Die litosfeer

Hoofstukoorsig

2 weke

Die fokus van hierdie hoofstuk is die litosfeer en die prosesse betrokke by die vorming daarvan. Die litosfeer maak deel uit van 'n groter sfeer wat die geosfeer genoem word. Die geosfeer bestaan uit die drie konsentriese lae van die Aarde: die kern, die mantel en die kors. Die litosfeer verwys na die buitenste deel van die geosfeer, wat die boonste dele van die mantel en die kors insluit. Die litosfeer is ook die deel van die Aarde waar die rotssiklus voorkom.

Die eerste deel van 'Wat is die litosfeer?' kry leerders sover om hul eie omgewing te ondersoek en te ontdek dat die litosfeer oral om hulle is. Dan ondersoek ons die konsentriese lae waaruit die Aarde bestaan. Dit gee die agtergrondinligting wat nodig is vir die rotssiklus, wat die boonste deel van die mantel en die kors betrek. Die drie tipes gesteentes word bekend gestel, en dit word gevolg deur 'n ondersoek na die werklike bestanddele van gesteentes - minerale. Dit berei weer die weg voor vir die volgende hoofstuk, wat handel oor die ontginning van mineraalhulpbronne.

2.1 Wat is die litosfeer? (2 uur)

Take

Vaardighede

Aanbeveling

Aktiwiteit: Ondersoek gesteentes

Waarneming, skryf, beskrywing

KABV-voorstel

Aktiwiteit: Die lae binne die Aarde

Klassifikasie, begrip

Voorstel

Aktiwiteit: Bou 'n 3D model van die Aarde

Ontwerp, bou van 'n model, toepassing van kennis, oordra van kennis

Opsioneel

(Dit kan as 'n projek gebruik word om oor die loop van die kwartaal te doen.)

2.2. Die rotssiklus (4 uur)

Take

Vaardighede

Aanbeveling

Aktiwiteit: Som die rotssiklus op

Herroeping, begrip

KABV-voorstel

Aktiwiteit: Verduidelik die rotssiklus

Skryf, verstaan

KABV-voorstel

Aktiwiteit: Bou 'n model wat die vorming van sedimentêre gesteentes toon

Bou van 'n model, oordra van inligting

KABV-voorstel

Aktiwiteit: Vergelyk die eienskappe van stollingsgesteentes

Vergelyking, waarneming, toepassing

Opsioneel

Aktiwiteit: Klassifiseer gesteentes

Klassifikasie, organisasie van inligting, maak van afleidings

Opsionele uitbreiding

Aktiwiteit: Watter minerale kry ons op Aarde?

Navorsing, lees, skryf

KABV-voorstel

  • Hoe lyk die middelpunt van die Aarde?
  • Hoekom is dit belangrik om te weet hoe die Aarde se struktuur lyk?
  • Hoekom is daar so baie verskille in die gesteentes wat jy rondom jou sien?
  • Hoe vorm gesteentes?
  • Hoekom moet ons gesteentes ken?
  • Hoekom is gesteentes belangrik?

Die Aarde is 'n stelsel wat uit baie dele bestaan. In die vorige hoofstuk het ons gekyk na die wisselwerking van hierdie dele, ofte wel sfere. In hierdie afdeling gaan ons een van daardie sfere, naamlik die litosfeer, van naderby bekyk.

'lithos' is die antieke Griekse woord vir 'n klip.

Wat is die litosfeer?

  • geosfeer
  • litosfeer
  • kontinentale kors
  • oseaankors
  • kors
  • mantel
  • kern
  • samestelling

Daar is voortdurend wisselwerking tussen die water, lug, rotse en lewe op Aarde. Kom ons dink aan die rots-gedeelte van hierdie stelling. Waar op Aarde kom rotse, of gesteentes, voor? Watter verskillende rotsvorme tref ons op Aarde aan? Hoekom is dit belangrik om van hierdie deel van die Aarde te weet? Kom ons ondersoek hierdie vrae.

Sand.
Klein klippies.
Groter klippe.
Rotsblokke.

'n Geoloog is 'n wetenskaplike wat die Aarde bestudeer, die gesteentes waaruit dit bestaan en die prosesse en geskiedenis wat dit gevorm het.

Ondersoek gesteentes

Hierdie aktiwiteit verwag dat leerders noukeurig sal waarneem en dan hul waarnemings in woorde te stel. Moedig leerders aan om fyn te kyk en soveel detail as moontlik vas te vang.

Hierdie aktiwiteit kan as 'n inleiding tot die afdeling gedoen word voor die inhoud bespreek word. Vra die leerders voor die les om die items skool toe te bring. Party leerders sal dalk bakstene of sement as voorbeelde van gesteentes bring. Maak seker dat jy leerders daarop wys dat beton en bakstene mensgemaakte materiale is, hoewel hulle soortgelyke eienskappe as gesteentes het.

Leerders kan ook op die skoolterrein uitgestuur word om die items te soek (sowat 10 minute). Jy kan ook self items skool toe bring. Maak seker dat daar minstens vier items per leerder is. Anders kan jy verskillende items by verskillende stasies plaas (byvoorbeeld tien eenderse klippe by stasie 1, tien sandmonsters by stasie 2, ens.) en leerders kan van een stasie na 'n volgende beweeg. Elke leerder sal dan by elke stasie sy/haar eie monster kan waarneem. Laat vir elkeen drie minute by elke stasie toe om die waarnemings te doen. Leerders kan ook probeer om van die monsters met 'n hamer stukkend te slaan. Sulke monsters moet in papierhanddoeke toegedraai word om te keer dat stukke in alle rigtings spat. Dit kan ook buite gedoen word.

As leerders nie klippe klas toe kan bring nie, kan die prente in hierdie afdeling as 'n laaste uitweg gebruik word.

