Menslike voortplanting

Hoofstuk-oorsig

2 weke

Nadat ons verskeie van die orgaanstelsels in die menslike liggaam oorsigtelik in Hoofstuk 2 bestudeer het, sal die volgende drie hoofstukke in meer detail na sommige van hierdie stelsels kyk.

Hierdie hoofstuk oor "Menslike voortplanting" begin deur na die doel van voortplanting te verwys en hoe die mens gedurende puberteit geslagsryp word om te kan voortplant. Die onderwerp is baie relevant vir u leerders aangesien hulle nou in daardie stadium van hul lewens is.

Wees daarvan bewus dat leerders ongemaklik mag voel om geslagtelike voortplanting in die klas te bespreek, en dat ouer tieners mag lag of onvanpaste grappies daaroor maak om hul eie verleentheid weg te steek.

'n Paar wenke vir wanneer menslike voortplanting onderrig word:

  1. Respekteer die vrae en bekommernisse van u leerders. Sommige van hulle mag dalk nog nooit 'n geleentheid gehad het om vrae oor voortplanting te vra nie, veral indien hul ouers nie gemaklik met hulle oor die onderwerp kon praat nie. Hierdie is 'n sensitiewe onderwerp en leerders mag skaam voel om vrae te vra. Moedig u leerders aan om vrae te vra sonder om skaam te wees. Leerders moet egter aangesê word om hul vrae sorgvuldig te bewoord en om wetenskaplike terme te gebruik, sonder vulgêre uitdrukkings. U, as onderwyser, moet ook slegs wetenskaplike terme gebruik.
  2. Bespreek prosesse openlik sodat leerders gemaklik in die klasomgewing kan wees om te praat en te leer oor voortplanting en hoe dit hul lewens beïnvloed. Ontmoedig en dissiplineer enige gelag of onbeskofte gedrag van ander leerders.
  3. Bring moontlik 'n gasspreker in. Leerders mag dalk meer gemaklik wees om vrae aan 'n vreemdeling te vra. Leerders sal ook die onderwerp ernstiger opneem indien u 'n spesialis of ander kundige, soos 'n ginekoloog of 'n vroedvrou, kan kry om met hulle te praat.
  4. Indien moontlik kan u seuns en dogters skei. Indien u, byvoorbeeld, 'n grafiese video van die vroulike geslagsorgane vertoon, sal dit beter wees indien die seuns 'n soortgelyke video, wat die manlike geslagsorgane verduidelik, in 'n ander vertrek kan kyk.
  5. Vermy dit om die voortplantingstelsel in 'n negatiewe lig of as 'verbode' uit te beeld, aangesien dit slegs tot die ongemak kan bydra wat sommige leerders reeds voel. Leerders is op hierdie stadium van hul lewens reeds baie geïnteresseerd in voortplanting en die veranderinge wat hul liggame ondergaan. Dit is natuurlik en moet aangemoedig word sodat hulle opgevoed kan word om hierna ingeligte keuses in verband met hul geslagsgesondheid te kan maak.
  6. Hier is 'n webwerf met verdere leeswerk: http://ezinearticles.com/?Teaching-Teens-About-the-Reproductive-System&id=1471773

3.1 Doel en puberteit (2 uur)

Take

Vaardighede

Aanbeveling

Aktiwiteit: Nadenke oor bevolkingsgroei

Identifikasie, voorspelling, skryfvermoë

Opsioneel

3.2 Voortplantingsorgane (1 uur)

Take

Vaardighede

Aanbeveling

Aktiwiteit: Identifiseer die rol van die manlike en vroulike liggame in voortplanting

Identifikasie, skryfvermoë

Voorgestel

Aktiwiteit: Identifiseer struktuur en funksie

Identifikasie, beskrywing, verduideliking, skryfvermoë

KABV voorgestel

Aktiwiteit: Vergelyk die voortplantingsorgane

Vergelyking, opsomming, skryfvermoë

Voorgestel

3.3 Stadiums van voortplanting (3 uur)

Take

Vaardighede

Aanbeveling

Aktiwiteit: Vloeidiagram van die roete van spermselle

Opsomming, beskrywing

KABV voorgestel

Aktiwiteit: Vergelyk bevrugting en menstruasie

Vergelyking, opsomming, tekenvermoë

Voorgestel

Aktiwiteit: Debatteer surrogaatskap

Groepwerk, bespreking, debattering, aanbieding, skryfvermoë

KABV voorgestel

Aktiwiteit: Beskryf verskillende voorbehoedmiddels

Identifikasie, beskrywing

Opsioneel

Aktiwiteit: Forumbespreking

Groepwerk, bespreking, debattering, aanbieding, skryfvermoë

Opsioneel

  • Wat is puberteit en wat beteken dit om 'puberteit te bereik'?
  • Waarom gaan ons almal deur puberteit op verskillende tye en teen verskillende tempo's?
  • Watter veranderinge vind tydens puberteit in ons liggame plaas?
  • Hoe lyk ons voortplantingsorgane wanneer ons geslagsryp is?
  • Hoe vind voortplanting plaas?
  • Wat is menstruasie en waarom vind dit een keer per maand plaas?
  • Hoe groei 'n baba in 'n vrou se uterus?
  • Hoe kan swangerskap en die oordrag van SOS'e verhoed word?

Jou liggaam gaan in hierdie stadium van jou lewe deur allerhande veranderinge soos wat dit groei, ontwikkel en geslagsryp word. Ons gaan in hierdie hoofstuk meer oor hierdie veranderinge leer en uitvind waarom dit gebeur.

Doel en puberteit

  • geboortebeperking
  • konsepsie
  • bevrugting
  • inplanting
  • bevolkings-groeitempo
  • puberteit
  • geslags-omgang
  • sperm

Die doel van voortplanting

Julle het reeds vantevore geleer dat vootplanting een van die sewe lewensprosesse is en dat die mens, net soos alle ander organismes, moet kan voortplant om oorlewing van die spesies te verseker.

U kan hierdie afdeling gebruik om 'n bespreking van bevolkingsgroei en bevolkingsbeheer te begin. Daar word aan die einde van die hoofstuk 'n debat aangaande voorbehoedmiddels voorgestel, maar onderwysers mag verkies om 'n bespreking van die verskillende etiese standpunte rakende voorbehoedmiddels reeds op hierdie stadium in te sluit.

Video oor wêreldbevolkingsgroei.

Nadenke oor bevolkingsgroei

'n Interessante voorstel is, indien u 'n internetverbinding in die klas het en 'n projektor of 'smartboard' om die webwerf te vertoon, om die skakel in die besoek-boksie rakende 'Breathing Earth' oop te maak. Hierdie simulasie toon baie duidelik hoe die wêreldbevolking aan die groei is. U kan die skakel aan die begin van die les oopmaak en dit laat loop. Aan die einde van die les kan 'n mens dan sien hoeveel die wêreldbevolking gegroei het in die tyd van een les-uur! Alternatiewelik, indien u nie 'n internetverbinding in die klaskamer het nie, vra leerders met mobiele fone om na die skakel te gaan. Selfs al is daar slegs 'n paar selfone in die klas kan u hul nogtans vra om aan die begin en aan die einde van die klas daarna te kyk. Moenie bang wees om hierdie tegnologie te gebruik wat u leerders daagliks gebruik nie! Hulle het heel waarskynlik in elk geval hul selfone in hul sakke, tensy dit tydens skoolure verbode is.

