Ondersoek aspekte van mynbou in suid-afrika

Die mynboubedryf is een van die belangrikste bydraers tot die ekonomie in Suid-Afrika. In hierdie hoofstuk gaan jy leer oor die geskiedenis van mynbou in Suid-Afrika, en ook oor die impak wat mynbou op gemeenskappe, sosiale lewe en die omgewing het.

Vier onderwerpe word in hierdie hoofstuk bespreek. Julle gaan in spanne werk en elke span gaan slegs een van hierdie onderwerpe ondersoek. Julle gaan daarna ’n mondelinge aanbieding oor julle onderwerp doen. Daar sal drie of vier persone in elke span wees en daar moet ten minste een seun en een meisie in elke span wees.

Tech2_gr8_ch5_fig1.tif
Figuur 1: Die oudste myn in die wêreld, Leeu Grotte in Swaziland.

Nota aan die onderwyser

Leerders sal in spanne hul navorsing oor verskillende onderwerpe in die laaste 60 minute van die week doen. Die onderwyser moet die spanne so kies dat daar ten minste 4 minute vir elke span se aanbieding beskikbaar is. Dit beteken dat daar nie meer as 15 spanne kan wees nie (15 × 4 minute = 60 minute).

Verskillende spanne sal navorsing oor die verskillende onderwerpe doen. Daar is vier verskillende onderwerpe en die onderwyser moet aan elke span ’n onderwerp toewys, eerder as om die leerders toe te laat om hulle eie onderwerpe te kies. Vir leerders om self te kies beteken dat hulle tyd gaan neem om die besluite te neem (ongelukkig is daar nie genoeg tyd in hierdie week daarvoor nie), en dit kan ook lei tot die onderverteenwoordiging van sekere onderwerpe.

5.1 Agtergrondinligting oor verskillende mynbou onderwerpe (30 minute)

Leerders lees en maak opsommende en sinvolle notas oor die onderwerp wat aan hulle toegewys is. Hierdie is individuele werk. Ongelukkig is 30 minute nie genoeg tyd hiervoor nie en daarom is daar aan die einde van die vorige hoofstuk aan die leerders huiswerk gegee om al die artikels oor hul onderwerp te lees. NB: Dit beteken dat die onderwyser die spanne en onderwerpe reeds aan die einde van die vorige week moet toewys.

Onderwysers met toegang tot die internet en/of boeke en/of videomateriaal, moet dit gebruik om meer inligting oor die verskillende onderwerpe aan die leerders beskikbaar te stel. Byvoorbeeld, die onderwyser maak ’n lys van geskikte webwerwe wat geraadpleeg kan word, of kan fotostate vir leerder maak van die onderwerpe.

5.2 Spanbespreking en voorbereiding van verslae (30 minute)

Leerders werk in spanne saam om hulle verslae voor te berei. Om leerders te help om ’n beter begrip oor die onderwerp te kry, word begripsvrae aan hulle gevra.

As tuiswerk moet leerders ook die artikels oor die ander onderwerpe lees. Dit is belangrik dat leerders wel die artikels oor die ander onderwerpe lees sodat hulle sinvolle vrae aan die ander spanne kan vra in die volgende les.

5.3 Aanbieding van verslae

Die onderwyser moet seker maak dat elke span voldoen aan die tydsbeperking per aanbieding. Daar moet ook tyd oor wees waartydens die klas vrae kan stel aan die span wat die aanbieding doen, en daar moet ook tyd oor wees vir die span om die vrae te beantwoord.

Tech2_gr8_ch5_fig2.tif
Figuur 2

Agtergrondinligting oor die verskillende mynbou onderwerpe

Jou onderwyser gaan die klas in verskillende spanne deel en aan elke span verduidelik watter onderwerp hulle vir die volgende week moet ondersoek. Elke span gaan slegs een van die volgende onderwerpe ondersoek:

In hierdie les gaan jy individueel werk en ’n artikel lees oor die onderwerp wat julle span gaan ondersoek. Nadat jy die artikel gelees het, moet jy notas maak in die ruimte wat voorsien word. Skryf die punte wat jy dink die belangrikste is neer en skryf ook punte neer oor feite waaroor jy graag meer inligting wil hê. As huiswerk moet jy meer uitvind oor hierdie onderwerpe deur byvoorbeeld in boeke te kyk, ouer mense te vra en op die internet te soek.