Die doel van hierdie aktiwiteit is dat leerders ware artefakte moet ondersoek en moet oefen om hul waarnemings neer te skryf. Hulle moet besef dat al die verskillende soorte gesteentes, insluitend sand wat bestaan uit rotse wat deur wind en water verweer is, deel van die litosfeer uitmaak. Die litosfeer is oral om ons. Die aktiwiteit kan tot 'n bespreking van een of meer van die volgende vrae lei:

  1. Watter soort gesteentes wat op Aarde voorkom, het ons nie in hierdie aktiwiteit versamel nie? (gesmelte rots, rots vanaf die seebodem, ens.)
  2. Waarvoor benut ons die litosfeer? (minerale, brandstof, plantvoedingstowwe, boumateriale, ens.)
  3. Waaruit bestaan rotse of gesteentes nou eintlik? Leerders sal dalk sand sê. Indien wel, is die volgende vraag: 'Waaruit bestaan sand?' Leerders sal dalk nie 'n antwoord kan gee nie. Die idee is nie om hulle nou al die antwoord te gee nie, maar om dit as 'n oop vraag te laat wat aan die einde van hierdie hoofstuk en die volgende een oor ontginning van die litosfeer beantwoord sal word. Die aktiwiteit is veronderstel om 'n ontdekking te wees en hoef nie noodwendig in hierdie stadium antwoorde te verskaf nie. Dit gee wel agtergrond vir die twee groot onderwerpe: verskillende soorte gesteentes (die rotssiklus, Hoofstuk 2) en die minerale wat in gesteentes aangetref word (wat dit is en hoe dit ontgin word, Hoofstuk 3).

MATERIALE:

  • vergrootglase
  • hamers
  • papierhanddoeke
  • monsters versamel soos hieronder beskryf

Wanneer ons na die samestelling van iets kyk, wil ons vasstel waaruit dit bestaan.

INSTRUKSIES:

  1. Soek na die volgende items en bring dit klas toe: sand, klein klippies, 'n groter klip, 'n groot klip/rots.
  2. Wanneer jy sand en klippe versamel, soek monsters wat interessant en anders lyk om klas toe te bring.
  3. Bring ten minste vier verskillende items van verskillende plekke af.
  4. Bestudeer die verskillende monsters en voltooi die volgende tabel. As daar 'n vergrootglas beskikbaar is, gebruik dit om die verskillende monsters in fyn detail te bestudeer.
  5. Draai van die monsters in papierhanddoeke toe en kyk of jy dit met 'n hamer kan stukkend slaan. Die onderwyser sal dalk sê jy moet dit buite doen.

Plek

Beskryf waar jy jou monster gekry het.

Vorm en kleur

Beskryf die grootte, vorm en kleur

Tekstuur

Beskryf die tekstuur en hardheid.

Samestelling

Bestaan dit uit meer as een materiaal? Beskryf waaruit dit bestaan.

Sand

Klein klippie

Groter klip

Groot klip

'n Voorbeeld van wat leerders dalk vir 'Sand' sal skryf:

Plek

Beskryf waar jy jou monster gekry het.

Vorm en kleur

Beskryf die grootte, vorm en kleur

Tekstuur

Beskryf die tekstuur en hardheid.

Samestelling

Kan jy meer as een deel sien? Beskryf waaruit dit bestaan.

Sand

'n Bouterrein langs ons huis.

Die sand bestaan uit klein, ronde korreltjies wat gemiddeld 1 mm in deursnee is. Dit is roomkleurig met 'n aantal donkerbruin korrels.

Die korrels is almal min of meer ewe groot. Die sand is droog, dus voel dit glad en sag. Die korrels is hard, maar breek nog verder op as ek dit met 'n hamer slaan.

Al die korrels lyk dieselfde, behalwe vir die variasie in kleur.

Die korrels sit nie aan mekaar vas nie en is vryvloeiend.

Die eienaardigste geologiese formasies op Aarde.

In die voorafgaande ondersoek sou jy baie verskille gesien het tussen die klippe wat in die omgewing van die skool aangetref word. Die verskillende gesteentes op Aarde verskil baie wat betref vorm, kleur en tekstuur.

Die litosfeer bestaan uit al die berge, rotse, klippe, bogrond en sand wat op Aarde aangetref word. Dit sluit ook al die rotse onder die see en onder die oppervlak van die Aarde in. Die litosfeer is oral rondom ons en ons is elke dag in wisselwerking daarmee.

Hoe hoog kan berge wees?

Binne die Aarde

'n Groot plakkaat om uit te druk en in jou klaskamer uit te stal terwyl jy hierdie gedeelte behandel:

https://en.wikipedia.org/wiki/File:Earth_poster.svg

Die litosfeer word as die buitenste laag van die Aarde beskou. Die Aarde bestaan uit konsentriese lae wat die kors, die mantel en die kern genoem word.

Konsentriese voorwerpe het dieselfde middelpunt.

Lae van die Aarde.

Stel jou voor dat ons 'n skyf uit die Aarde sny, soos hieronder:

Ons sal dan die lae van die Aarde aan die binnekant kan sien, soos in die volgende diagram getoon word:

Jy het dalk reeds in vorige grade in Sosiale Wetenskappe hiervan geleer.

Die kern het twee dele, die binnekern wat solied is en die buitekern wat vloeibaar is. Die mantel kan ook in twee dele verdeel word, die onderste mantel en die boonste mantel. Party dele van die kors lê onder die oseane. Dit word die oseaankors genoem. Ander dele van die kors maak deel van die kontinente uit en dit word die kontinentale kors genoem.

Die bros bokant van die mantel en die kors vorm die litosfeer. Die litosfeer, die mantel en die kors word soms saam die geosfeer genoem. Die geosfeer is ook een van die dele van die Aarde, net soos die hidrosfeer, atmosfeer en biosfeer waarvan jy in die vorige hoofstuk geleer het.

Die middelpunt van die Aarde is 6371 km diep.

Die lae binne die Aarde.