'n Simulasie wat wêreldbevolkingsgroei toon http://www.breathingearth.net/

Kyk na die webwerf-skakel in die besoek-boksie in verband met 'Breathing Earth'. Dit sal jou 'n idee gee van hoe die wêreldbevolking aan die groei is.

In 2011 het die wêreldbevolking tot 7 biljoen gegroei, een biljoen meer as in 1999. Verbetering in mediese sorg en toenames in landbouproduksie (kos) laat meer en meer mense toe om langer te leef.

In die ou dae het lande soos Indië, Rome en Griekeland 'n groot bevolking gesien as 'n bron van mag. Die Romeine het selfs wette gehad oor hoeveel babas 'n egpaar moes hê en het mense gestraf wat nie die reëls nagekom het nie. Nogtans het Confucius (551-478 vC) reeds daarop gewys dat te veel mense 'n probleem kan word, omdat daar nie genoeg kos sou wees om almal te voed nie, wat tot oorloë en hongersnood en verskeie ander probleme kon lei. Hierdie filosofie geld vandag nog in China waar paartjies slegs toegelaat word om een kind te hê en swaar belas word indien hulle meer as een het.

Suid-Afrika se bevolking het gegroei met 15,5%, of amper 7 miljoen mense, die afgelope 10 jaar tot 'n totaal van 51.7 miljoen in 2011. Dit is volgens die nuutste nasionale sensus wat in 2011 plaasgevind het. Die vorige sensus het 10 jaar daarvoor in 2001 plaasgevind.

VRAE:

Hierdie vrae is bedoel om bespreking in u klas te stimuleer. U kan as 'n klas daardeur werk of leerders kan dit individueel doen en dan hul antwoorde bespreek.

Maak 'n lys van moontlike redes waarom jy dink dat Suid-Afrika 'n groot bevolking sou wou hê.




Leerder-afhanklike antwoord. Mag insluit: meer mense verskaf meer mannekrag en meer belastingbetalers; mag geloofs- of kulturele vooroordele insluit; ens.

Wat is sommige voordele en nadele vir 'n land waar die aantal kinders per paartjie beperk word om bevolkingsgroei te beperk?





Voordele: laer bevolkingsgroei; minder druk op die land se hulpbronne; stadiger uitputting van hulpbronne, veral opvoedkundige hulpbronne; hoër lewenspeil vir gesinne, ens.

Nadele: minder mense om belasting te betaal; geloofs- of kulturele ongehoorsaamheid mag tot opstande lei, ens.

Voorspel wat die moontlike langtermyn gevolge kan wees indien die Suid-Afrikaanse bevolking teen die huidige tempo aanhou met groei.





Met minder hulpbronne beskikbaar sal mense honger ly en almal sal nie kan werk kry nie en ook nie maatskaplike toelae om hulle te onderhou nie. Werkloosheid sal toeneem. Dit kan 'n toename in misdaad veroorsaak omdat mense vir hulself en hul kinders probeer sorg. Dit kan ook lei tot 'n toename in dwelm- en alkoholmisbruik as 'n ontvlugtings-meganisme.

  1. Kyk na die volgende diagram wat die persentasie-groei van lande se bevolking per jaar illustreer. Die verskillende kleure gee 'n aanduiding van die groeitempo, soos in die sleutel aangetoon. As voorbeeld, lande wat geel gekodeer is, het 'n jaarlikse groeikoers van 3%. Dit beteken hul bevolking groei met 3% elke jaar. Beantwoord die vrae wat volg.

http://commons.wikimedia.org/wiki/File:Population\_growth\_rate\_world\_2005-2010\_UN.PNG
Persentasie groei-tempo van elke land. http://commons.wikimedia.org/wiki/File:Population_growth_rate_world_2005-2010_UN.PNG

Watter kontinent het die hoogste persentasie groeitempo per jaar? Verduidelik jou antwoord.



Afrika het die hoogste bevolkingsgroeitempo. Dit kan gesien word dat dit die meeste lande bevat wat groen en geel gekleur is, wat die hoogste jaarlikse persentasie groeitempo aandui.

Baie lande in Europa is ligpers gekleur in die diagram. Wat beteken dit?



Leerder moet na die sleutel kyk om te sien dat ligpers 'n groeitempo van "

Verskillende bevolkingsbeheermaatreëls word wêreldwyd ingestel: voorbehoedmiddels om te verhoed dat vroue swanger word; aborsie-klinieke; groot belastingkortings om mense aan te moedig om nie meer kinders te kry nie; en ander. Wat is jou opinie oor bevolkingsbeheermaatreëls en dink jy dit behoort in 'n moderne gemeenskap ingestel te word?




Leerder-afhanklike antwoord

Die wetenskap van oorbevolking (video).

Wat is die doel van puberteit?

  • hormoon
  • menstruasie-siklus
  • estrogeen
  • penis
  • testes
  • testosteroon
  • uterus

Die menslike liggaam is ingestel op voortplanting om oorlewing van die spesies te verseker. Mans moet sperm produseer en dan sorg dat dit in aanraking met die vroulike eiersel kom. Vroue produseer (en stoor) eierselle wat deur 'n manlike spermsel bevrug kan word.

Kinders se liggame en geslagsorgane is nog onontwikkel en kan nie die voortplantingsfunksie verrig nie. Puberteit is dus die tyd wanneer 'n kind se liggaam ontwikkel en verander. Die geslagsorgane word ryp en stel die liggaam in staat om geslagselle te produseer. Hierdie geslagselle word gamete genoem.

Hoe kan puberteit sommer net "begin"?

Puberteit is die stadium in mense se lewensiklus wanneer geslagtelike voortplanting moontlik word. Seuns en dogters gaan gewoonlik nie almal op presies dieselfde ouderdom deur puberteit nie. Nou hoe begin puberteit dan?

Baie van die komplekse reaksies wat in ons liggame plaasvind word beheer deur chemiese boodskappers, genoem hormone. Hormone word deur verskeie kliere in ons liggame afgeskei. Die pituïtêre klier is 'n belangrike klier wat die meeste van die liggaam se hormone en hormoonfunksies beheer. Dit is omtrent so groot soos 'n ertjie en is aan die basis van die brein geleë.

Hierdie animasie toon die posisie van die pituïtêre klier (die pienk klier). http://upload.wikimedia.org/wikipedia/commons/9/9c/Rotating_brain_colored.gif

Puberteit begin wanneer die pituïtêre klier spesifieke hormone in die bloedstroom begin afskei. Hierdie hormone beweeg dan na die onvolwasse geslagsorgane en stimuleer daar die afskeiding van hormone.

By meisies word die ovaria gestimuleer deur die hormone van die pituïtêre klier om die hormoon estrogeen vry te stel. By seuns word die testes gestimuleer om die hormoon testosteroon vry te stel. Hierdie hormone inisieer al die liggaamsveranderinge wat 'n mens tydens puberteit ervaar.

Wat verander tydens puberteit?

Die hoofdoel van puberteit is dat die geslagorgane geslagsryp moet word. Die hormone wat deur die voortplantinsgorgane vrygestel word veroorsaak egter ook 'n aantal ander veranderinge in die menslike liggaam. Ons noem hierdie veranderinge sekondêre geslagskenmerke.