Onderwerp a: die impak van mynbou op die omgewing: suur mynwater dreinering

Mynbou is baie belangrik vir Suid-Afrika. Die mynbou industrie het daartoe gelei dat ons land baie belangrik geword het as ’n verskaffer van metale en erts Suid-Afrika is een van die grootste verskaffers van edelmetale soos goud en platinum, en ons land het ook groot hoeveelhede yster, sink, chroom en kopererts wat baie belangrik is vir baie van ons fabrieke. Steenkool word ook gemyn en hierdie minerale verskaf energie aan baie van ons kragstasies.

Erts is ’n tipe klip wat belangrike minerale bevat, insluitend metale. Hierdie erts word gemyn en gesuiwer om waardevolle materiaal te verkry.

Omdat mynbou so ’n groot industrie is, verskaf dit werk aan ’n groot aantal mense, beide geskoold en ongeskoold.

Maar soos met enige industrie, is dit ook die oorsaak van probleme wat veroorsaak word deur die wyse waarop erts uit die aarde gehaal word. Voordat jy hierdie probleem gaan ondersoek, moet jy eers iets oor die mynbou self verstaan. Sommige myne word oopgroef of oppervlakmyne genoem. Hierdie myne is waar die werkers nie nodig het om ondergronds te gaan nie. In stede daarvan, grou hulle groot gate om die erts te verwyder nadat die oppervlakmateriaal verwyder is. Dit is makliker om op hierdie myne te werk. Steenkoolmyne en ysterertsmyne is dikwels oopgroefmyne omdat steenkool en ystererts nader aan die oppervlak is as wat metaalerts soos goud is.

Tech2_gr8_ch5_fig3.tif
Figuur 3: ’n Oopgroefmyn of oppervlakmyn. Let op na die water wat in die gat opdam.

Ondergrondse myne is myne waar skagte en tonnels gegrawe moet word om by die voorraad erts wat gemyn word, uit te kom. Al Suid-Afrika se goudmyne is ondergrondse myne met skagte wat soms kilometers diep kan wees. Die diepste myn in die wêreld is die TauTona myn in Carletonville, Suid- Afrika: dit is amper vier kilometer diep! Mynbou is gevaarlike werk en daar is baie streng veiligheidsvoorsorgmaatreëls op alle myne.

Tech2_gr8_ch5_fig4.tif
Figuur 4: Die skagtoring van ’n ondergrondse myn. Die skag is reguit af in die grond, onder die wiele van die skagtoring, soms kilometers diep.

Een van die probleme met mynbou is dat die erts of metaal uiteindelik sal opraak. Wanneer dit met ’n baie groot myn gebeur, is daar kilometers ondergrondse tonnels wat oorbly. Dit is onmoontlik om hierdie tonnels op te vul aangesien die erts wat verwyder is reeds geprosesseer is om die waardevolle minerale uit te haal. Wat gewoonlik gebeur is dat die myningang geseël word en die tonnels net so gelaat word. Hierdie tonnels bly egter nie leeg nie.

Indien jy al ooit ’n gat in die grond naby ’n rivier of op die strand gegrou het, weet jy dat daar water op die bodem begin opdam. Dit is omdat jy verby die grondwatervlak gegrou het.

Tech2_gr8_ch5_fig5.tif
Figuur 5: Gate wat in die grond gegrawe word, is gereeld laer as die grondwatervlak en die gat vul dan op met water.

Die grondwatervlak is die vlak in die grond waar genoeg water teenwoordig is om te vloei.

Alle ondergrondse myne sal onder die grondwatervlak gegrou wees. Terwyl myners werk, is daar groot ondergrondse pompe wat permanent werk om die water wat in die tonnels opdam, uit te pomp. Sodra die myn verlaat word, word die pompe ook verwyder en die water begin opdam, presies soos wat dit sou gebeur indien jy ’n gat grou naby ’n rivier of op die strand.

Dit sou nie ’n probleem gewees het indien die myn opgevul het met die water nie, maar daar vind ’n chemiese reaksie plaas wanneer die water deur die rots in die myn in dreineer. Die water reageer dan met chemikalieë in die grond waarin die erts was, en die water verander dan in suur. Suur kan baie vernietigend wees in die verkeerde omgewing.

