweging van die komeet nie.

Net so wys 'n komeet se stert altyd weg van die Son.

Leer meer oor komete op hierdie interaktiewe webtuiste. http://solarsystem.nasa.gov/cometinteractive/index.html

Komeet West, wat in 1995 afgeneem is. Hier kan jy sien dat die komeet eintlik twee sterte het. Die wit stert is die stofstert en die blou stert is die ioonstert wat uit gelaaide deeltjies wat van die komeet se oppervlak verdamp het, opgemaak is.

Halley se komeet is slegs elke 75 tot 76 jaar vanaf die Aarde sigbaar.

Komete wat in die binneste sonnestelsel inkom, lewe nie vir altyd nie. Die Son smelt die komete, net soos 'n sneeuman in die Son smelt. Na 'n paar duisend jaar sal die oorblyfsels so klein wees dat hulle nie meer 'n stert het nie. Sommige komete smelt heeltemal weg.

Dit is heeltemal veilig om deur 'n komeet se stert te vlieg. Die enigste ding wat jou ruimteskip sal tref, sal mikroskopiese stofdeeltjies wees.

Ter publikasie van hierdie werkboeke, het komeet ISON baie naby aan die Son gekom. Sterrekundiges het nie geweet of dit sou opbreek nie. Lees meer hieroor by http://solarsystem.nasa.gov/news/display.cfm?News_ID=44309 en http://solarsystem.nasa.gov/smallworlds/cometison.cfm.

Kyk of jy kan uitvind wat aan die begin van 2014 met komeet ISON gebeur het en vertel jou leerders daaroor. Jy kan dit ook as 'n prettige kort huiswerktaak gee.

Die Aarde se posisie in die sonnestelsel

In hierdie afdeling sal leerders agterkom hoe bevoorreg hulle is om op die Aarde, wat tans die enigste planeet is wat lewe kan onderhou, te wees. Hulle sal die toestande oorweeg wat nodig is vir lewe en dit vergelyk met die toestande op die Aarde en op die Aarde se bure. 'n Lekker manier om die onderwerp in te lei is om 'n klasbespreking te hê oor of leerders dink dat ruimtewesens op ander planete bestaan en, indien wel, hoe hulle dalk lyk. Dit kan tot 'n bespreking lei oor watter toestande leerders dink nodig is vir lewe. 'n Gesprek oor ruimtewesens maak leerders baie opgewonde!

  • astronomiese eenheid (AE)
  • bewoonbare sone
  • fotosintese

Jy het in die vorige afdeling geleer dat die Aarde en die ander planete om die Son wentel. Die Aarde is die derde planeet van die Son af en lê tussen Venus en Mars. Kom ons vergelyk die Aarde en sy twee bure.

Burgerwetenskap: Help soek vir planete wat om ander sterre wentel. http://www.planethunters.org/

Die Son se bewoonbare sone

In hierdie aktiwiteit gaan leerders 'n grafiek teken van afstand teenoor temperatuur vir die planete Venus, Aarde en Mars. Hulle gaan ook inligting kry oor die bewoonbare sone om die Son. Deur hierdie inligting te gebruik moet leerders besluit watter een van die planete binne die Son se bewoonbare sone val.

Eienskap

Venus

Aarde

Mars

Afstand van die Son (AE)

0,7

1,0

1,5

Gemiddelde temperatuur (°C)

464

15

-63

MATERIALE:

  • potlood
  • liniaal

INSTRUKSIES:

  1. Kyk na die data in die tabel. Dit wys die afstand vanaf die Son vir die drie planete (in eenhede van een Aard-Son-afstand oftewel Astronomiese Eenheid). Dit wys ook die gemiddelde temperatuur in grade Celsius op elke planeet.
  2. Teken 'n grafiek wat die data in die tabel toon. Merk elke punt met 'n X.
  3. Die Son se bewoonbare sone strek van 0,8 tot 1,4 AE en is in pienk op die grafiekpapier aangedui. Dit is die area waar wetenskaplikes vermoed 'n planeet moet lê sodat daar lewe op die planeet kan wees.