Die lae binne die Aarde

Die doel van hierdie aktiwiteit is om 'n bietjie struktuur aan die leerders te voorsien om sin te maak uit al die nuwe terminologie wat in hierdie afdeling ingevoer word. Van die terme kan bekend wees, maar dalk het leerders dit nog nie alles in verband gebring nie. Die kaart sal later in die hoofstuk weer gebruik word. Hierdie aktiwiteit toets leerders se vermoë om te verstaan en dan die inligting in 'n visuele kaart te omskep. Dit is eintlik 'n baie eenvoudige aktiwiteit in dié sin dat die basiese struktuur van die kaart voorsien word, maar later sal van hulle verwag word om hul eie struktuur te voorsien. Dit is nie 'n konsepkaart nie, maar eerder 'n onderwerpkaart om leerders te wys hoe die verskillende terme verband hou. Die leerders is oor die laaste drie jaar in Natuurwetenskappe aan verskeie soorte kaarte bekend gestel. Dit is alles pogings om hulle te help om verskillende metodes te ontwikkel om inligting te organiseer sodat hulle beter kan leer. Die verskillende kaarte kan leerders ook help om hul eie metode te ontwikkel om inligting vir studiedoeleindes op te som.

INSTRUKSIES:

Gebruik al die woorde in vetdruk in die paragraaf hierbo om die volgende kaart te voltooi:

Die voltooide onderwerpkaart.

Die temperatuur van die Aarde se binnekern is bykans dieselfde as dié op die oppervlak van die Son - meer as 5000 °C.

Bou 'n 3D model van die Aarde

Hierdie aktiwiteit kan as 'n projek gebruik word wat deur die loop van die kwartaal voltooi kan word. Leerders kan in pare werk hiervoor. Hulle moet 'n model van die Aarde bou, met die nodige byskrifte, en ook bykomende leeswerk doen om meer oor elke afsonderlike laag uit te vind. Jy kan die modelle in die klaskamer uitstal en later tydens onderrig daarna verwys. Gekleurde papier of geverfde papier-maché kan in plaas van ander duur materiale gebruik word. Jy kan Assesseringsrubriek 7 agterin die Onderwysersgids gebruik om die modelle te assesseer.

Hoe om papier-maché te maak (video).

INSTRUKSIES:

  1. Gebruik herwonne materiaal en modelleerklei om 'n driedimensionele model van die binnekant van die Aarde te bou.
  2. Al die lae van die Aarde moet by jou model ingesluit word en 'n akkurate byskrif kry.
  3. Skryf 'n bladsy lange opsomming oor die lae van die Aarde. Doen opleeswerk oor elke laag ten einde die volgende vrae in jou opsomming te beantwoord. Gebruik die internet of biblioteekboeke, of vra kundige mense in jou gemeenskap.

    1. Dikte van elke laag
    2. Toestand van materie
    3. Temperatuur
    4. Samestelling (waaruit dit bestaan)

In die eerste aktiwiteit van hierdie hoofstuk het ons verskillende gesteentes versamel. Hoekom is daar verskillende soorte gesteentes en hoekom lyk hulle verskillend? Dit is die vrae wat ons in die volgende afdeling gaan beantwoord.

Die rotssiklus

  • siklus
  • verwering
  • verdigting (kompaksie)
  • erosie
  • afsetting
  • smelting
  • afkoeling
  • stol
  • sedimentêre gesteente
  • metamorfiese gesteente
  • stollingsgesteente
  • sediment
  • sedimentasie
  • sementasie

Die rotssiklus.

In vorige grade het jy van die watersiklus geleer. 'n Siklus is 'n kombinasie van prosesse wat in 'n sekere volgorde plaasvind en oor en oor herhaal word. Prosesse in 'n siklus stop nie, dus sê ons dit is aaneenlopend. So byvoorbeeld beskryf die watersiklus wat deel van die biosfeer is, hoe water eers wolke, dan reën, riviere en weer wolke vorm.

'n Voorbeeld van 'n siklus waarmee jy bekend is, is die watersiklus.

Die koolstofsiklus, wat ook deel van die biosfeer is, beskryf die beweging van koolstof deur koolstofdioksied, fossielbrandstowwe en koolhidrate. Die rotssiklus is deel van die litosfeer en beskryf hoe rotse van een vorm na 'n ander en uiteindelik weer terug na die eerste vorm verander.

Hoe werk die rotssiklus?

Kyk na hierdie interaktiewe animasie wat jou wys hoe die rotssiklus werk. http://www.classzone.com/books/earth_science/terc/content/investigations/es0602/es0602page02.cfm

Nie alle rotse op Aarde is hergesirkuleer nie. Duisende tonne rots val elke jaar op die Aarde vanuit die ruimte.

Die Hoba-meteoriet het sowat 80 000 jaar gelede in wat nou Namibië is, geval. Dit is sover bekend die grootste meteoriet wat nog in een stuk is, en ook die grootste stuk yster in sy natuurlike vorm op die aardoppervlak. Dit het 'n massa van meer as 60 ton.

Gesteentes op Aarde word ruweg in drie kategorieë verdeel:

  1. sedimentêre gesteentes

  2. metamorfiese gesteente

  3. stollingsgesteente

Die klassifikasie is gebaseer op waar die gesteentes gevorm is. Die volgende diagram som die rotssiklus op.

Die drie soorte gesteentes .

Die rotssiklus is 'n natuurlike, aaneenlopende proses waartydens rotse oor lang tye gevorm, afgebreek en weer hervorm word. Die proses kan soos volg beskryf word:

Hitte veroorsaak uitsetting, en koue inkrimping van rotse.

  • Wind, water, hitte en koue veroorsaak verwering van rotse op die aardoppervlak. Die rotse word in kleiner en kleiner stukkies opgebreek tot dit later sand vorm.
  • Wind en water spoel die sand en klein klippies weg en set hulle as sedimente in mere en oseane af. Hierdie proses word afsetting genoem.