’n Chemiese reaksie vind plaas wanneer materiale op mekaar reageer. ’n Verandering vind plaas in die molekules en nuwe stowwe word gevorm.

Jy kom daagliks in aanraking met verdunde sure.Probeer hierdie eksperiment by die huis:

Skink vir jouself ’n glas water en voeg dan een teelepel asyn by en roer dit. Neem ’n sluk. Dit is wel gesond, maar vir die meeste mense proe dit te sterk, asof dit jou mond en keel brand. Skink nou vir jouself ’n ander glas water. Hierdie slag roer jy drie teelepels asyn by. Neem nou ’n klein slukkie. Kon jy die verskil proe? Wetenskaplikes sal sê dat die eerste glas water swak suur is en dat die tweede glas sterk suur is.

Die suur wat deur myne geproduseer word, is baie sterker as die asyn wat jy gedrink het! Die water het met sulfiede gemeng en dit kan soliede metaal en klip wegvreet. Dit is baie giftig vir plante en diere.

Dit sou nie so erg gewees het as die suur binne die myn gebly het nie, maar as gevolg van baie redes, lek die suur gereeld uit die myne. In sommige gevalle styg die watervlak in die myn tot by die omringende grondwatervlak en die suur besoedel dan al die water in die omgewing. In ander gevalle is die oppervlak van die myne hoër as die omliggende areas: hou in gedagte dat die meeste van die goudmyne in Johannesburg op ’n bergrant was. Die suurvloeistof vloei tussen die gapings in die rotse deur soos ’n gewone spruitjie en besoedel die riviere en strome wat dit binnevloei, wat visse, diere en plante kan laat vrek.

Suur vloeistowwe is geweldig wegvretend en kan soliede materiaal vernietig.

Tech2_gr8_ch5_fig6.tif
Figuur 6: Suur mynwater dreinering is lelik, giftig en ruik ook sleg.

Wanneer baie groot myne, soos die goudmyne in Gauteng, toegemaak word, vloei die suur van die myne in die omgewing in en veroorsaak allerhande probleme vir die omgewing. Hierdie probleme moet opgelos word voordat gemeenskappe verskuif moet word om die nagevolge hiervan vry te spring.

Die goudmyne in Gauteng kan gevind word op die Witwatersrand. Riviere vloei weg van albei kante van die rant en word maklik besoedel.

Tech2_gr8_ch5_fig7.tif
Figuur 7: Hierdie illustrasie wys hoe water in die grondwatervlak myne vol kan maak wanneer die myne nie leeggepomp word nie.

Notas: Suur mynwater dreinering


Onderwerp b: die impak van mynbou op die omgewing: stofbesoedeling

Enige persoon wat al in Johannesburg was, het al die hope geel en wit sand wat van die myne afkomstig is, gesien. Die sandhope word mynhope genoem. Waarvan word hierdie stortingsterreine eintlik gemaak en waarom bestaan hulle?

Wanneer ’n metaal uit die erts waarin dit vervat is onttrek word, moet die erts eers gekneus word en dan met chemikalieë behandel word sodat die metaal kan oplos. Daarna word die chemiese stof wat die ontbinde metaal bevat, geskei van die afvalmateriaal, en nadat nog meer chemikalieë bygevoeg word, word die metaal herwin. Die goud, of ander materiaal, word dan gesmelt en in groot gietblokke of metaalstene gegiet, wat dan vervoer kan word na die fabrieke wat dit sal gebruik.

Maar wat bly nog oor? Al die gebreekte erts en chemikalieë wat gebruik is, is afvalmateriaal wat geberg moet word. Dit kan nie terug in die myn gestort word nie omdat daar steeds mense in die myn werk. Daarom word dit in groot damme of op stortingsterreine gelaat. Die afvalmateriaal is gewoonlik ’n mengsel van water, opgeloste chemikalieë, en fyngemaakte stof of klein deeltjies. Dit word slyk genoem. Die slyk moet buite uitdroog. ’n Ton gouderts produseer slegs ’n gram of twee goud, dus is daar is baie slyk wat oorbly met die onttrekking van goud.

Chemikalieë is bygevoeg om die goud op te los. Baie van hierdie chemikalieë bly in die slyk agter en sommige van hierdie chemikalieë, soos sianied, is baie giftig.

