Maak nuwe dinge uit ou goed

In die volgende twee weke gaan julle leer hoe papier hergebruik word. Julle sal ook geleer word hoe om nuwe voorwerpe uit ou stukke karton te maak. Julle gaan julle eie verpakkingsmateriaal vir 'n produk maak.

Tech_LG_Grade8_Book1_Chapter9_fig1_Eng.tif
Figuur 1: Versamel weggooipapier en weggooikarton afsonderlik van ander vullis
Tech1_gr8_ch9_fig2.tif
Figuur 2: Om papier en karton te gebruik sonder om dit te herwin

Papier en karton is bioafbreekbaar. Dit doen nie skade aan die natuur as dit weggegooi word nie. Dit kan ook verbrand word om hitte of elektrisiteit te genereer, en geen giftige gas sal in die proses vrygestel word nie. Om papier en karton te vervaardig moet bome egter afgesaag word. As papier en karton hergebruik word, hoef minder bome afgesaag te word.

Het jy geweet?

Die hergebruik van 54 kg koerantpapier maak dat een minder boom afgesaag hoef te word.

Omtrent 40% van munisipale vaste afval is papier en karton.

Tech1_gr8_ch9_fig3.tif
Figuur: 3: Die gebruik van papier en karton, en die hergebruik daarvan

Het jy geweet?

Die gemiddelde persoon gebruik byna 50 kg papier en karton per jaar.

Giftige chloorgas word gebruik om papier te bleik. Om te bleik beteken om wit te maak. Die chloor kan gifgasse vorm, wat dioksiene genoem word, en in die atmosfeer vrygelaat kan word.

Hoe word papier en karton gemaak?

'n Papierherwinningsfabriek maak nuwe papier of karton uit afvalpapier. Hieronder word verduidelik hoe hulle dit doen. Jy kan ook herwinde papier by die huis maak.

  1. Afvalpapier word met warm water en chemikalieë gemeng. Dit word deur 'n masjien geroer en opgekap om die klein, dun vesels waarvan papier gemaak word uitmekaar te kry. Die masjien wat die mengsel van water en papier meng en opkap werk soos 'n voedselverwerker.

    Die mengsel van opgekapte papier en water word papierpulp genoem.

    Tech1_gr8_ch9_fig4.tif
    Figuur 4
  2. Die pulp word deur 'n sif geggoi. Ou gom en baie kort vesels gaan deur die sif. Lang, sterk vesels bly agter in die sif. Hierdie vesels word dan in 'n roertenk geplaas waar chemikalieë bygevoeg word om die ink uit die pulp te verwyder.

    Tech1_gr8_ch9_fig5.tif
    Figuur 5: 'n Sif
  3. Nuwe gom word by die pulp gevoeg. Wanneer die herwonne papier vir skryfwerk of drukwerk bestem is, word 'n hoeveelheid klei bygevoeg om aan die papier 'n gladder oppervlak te gee.

  4. Die pulp gaan na 'n papiervervaardigings- masjien waar dit tussen twee rollers gepers word om dit die vereiste dikte te gee, en die water daaruit te pers.

    In plaas daarvan om 'n lang tyd te wag vir die papier om uit te droog kan dit vinniger gedroog word deur die papier te verhit en warm lug daaroor te blaas. Sodra die papier droog is, word dit in die regte groottes gesny en verpak.

Papiervesel kan tot sewe keer hergebruik word, maar tydens die proses breek die vesels elke keer in korter en korter stukkies. As die papier te veel kere hergebruik word, sal die vesels te kort en swak raak om weer papier daarvan te maak.

Gevallestudie: papierherwinning

  1. Waarvan word karton gemaak?


  2. Hoekom kan papier nie meer as sewe keer hergebruik word nie?


  3. Wat sal gebeur as die gate in die sif te groot is?


  4. Wat sal gebeur as die gate in die sif te klein is?


Huiswerk vir die volgende les

Versamel 'n paar ou pilboksies en bring hulle na die volgende les. Probeer minstens twee sulke boksies kry. As jy nie 'n pilboksie kan kry nie, bring 'n ander klein boksie wat toegemaak kan word . nadat jy dit oopgemaak het. Soms word speserye in sulke boksies verpak, asook sommige gloeilampe.