Besoek hierdie interaktiewe webwef om die veranderinge wat tydens puberteit plaasvind te ondersoek. http://www.bbc.co.uk/science/humanbody/body/interactives/lifecycle/teenagers/

Puberteit veroorsaak die volgende sekondêre veranderinge by vroulike individue:

  • Borste begin ontwikkel, wat na geboorte gebruik kan word om babas te borsvoed.
  • Pubiese hare begin groei aan die begin van puberteit. Onderarm-hare begin ook groei.
  • Menstruasie vind by meisies plaas in 'n maandelikse siklus vanaf die aanvang van puberteit.
  • Liggaamsvorm verander ook as gevolg van toenemende konsentrasies van estrogeen in die liggaam.
  • Liggaamsreuk en aknee ontwikkel omdat meer olie afgeskei word terwyl die reuk van sweet verander.

Teen die tyd dat puberteit begin, is seuns gemiddeld 2 cm korter as meisies, maar volwasse mans is gemiddeld ongeveer 13 cm langer as volwasse vroue. Puberteit veroorsaak die volgende sekondêre veranderinge in mans se liggame:

  • Testikel- en penisgrootte neem toe.
  • Hare begin groei in die pubiese area, die ledemate, bors en gesig.
  • Stem word dieper soos wat die larinks (stemkas in jou keel) groei.
  • Liggaamsvorm-veranderinge vind plaas soos wat die skeletspiere en been toeneem in grootte en vorm.
  • Liggaamsreuk en aknee begin ontwikkel, soos by vroue.

Kom ons kyk na die voortplantingsorgane.

Voortplantingsorgane

  • ejakuleer
  • ereksie
  • voorhuid
  • skrotum
  • semen
  • vagina
  • spermbuis (vas deferens)

Kom ons bestudeer die manlike en vroulike voortplantingsorgane in meer detail om die struktuur, saam met die funksies daarvan, te ondersoek.

Identifiseer die rol van die manlike en vroulike liggame in voortplanting

In die ruimte hieronder, verduidelik wat jý dink die rol van manlike en vroulike liggame in voortplanting is.

Die manlike ligaam moet ...




Die manlike liggaam moet sperm produseer en hierdie spermselle na die vroulike liggaam oordra sodat dit in aanraking met die vroulike eiersel (ovum) kan kom.

Die vroulike liggaam moet ...




Die vroulike liggaam moet ova (eierselle) produseer. Een keer per maand word 'n eiersel vrygestel en indien 'n spermsel die buitelaag van die eiersel kan binnedring, vind bevrugting plaas. Dit kan tot swangerskap lei en dan pas die vroulike liggaam daarby aan om tot by geboorte in al die behoeftes van die ongebore baba te voorsien.

Wanneer jy oor die voortplantingsorgane leer, dink sorgvuldig oor hul struktuur en hoe hul struktuur aangepas is by hul funksie.

Manlike voortplantingsorgane

Die manlike voortplantingsorgane sluit in:

1. Testes en skrotum

Manlike individue word gebore met die twee testes wat buite hul liggame hang. Jong seuns se testes produseer nog nie spermselle nie. Gedurende puberteit begin die twee testes testosteroon afskei, en testosteroon stimuleer die produksie van spermselle.

Testes is die meervoud en testis is die enkelvoud.

Tot in die 17de eeu het wetenskaplikes geglo dat 'n ten volle gevormde mensie, genoem 'n homunkulus, vanaf die vader na die moeder se uterus/baarmoeder oorgedra is tydens geslagomgang en dat dit dan verder gegroei het in die baarmoeder.

Die twee testes word omsluit in 'n velsakkie genoem die skrotum. Die skrotum sorg dat die testes by 'n konstante temperatuur van 35°C gehou word, wat die temperatuur is waarby spermselle geproduseer kan word.

Semen bevat spermselle, opgeloste voedingstowwe en ensieme wat die spermselle in die vrou se liggaam moet voed en beskerm. Elke milliliter semen kan tot 100 miljoen spermselle bevat!

2. Spermbuis (vas deferens)

Verskillende buise dra die semen vanaf die testes na die penis. Die spermbuis dra die spermselle vanaf die testes na die uretra (urinebuis) in die penis.

3. Die penis

Die penis is die uitwendige geslagsorgaan. Die kop daarvan is bedek deur 'n los velvou genoem die voorhuid. Die penis moet 'n ereksie ondergaan (styf en hard word) om die spermselle tydens ejakulasie tot by die serviks in die vrou se vagina oor te dra.

By sommige kulture word die voorhuid verwyder; dit word besnyding genoem. Dit kan gedoen word terwyl die seun 'n baba is, of later, tydens puberteit.

4. Uretra

Die semen beweeg deur die uretra na buite gedurende ejakulasie. Urine beweeg deur die uretra tydens urinering, maar semen en urine beweeg nie gelyktydig deur die uretra nie.

Leer meer oor die manlike voortplantingstelsel by hierdie webwerf http://kidshealth.org/teen/interactive/mrs_it.html#cat20129

Identifiseer struktuur en funksie

  1. Bestudeer die diagram van die manlike voortplantingstelsel. Verskaf byskrifte vir elke deel deur die korrekte wetenskaplike benaming te gebruik.
  2. In die tabel, identifiseer die funksie(s) van die manlike voortplantingsorgane soos aangedui.
  3. In die laaste kolom, maak 'n voorstel hoe jy dink die orgaan aangepas is om sy funksie effektief te verrig.

Hierdie vraag begin te delwe in die verhouding tussen die struktuur van organe en hul funksie. Leerders moet die struktuur van enige orgaan kan VERBIND met die funksie daarvan. Hierdie is 'n uitbreidingsaktiwiteit wat van die leerders verwag om nuut aangeleerde kennis toe te pas.

Voortplantingsorgaan

Funksie

Aanpassing

Penis

Testes en skrotum

Voortplantingsorgaan

Funksie

Aanpassing

Penis

Die penis word styf gedurende geslagsomgang om die spermselle tot by die serviks in die vagina oor te kan dra.

Die penis is buite die manlike liggaam, en dit is verleng sodat dit in die vagina kan ingaan om die spermselle tot by die serviks in die vagina oor te dra. Die penis bevat die uretra en word styf sodat dit in die vagina kan ingaan.

Testes en skrotum

Die testes produseer spermselle en die skrotum hou die testes buite die liggaam.

Die testes moet by 35°C gehou word, wat laer as liggaamstemperatuur is, om spermselle te kan produseer. Die testes hang daarom buite die liggaam in die skrotum, wat die temperatuur van die testes by die korrekte temperatuur vir spermproduksie kan hou.

Vroulike voortplantingsorgane

  • serviks
  • buis van Fallopius (ovidukt)
  • ovarium
  • ovulasie
  • uterus/baarmoeder

Die meervoud van ovum is ova.

Die vroulike voortplantingsorgane sluit in:

1. Vagina

Die vagina is 'n buis wat die uterus met die buitekant van die liggaam verbind. Tydens geslagsomgang dien die vagina as 'n kanaal waarin die penis pas om spermselle oor te dra. Een keer per maand, gedurende menstruasie, word menstruele bloed deur die vagina uitgewerp. Dit is ook die geboortekanaal wat tydens geboorte kan rek om die baba deur te laat.

2. Uterus

Die uterus is 'n hol orgaan met baie sterk spierwande wat 'n baba kan dra en beskerm. Twee ovidukte (buise van Fallopius) aan die bokant van die uterus, verbind dit met die ovaria. Die onderste nek van die uterus word die serviks genoem. Dit is dig toe om die binnekant van die uterus te beskerm.