Die materiaal waaruit die slyk bestaan word baie fyn gemaal en wanneer die water verdamp, laat dit ’n laag agter wat uit baie fyn deeltjies bestaan. Hierdie deeltjies kan maklik deur die wind opgelig en rondgewaai word.

Toe goudmyne in Johannesburg vir die eerste keer begin afval genereer het, is die slyk in opgaardamme gepomp. Mettertyd, namate die slyk opgedroog en meer afval genereer is, het damme opwaarts gegroei. Hope het gevorm waar die middelpunt laer as die buitekant was. Soos dit uitgedroog het, het dit na die kante uitgestoot en nog meer ruimte in die middel gelaat. Hierdie stortingsterreine het gegroei tot die groot mynhope langs die myngebiede in Johannesburg.

Dit is nie slegs goud wat mynhope genereer nie. Maar omdat die ou goudmynhope in Johannesburg so naby aan die gemeenskappe wat daar woon is, is dit ’n baie opvallende probleem. Ander mynboudorpe en -stede het soortgelyke probleme. Wanneer nuwe myne begin, bou die mense wat op die myne werk dikwels hulle huise naby aan die myne. Dit is daarom baie algemeen vir dorpe en stede om rondom myne te ontstaan.

Tech2_gr8_ch5_fig8.tif
Figuur 8: Stof wat van mynhope afwaai kan mense en die omgewing beïnvloed.

In die vroeë dae van mynbou was die impak van mynhope op die omgewing onbekend. Maar soos ons meer geleer het oor die negatiewe effek van stof wat van die mynhope afwaai, het mense begin probeer om hierdie probleem op te los. Eers is bome en gras op die myn geplant om te verhoed dat die stof wegwaai, maar as gevolg van die giftige chemikalieë in die mynhope, het die bome en gras nie baie goed gegroei nie.

Later het mynmaatskappye begin om die materiaal wat nog op die mynhope was te gebruik om die goud wat nog daarin was, te onttrek. Daar is nog steeds goud in die mynhope omdat die proses van ’n honderd jaar gelede om goud te onttrek nie baie doeltreffend was nie. Nadat die myne begin het om die mynhope te verwerk en die oorblywende goud te onttrek, het hierdie hope geheel en al verdwyn. Hierdie nuwe afvalmateriaal is gestort op plekke waar die wind dit nie naby woongebiede kan rondwaai nie.

Tech2_gr8_ch5_fig9.tif
Figuur 9: ’n Mynhoop beplant met bome en gras om stofbesoedeling te verminder.

Notas: Die impak van mynbou op die omgewing: stofbesoedeling


Onderwerp c: inheemse mynbou in suid-afrika voor die moderne tydperk

Die geskiedenis van Suid-Afrika is baie nou gekoppel aan mynbou. Goud- en diamantontginning het oor die afgelope 150 jaar baie rykdom vir die land genereer. Die myne in Suid-Afrika produseer vandag goud, diamante, silwer, platinum, chroom en baie ander belangrike minerale. In 2010 het Suid-Afrika 15% van die wêreld se goud, en 78% van die wêreld se platinum produseer.

Maar ewe belangrik in ons geskiedenis was die vermoë om ystergereedskap en implemente te maak.Hierdie tydperk in die geskiedenis van Suid-Afrika, en ook van die wêreld, staan beken as die Ystertydperk. Die vermoë om erts te smelt en ystergereedskap te maak is in Noord-Afrika ontwikkel. Sommige van hierdie gemeenskappe het later suidwaarts getrek op soek na beter reënvalgebiede en meer produktiewe grond vir die verbouing van gewasse.

Uitsmelting is die proses waar erts in ’n baie warm oond, bekend as ’n “smeltkroes”, gesmelt word om die yster van die res van die erts te skei.

Tech2_gr8_ch5_fig10.tif
Figuur 10: Liggings van sommige Ystertydperk mynbou-areas in Suid-Afrika.

Ongeveer 1 800 jaar gelede is die plekke waar groepe mense wat vanaf die noorde van Afrika hulle sou vestig in Suid-Afrika grootliks beïnvloed deur die ontdekking van ystererts neerslae.

Nomadiese mense is mense met geen vaste woonplek nie. Hulle trek van plek tot plek op soek na kos en water.