Grafiek wat die gemiddelde temperatuur en afstand van die Son wys vir Venus, Aarde en Mars.

Leerders moet die volgende punte stip:

VRAE:

Wat is die gemiddelde temperatuur op Venus?


464 °C.

Kan vloeibare water op Venus bestaan? Hoekom?


Nee, dit is te warm. Water kook teen 100 °C.

Wat is die gemiddelde temperatuur op Mars?


-63 °C.

Is dit moontlik om vloeibare water op Mars te kry? Hoekom?


Nee, dit is te koud. Water vries by 0 °C.

Wat is die gemiddelde temperatuur van die Aarde?


15 °C.

Kan vloeibare water op die Aarde bestaan? Waarom?



Ja, want die temperatuur op Aarde is tussen water se smelt- en kookpunt.

Watter planeet/planete lê binne die Son se bewoonbare sone (die deel wat rooi gekleur is op die grafiek)?


Slegs die Aarde.

Ons sonnestelsel se bewoonbare sone(video).

Die gemiddelde temperatuur op die Aarde is 'n gematigde 15 °C. As gevolg hiervan kan water in vloeibare vorm op die Aarde voorkom. Dit is belangrik omdat wetenskaplikes dink dat vloeibare water die sleutelbestandeel vir lewe is. Venus het 'n gemiddelde temperatuur van 464 °C en geen vloeibare water kan op Venus voorkom nie, want dit is te warm. Op Mars is die teenoorgestelde waar. Die gemiddelde temperatuur op Mars is -63 °C. Enige water op Mars sal dus gevries wees. Die Aarde is uniek in ons sonnestelsel aangesien dit die enigste planeet is wat sover bekend vloeibare water op sy oppervlak het en lewe kan onderhou.

As die Aarde te naby aan die Son was, sou dit te warm gewees het en die water sou uit die oseane verdamp het, soos op Venus gebeur. As die Aarde te ver van die Son was, sou dit te koud gewees het en al die water sou gevries het, soos op Mars gebeur. Die Aarde is presies die regte afstand van die Son af om vloeibare water op sy oppervlak te hê. Die ander planete in die sonnestelsel is óf te ver óf te naby aan die Son. Die omvang van afstande wat 'n planeet van die Son af kan wees en steeds vloeibare water op sy oppervlak kan hê, word die bewoonbare sone. genoem. Skattings oor die bewoonbare sone in ons sonnestelsel wissel van 0,8-1,4 astronomiese eenhede (AE).

'n Astronomiese eenheid stem ooreen met die gemiddelde afstand tussen die Aarde en die Son.

Jy sal dalk vind dat verskillende bronne verskillende afstande vir die bewoonbare sone gee. Dit is omdat verskillende wetenskaplikes effe verskillende kriteria gebruik het om 'bewoonbaar' te definieer. Baie studies fokus op hoe lewe op die Aarde beïnvloed sou word indien die Aarde nader of verder van die Son was. Die punt waar lewe op die Aarde nie meer kan voortbestaan nie, is egter onbekend.

Ons Son se bewoonbare sone (liggroen). Die Aarde is die enigste planeet in ons sonnestelsel wat binne ons Son se bewoonbare sone lê. Dit is presies die regte afstand van die Son sodat water in 'n vloeibare toestand bly, iets wat wetenskaplikes beskou as noodsaaklik vir lewe.

Die bewoonbare sone word soms die Gouelokkies-sone genoem na die beroemde kinderstorie waar Gouelokkies haar pap nie te warm of te koud wou hê nie.

Watter ander toestande dink jy is nodig vir lewe op Aarde en op ander planete? Skryf jou antwoorde in die spasie hieronder neer.