3. Ovaria

Daar is twee ovaria aan weerskante van die uterus. Hulle produseer estrogeen en huisves die ova. Elke maand kry een van die ovaria 'n beurt om 'n volwasse ovum vry te stel. Dit word ovulasie genoem.

Vroue word gebore met duisende onvolwasse eierselle in elke ovarium, maar nie almal word ryp nie.

4. Ovidukte (Buise van Fallopius)

Die uterus en ovaria word met mekaar verbind deur twee spierbuisies genoem die ovidukte of buise van Fallopius.

Leer meer oor die vroulike voortplantingstelsel by hierdie webwerf: http://kidshealth.org/teen/interactive/female_it.html#cat20129

Vergelyk die voortplantingsorgane

Verduidelik hoe die struktuur van die vagina, serviks en uterus spesiaal aangepas is om hul funksies te verrig.





Die vagina is elasties sodat dit die penis tydens geslagsomgang kan inlaat om te verhoed dat die spermselle verlore gaan. Die serviks is aan die bopunt van die vagina geleë ongeveer waar die penis die sperm ejakuleer. Dit is dig gesluit om die uterus te beskerm. Dit laat die spermselle toe tot in die uterus waar 'n dik, bloedryke voering gereed is vir inplanting van die bevrugte eiersel.

Verskaf ten minste 2 redes waarom die uterus sterk spierwande moet hê.



Die uterus moet die ongebore baba kan beskerm en dra gedurende swangerskap, en dit moet kan saamtrek om die baba tydens die geboorte uit te druk.

Vergelyk die posisie en funksies van die ovaria met dié van die testes. Stel 'n tabel op om die verskille aan te toon.







Leerders mag die volgende produseer:

Verskille tussen die ovaria en die testes

Eienskappe

Ovaria

Testes

Posisie

In die liggaam

Buite die liggaam

Hormone geproduseer

Estrogeen

Testosteroon

Wanneer gamete geproduseer word

Vroulike individue word gebore met ova in hul ovaria wat ryp word na puberteit

Manlike individue begin eers sperm produseer vanaf puberteit

Die aantal gamete geproduseer

Stel een ovum per maand vry

Produseer daagliks duisende spermselle

Hormoon-invloed

Hormone van die ovaria stimuleer rypwording van die ovum. Onvolwasse ova is reeds teenwoordig.

Spermselle word eers onder die invloed van die hormone geproduseer.

Stadiums van voortplanting

  • kontrasepsie
  • sametrekking
  • embrio
  • gestasie (swangerskap)
  • geboorte
  • menopouse
  • surrogaatskap
  • naelstring
  • sigoot

Ons het reeds verwys na die meeste prosesse wat plaasvind gedurende voortplanting. Hierdie prosesse vind in stadiums plaas. Kom ons bestudeer eers die vroulike voortplantingsiklus.

Die voortplantingsiklus

Die vroulike voortplantingsiklus herhaal elke 28-30 dae om 'n eiersel vry te stel wat bevrug kan word indien spermselle teenwoordig is. Die siklus sal vir baie jare herhaal word vanaf puberteit tot menopouse (wanneer die voortplantingsiklus tot 'n einde kom).

Die prosesse wat plaasvind sal verskil afhangende van of bevrugting plaasvind of nie. Na ovulasie, indien bevrugting nie plaasvind nie, is daar herinstelling van die voortplantingsorgane deur menstruasie sodat die siklus weer van voor af begin.

Ovulasie

Een van die ovaria sal een keer per maand 'n ovum in die ovidukt afskei. Hierdie proses word ovulasie genoem. Terselfdertyd word die uteruswand verdik deur die vorming van ekstra bloedvate. Dit is in voorbereiding op die moontlike inplanting van 'n bevrugte eiersel.

Daar is tye in die menstruasiesiklus rondom ovulasie wanneer daar 'n goeie kans is dat die vrou swanger kan raak. Alle meisies moet bewus wees van hul eie menstruasiesiklus omdat elke siklus effens anders kan wees.

Leer hoe om 'n ovulasiekalender op te stel om 'n menstruasiesiklus te kan bepaal.

Menstruasie

Wanneer daar geen bevrugte eiersel (sigoot) is om in die uterus in te plant nie, is die dik bloedlaag en weefsel nie meer nodig nie. Dit word dan deur die vagina uitgewerp tydens menstruasie. Die hele proses word die menstruasiesiklus genoem en dit herhaal gewoonlik elke 28-30 dae.

Leer meer omtrent die menstruasiesiklus by: http://kidshealth.org/teen/interactive/female_it.html#cat20129

Bevrugting

Gedurende geslagsomgang gaan die erekte penis die vrou se vagina binne. Dit word genoem kopulasie.

Die man se penis deponeer sperm in die vrou se vagina deur ejakulasie. Daar kan miljoene spermselle in een ejakulasie wees, maar net een sal die buitenste laag van die ovum binne kan binnedring.

Na ejakulasie tot in die vagina swem die spermselle deur die serviks en deur die uterus tot in die ovidukte. Die volwasse eiersel wat deur die ovaria vrygestel is, is op pad na die uterus toe. Die spermselle swem deur die ovidukte na die volwasse eiersel toe.

Een spermsel dring deur die oppervlak van die ovum. Slegs die kop van die sperm gaan in, die stertjie bly agter. Sodra een spermsel die buitenste lagie van die ovum binnegedring het, verander die oppervlak van die ovum sodat daar nie meer spermselle kan ingaan nie.

Die proses word bevrugting genoem en dit kan slegs in die buitenste deel van die ovidukt plaasvind, nie in die uterus of die vagina nie.

Sodra die regterkantse sperm die buitelagie van die ovum binnegedring het, kan die ander nie ingaan nie.

Vloeidiagram van die roete van spermselle

INSTRUKSIES

  1. Gebruik 'n vloeidiagram om die pad van spermselle vanaf die testes in die manlike liggaam tot by die ovum in die vroulike liggaam aan te dui.
  2. Teken die vloeidiagram in die ruimte hieronder. Onthou om pyle te gebruik.
  3. Gebruik die volgende terme in jou vloeidiagram, in die korrekte volgorde.
  4. Serviks
  5. Uterus
  6. Uretra
  7. Penis
  8. Testes
  9. Spermbuis(vas deferens)
  10. Ovidukt/buis van Fallopius
  11. Vagina









Die volgende vloeidiagram kan as 'n verwysing vir dié van die leerders gebruik word:

Video oor bevrugting en vroeë ontwikkeling.

Vergelyk bevrugting en menstruasie

INSTRUKSIES

  1. Gebruik die volgende diagram om te vergelyk wat met 'n ovum gebeur indien dit wel bevrug word, teenoor wanneer dit nie bevrug word nie. Gebruik gekleurde penne, as jy het.
  2. Gebruik byskrifte en pyle om aan die linkerkant te illustreer wat met die ovum gebeur indien dit deur 'n spermsel bevrug is.

Gebruik byskrifte en pyle om aan die regterkant te illustreer wat met die ovum gebeur indien dit nie deur 'n spermsel bevrug is nie en die vrou daarna menstrueer.