  • Die sedimente sak tot op die bodem van die oseane, mere en riviere. Mettertyd word hulle met nog sedimentêre lae bedek. Die druk van die bykomende lae veroorsaak dat die sedimente gekompakteer word en verhard om sedimentêre gesteente te vorm.

  • Die sedimentêre gesteentes kan dieper en dieper onder die oppervlak van die Aarde begrawe word weens beweging in die aardkors (waar kontinentale en oseaanplate bymekaarkom). Die gesteentes kan ook dieper in die Aarde ingedruk word (subduksie). Soos wat die gesteentes dieper en dieper ingedruk word, neem die temperatuur en druk toe.
  • Die gesteentes verdig weens die prosesse van verdigting (kompaksie) en sementasie. Soos wat die chemiese verbindings in die gesteentes verander weens hitte en druk word metamorfiese gesteentes gevorm.
  • Mettertyd kan die metamorfiese gesteentes dieper in die Aarde inbeweeg, smelt en magma raak.

  • Magma beweeg deur vulkaniese pype na die aardoppervlak. Die warm magma koel stadig af op pad na die oppervlak en vorm stollingsgesteente. Magma kan ook deur die oppervlak breek in die vorm van lawa in vulkane. In dié geval sal die lawa vinnig op die oppervlak stol om ook stollingsgesteente te vorm. Stollingsgesteente kan dus in die kors of op die oppervlak vorm.

  • Stollingsgesteentes word deur die wind en water geërodeer en die hele proses begin weer van voor af.

Magma en lawa is albei gesmelte rots, maar kom op verskillende plekke voor. Magma is gesmelte rots wat onder die aardoppervlak vorm. Wanneer magma uit 'n vulkaan bars en op die oppervlak beland, word dit lawa genoem.

Metamorfiese gesteentes word diep onder die oppervlak gevorm en word net op die oppervlak blootgelê as die lae wat bo-op lê deur erosie verwyder word. Stollingsgesteentes kan, net soos sedimentêre gesteentes, dieper in die Aarde inbeweeg en metamorfiese gesteentes vorm weens die toename in druk en temperatuur.

Soos jy in die diagram hierbo kan sien, kan alle soorte gesteentes deur die mantel afbeweeg, smelt en weer met die magma meng. Die Aarde se kors word dus voortdurend hergesirkuleer. Dit is waarom ons na die proses verwys as die rotssiklus.

Som die rotssiklus op

VRAE:

Voltooi die diagram deur in te vul watter soort gesteente waar hoort: Sedimentêre gesteente, Metamorfiese gesteente, Stollingsgesteente.

Wat noem ons die proses waardeur stollingsgesteentes gevorm word?


Afkoeling.

Watter soort(e) gesteentes vorm sediment?


Stollings-, metamorfiese en sedimentêre gesteentes (dus alle rotssoorte).

Watter toestande is nodig vir die vorming van metamorfiese gesteentes?


Verhoogde temperatuur en druk.

Verduidelik wat 'verwering' en 'erosie' van rotse beteken.



Dit is die werking van wind en water wat rotsstukke laat kraak en verkrummel.

Verduidelik wat 'verdigting' ofte wel 'kompaksie' beteken.



Dit is die proses waardeur deeltjies nader aan mekaar gedruk word (byvoorbeeld deur die werking van druk).

Watter soort gesteente word deur verdigting gevorm?


Sedimentêre gesteente.

Wat is magma? Verduidelik die rol van magma in die rotssiklus.




Magma is gesmelte rots. Dit word lawa genoem wanneer dit op die oppervlak van die Aarde uitvloei. Magma en lawa vorm stollingsgesteentes wanneer dit afkoel, óf bo óf onder die aardoppervlak.

Verduidelik die rotssiklus

Hierdie aktiwiteit kan as alternatief vir die vorige een gebruik kan word. Of as jy voel jou leerders het meer oefening nodig om te skryf oor wat hulle geleer het, is dit die perfekte tuiswerkoefening. Dit kan ook as 'n vinnige klastoets gebruik word om begrip te toets. Leerders kan hul eie skryfwerk assesseer, of kan met 'n maat omruil.

INSTRUKSIES:

Skryf 'n paragraaf om die rotssiklus in jou eie woorde te verduidelik. Begin die verduideliking met die vorming van stollingsgesteente. Gebruik volsinne en sluit die volgende sleutelwoorde by jou paragraaf in.

Sleutelwoorde

  • smelting
  • afsetting
  • erosie
  • afkoeling
  • kompakteer (verdig)
  • temperatuur
  • druk
  • metamorfiese gesteente
  • stollingsgesteente
  • sedimentêre gesteente

Die woorde kan meer as een keer gebruik word en jy moet natuurlik jou eie sleutelwoorde byvoeg. Sluit ook 'n diagram met byskrifte by jou beskrywing in.













Leerder-afhanklike antwoord. Maak seker dat leerders die terme reg gebruik en dat die proses akkuraat verduidelik word. Leerders MOENIE die teks uit die werkboek oorskryf nie, maar dit in hul eie woorde weergee.

Die diagram van die rotssiklus kan as riglyn gebruik word oor hoe leerders se diagramme en byskrifte moet lyk.