Selfs nomadiese groepe het hulself naby ’n bron ystererts gevestig en gewasse soos grondbone, sorghum, en broodmanna aangeplant. Dit het gelei tot ’n vermeerdering van beeste en ander kleinvee en gemeenskappe het begin groei en floreer. Hulle sou hul nomadiese leefwyse vaarwel roep en in daardie plek bly en ’n gemeenskap bou. Soms tydens droogtes of wanneer die grondkwaliteit swak was, het hulle wel hul besittings opgepak en na beter areas getrek. Ander groepe wat nie so gelukkig was om ystererts neerslae te vind nie, het voortgegaan om verder suid te trek. As gevolg van hierdie mense wat voortdurend suidwaarts getrek het, het die kennis oor hoe om yster te smelt na die land wat nou as Suid-Afrika bekendstaan, gekom. Geskiedkundiges en geoloë het baie plekke in ons land gevind waar die Ystertydperk-setlaars gebly en hul smeltoonde gebou het. Deur hierdie plekke te bestudeer, het ons gehelp om die geskiedenis van hierdie mense te leer ken.

Die Ystertydperk-mense het ook geweet hoe om potte te maak deur klei te vorm en te bak. Die style van die potte en kunswerke wat by Ystertydperk terreine gevind is, het geskiedkundiges gehelp om te bepaal presies wanneer hierdie plekke beset was. Die ystertydperk-mense het ook hutte en veekrale gebou en hierdie bouvalle is regoor die land, vanaf Mpumalanga tot by die Keirivier, bestudeer.

Tech2_gr8_ch5_fig11.tif
Figuur 11: Tipiese Ystertydperk gereedskap: eenvoudig, maar doeltreffend

Aanvanklik is die ystererts-neerslae deur die Ystertydperk-setlaars ontdek wanneer dit deur gronderosie blootgestel is. Hulle het egter baie vinnig geleer hoe om bronne van ystererts te vind deur die tipe rotse in die omgewing te bestudeer en dit dan te vergelyk met ander areas waar ystererts gevind was. Ongeveer 1 300 jaar gelede is gate en skagte gegrawe om erts te produseer. Dit was ook baie belangrik dat daar bome naby die ystererts-neerslae moes wees, aangesien die smeltproses baie houtskool benodig het om genoeg hitte te produseer. ’n Goeie bron van vars water was ook belangrik.

Die proses van die versmelting van erts is gesien as ’n geheim wat deur die ouer mans van die gemeenskap bewaar is. Hulle het ’n klein oond met ’n klein gaatjie aan die bokant vir ’n skoorsteen gebou, met drie of vier gate teen die kante waar daar lug ingeblaas is. Om die erts te smelt, is lae erts en houtskool in die oond gepak. Die houtskool is aan die brand gesteek en ’n deksel is oor die brandende vuur geplaas.

Tech2_gr8_ch5_fig12.tif
Figuur 12: Illustrasie van hoe ’n vroeë ystersmelter gebou en gebruik is.

Die mans het ’n “blaasbalk” gebruik wat gemaak is van sagte bok- of skaapvel om voortdurend lug in die oond te blaas. Sodoende is die hoë temperatuur wat nodig is om die erts te smelt, bereik. Dit het baie ure geneem, dikwels ’n hele dag of nag. Sodra die houtskool uiteindelik uitgebrand was, is die oond oopgemaak en die klont yster uitgehaal.

Hierdie klont is oor ’n ander vuur verhit en gehamer totdat dit die vorm aangeneem het van die gereedskapstuk of implement wat hulle nodig gehad het.

Dit was ’n moeilike proses maar dit het die wyse verander waarop mense in daardie tyd geleef het, en is dus een van die belangrikste tydperke in ons geskiedenis.

Notas: Ystertydperktegnologie


Onderwerp d: die gelykheid of ongelykheid van werksgeleenthede in die mynbou vir vroue en mans

Diskriminasie word steeds teen vroue was deur die eeue heen ’n aanhoudende stryd. Vroue was, en in sommige lande gesien as tweedeklasburgers wat onder die beheer van hulle pa’s, mans of ander manlike lede van hul familie was. Daar is van vroue verwag om by die huis te bly, skoon te maak en vir die familie te kook, en om kinders groot te maak, meestal sonder die hulp van mans. Baie min vroue het ordentlike onderrig gekry en was nie toegelaat om te werk nie. Die wat wel gewerk het, het meestal tydelike werk gedoen en baie min verdien. Hulle sou trou en/of kinders kry op ’n jong ouderdom voordat hulle kon studeer om te kwalifiseer vir hoër betalende werk.