Veiligheidswaarskuwing

Moenie pille uit pilboksies verwyder nie. Daar is etikette op pilboksies wat sê watter pille dit is en hoe hulle gebruik moet word. As daardie etikette verlore raak, weet mens nie watter medisyne om te neem, en hoeveel daarvan nie.

Vra jou ouers of enige ander volwassene vir 'n leë pilboksie.

Tech1_gr8_ch9_fig6.tif
Figuur 6: Deel van 'n ou papiervervaardigingsmasjien

Hoe word papier en karton hergebruik?

Neem een van die klein boksies wat jy skool toe gebring het. Kyk goed na al die kante van die boksie. Maak dan die boksie oop sodat jy binne kan sien, maar moenie die boksie skeur of sny om dit oop te maak nie. Terwyl jy na die boksie kyk, probeer dink oor hoe hierdie boksie uit 'n plat stuk karton gemaak is.

Die volgende woorde beskryf verskillende dinge van 'n boksie:
  • 'n Vlak is een van die plat oppervlakke wat van die buitekant af gesien kan word.
  • 'n Rand is die lyn waar twee vlakke ontmoet.
  • 'n Hoek is waar drie vlakke by 'n enkele punt bymekaarkom. By hierdie punt is daar ook drie rande wat bymekaarkom.
  • 'n Oorvouklap is 'n addisionele stuk wat aan 'n vlak geheg word en gebruik word om die boksie te help toehou. Dit kan nie vanaf die buitekant van 'n toegemaakte boksie gesien word nie.
Tech1_gr8_ch9_fig7.tif
Figuur 7: Die verskillende dele van 'n boksie

Dink oor die verskillende dele van 'n boksie

  1. Hoeveel vlakke het die boksie?


  2. Hoeveel rande het die boksie?


  3. Hoeveel hoeke het die boksie?


  4. Kyk na die twee tekeninge van die boksie hier onder. Die tekeninge is gemaak deur van verskillende aansigte na die boksie te kyk. Op elke vlak van hierdie boksie is 'n naam geskryf. Skryf dieselfde name op die verskillende vlakke van jou eie boksie.

    Tech1_gr8_ch9_fig8_Eng.tif
    Figuur 8: Benaming vir die verskillende vlakke van 'n boksie
  5. Uit hoeveel verskillende stukke karton is die boksie gemaak?


Daar is drie verskillende maniere waarop 'n rand in 'n kartonboks gemaak kan word.

  • Onafgebroke rande: Die karton word eenvoudig langs 'n lyn gevou.
  • Rand gemaak deur 'n oorvouklap te vou: Een van die twee vlakke wat bymekaarkom het 'n oorvouklap daaraan vas. Hierdie oorvouklap vou onder die ander vlak in om die boks toe te maak.
  • Rand gemaak met 'n oorvouklap wat aan 'n ander vlak vasgegom word : Dit is dieselfde as 'n rand wat met 'n oorvouklap gemaak is, maar in dié geval word die oorvouklap permanent met gom aan die ander vlak vasgehou.

Die verskillende soorte rande vir jou boks

  1. Die foto's hieronder wys verskillende rande van 'n boks. Skryf onder elke foto watter soort rand gewys word.

    Tech1_gr8_ch9_fig9a.tif
    Figuur 9

  2. Hoeveel van die rande van jou boks is onafgebroke rande?


  3. Hoeveel van die rande van jou boks is gemaak met oorvouklappe wat nie gegom is nie?


  4. Hoeveel van die kante van jou boks is gemaak met oorvouklappe wat met gom vasgeplak is?


  5. Wat is die totale aantal oorvouklappe wat gebruik is om die boks te maak?


Huiswerk

    1. Kry 'n ou kartonboks. Dit moet van dun, soliede karton gemaak wees. Ontbytgraanbokse en bokse waarin kos| verpak word, is gewoonlik van sulke karton gemaak.