Gebruik die volgende as 'n riglyn vir die antwoord:

Die rotssiklus is 'n natuurlike, aaneenlopende proses waartydens gesteentes oor lang tye gevorm, afgebreek en weer hervorm word. Daar is drie soorte gesteentes: stollings-, sedimentêre en metamorfiese gesteentes. Die rotssiklus kan in die volgende stappe verduidelik word:

  • gesmelte rots uit die mantel (magma) stoot op deur die kors
  • poele magma koel stadig in die kors af om stollingsgesteentes, soos graniet, te vorm
  • van die magma ontsnap deur 'n vulkaan na die oppervlak waar dit lawa genoem word
  • lawa koel af om stollingsgesteentes te vorm
  • die tempo waarteen die lawa afkoel, beïnvloed die eienskappe van die rots wat gevorm word
  • gesteentes op die aardoppervlak word verweer tot kleiner deeltjies deur hitte (uitsetting), koue (inkrimping), wind en water
  • in die erosieproses voer wind en water hierdie deeltjies af na vloedvlaktes en die see
  • die deeltjies word as sedimente afgeset
  • die sedimente word deur nog lae sediment bedek
  • die druk van baie lae op mekaar verander die onderste lae in sedimentêre gesteente, soos sandsteen
  • magma verhit die omringende rots en verander die chemiese struktuur daarvan om metamorfiese gesteentes soos leiklip uit skalie of marmer uit kalksteen te vorm
  • van die gesteentes word onder die kors ingedruk, smelt en word weer magma

'n Nuttige webwerf wat al die verskillende soorte gesteentes en hul klassifikasie wys. http://geology.com/rocks/

Ons gaan nou die drie hoofsoorte gesteentes van naderby bekyk.

Sedimentêre gesteentes

Leerders hoef nie die verskillende name van al die voorbeelde van gesteentes in die volgende drie afdelings te ken nie, maar hulle moet een of twee voorbeelde van elke soort kan noem. Dit is belangrik om te besef dat gesteentes as materiaal in ons daaglikse lewe gebruik word. Baie van die woorde sal bekend wees omdat dit algemeen gebruik word (kalksteen, graniet, ens.), en dit is goed dat leerders die oorsprong van hierdie gesteentes ken. Hierdie afdeling sluit aan by wat in die vertakking Materie en Materiale gedek word. Klip is 'n natuurlike produk en 'n hulpbron wat mense vroeër jare en vandag steeds gebruik. Die nut van 'n bepaalde materiaal, klip in hierdie geval, lê in sy eienskappe.

Sedimentêre gesteentes word gevorm wanneer lae sediment mettertyd verhard. Sediment is deeltjies van gesteentes wat vroeër bestaan het of organismes wat eens op 'n tyd gelewe het, bv. skulpdiere se skulpe, wat in lae afgeset is. Rotse op die aardoppervlak word verweer deur uitsetting en inkrimping weens verandering in temperatuur, asook deur wind, water en erosie veroorsaak deur diere. Groter rotse breek deur die proses van erosie in kleiner en kleiner stukkies op.

Veranderinge in temperatuur veroorsaak dat rotse kraak en opbreek. Plante kan in die krake begin groei, wat hulle verder laat verkrummel.
Reën verweer rotse en kan veroorsaak dat kleiner stukkies afbreek.
Diere breek rotse in kleiner stukkies op wanneer hulle daaroor loop.

Rotse verweer om grond te vorm.

Wind en water voer die kleiner, los deeltjies saam met die afval van lewende organismes en 'n paar groter klippe mee, en set dit uiteindelik op vloedvlaktes en in die see af. Dit word erosie genoem.

Gronderosie weens water. http://www.flickr.com/photos/jgphotos95/6914965980/

Hierdie materiaal hoop op die bodem van oseane, riviere, mere en moerasse op. Die sediment sak af en vorm lae. Hierdie lae bou bo-op mekaar op en veroorsaak die verdigting, of kompaksie, van die onderste lae. Mettertyd verhard die onderste lae en vorm lae sedimentêre rots, soos in die volgende diagram getoon word.

'n Maklike demonstrasie om die begrip afsetting te verduidelik is om 'n bietjie grond en water in 'n glasbeker te meng en dit dan op die tafel voor in die klas neer te sit sodat die deeltjies tydens die klas na die bodem kan afsak. Jy kan ook verskillende kleure grond of sand ingooi om verskillende sedimentêre lae voor te stel.

Die vorming van sedimentêre gesteentes.

Vorming van sedimentêre gesteentes onder die see.

Die videoskakel in die besoekboksie oor die 'Vorming van sedimentêre gesteentes onder die see' gee 'n duidelike en maklik verstaanbare demonstrasie van hoe sediment in lae op die seebodem afgeset word. Jy kan iets soortgelyk aan hierdie model in jou klaskamer bou om leerders die proses te wys.

Hoewel sedimentêre gesteentes op die meeste plekke op Aarde voorkom, maak dit net 8% van die aardkors uit. Die verskillende lae van sedimentêre gesteentes kan daagliks in die berge en rotse rondom ons gesien word. In die foto kan jy duidelik die sedimentêre lae sien wat oor miljoene jare verhard het om die sedimentêre gesteentes van die Grand Canyon te vorm.

Die verskillende lae in die sedimentêre gesteentes in die Grand Canyon.

Tafelberg in Kaapstad is opgebou uit duidelik waarneembare lae sedimentêre gesteentes.

Die sandsteenlae van Tafelberg.

Daar is verskillende soorte sedimentêre gesteentes, soos sandsteen, kalksteen, dolomiet, steenkool, skalie en konglomeraat.

Sandsteen in die Sederberge in die Wes-Kaap.
Kalksteen in lae van sedimentêre gesteentes.http://www.flickr.com/photos/crabchick/2567814666

Kalksteen is 'n sedimentêre gesteente wat uit die mineraal kalsiumkarbonaat (CaCO3) bestaan. Dit word dikwels uit die oorblyfsels van die skelette van mariene organismes gevorm. Ons gebruik kalksteen vir die vervaardiging van kalk (kalsiumkarbonaat) en sement.

Kalk is die woord wat gebruik word vir kalsiumbevattende verbindings soos kalsiumoksied (CaO), kalsiumhidroksied (Ca(OH)2) en kalsiumkarbonaat (CaCO3).

Dolomiet is 'n sedimentêre gesteente wat uit kalsiummagnesiumkarbonaat (CaMg(CO3)2) bestaan. Steenkool is ook 'n voorbeeld van sedimentêre rots wat uit die verharde oorblyfsels van oeroue plante op die bodem van moerasse gevorm het. Skalie is 'n fynkorrelrige sedimentêre gesteente wat deur die afsetting van modder en slik gevorm het. Dit bestaan uit baie dun lae wat almal aan mekaar vassit. Konglomeraat is 'n sedimentêre gesteente wat uit klein klippies, skulpe en ander stukke sediment bestaan. Sementasie is die proses waardeur sand met skulpe daarin, klippies en ander sedimente saam gesementeer word om sedimentêre gesteentes te vorm.