Daar was wel baie vroue wat baie hard baklei het vir die regte van vroue, veral die reg om te stem. In baie lande is vroue eers in die laaste 80 tot 100 jaar toegelaat om te stem omdat mans gedink het dat vroue nie slim genoeg is om te stem nie. Baie vroue wat uit protes opgetree het, is tronk toe gestuur en baie van hulle is selfs mishandel.

Vir ons om geslagsvooroordeel werklik te verstaan, moet ons besef dat dit op ’n baie vroeë ouderdom begin ontwikkel. Meisies word gereeld vertel dat hulle nie kan doen wat seuns kan doen nie, maar is dit die waarheid? Byvoorbeeld, seuns speel met karretjies en meisies speel met poppe. Dit lei gewoonlik tot die misleidende idees wat mense het oor volwasse mans en vroue. Baie mense dink steeds dat vroue meer emosioneel is as mans, dat hulle mooi moet wees, gewillig moet wees om kinders te hê, en vir hulle families moet sorg. En baie mense dink steeds dat slegs mans fisies sterk kan wees, dat slegs mans slim en hardwerkend genoeg is om werk te doen wat baie verantwoordelikheid vereis, dat regte mans nie hulle emosies wys nie, en dat ’n man slegs finansieel moet bydra tot sy familie.

Wat beteken geslagsvooroordeel in werk situasies? Dit beteken wanneer een geslag as verhewe bo die ander beskou word, en wanneer die geslag meer of beter indiensneming geleenthede as die ander kry.

Gedurende die 20ste eeu is daar baie navorsing gedoen oor die fisiese en verstandelike vermoë van beide mans en vroue. Daar is bewys dat beide mans en vroue dieselfde vermoëns het om die meeste werke te doen. Daar is veranderinge aan wetgewing gemaak wat diskriminasie verbied wat op geslag gebaseer is, en dit het gelei tot ’n toename in die aantal vroue in die werkplek.

Tech2_gr8_ch5_fig13.tif
Figuur 13: Mans en vroue deel pligte bogronds in moderne myne.

Watter prentjie sien jy wanneer jy dink aan mense wat diep ondergronds in myne werk? Heelwaarskynlik sien jy ’n fisiese sterk man met ’n boor of ’n ander groot masjien in ’n donker, warm tonnel. Waarom sien jy nie ’n vrou met ’n groot boor, ondergronds in ’n warm en donker tonnel nie?

Tot en met die vroeë 1990s was vroue in Suid-Afrika nie toegelaat om in myne te werk nie. Soos hierbo genoem, is daar sedert 1994 baie wette in Suid-Afrika verander om geslagsongelykhede en rasse-ongelykhede binne verskeie industrieë te verminder en uit te skakel. Die mynbousektor was een van hierdie industrieë, maar statistiek wys dat dit nie so vinnig gebeur as wat dit moes nie. Selfs vandag is slegs 5% van mynwerkers in Suid-Afrika vroue en die meerderheid van hierdie vroue werk as klerke of administratiewe amptenare. Baie min vroue werk direk met die fisiese onttrekking en ontginning van minerale. Daar is wel vroue wat terwille van die oorlewing van hulle gesinne tog betrokke is by informele mynbou waar steenkool, klei, koper en ander minerale ontgin word. Dit bewys wel dat vroue in staat is om die fisiese werk te doen, maar hulle word nie formeel as fisiese werkers aangestel nie.

Deesdae kan enige persoon wat wil, ondergronds werk, maar hulle moet eers ’n fiksheidtoets slaag. Dit is ’n toets waar nie net krag getoets word nie, maar ook stamina. Stamina is die vermoë om fisiese werk oor ’n langerige tydperk te doen sonder om die liggaam skade aan te doen. Benewens dit moet die mynwerkers ’n hitte-toleransietoets slaag. Daar is bewyse dat vroue hoë temperature baie beter as mans hanteer.