      • Maak seker die boks is nie van geriffelde karton gemaak nei.
      Tech1_gr8_ch9_fig10.tif
      Figuur 10: Bokse vir die verpakking van kos word van dun, soliede karton gemaak.
    2. Sny die boks en vou dit plat. Die plat stuk karton moet minstens so groot soos 'n A4-papiervel wees.

    3. Herhaal die proses om nog twee kartonvelle te maak.

  1. Kry minstens agt ou A4-papiervelle in die hande. Die een kant van elke papiervel moet skoon wees, want jy gaan daarop teken.

  2. Bring volgende week die papier en die kartonvelle saam na elkeen van jou Tegnologielesse. Jy gaan hierdie ou papier en karton gebruik om papier- en kartonbokse te maak.

  3. Bring weer pilboksies, of ander klein boksies, na jou volgende les.

    Tech1_gr8_ch9_fig11.tif
    Figuur 11: Groot bokse word van geriffelde karton gemaak.

Teken die ontwikkeling van 'n boks

Sny die boks langs die vasgegomde rand oop. Vou dit oop en druk dit plat. Ons noem dit die plat plan of ontwikkeling van 'n boks.

Tech1_gr8_ch9_fig12.tif
Figuur 12: Jy kan 'n boks oopvou en platdruk om een plat stuk karton te maak. Dit is die ontwikkeling van 'n boks.

Trek die ontwikkeling met fyn lyne . op 'n stuk papier na. Trek dit na in die middel van die skoon papiervel, sodat daar spasie rondom die nagetrekte ontwikkeling oorbly. Jy kan die ontwikkeling oor en oor gebruik om na te trek, soos wat deur die illustrasie hieronder gewys word.

Tech1_gr8_ch9_fig13.tif
Figuur 13: Die natrek van 'n figuur om met dieselfde prent baie Kerskaartjies te maak.

Toe jy die ontwikkeling van die boks nagetrek het, was jou lyne nie baie netjies en reguit nie. Dit is hoekom jy die lyne fyn gemaak het. Gebruik nou 'n liniaal om reguit, donker lyne oor die fyn lyne van jou ontwikkeling te trek. Die donker lyne wys waar die papier gesny moet word. Moenie om enige ander rede donker lyne trek nie, want jy kan later iets afsny wat jy nie moes afsny nie!

Wys met strepieslyne waar die papier gevou gaan word.

Sny nou jou ontwikkeling uit. Moenie met die strepieslyne langs sny nie, want hulle is vir voue bedoel. . Vou die ontwikkeling om 'n boks te vorm.

As jy per ongeluk iets afgesny het wat jy nie moes afsny het nie, moenie bekommerd wees nie. Die meeste mense maak foute as hulle vir die eerste keer probeer om 'n boks te ontwerp en uit te sny. Leer egter uit jou foute. Vra jouself wat jy volgende keer behoort te doen om die boks reg te maak, of selfs beter.

Huiswerk

    1. Maak 'n nuwe papiermodel van jou boks. Maak hier keer 'n netjieser een. Dink sorgvuldig voordat jy jou ontwikkeling begin uitsny, om seker te maak dat jy nie iets afsny wat nie afgesny moet word nie.

      Onthou dat die papiermodel van jou boks uit net een papiervel gemaak moet word.

    2. Bring die kartonboks wat jy in hierdie les oopgesny, ontvou en platgedruk het, asook die papiermodel wat jy van hierdie boks gemaak het, na die volgende les.

  1. Onthou om volgende week die papier- en kartonvelle wat jy oor die naweek in die hande gekry het na elke les saam te bring.

Maak jou eie boks

Leer die geheime

Jy het 'n papierboksie gemaak en nou gaan jy voorbereidings tref om met die gebruik van dieselfde ontwerp 'n sterker boks uit karton te maak.

Dit is moeiliker om karton te vou, en dik karton kan kraak as jy dit vou. Jy moet eers die geheim leer om karton te vou, asook hoe om twee stukke karton met gom aanmekaar te plak. Jy sal dit op so 'n manier moet doen dat die gom gou droog word en die las sterk sal wees.