Sedimentêre gesteentes is dikwels sagter as ander soorte gesteentes. Hulle word deur die werking van wind, water of ys (gletsers) geërodeer. Fossiele, veral seediere, kom dikwels in sedimentêre gesteentes voor, ingebed in die sedimente waarin hulle geval het na hul dood. Wanneer plante of diere doodgaan, word hulle dikwels met sand bedek, wat later rots word en só die fossiele binne-in vasvang.

Dolomietberge.

Fossiele in sedimentêre gesteentes.http://www.flickr.com/photos/ivanwalsh/4186481991/
Kalksteen (roombruin) bo-op skalie (donkergrys).
Konglomeraat wat die lae toon met klein klippies in die rots ingebed.

Kom ons kyk hoe die sedimentêre lae mettertyd saamgepers word en verhard weens druk.

Bou 'n model wat die vorming van sedimentêre gesteentes toon

Hierdie aktiwiteit kan as 'n demonstrasie in die klas gedoen word. Stapel boeke bo-op 'n paar snye brood totdat die brood nie verder saamgepers kan word nie. Laat die leerders waarnemings maak en hulle waarnemings teken. Wys hulle ook ná die tyd die lae - die verskillende lae kan nie meer onderskei word nie en het tot een massa saamgesmelt.

MATERIALE:

  • 3 snye witbrood
  • 3 snye bruinbrood
  • swaar boeke of voorwerpe

INSTRUKSIES:

  1. Sny die korsies reg rondom af.

  2. Pak die snye op mekaar, met die wit en bruin snye wat mekaar afwissel. Elke sny stel 'n ander sedimentlaag voor.

  1. Teken 'n diagram met byskrifte wat wys hoe die stapel lyk.









  2. Sit 'n stukkie plastiek bo-op die broodstapel om die onderste boek in die boekstapel te beskerm en plaas die boekstapel bo-op die broodstapel. Neem waar wat met die lae gebeur. Skryf jou waarnemings hier neer.



  3. Pak nog boeke op die stapel en kyk weer. Wat gebeur met die lae?



  4. Haal die boeke van die broodstapel af. Kan jy nog steeds die verskillende lae onderskei? Teken 'n diagram met byskrifte van die broodlae.









  5. Verduidelik hoe hierdie model die vorming van sedimentêre gesteentes demonsteer.






Dit is 'n goeie geleentheid om te bespreek hoe modelle in die wetenskap gebruik word om dit wat in die werklike lewe gebeur, voor te stel en te verduidelik. Die model toon hoe verskillende sedimentêre lae afgeset word, soos voorgestel word deur die lae bruin- en witbrood. Aanvanklik is die lae redelik los, maar soos meer lae mettertyd bygevoeg word, word die onderste lae saamgepers. Dit word in die model voorgestel deur meer boeke by te voeg om die druk op die lae te verhoog. Meer boeke word opgestapel om die verloop van tyd en groter druk voor te stel. Uiteindelik word die rotslae platgedruk (sementasie het plaasgevind) en dan is dit nie meer maklik om die verskillende lae te herken nie, soos wat by sedimentêre gesteentes gebeur.

Metamorfiese gesteentes

Kry monsters van leiklip, marmer, sandsteen en graniet by 'n winkel wat natuurlike produkte aanhou sodat leerders dit kan bekyk en hanteer.

'n Groot deel van die aardkors bestaan uit metamorfiese gesteentes. Metamorfiese gesteentes word gevorm wanneer sedimentêre of stollingsgesteentes aan hitte of druk blootgestel word. Metamorfiese gesteentes vorm nie op die aardkors nie, maar eerder diep onder die oppervlak waar die temperatuur en druk baie hoër is. Wanneer ander soorte gesteentes hoër druk en temperature ervaar, word die rotskristalle saamgepers. Hierdie kristalle se struktuur verander om metamorfiese gesteentes te vorm.

'Metamorfies' verwys na metamorfose - 'n proses waartydens een ding in 'n totaal ander ding verander, soos 'n papie wat 'n skoenlapper word.

Metamorfiese gesteentes kan dieper in die Aarde inbeweeg waar hulle smelt en magma vorm. Die magma kan dan afkoel en stollingsgesteentes vorm.

Voorbeelde van metamorfiese gesteentes is leiklip, marmer, seepsteen en kwartsiet.

Leiklip is 'n metamorfiese gesteente wat gevorm het toe skalie ('n sedimentêre gesteente) metamorfose ondergaan het. Leiklip word dikwels vir dakke of vloere gebruik. Omdat dit in vorms gesny kan word en nie vog absorbeer nie, is dit 'n goeie materiaal vir teëls.

Dakteëls van leiklip wat uit skalie ('n sedimentêre gesteente)ontstaan het.

Marmer is 'n metamorfiese gesteente en die produk van die metamorfose van kalksteen. Dit word gebruik vir werksvlakke, vloere en grafstene, en is 'n baie duursame boumateriaal.

Marmerblokke in 'n muur.
'n Marmerboog in Londen.

Seepsteen is 'n redelik sagte metamorfiese gesteente. Dit word dikwels as werksblaaie gebruik in die plek van graniet of marmer, byvoorbeeld in kombuise of laboratoriums. Sure en alkali's in laboratoriums affekteer dit nie. In kombuise vlek tamaties, wyn, asyn, druiwesap en ander alledaagse voedselitems dit ook nie. Seepsteen word nie deur hitte geraak nie. Dit beteken dat warm kastrolle direk daarop neergesit kan word sonder dat dit smelt, brand of andersins beskadig raak. Baie standbeelde en snywerke word van seepsteen gemaak.