Leerder-afhanklike antwoord. Dit is 'n ideale geleentheid vir 'n klasbespreking. Antwoorde kan sonlig vir energie, suurstof, koolstof (ons bestaan gedeeltelik uit koolstof)en vloeibare water insluit. Let op dat ander lewensvorms dalk nie koolstof bevat nie en dat lewe in baie verskillende vorms voorkom, soos byvoorbeeld bakterieë, diere en plante. Wetenskaplikes soek vir meer as net menslike wesens en ander vorms van lewe as wat ons op die Aarde kry. Dit is moontlik dat ons bevooroordeeld is oor wat ons dink nodig is vir lewe, aangesien ons net weet van lewe op Aarde.

Ander sterre het ook bewoonbare sones. Wetenskaplikes glo dat planete wat om ander sterre wentel en binne hulle bewoonbare sone val, ook lewensvorms kan onderhou.

Kepler-sending: 'n Soeke na bewoonbare planete.

Wetenskaplikes dink dat vir lewe om te ontstaan en oorleef op 'n planeet:

  • daar sonlig moet wees vir plante om te groei.
  • die planeet in die bewoonbare sone van 'n ster moet val sodat daar 'n gematigde temperatuur en vloeibare water kan wees.
  • daar suurstof vir respirasie moet wees.

Watter van die planete in die sonnestelsel kry lig van die Son?


Al die planete in die sonnestelsel kry lig van die Son.

Watter van die planete in die sonnestelsel het gematigde temperature en vloeibare water op hulle oppervlakke?


Slegs die Aarde.

Watter van die planete in die sonnestelsel het groot hoeveelhede suurstof in hulle atmosfere of oseane?


Slegs die Aarde.

Soos jy kan sien is die Aarde baie bevoorreg omdat dit presies die regte afstand van die Son af is om 'n gematigde temperatuur en baie vloeibare water te hê. Die Son verskaf energie vir die plante om te groei. Daar is heelwat suurstof in die atmosfeer en oseane op Aarde vandag, wat beteken dat lewe op Aarde en in die Aarde se oseane kan oorleef. Die Aarde is uniek omdat dit die enigste planeet is waarvan ons weet wat lewe onderhou.

Die mane Europa (wat om Jupiter wentel) en Titan (wat om Saturnus wentel) word beskou as plekke waar lewe dalk kan bestaan. Europa se oppervlak is met gladde water-ys bedek en wetenskaplikes dink dat daar dalk 'n wateroseaan onder die ysige oppervlak kan wees. Titan het vloeistofmere en seë op sy oppervlak, hoewel hulle nie van water gemaak is nie, maar eerder uit vloeibare metaan en etaan bestaan. Sommige wetenskaplikes dink dat lewe dalk in hierdie mere kan oorleef.

Die kweekhuiseffek

Jy het dalk al op die nuus en in ons studies in Energie en Verandering van aardverwarming en die kweekhuiseffek gehoor.

Gedurende die dag skyn die Son deur die atmosfeer en verhit die Aarde se oppervlak. In die nag koel die Aarde se oppervlak af en stel die hitte weer in die ruimte in vry. Van die hitte word vasgevang deur kweekhuisgasse soos koolstofdioksied in die lug wat veroorsaak dat die Aarde warmer bly as wat dit andersins sou wees. Dit word die kweekhuiseffek genoem.

Wetenskaplikes dink dat menslike aktiwiteite, soos om woude af te kap en fossielbrandstowwe te verbrand, veroorsaak dat die kweekhuiseffek nou te sterk is. Wetenskaplikes is meer as 90% oortuig dat die toename van kweekhuisgasse veroorsaak het dat die gemiddelde temperatuur op die Aarde gestyg het. Dit staan bekend as aardverwarming.

Aardverwarming: Hoe mense ons planeet beïnvloed.

Gemiddelde temperature op die Aarde het sedert 1880 met 0,8°C die wêreld oor verhoog, met die grootste verhoging in die laaste paar dekades. Die tempo van verwarming neem ook toe.