Hierdie week gaan jy 'n kartonboks maak. Jy moet egter eers 'n paar werksgeheime leer. Mense wat tegnologiese werk doen, noem hierdie geheime tegnieke. Dit maak sin dat die woord tegnologie soortgelyk is aan die woord "tegniek".

Hoe om karton vas te lym

Jy gaan twee stukke karton met wit houtlym aanmekaar plak. Eksperimenteer eers so bietjie om vas te stel of dit beter is om baie lym te gebruik, of net 'n bietjie lym.

Plak twee klein stukkies karton met 'n dik lymlaag tussen hulle aanmekaar. Druk die twee stukkies karton twee minute lank teenmekaar, en laat dit dan los. Het die gom droog geword? Probeer om die twee stukkies karton versigtig uitmekaar te trek. Is die las sterk?

Tech1_gr8_ch9_fig14.tif
Figuur 14: Met baie lym

Probeer nou twee ander stukkies papier aanmekaar lym. Gebruik hierdie keer baie min lym. Sit net 'n druppel gom op die karton en versprei dit met jou vinger. Houtlym is nie giftig nie en jy kan dit met water afwas. Die karton lyk nat en blink. Dit moenie wit lyk soos die lym nie. Druk die twee stukkies karton saam vir twee minute en laat dit dan los. Het die gom droog geword? Probeer om die stukkies karton versigtig uitmekaar te trek. Is die las sterk?

Tech1_gr8_ch9_fig15.tif
Figuur 15: Met min lym

Hoe om karton te vou

Om karton teen 'n hoek van 90° te vou moet jy eers die volgende eksperiment doen om te sien wat die beste tegniek is.

Vou 'n reghoekige stuk karton in die helfte. Gebruik 'n dik stuk karton, soos die soort waarvan ontbytgraanbokse gemaak word. Die lengte van die vou moet minstens 10 cm wees. Sny drie stukkies karton wat jy op verskillende maniere in die helfte gaan vou.

Tech1_gr8_ch9_fig15.tif
Figuur 16: Maak 'n vou sonder om eers 'n groef te maak.

Trek 'n potloodlyn aan die binnekant van die eerste stuk karton en vou die karton dan langs daardie lyn. Vou dit heeltemal plat en gebruik die steel van jou potlood om die vou skerp te stryk. Vou dit dan terug na 'n hoek van 90°.

Tech1_gr8_ch9_fig15.tif
Figuur 17: Gebruik die potlood se steel om die vou skerp te stryk.

Om die tweede stukkie karton te vou, maak eers 'n groef aan die buitekant van die karton. Sit jou liniaal op die plek waar jy wil hê die groef moet wees en trek dan 'n lyn met 'n balpuntpen. Druk hard met die pen sodat jy 'n groef in die karton maak. Hou die liniaal styf vas, sodat dit nie beweeg terwyl jy die lyn trek nie. Gaan die lyn 'n paar maal oor om die groef dieper te maak. Vou die karton met hierdie groef langs. Vou dit plat en gebruik die steel van jou potlood om die vou skerp te stryk. Vou dit dan terug na 'n hoek van 90°.

Tech1_gr8_ch9_fig15.tif
Figuur 18: Maak 'n vou deur eers 'n groef aan die buitekant te maak.

Om die derde stukkie karton te vou, maak eers twee groewe aan die binnekant van die karton. Maak elke groef op dieselde manier as voorheen. Die twee groewe moet parallel wees en 1 mm tot 2 mm van mekaar af. Vou die karton al langs hierdie groewe. Vou dit plat en gebruik die steel van jou potlood om die vou skerp te stryk. Vou dit dan terug na 'n hoek van 90°.

Tech1_gr8_ch9_fig15.tif
Figuur 19: Maak 'n vou deur eers twee groewe aan die binnekant te maak

Kyk nou goed na elkeen van die drie voue. Is die vou netjies? Is daar enige krake aan die buitekant van die vou? Was dit maklik of moeilik om die vou te maak? Is die vou presies waar jy wou gehad het dit moet wees?

Watter manier van vou is volgens jou die beste?