Snywerke van seepsteen.
'n Pot gemaak van seepsteen.http://commons.wikimedia.org/wiki/File:Soapstone_pot.jpg

Kwartsiet word gevorm deur die inwerking van hitte en temperatuur op sandsteen. As jy in die prente hieronder die tekstuur van sandsteen met dié van kwartsiet vergelyk, sal jy sien dat metamorfisme (die proses van metamorfose) die tekstuur van sanderig na blinker verander het. Die kristalle in die kwartsiet is groter en die lae het verdwyn. Kwartsiet is veel harder as sandsteen.

Sandsteen.
Kwartsiet.

Stollingsgesteente

  • ekstrusiewe gesteente
  • intrusiewe gesteente

In Engels is daar 'n interessante onderskeid tussen 'molten' en 'melted' wat albei as 'gesmelt' vertaal word. Gesmelte verwys spesifiek na vloeistowwe wat uiters warm is en gewoonlik in vaste vorm voorkom, soos rots. Iets wat gesmelt is, hoef nie warm te wees nie, en ook nie eens werklik vloeibaar nie, soos gesmelte botter.

Stollingsgesteentes vorm wanneer magma afkoel. Drie faktore speel 'n rol in die vorming van stollingsgesteentes:

  1. Waar dit gevorm word: As die gesteentes op die oppervlak vorm, word hulle intrusiewe gesteentes genoem. As hulle onder die oppervlak vorm, word hulle ekstrusiewe gesteentes genoem.

  2. Hoe vinnig dit afkoel: Wanneer magma vinnig afkoel, word klein kristalle gevorm. Die gesteentes wat só ontstaan, het 'n fynkorrelrige tekstuur. Wanneer dit stadiger afkoel, vorm groter kristalle en gevolglik gesteentes met 'n grofkorrelrige tekstuur. Soms kan die individuele kristalle met die blote oog gesien word.

  3. Hoeveel gas vasgevang word: Magma bevat gesmelte rots en baie gas. Diep onder die Aarde verkeer die gas onder druk. Wanneer die magma deur die oppervlak breek, word die gas vrygestel. Afhangende van hoe vinnig die magma afkoel, het die gas meer of minder tyd om te ontsnap. As die magma baie vinnig afkoel, word baie gas vasgevang, wat tot die vorming van holtes en openinge in die rots lei.

Ekstrusief beteken om 'na buite te stoot'.

Hoe vulkane gevorm word.

'n Vulkaan-ekspedisie.

'n Vulkaan is 'n opening of skeur in die kors van die Aarde (of 'n ander planeet) se oppervlak waardeur warm lawa en vulkaniese as tydens 'n uitbarsting uit die magmakamer daaronder ontsnap.

Die uitbarsting van die Cleveland-vulkaan in Alaska in 2006, soos vanaf die Internasionale Ruimtestasie afgeneem.
'n Uitbarsting van Etna in Italië in 2007.

Pompeji was 'n antieke Romeinse stad wat in 27 n.C. totaal verwoes en onder as en puimsteen begrawe is toe die berg Vesuvius uitgebars het. Die stad en voorwerpe daarin is vir duisende jare so bewaar, maar is nou volledig uitgegrawe. Vandag besoek miljoene toeriste elke jaar die plek.

Pompeji (volledige dokumentêre film ).

Voorbeelde van stollingsgesteentes is basalt, graniet en puimsteen.

Basalt is die algemeenste stollingsgesteente en maak 'n groot deel van die gesteentes net onder die aardoppervlak uit. Die grootste deel van die oseaankors bestaan uit basalt. Dit is 'n donkerkleurige gesteente en word gebruik as boumateriaal, veral om klipmure te bou.

Basalt kom nie net op die Aarde voor nie, maar ook op die Maan en Mars! Die hoogste berg op Mars en ook die grootste en bekendste vulkaan in ons sonnestelsel - Olympus Mons - is uit basaltiese lawastrome gevorm.

Basalt.
Olympus Mons, 'n vulkaan op Mars.

Olympus Mons is 'n groot vulkaan op Mars. Dit is omtrent drie keer hoër as Everest. Dit is sover bekend die tweede hoogste berg in ons sonnestelsel.

Mars se grootste vulkaan.

Graniet is 'n stollingsgesteente met groot korrels. Dit word gevorm uit magma wat stadig onder die aardoppervlak gekristalliseer het. Graniet is een van die bekendste rotstipes. Dit het talle gebruike, byvoorbeeld as tafelblaaie, vloerteëls en plaveisel.

Graniet in verskillende kleure en patrone.

Puimsteen is 'n voorbeeld van ekstrusiewe stollingsgesteente. Dit word gevorm uit die lawa wat tydens vulkaniese uitbarsting uitgeskiet word. Omdat die lawa vinnig afkoel, word baie gas daarin vasgevang. Puimsteen is dus 'n baie poreuse gesteente met baie gaatjies in - en is die enigste gesteente wat op water kan dryf. Puimsteen word in liggewig-beton en as 'n skuurmiddel in nywerhede en huise gebruik.

Puimsteen word as 'n afskilferaar gebruik.

Puimsteen word gevorm wanneer vulkane uitbars. Daar is baie gas in magma vasgevang. Die gas is onder druk wanneer die magma onder die oppervlak is. Sodra dit deur die oppervlak bars, word die druk in 'n baie kort tydjie verlig. Dié ontploffende gas word op en uit die vulkaan geforseer, en neem die omringende gesmelte rots saam. Dit word gesien as 'n ontploffing van gas en gesmelte rots wat tot kilometers ver van die vulkaan geskiet kan word. Die magma koel baie vinnig af en kan rotse vorm wat in grootte wissel van klein klippies tot so groot as 'n huis.