’n Hitte-toleransietoets word gebruik om seker te maak dat mense vir lang tydperke in hoë temperature kan werk. In ondergrondse myne is die temperature baie warmer as op die oppervlak.

Tech2_gr8_ch5_fig14.tif
Figuur 14: Vroue en mans kan saam in ondergrondse myne werk.

Dit maak dus nie saak of jy ’n man of ’n vrou is nie, indien jy die toets slaag, kan jy ondergrondse erts mynwerk doen.

Die betaling van werk wat gedoen word, is ’n ander area waar geslagsvooroordeel in die myne toegepas word. Alhoewel vroue presies dieselfde werk as die mans doen, word hulle minder betaal. Hierdie tipe praktyk word loondiskriminasie genoem. Daar is wel in ons land wette wat hierdie tipe onregverdigheid in die land verbied, maar omdat sommige vroue desperaat is vir werk, aanvaar hulle hierdie situasie sonder om te kla.

Afgesien van loondiskriminasie, is daar vele ander redes waarom vroue steeds nie in die formele mynbou sektor toegelaat word om in dieselfde hoedanigheid as mans te werk nie. Byvoorbeeld:

Vir vroue om beter toegang tot loopbane in die mynboubedryf te kan bekom, moet die persepsie wat mans en vroue oor vroue het, verander. Vroue het reeds bewys dat hulle in staat is om dieselfde werk te doen as hulle manlike eweknieë, en daarom moet hulle nie alleenlik toegelaat word om te werk nie, maar hulle moet ook volgens dieselfde standaarde as mans beloon en bevorder word.

Notes: Gender bias in mining


Spanbesprekings en voorbereiding van verslae

Nadat jy in die vorige les deur elk van die artikels gelees het, moes jy aantekeninge gemaak het van wat jy verstaan as die vernaamste probleme of geleenthede wat elk van die onderwerpe aanraak. Jy is ook gevra om as huiswerk meer inligting te probeer vind oor elke onderwerp.

Jy gaan nou in spanne werk om ’n verslag voor te berei oor die onderwerp wat aan julle toegeken is. Hierdie verslag moet die geskiedenis en agtergrond van die onderwerp in ag neem. Die verslae moet insiggewend wees en waar nodig moet vrae gestel word. Met sommige van die onderwerpe kan die span dalk voorstelle bied oor hoe hierdie probleme opgelos of verminder kan word. Hierdie voorstelle sal ’n belangrike deel van die verslag vorm.

Elke span gaan volgende week ’n kort aanbieding aan die klas voorlê. Jy het net hierdie les om voor te berei. Elkeen van julle gaan ’n deel van die aanbieding lewer.

Om jou met hierdie voorbereiding te help, is daar ’n paar addisionele vrae hieronder met betrekking tot die vier onderwerpe. Bespreek nou die vrae oor jou span se onderwerp.

Onderwerp a: die impak van mynbou op die omgewing: suur mynwater dreinering

Daar word nie van jou verwag om oplossings te gee vir suur mynwater dreinering nie: hierdie prosesse is geweldig ingewikkeld en duur! Die doel van hierdie oefening is om ’n begrip te ontwikkel oor hoe die suur wat vanuit ou myne lek probleme kan veroorsaak, en ook hoe gemeenskappe voorsorg kan tref sodat hulle nie geaffekteer word nie.

1. Wat is suur mynwater dreinering?


2. Waarom dink jy is dit nie as ’n probleem gesien toe myne aanvanklik begin grawe is nie?


3. Watter effekte kan suur mynwater dreinering op gemeenskappe, watertoevoer, huise en ander geboue, en op die omgewing hê?


4. Hoe kan gemeenskappe bygestaan word wat deur suur mynwater dreinering affekteer word?


5. Wie moet die probleem ondersoek, en wie moet bystand lewer ten opsigte van die oplossings?


6. Wat moet die mynboubedryf doen om die bestaande probleme op te los en toekomstige probleme te voorkom?


Onderwerp b: die impak van mynbou op die omgewing: stofbesoedeling

1. Gee ’n kort geskiedenis oor waarom daar soveel mynhope in Suid-Afrika is.


2. Hoekom ontwikkel dorpe rondom myne?


3. Hoe het die stof wat vanaf die mynhope waai ’n negatiewe impak op mense en die omgewing?


4. Waarom is die stof van mynhope gevaarliker as die stof van lande of velde?


5. Hoe kan daar voorkom word dat stof vanaf mynhope waai?


6. Waarom is die probleem in Johannesburg aan die afneem? Gee ’n paar redes, en maak dan ook voorstelle oor hoe ander gemeenskappe kan leer uit Johannesburg se ondervinding.