Jou finale boks

Gebruik die kartonboks wat jy ontvou en platgedruk het om dieselfde ontwerp op 'n plat stuk karton na te trek. Kyk bietjie na figuur 12 op bladsy 132. Gebruik fyn lyne. Teken weereens die gelymde vouklap waar dit oorspronklik aan die stuk karton vas was.

Doen dieselfde as wat jy gedoen het om die papiermodel van die boks te maak. Gebruik egter hierdie keer die beste tegniek om 'n vou in die karton te maak.

Wanneer jy die karton gesny en gevou het, toets eers of dit 'n boks sal maak, en dat al die oorvouklappe daar is. As dit korrek is, lym dan die een oorvouklap vas aan die vlak waaraan dit vasgelym moet word. Gebruik die regte hoeveelheid lym.

As jy in die les nog tyd oor het, voltooi ook die volgende aktiwiteit.

Nog iets ekstra wat jy kan doen om te sorg dat jou boks beter toemaak

Kyk goed na die oorvouklappe op die pilboksie. Jy sal klein snytjies in party van die oorvouklappe sien. Wat dink jy is die doel van hierdie klein snytjies?

Maak 'n nuwe kartonboksie, maar maak hierdie keer ook daardie klein snytjies.

Tech1_gr8_ch9_fig20.tif
Figuur 20: Die klein snytjies in die oorvouklap wat gebruik word om die boksie oop en toe te maak.

Maak 'n potloodboksie

Ontwerp 'n nuwe boks met 'n ander grootte. Die nuwe boks sal as 'n potloodboksie gebruik word. Jy moet twee potlode, twee penne, 'n uitveër en 'n skerpmaker daarin kan sit. Jy moet die potloodboksie ontwerp deur dieselfde idees te gebruik wat jy met die maak van jou vorige kartonboks gebruik het

Teken eers 'n rowwe plan van die ontwikkeling van die boks. Doen dit op die volgende bladsy. Die rowwe skets moet al die dimensies van die ontwikkeling wys. Dimensies beteken dieselfde as afmetings. Doen 'n vryhandtekening, sonder 'n liniaal, om die rowwe plan so gou as moontlik saam te stel.

Teken dan die plan op 'n stuk karton. Gebruik jou liniaal vir die afmetings en om reguit lyne te teken. Onthou om met strepieslyne aan te dui waar die karton gevou gaan word. Moenie met die strepieslyne langs sny nie.

Maak nou jou eie potloodboksie van karton.

Maak 'n rowwe skets vir die ontwikkeling van 'n potloodhouer hier:

Tech1_gr8_ch10_fig_IsometricGrid.tif

Verminder, hergebruik, herwin

Julle het verlede week geleer dat die omgewing beskadig word as al hoe meer plastiek vervaardig en weggegooi word. Jy kan hierdie negatiewe impak op die omgewing op verskillende maniere verminder.

Jy kan eerstens minder plastiek items koop, wat die vermindering van jou verbruik genoem word. Tweedens kan jy party dinge oor en oor gebruik, sodat jy nie nuwe goed hoef te koop nie. Dit word die hergebruik van items genoem.

Hierdie week het julle oor herwinning geleer. Verbeel jou jy besit iets en dit breek, of jy het dit nie meer nodig nie. Dan moet jy dit weggooi. Daar is gelukkig 'n slim manier om dinge weg te gooi – deur verskillende tipes vullis van mekaar te skei. As jy en jou gesin byvoorbeeld al julle afvalplastiek afsonderlik bymekaarmaak, kan iemand die plastiek na 'n herwinningsfabriek neem waar nuwe plastiek van die ou plastiek gemaak word.

Tech1_gr8_ch9_fig21.tif
Figuur 21

Volgende week

Volgende week gaan julle leer waar elektrisiteit vandaan kom. Die opwekking van elektrisiteit het 'n negatiewe impak op die omgewing. Om hout, gas of paraffien vir verhitting of koskook te verbrand het ook 'n negatiewe impak. Julle gaan aan maniere dink om hierdie negatiewe impak te verminder deur 'n huis op 'n slim manier te ontwerp.