Leerder-afhanklike antwoord

Die volgende diagram is 'n voorbeeld van wat leerders mag produseer. Leerders mag dalk hiermee sukkel. Dit kan help om 'n tekening op die bord te doen en saam met hulle daardeur te gaan terwyl u die byskrifte invul. Moenie dit eenvoudig oorteken sodat hulle die antwoorde afskryf nie. Vra hulle insette en laat verskillende leerders vorentoe kom om die verskillende stadia op die bord in te vul.

Swangerskap en geboorte

Swangerskap begin die oomblik wanneer die ovum deur die spermsel bevrug word. Die ovum word dan 'n sigoot genoem.

Hierdie video toon die ontwikkeling van 'n baba vanaf bevrugting tot geboorte.

Die sigoot sal dan begin verdeel terwyl dit deur die ovidukt beweeg. Dit plant dan in die uterusvoering in, waar dit voortgaan om te groei. Die bevrugte eiersel word nou 'n embrio genoem en verdeel herhaaldelik. Dit vorm 'n balletjie selle waarin die verskillende selle begin differensieer om die gespesialiseerde selle, weefsels en organe van die menslike liggaam te vorm.

'n 8-sel menslike embrio 3 dae na bevrugting.

Sodra die embrio in die sponsagtige, bloedryke voering van die uterus inplant, vorm sommige van die groepie selle die plasenta. Die weefsel van die plasenta word gedeeltelik deur die moeder en gedeeltelik deur die embrio gevorm. Die embrio ontwikkel 'n naelstring wat met die plasenta verbind is. Die embrio kan voedsel en suurstof ontvang en van afvalprodukte ontslae raak deur die naelstring en die plasenta. Die embrio ontwikkel en groei en word dan 'n fetus genoem.

Die fetus is verbind met die plasenta deur die naelstring

Video oor bevrugting en vroeë swangerskap.

By mense duur swangerskap ongeveer 40 weke (9 maande). Dit word ook genoem die draagtyd. Aan die einde van swangerskap begin die uterus saamtrek. Dit druk die kop van die fetus deur die vagina (geboortekanaal). Nadat die kop verskyn het, volg die res van die liggaampie baie vinnig. Die plasenta kom laaste uit.

'n Pasgebore baba.

Debatteer surrogaatskap

Hierdie is 'n opsionele aktiwiteit, dit hang van u klas af.

Dit gebeur dikwels, om verskeie redes, dat paartjies nie swanger kan raak nie. 'n Surrogaatmoeder kan met die paartjie se bevrugte embrios ingeplant word sodat sy dan die paartjie se baba tot geboorte kan dra. In Suid-Afrika laat ons wetgewing dit slegs in sekere gevalle toe, dit is nie vir almal beskikbaar nie.

INSTRUKSIES

  1. Werk in groepe van 6.
  2. Debatteer die kwessie van surrogaatskap in julle groepe. Baseer jul debat op die etiese kwessies hieronder genoem, of enige ander waaraan julle mag dink.
  3. Stel 'n woordvoerder vir elke groep aan.
  4. Elke groep se woordvoerder moet dan die groep se standpunte met die klas deel.
  5. Debatteer die kwessies in die klas.

Daar is baie etiese kwessies rondom surrogaatskap:

  • Die surrogaatmoeder word gewoonlik betaal om die baba in haar liggaam te laat groei. Dit is dikwels arm vroue wat instem om surrogaatmoeders te word en dis moontlik dat die mense wat daarvoor betaal hierdie vroue kan uitbuit. Behoort vroue betaal te word om swanger te word met ander mense se kinders om babas in die lewe te bring?
  • Sommige gelowe beskou surrogaatskap (insluitende die skenking van sperm en ova) as 'hoogs immoreel' aangesien dit die insluiting van 'n derde persoon in 'n paartjie se verhouding behels. Behoort geloofsinstellings toegelaat te word om surrogaatskap op hierdie manier te verhoed?

Gebruik die volgende reëls om notas te maak oor enige ander punt wat jou groep bespreek het:









Leerder-afhanklike antwoord

Invloede op die ongebore baba

Gedurende swangerskap beïnvloed dit wat die moeder eet en drink en in haar liggaam inneem direk die ongebore baba. Stowwe soos rook, alkohol en dwelms het 'n negatiewe invloed op die ongebore baba.

Gehoor is een van die eerste sintuie van die fetus wat ontwikkel. Daar is gevind dat ongebore babas beïnvloed word deur geluide terwyl hul nog in die baarmoeder is.

Die plasenta vervoer voedingstowwe en suurstof na die fetus, en verwyder metaboliese afvalprodukte en koolstofdioksied. Die plasenta kan egter nie onderskei tussen voedingstowwe en skadelike produkte soos nikotien, alkohol en dwelms nie. Indien die moeder gedurende swangerskap sulke stowwe gebruik, sal dit waarskynlik deur die plasenta beweeg en groot skade aan die ongebore kind aanrig.

Swanger moeders wat tydens swangerskap alkohol inneem kan onomkeerbare geboortedefekte by hul ongebore babas veroorsaak. Dit word Fetale Alkohol Sindroom of FAS genoem.

Die Universiteit van Stellenbosch het 'n webwerf oor FAS: http://www.sancawc.co.za/master/article.php?id=14.

Voorkoming van swangerskap en voorbehoedmiddels

Enigiemand wat seksueel aktief is en 'n ongewenste of onbeplande swangerskap wil verhoed, kan sekere voorsorgmaatreëls tref.

"kontra" beteken teen, daarom beteken "kontrasepsie" teen konsepsie

Daar is 'n hele reeks van verskillende voorbehoedmiddels om swangerskap te voorkom. Daar is vier verskillende tipes voorbehoedmiddels:

  1. versperring - verhoed fisies dat die sperm die uterus bereik
  2. hormonaal - verhoed ovulasie en daarom bevrugting in die vrou deur die gebruik van hormone
  3. intra-uterine apparate - verhoed inplanting van die embrio
  4. sterilisasie - deur sjirurgie by mans en vrouens; dit is permanent en onomkeerbaar

Beskryf verskillende voorbehoedmiddels

Dit is moontlik om voorbeelde van die verskillende tipes voorbehoedmiddels in die hande te kry om aan die leerders te wys. Klinieke mag dalk voorbeelde vir opvoedkundige doeleindes verskaf. Hulle is gewoonlik gewillig om voorrade wat verby hul vervaldatum is te oorhandig en dit mag dan slegs vir opvoedkundige doeleindes gebruik word.

INSTRUKSIES

  1. In die volgende tabel word verskillende tipes voorbehoedmiddels genoem, saam met 'n illustrasie en 'n beskrywing.
  2. Jy moet die inligting deurlees, na die illustrasies kyk, en dit dan klassifiseer as een van die volgende
  3. versperring
  4. hormonaal
  5. intra-uterine apparaat
  6. sterilisasie

Voorbehoedmiddel

Beskrywing

Klassifikasie

Manlike kondome

Hierdie dun skedes van rubber word oor die erekte penis geplaas voordat dit in die vagina ingaan. Wanneer daar dan ejakulasie plaasvind, word die semen in die kondoom opgevang sodat dit nie die serviks kan binnedring nie.

Diafragma

Die diafragma is 'n klein rubber mussie wat voor gelagsomgang oor die serviks geplaas word sodat die ingang na die uterus toegemaak word en sodoende verhoed dat sperm die uterus binnegaan.