Venus is 'n waarskuwing van wat met die Aarde kan gebeur as aardverwarming aanhou. Venus se dik atmosfeer het tot 'n weghol-kweekhuiseffek op die planeet gelei, wat dit tot 462°C verhit het. Venus se oseane het weggekook en 'n warm, onherbergsame planeet agtergelaat. Ons moet daarom ons bes probeer om na ons kosbare planeet te kyk!

Die begin van lewe

Wetenskaplikes weet nie hoe lewe op Aarde begin het nie, maar hulle reken dat die vroegste voorvader van moderne bakterieë reeds 3,5 miljard jaar gelede op die Aarde voorgekom het. Die vroeë Aarde se atmosfeer het amper geen suurstof bevat nie. Dit het omtrent heeltemal uit koolstofdioksied, stikstof en waterstofdamp bestaan, met 'n bietjie metaan en ammoniak. Koolstofdioksied en waterdamp is in die atmosfeer ingepomp tydens vulkaanuitbarstings, wat veroorsaak het dat die atmosfeer met verloop van tyd verander het. Mettertyd het die waterdamp in die atmosfeer gekondenseer om reën te vorm, wat die eerste oseane gevorm het. Lewende organismes (bakterieë) het in die oseane verskyn. Hierdie eenvoudige organismes het sonlig, water en koolstofdioksied uit die oseane gebruik om suikers en suurstof te produseer. Wat word hierdie proses genoem?


Die proses word fotosintese genoem.

Dit is waar die eerste suurstof in die oseaan en atmosfeer vandaan gekom het. Daardie suurstof het dit vir ander organismes moontlik gemaak om te ontwikkel en te groei en is die rede waarom jy vandag hier is.

Hou jy van Tale en Wetenskap? Lees meer oor 'n beroep as 'n wetenskapskrywer. http://solarsystem.nasa.gov/people/profile.cfm?Code=HarveyS

  • Die Son wek sy energie op deur kernfusie-reaksies by sy middelpunt, waar waterstofkerne saamgepers word om heliumkerne te vorm.
  • Die Son se energie word na die oppervlak vervoer en ewe veel daarvan straal in alle rigtings uit.
  • Ons sonnestelsel bestaan uit die Son en al die ander voorwerpe wat deur gravitasie in hulle wentelbane om die Son gehou word .
  • Voorwerpe soos planete, dwergplanete, asteroïede, komete en Kuipergordelvoorwerpe wentel om die Son.
  • Die agt planete in ons sonnestelsel het hulle eie kenmerke en eienskappe.
  • Die planete kan in twee groepe verdeel word: die binneste klein, rotsagtig aardplanete en die buitenste groot gasreuse.
  • Die asteroïedgordel is die area waar die meeste asteroïede in ons sonnestelsel voorkom en lê tussen die wentelbane van Mars en Jupiter.
  • Die Oortwolk is die hipotetiese groot wolk ysagtige voorwerpe (komete) wat die Son omring en op die rand van ons sonnestelsel te vind is.
  • Soms kom komete van die Oortwolk naby aan die Son. Ons kan hulle slegs sien as hulle in die binneste sonnestelsel inkom omdat hulle klein is en slegs sigbaar is weens gereflekteerde sonlig.
  • Wetenskaplikes dink dat van die toestande wat nodig is om lewe te onderhou gematigde temperature, vloeibare water, sonlig (energie) en suurstof insluit.
  • Die Aarde is die derde planeet van die Son af en die enigste planeet in die sonnestelsel wat lewe onderhou.
  • Die Aarde lê binne die Son se bewoonbare sone; dit is die omvang van die afstande wat 'n planeet van 'n ster af kan wees en steeds vloeibare water op sy oppervlak kan hê.

Konsepkaart

Voltooi die konsepkaart wat die kernkonsepte van die hoofstuk oor ons sonnestelsel opsom.

Onderwyserweergawe

Hersieningsvrae

Hoe produseer die Son sy energie? [2 punte]



Deur kernfusiereaksies waar waterstof omgesit word in helium.