7. Watter ander voorstelle het die span om die probleem regoor die land te verminder?


8. Wanneer daar nuwe myne gegrawe word, watter planne moet die ingenieurs maak om die probleme te vermy met die mynhope wat geskep word?


Onderwerp c: inheemse mynbou in suid-afrika voor die moderne era

1. Waarom is dit belangrik om die geskiedenis van vroeë mynbou te verstaan en te bestudeer?


2. Hoekom het groepe uit Noord-Afrika suid beweeg?


3. Hoe belangrik was mynbou as ’n vaardigheid vir die mense wat migreer het?


4. Watter hulpbronne het migrerende mense gesoek? Waarom was hierdie hulpbronne vir hulle belangrik?


5. Hoekom weet ons so baie oor die mense van die Ystertydperk? Waarna moet jy kyk as jy soek na tekens dat hulle op sekere plekke gewoon het?


6. How has mining affected the growth of South Africa?


7. Hoe sal mynbou in die toekoms lyk?


Onderwerp d: gelykheid of ongelykheid in die mynbou vir mans en vroue

1. Wat is geslagsvooroordeel?


2. Het geslagsvooroordeel die groei van handel en nywerheid (besigheid) in Suid- Afrika beïnvloed? Indien wel, hoe?


3. Wat is gedoen om geslagsvooroordele in Suid-Afrika te verander en te verwyder?


4. Dink die span dat hierdie veranderinge suksesvol was?


5. Wat anders kan gedoen word om geslagsvooroordele in die mynbousektor en op ander sektore in die werkplek te verminder?


Huiswerk: berei voor om vrae te vra en te beantwoord

Lees deur al vier artikels wat in les 5.1 gegee is sodat jy bewus is van die agtergrond van die ander drie onderwerpe waaroor die ander spanne in die volgende les gaan verslag doen. Nadat die ander spanne hulle aanbiedings gelewer het, gaan jy aan die spanne vrae stel. Maak ’n paar notas hieronder:


Aanbieding van verslae

Tydens die vorige les het elke span ’n verslag oor ’n mynbou onderwerp voorberei om mondeling aan die klas voor te lê. Julle is ook gevra om die artikels oor die ander drie onderwerpe te lees sodat julle kennis dra van die ander spanne se aanbiedings. Dit sal julle in staat stel om vrae oor hulle onderwerpe te vra.

In julle span, spandeer vyf minute om julle aanbieding te hersien. Julle moet besluit wie vir elk van die verskillende dele van die aanbieding verantwoordelik gaan wees. Elkeen van julle gaan ’n deel van die aanbieding doen. Jy het slegs 2 minute om die aanbieding te lewer. Jy kan visuele hulpmiddels soos ’n plakkaat gebruik om aan die klas te verduidelik wat julle bedoel.

Jou onderwyser gaan die spanne om die beurt ’n kans gee om hulle aanbiedings te doen. Onthou om aan die ander spanne vrae te stel nadat hulle hul aanbiedings gelewer het. Die idee is nie om hulle met vrae uit te vang nie, maar om meer te leer omtrent hulle onderwerpe.

Tech2_gr8_ch5_fig15.tif
Figuur 15: ’n Span wat besig is met ’n aanbieding met behulp van illustrasies en ’n swartbord om die spreker te help.

Huiswerk: besin oor die week se werk

1. Waaroor het julle onderwerp gehandel?


2. Vergelyk die voordele en die nadele van die mynbedryf in die Suid-Afrikaanse samelewing.


3. Wat kan gedoen word om mense se begrip omtrent die mynbou te verbeter?


4. Wat kan gedoen word om die mynbou meer voordelig vir die samelewing te maak?


Volgende week

Volgende week gaan jy begin met jou Mini-PAT vir die kwartaal. Jy gaan ’n model ontwerp en ’n hysstelsel vir ’n myn bou. Jy gaan ook ’n tender voorberei vir die bou van die hysstelsel.