Buise afbind by vroue

'n Sjirurgiese prosedure by vroue waartydens die ovidukte afgebind en deurgesny word sodat die volwasse eierselle nie die uterus kan bereik nie.

Mondelinge voorbehoedpil

Dit word gewoonlik 'die Pil' genoem en word elke dag per mond ingeneem. Dit is 'n kombinasie van vroulike hormone wat ovulasie elke maand verhoed.

Vroulike intra-uterine apparaat (IUA)

'n Klein T-vormige of spiraalvormige apparaat word in die uterus geplaas en dit voorkom inplanting. Dit is 'n langwerkende, omkeerbare vorm van kontrasepsie aangesien dit weer verwyder kan word. Dit is nie geskik vir vroue wat nog nie swanger was nie en moet deur 'n mediese dokter in plek geplaas word.

Vasektomie

'n Sjirurgiese prosedure by mans waartydens die vas deferens afgebind en afgesny word. Spermselle kan dan nie meer deel van die ejakulaat word nie.

Voorbehoedmiddel

Beskrywing

Klassifikasie

Manlike kondome

Hierdie dun skedes van rubber word oor die erekte penis geplaas voordat dit in die vagina ingaan. Wanneer daar dan ejakulasie plaasvind word die semen in die kondoom opgevang sodat dit nie die serviks kan binnedring nie.

Versperring

Diafragma

Die diafragma is 'n klein rubber mussie wat voor gelagsomgang oor die serviks geplaas word sodat die ingang na die uterus toegemaak word en sodoende verhoed dat sperm die uterus binnegaan.

Versperring

Buise afbind by vroue

'n Sjirurgiese prosedure by vroue waartydens die ovidukte afgebind en deurgesny word sodat die volwasse eierselle nie die uterus kan bereik nie.

Sterilisasie

Mondelinge voorbehoedpil

Dit word gewoonlik 'die Pil' genoem en word elke dag per mond ingeneem. Dit is 'n kombinasie van vroulike hormone wat ovulasie elke maand verhoed.

Hormonaal

Vroulike intra-uterine apparaat (IUA)

'n Klein T-vormige of spiraalvormige apparaat word in die uterus geplaas en dit voorkom inplanting. Dit is 'n langwerkende, omkeerbare vorm van kontrasepsie aangesien dit weer verwyder kan word. Dit is nie geskik vir vroue wat nog nie swanger was nie en moet deur 'n mediese dokter in plek geplaas word.

Intra-uterine apparaat

Vasektomie

'n Sjirurgiese prosedure by mans waartydens die vas deferens afgebind en afgesny word. Spermselle kan dan nie meer deel van die ejakulaat word nie.

Sterilisasie

Sommige intra-uterine apparate kan as hormonaal geklassifiseer word omdat hulle progesteroon bevat. Progesteroon voorkom ook bevrugting omdat dit die servikale mukus vermeerder, die endometrium afbreek en soms ook ovulasie verhoed. Die IUAe wat koper bevat is nie-hormonaal maar voorkom ook bevrugting omdat koper as 'n natuurlike spermdoder in die uterus optree.

Geslagsomgang met verskillende seksmaats is erg riskante gedrag aangesien daar baie siektes is wat deur die vloeistowwe betrokke by die geslagsdaad oorgedra kan word. Ons noem hierdie siektes Seksueel Oordraagbare Siektes (SOS'e). Daar is baie verskillende SOS'e, byvoorbeeld: MIV/VIGS, sifilis, gonorrea en genitale vratte.

Om getrou te wees aan een seksmaat verminder die kanse om SOS'e op te doen. Indien jy weet dat jou maat 'n SOS het, dan kan hy of sy mediese hulp daarvoor kry en/of jy kan voorsorgmaatreëls tref om te voorkom dat jy aansteek. Een van die mees algemene voorsorgmaatreëls om oordrag van SOSs te voorkom is dat die manlike persoon 'n kondoom dra. Kondome kan egter breek en jou aan SOS'e blootstel en daarom moet jy altyd versigtig wees.

Keuses aangaande ongewenste swangerskappe

Menige vroue wat swanger word mag voel dat hulle nie die ongebore baba ordentlik kan of wil versorg nie. Ander kan weer voel dat hulle nie die finansies het om nog 'n baba te versorg indien hulle reeds kinders het nie. Wanneer tienerdogters swanger word, sal hulle voel dat hulle nog hul skoolloopbane wou voltooi en nie ook nog 'n kind kan grootmaak nie. Ander vroue sal nie 'n kind wil hê wat deur verkragting of bloedskande verwek is nie. Vroue mag baie verskillende redes hê waarom hulle nie swanger wil wees of 'n kind in die wêreld wil bring nie.

Daar is verskeie keuses wat hulle in sulke omstandighede kan maak.

  • Aanneming - waar die baba aan 'n ander familie gegee word om aangeneem te word.
  • Die baba word by 'n plek van veiligheid gelaat terwyl die ouers anoniem bly. Die baba word dan vir aanneming aangebied.
  • Ouerskap - om die baba te behou met behulp van die uitgebreide familie.
  • Aborsie - om die swangerskap te beëindig deur die embrio uit die uterus te laat verwyder.

Die volgende aktiwiteit sal vereis dat leerders navorsing doen en onderhoude voer en daarna 'n forumbespreking in die klas hou. Ons stel in hierdie verband voor om die leerders te laat begin met die navorsing in die dae voor hierdie les-uur. Hieronder is 'n bietjie inligting oor die tipes keuses wat 'n vrou met 'n ongewenste swangerskap in die gesig staar. Lees eers daardeur sodat u kennis kan neem van die keuses voordat die les begin om u leerders te kan help met hul forumbesprekings.

  • Aanneming: Baie paartjies in Suid-Afrika kan om verskillende redes nie kinders hê nie en besluit dan om kinders aan te neem. Daar is verskeie organisasies wat swanger vroue help indien hul die ongebore babas vir aanneming wil aanbied. Die Departement Maatskaplike Dienste help ook swanger moeders met die proses van aanneming. Die aannemings-ouers gaan deur 'n baie streng keuringsproses om seker te maak dat hulle in staat sal wees om die jong kind groot te maak. Wanneer die moeder (en verkieslik ook die vader) geteken het dat die baba vir aanneming beskikbaar is, het hul 60 dae om van plan te verander voordat die aanneming voortgaan. Gedurende hierdie tyd word die baba in spesiale pleegsorg-fasiliteite geplaas of by pleeg-ouers wat na die baba omsien totdat hy of sy na die aannemings-ouers kan gaan.

  • Om die baba in 'n plek van veiligheid te los: Soms wil die ouers van 'n pasgebore baba om verskeie redes van die baba ontslae raak. As 'n gevolg daarvan word babas dikwels weggegooi gevind. Daar is heelwat organisasies in Suid-Afrika wat probeer om 'n veilige hawe vir ongewenste babas te verskaf. Een manier om dit te doen is om 'n baba-veilige plek te voorsien waar die moeder en/of vader die baba in 'n spesiale venster met 'n veiligheids-deksel aan die buitekant kan plaas. Hierdie opsie het egter baie wetlike komplikasies. Hierdie babas kan nie wetlik aangeneem word nie omdat hulle dikwels nie geboortesertifikate het nie. Aangesien die ouers nie gevind kan word nie, kan hulle nie die aannemingsvorms onderteken nie. Alhoewel die maatskaplike werkers die ouers sal probeer vind en hulle probeer oortuig om die vorms te teken, mag die baba na 'n paar maande wel vir aanneming aangebied word sonder die ouers se handtekeninge. Die beste opsie is egter om na 'n maatskaplike werker te gaan en hulp te vra met die aanneming. Dit beskerm ook die regte van die kind.