Waarom lyk sonvlekke donkerder as die res van die oppervlak van die Son? [2 punte]



Hulle is baie koeler as die res van die oppervlak. 'n Tipiese sonvlek se temperatuur is rondom 3900 °C terwyl die res van die oppervlak rondom 5500 °C is. (Intensiteit is eweredig aan temperatuur.)

Wat hou die planete en ander liggame in ons sonnestelsel in hulle wentelbane? [1 punt]


Die gravitasie tussen die voorwerpe en die Son.

Noem die aardplanete. [4 punte]


Mercurius, Venus, Aarde en Mars.

Noem die gasreuse. [4 punte]


Jupiter, Saturnus, Uranus, Neptunus.

Waar is die asteroïedgordel geleë? [1 punt]


Tussen die wentelbane van Mars en Jupiter.

Waar is die Kuipergordel geleë? [1 punt]


Buite Neptunus se wentelbaan.

Waarom is die gasreuse soveel groter as die aardplanete? [2 punte]



Hulle bestaan meestal uit waterstof en helium wat van die volopste elemente in die heelal is.

Skryf die planete in volgorde van toenemende afstand van die Son af neer. [4 punte]



Mercurius, Venus, Aarde, Mars, Jupiter, Saturnus, Uranus, Neptunus.

Watter planete het ringe? [4 punte]


Jupiter, Saturnus, Uranus, Neptunus.

Waarom is Venus so warm? [2 punte]



Sy atmosfeer is so dig dat daar 'n weghol-kweekhuiseffek op die planeet heers wat dit verhit tot hoë temperature.

Op watter planeet het landingstuie bevrore water in die rotse onder die planeet se oppervlak gekry? [1 punt]


Mars.

In die volgende diagram word die sonnestelsel in die middel getoon.

  1. Wat verteenwoordig die blou gebied? [1 punt]


  2. Wat word gewoonlik in dié gebied aangetref? [1 punt]


  1. Die hipotetiese Oortwolk.

  2. Komete en ysvoorwerpe.

Waarom kan ons slegs komete sien as hulle naby die Son kom? [3 punte]




As komete naby die Son kom laat die hitte van die Son die komeet se oppervlak verdamp, wat die lang, helder sterte veroorsaak wat ons kan sien. Ver van die Son is dit te koud en kan die sterte nie vorm nie. Ons moet dus wag totdat die komeet naby genoeg aan die Son is om 'n stert te vorm voor ons dit kan sien.

Wat is die amptelike definisie van 'n planeet en waarom is Pluto van sy status as planeet onthef en is dit nou 'n dwergplaneet? [4 punte]






Die amptelike definisie van 'n planeet lui dat 'n planeet om die Son moet wentel, groot genoeg moet wees sodat sy eie gravitasie dit in 'n sferiese vorm trek en dat dit ander voorwerpe uit sy wentelbaan moet verwyder. Pluto het nie ander voorwerpe uit sy wentelbaan verwyder nie en is tot 'n dwergplaneet herklassifiseer.

Waarom kan die Aarde lewe onderhou? [4 punte]





Die Aarde het 'n gematigde temperatuur met vloeibare water op die oppervlak. Daar is ook baie suurstof vir respirasie en genoeg sonlig (energie) vir plante om te groei.

Wat sal met die Aarde gebeur as dit baie warmer word, soos Venus in die verlede? [2 punte]



Dit sal uiteindelik al sy vloeibare water verloor en daarom nie lewe kan onderhou nie.

Die volgende diagram wys die stelsel van planete om die ster Gliese 667C.

Die planete om 'n ander ster.
  1. Watter van hierdie planete is moontlike kandidate vir lewe? [1 punt]


  2. Verduidelik jou antwoord hierbo. [2 punte]





  1. Planete c, f en e.

  2. Die wentelbane van hierdie drie planete lê binne die bewoonbare sone van die ster. Dit is die sone wat die regte afstand van die ster is sodat water as vloeistof kan bestaan, en dus die planete moontlike kandidate maak om lewe te onderhou.

Totaal [46 punte]