  • Ouerskap: Dikwels wanneer 'n vrou (of tienermeisie) besef dat sy swanger is, maal daar baie gedagtes deur haar kop. Indien dit 'n omgewenste of onbeplande swangerskap is, word sy dikwels oorweldig deur angs- en paniekgevoelens oor die toekoms - vir haarself en vir haar ongebore kind. Sy is bang dat haar ouers of haar maat haar sal verwerp en dat sy dan op haar eie sal wees en alleen vir die baba sal moet sorg. Indien sy egter met haar ouers of maat kan praat, mag hulle haar dalk help om 'n oplossing te vind sodat sy haar kind kan behou. Dit mag vir haar moontlik wees om die kindjie groot te maak met die hulp van haar of haar maat se familie. Dis baie belangrik dat sy haar vrese moet oorkom en die situasie moet bespreek om 'n gepaste besluit te neem.

  • Aborsie: Sommige vroue mag besluit om 'n aborsie te ondergaan om die swangerskap te beëindig. Gedurende 'n aborsie word die ontwikkelende embrio uit die baarmoeder verwyder. Chemiese of fisiese prosesse kan gebruik word, afhangende van die ouderdom van die embrio. Aborsies kan lewensgevaarlik wees, veral as dit deur 'n onopgeleide aborsionis gedoen word. Die moeder kan gedurende die aborsie baie bloed verloor. Haar serviks kan beskadig of geskeur word, of die uterus kan tydens die prosedure beskadig word. Hierdie komplikasies is nie algemeen indien die aborsie deur goed opgeleide en gekwalifiseerder dokters in skoon, steriele mediese fasiliteite gedoen word nie. Swanger vroue gaan egter dikwels na plekke waar ongekwalifiseerde of onopgeleide persone aborsies doen. Dit word dan gewoonlik in vuil, onhigiëniese omstandighede deur mense gedoen wat nie die nodige mediese kennis het om te weet wat om in 'n noodgeval te doen nie. Komplikasies is baie algemeen onder hierdie omstandighede. Baie van die vroue kry infeksies as gevolg van vuil, ongesteriliseerde instrumente. Indien enigiemand 'n aborsie oorweeg is dit baie belangrik dat hulle na 'n professionele aborsie-kliniek toe gaan waar hoë standaarde van steriliteit bestaan, met goed-opgeleide personeel wat hulle sal bystaan. Hulle moet ook voor die aborsie eers met 'n empatiese professionele persoon praat, aangesien aborsies langtermyn nagevolge kan hê, soos skuldgevoelens.

Forumbespreking

Hierdie aktiwiteit skakel met Lewensoriëntering. Die aktiwiteit word spesifiek aan die einde van die afdeling ingesluit om tyd vir navorsing voor die forumbespreking te gee. Verdeel die klas in groepe van 6 en laat hulle toe om na verskillende areas in die klaskamer te beweeg, selfs na buite indien moontlik. Elke groep moet dan hul eie forumbespreking hou, volgens die onderstaande instruksies en riglyne.

U, as die onderwyser, kan met elke groep 'n bietjie tyd spandeer om seker te maak hulle bespreek die onderwerp op die regte manier. Gebruik die notas wat oor die verskillende opsies vir ongewenste swangerskappe verskaf is indien dit nodig is om 'n sekere groep te help met agtergrond-inligting of riglyne met die bespreking. Moedig leerders aan om hul menings te lug en hul standpunte te verdedig.

'n Alternatief is om een besprekingsforum voor in die klas te hou en aan verskillende leerders die geleentheid te gee om voor te sit op die paneel, met u as die moderator.

Die aktiwiteit hoef nie geassesseer te word nie aangesien dit as persoonlike opvoeding bedoel is, en 'n geleentheid aan leerders bied om debattering te oefen.

Hou 'n forumbespreking in verband met die opsies wat vroue het indien hulle swanger word en nie kans sien vir die swangerskap of om 'n kind groot te maak nie. Voor die bespreking moet navorsing gedoen word en onderhoude gevoer word met ouers of versorgers en met professionele persone in gesondheidsorg, of vra julle Lewensoriëntering-onderwyser om hulp.

Hoe om 'n forumbespreking te hou

In 'n forumbespreking word kundiges gevra om op 'n paneel te sit en hul opinies oor 'n spesifieke onderwerp te gee. Daar is spesifieke rolle in 'n forumbespreking:

  • Moderator: Hierdie persoon hou die bespreking gefokus op die onderwerp.
  • Deelnemers: Die kundiges. Dit sal julle, die leerders, wees nadat julle navorsing gedoen het.

  1. Werk in groepe van 6.
  2. Kies 'n moderator.
  3. Bespreek die verskillende keuses wat vrouens rakende ongewenste swangerskappe kan maak deur die inligting te gebruik wat jy ingesamel het tydens die onderhoude wat jy gevoer het.

Reëls vir 'n forumbespreking:

  1. Die sprekers moet beurte maak om hul menings te lug.
  2. Behandel almal met respek. Praat beleefd.
  3. Gebruik die korrekte wetenskaplike terminologie.

Skryf jou bevindings neer:

Gebruik die ruimte hieronder om die bevindings van die forumbespreking neer te skryf om te verduidelik watter keuses vroue het wanneer hulle met 'n ongewenste swangerskap gekonfronteer word.











Leerder-afhanklike antwoord

Opsomming

  • Die doel van menslike voortplanting is om babas te produseer vir die voortbestaan van die spesies.
  • By menslike voortplanting moet twee gamete (die sperm en die ovum) saamsmelt tydens konsepsie om 'n sigoot te vorm wat dan in 'n baba kan ontwikkel.
  • Puberteit is die fase in die lewensiklus van die mens wanneer die geslagsorgane ryp word ter voorbereiding op voortplanting.
  • Die pituïtêre klier aan die onderkant van die brein skei hormone af wat die testes en ovaria stimuleer om hormone af te skei wat die produksie van spermselle by die man en die rypwording van ova (eierselle) by die vrou laat begin.
    • By manlike persone stimuleer die hormoon testosteroon die testes om spermselle te produseer.
    • By vroulike persone stimuleer die hormoon estrogeen die ovaria om volwasse ova te produseer.
  • Testosteroon en estrogeen veroorsaak sekondêre veranderinge in die liggaam.
    • Vroue begin menstrueer, borste ontwikkel en pubiese en onderarmhare groei. Hulle mag aknee ervaar.
    • Mans ontwikkel hare op die pubiese area, op die gesig, op die bors en onder die arms. Hul onwikkel 'n diep stem en soms ook aknee.
  • Die manlike voortplantingsorgane bestaan uit: penis, spermbuis (vas deferens), testes, skrotum en uretra. Spermselle word in die testes geproduseer.
  • Die vroulike voortplantingsorgane sluit in: vagina, serviks, uterus, ovidukte (buise van Fallopius) en die ovaria. Ova word in die ovaria geproduseer.
  • Stadiums in die voortplantingsiklus sluit in: ovulasie \(\rightarrow{}\) kopulasie \(\rightarrow{}\) bevrugting \(\rightarrow{}\) embrio inplanteer in uterus \(\rightarrow{}\) aanvang van swangerskap \(\rightarrow{}\) dratyd duur 40 weke \(\rightarrow{}\) geboorte
  • Swangerskap kan verhoed word deur die gebruik van voorbehoedmiddels. Kondome verhoed dat die sperm die ovum bereik en kan ook help met die verspreiding van SOS'e.
  • Swanger vroue het verskeie opsies indien hulle nie hul babas wil behou nie. In die vroeë stadiums van swangerskap kan hulle 'n aborsie oorweeg. Hulle kan ook die baba aanbied vir aanneming.

Konsepkaart

Hierdie konsepkaart toon alles wat ons van menslike voortplanting geleer het. Voltooi dit deur die oop blokke in te vul. Jy mag dit dalk moeilik vind, maar jy moet leer hoe om 'n konsepkaart te 'lees' deur sinne daarvan te maak. Byvoorbeeld, 'Menslike voortplanting kan slegs plaasvind wanneer geslagsorgane geslagsryp is. Hulle word ryp gedurende puberteit wat geïnisieer word deur .............. Die ............ stel hormone vry wat die ovaria en testes stimuleer.' Wat word hierdie klier genoem wat puberteit inisieer en hormone vrystel, en watter hormone word deur die ovaria en testes vrygestel? Vul dit hieronder in.

Onderwysers-weergawe

Help u leerders om die oop blokke in te vul deur vrae te vra soos, "Hoe dikwels vind ovulasie plaas?" (Dit vind een keer per maand plaas)

Hersieningsvrae

Beskryf die veranderinge wat in die manlike en vroulike liggame gedurende puberteit plaasvind. [10 punte]









By vroue sluit dit die volgende in: Borste ontwikkel, pubiese hare groei, onderarm hare groei, liggaamsvorm verander, ovaria word geslagsryp, aknee ontwikkel by sommige individue. By mans sluit dit die volgende in: penis groei en word groter, testes word geslagsryp, pubiese hare groei, gesighare groei, onderarm-, bors- en rughare groei, stem verdiep, aknee ontwikkel by sommige individue.

Beskryf die hormonale beheer van die begin van puberteit. Noem die organe betrokke sowel as die hormone. [5 punte]





By die aanvang van puberteit word hormone in die bloedstroom vrygestel (hierdie hormone word nie spesifiek benaam op hierdie vlak nie). Die hormone beweeg deur die bloed en stimuleer die voortplantingsorgane. By vroue word die ovaria gestimuleer om estrogeen af te skei en by mans word die testes gestimuleer om testosteroon af te skei.

Op watter stadium van die voortplantingsiklus kan 'n mens sê dat 'n vrou swanger is. [1 punt]


Wanneer die ovum deur 'n spermsel bevrug is, (dws bevrugting), en dit in die uterus ingeplant het, is die vrou swanger.

Daar is 'n plaaslike legende of mite wat beweer dat 'n meisie nie swanger kan word die eerste keer dat sy geslagomgang het nie. Dink goed na oor alles wat jy geleer het omtrent konsepsie en bevrugting en bespreek of hierdie mite reg of verkeerd is. [2 punte]




Dit kan waar wees indien die meisie geslagsoomgang het voordat haar voortplantingsorgane rypgeword het en sy nog nie begin ovuleer het nie. Sy sal dan nie swanger kan word nie. Indien die meisie se voortplantingsorgane geslagsryp geword het en sy reeds begin menstrueer het, dan kan sy swanger word, selfs na die eerste keer. Daarom is hierdie mite nie waar nie.

Verduidelik waarom jy dink dat dit belangrik is vir iemand wat dit oorweeg om seksueel aktief te raak om te weet hoe voortplanting by mense plaasvind. [1 punt]



Leerders moet kan aandui dat iemand wat al die feite omtrent konsepsie weet in staat sal wees om (realistiese) besluite te neem en voorsorgmaatreëls te tref in verband met swangerskap en siektes. Hulle sal dan ook nie al die mites glo nie en verstandige besluite kan neem.

Verbeel jou iemand, wat met baie persone geslagomgang het, vra jou raad oor watter voorbehoedmiddel om te gebruik. Watter raad sou jy kan gee? [3 punte]






Iemand wat baie seksmaats het, loop 'n hoë risiko om SOS'e op te doen. Om siektes en 'n ongewenste swangerskap te verhoed behoort leerders te kan verduidelik dat 'n kondoom gedurende geslagsomgang in hierdie geval die beste keuse is. Hulle kon ook voorstel dat die persoon die aantal seksmaats moet beperk en dat, indien hy of sy in 'n verhouding is, albei getrou aan daardie een maat behoort te bly. Indien die persoon wil voortgaan om baie seksmaats te hê, dan behoort die persoon eers die status van elk van hierdie maats uit te vind voor geslagsomgang, en in elk geval 'n kondoom te gebruik. Die persoon kan ook aangeraai word om gereeld ondersoeke te laat doen om te weet wat hul eie status ten opsigte van siektes is.

Sommige mense weier as gevolg van geloofsredes om voorbehoedmiddels te gebruik. Besluit of jy hiermee saamstem of nie. Skryf 'n kort brief aan die uitgewer van 'n plaaslike koerant om jou besorgdheid rakende voorbehoedmiddels, vanaf hierdie spesifieke standpunt, bekend te maak. [6 punte]









Leerder-afhanklike antwoord

Leerders behoort in staat te wees om verskillende standpunte rakende hierdie onderwerp te kan insien. Verwysing na 'n debat oor hierdie onderwerp is vroeër in hierdie hoofstuk gemaak. Daar is nie 'n regte antwoord nie, fokus eerder daarop dat die leerders hul eie standpunte kan regverdig en dit kan uitdruk. Leerders behoort hieruit te leer en die brief in so'n trant skryf. NB: Leerders kritiseer nie enigiemand se geloof of kultuur met hierdie aktiwiteit nie.

Dink jy dat skole leerders behoort te leer in verband met voorbehoedmiddels? Waarom dink jy so? [3 punte]




Leerder-afhanklike antwoord. Kontroleer of leerders hul antwoorde kan regverdig en redes gee vir wat hulle dink.

Swanger moeders moet gedurende swangerskap na hulself omsien om 'n gesonde en veilige omgewing vir hul ongebore kind te verseker. Jou plaaslike kliniek vra jou om 'n brosjure te ontwerp wat hulle in hul wagkamer kan uitstal vir moeders wat die eerste keer swanger is. Skryf 'n gedetaileerde lys instruksies vir swanger vroue neer, wat verduidelik wat sy moet doen om haarself en haar ongebore baba gesond te hou. Jy kan kies hoe om dit te doen - miskien 'n "Moets-" en "Moenies" -lys, of anders kan jy opskrifte verskaf waaronder jy sulke instruksies soos "Dieet", "Leefstyl", ens kan insluit. [6 punte]











Leerders behoort te verwys na die dieet- en leefstyl-keuses van die swanger moeder, deur veral daarop te wys dat swanger vroue nie dwelms of drank moet gebruik nie aangesien dit deur die plasenta na die baba gaan, wat onomkeerbare skade aan die ongebore kind sal aanrig. Die moeder moet daarom hierdie stowwe gedurende swangerskap, en andersins, vermy.

Hierdie laaste vraag hoef nie geassesseer te word nie.

Totaal [37 punte]