Die proses kan baie doeltreffend (en dramaties) gedemonstreer word met gaskoeldrank. Gaskoeldrank bevat gas wat onder druk opgelos is. Wanneer die doppie van 'n bottel gaskoeldrank oopgedraai word, kan die gas baie vinnig ontsnap. As die bottel geskud word voor jy dit oopmaak, word die effek van 'n vulkaniese uitbarsting getoon. Dit is egter 'n baie morsige demonstrasie wat liefs buite gedoen moet word.

Ná die demonstrasie kan die analogie rondom die vorming van puimsteen in die klas vasgelê word. Leerders moet oplet dat die vloeistof op en uit die bottel geskiet word. Hulle moet hulle voorstel dat dit warm lawa vol gas is. Wanneer die magma deur die kors breek, ontplof dit met groot krag. Die lawa word hoog in die lug op geskiet en sal vinnig afkoel om rotse te vorm. Rotse rondom 'n vulkaan is oor 'n groot gebied versprei.

WAARSKUWING: Hierdie demonstrasie moet buite gedoen word en leerders moet ver weg staan.

Vergelyk die eienskappe van stollingsgesteentes

Dit is 'n opsionele aktiwiteit.

INSTRUKSIES:

Bestudeer die volgende stollingsgesteentes en vergelyk alle ooreenkomste en verskille in die tabel hieronder.

Monster 1.
Monster 2.
Monster 3.
Monster 4.

Monster 1 is basalt, monster 2 is obsidiaan, monster 3 is graniet en monster 4 is puimsteen.

Monster

Waar is die monster gevorm? Ekstrusief of intrusief?

Hoe vinnig het dit afgekoel? Watter bewyse het jy vir jou antwoord?

Is lug vasgevang toe dit gevorm het? Watter bewyse het jy vir jou antwoord?

Beskryf die kleur

Monster 1

Monster 2

Monster 3

Monster 4

Monster

Waar is die monster gevorm? Ekstrusief of intrusief?

Hoe vinnig het dit afgekoel? Watter bewyse het jy vir jou antwoord?

Is lug vasgevang toe dit gevorm het? Watter bewyse het jy vir jou antwoord?

Beskryf die kleur

Monster 1

Ekstrusief

Baie fyn kristalle

Nee, geen sigbare gate nie

Donker, groengrys

Monster 2

Ekstrusief

Vinnig, geen sigbare kristalle nie

Nee, geen sigbare gate nie

Blinkswart

Monster 3

Intrusief

Stadig, daar is groot ineengrypende kristalle

Nee, geen sigbare gate nie

Geelbruin, wit en swart gespikkel

Monster 4

Ekstrusief

Vinnig, daar is geen kristalle nie

Ja, daar is gate in die rots waar gasborrels vasgevang was

Grysswart

Klassifiseer gesteentes

Dit kan as 'n opsionele uitbreidingsaktiwiteit gebruik word.

INSTRUKSIES:

  1. Werk in pare vir hierdie projek. Versamel rotse in julle omgewing, of leen rotse uit iemand se rotsversameling.
  2. Julle het ten minste twaalf verskillende rotsmonsters nodig.
  3. Pas julle kennis oor die drie verskillende rotstipes toe om so 'n groot verskeidenheid as moontlik te kry.
  4. Julle kan ook 'n geoloog vra om vir julle 'n klompie rotsmonsters te gee om te identifiseer.
  5. Gaan na die webwerf wat in die besoekboksie gegee word en volg die vloeidiagram om al jul rotsmonsters te identifiseer.

  6. Maak nou 'n uitstalling van al die rotse en verduidelik hoe julle die monsters geïdentifiseer het aan die hand van die vloeidiagram en hul eienskappe.

Hulpbronne vir die projek oor die klassifikasie van gesteentes. http://www.classzone.com/books/earth_science/terc/content/investigations/es0610/es0610page02.cfm

Identifiseer gesteentes.

Rotse wat minerale bevat

  • mineraal

Die KABV plaas hierdie afdeling direk na die bespreking van die kern, mantel en kors. Ons het dit egter na die einde van die hoofstuk geskuif sodat leerders reeds 'n bietjie meer weet van die verskillende rotssoorte. Deur dit hier te plaas word leerders ook voorberei op die volgende hoofstuk oor die ontginning van minerale.

Ons het hierdie hoofstuk begin deur gesteentes te versamel en na hul eienskappe te kyk. Daarna het ons gekyk hoe gesteentes gevorm word. Die vraag is nou hoekom ons iets van gesteentes moet weet of hoekom hulle belangrik is. Kom ons kyk wat gesteentes so waardevol maak.

Rotse bevat minerale. 'n Mineraal is 'n chemiese verbinding wat natuurlik voorkom, byvoorbeeld in rotse. Derduisende soorte minerale kom in verskillende kombinasies in rotse voor. Hulle bestaan uit metaal- en nie-metaalatome wat in verskillende verhoudings verbind.

Kom ons kyk na 'n paar voorbeelde. Koper is 'n waardevolle metaal omdat dit 'n goeie geleier is. Dit word in elektriese kabels en ander elektriese toepassings gebruik. Daar is omtrent vyftien verskillende rotstipes wat koperverbindings bevat. Een so 'n verbinding is koper(I)sulfied, of Cu2S. Wanneer hierdie verbinding in rotse voorkom, is dit 'n mineraal genaamd chalcosiet. Koper kom ook as die verbinding CuFeS2 of chalcopiriet voor. Die minerale chalcosiet en chalcopiriet kom in baie verskillende soorte sedimentêre, metamorfiese of stollingsgesteentes voor. As ons die koper in hierdie rotse wil gebruik, moet ons 'n manier vind om dit uit die rots en in die metaalvorm te kry. Ons sal dit in die volgende hoofstuk bespreek.

Chalcopiriet-kristalle.
Chalcopiriet-erts.
Chalcosiet-kristalle.
Chalcosiet-erts.

Kwarts en veldspaat is die twee volopste minerale in die aardkors. Kwarts is die mineraalvorm van silikondioksied(SiO2). Kaliumveldspaat se formule is KAlSi3O8. 'n Rots kan amper in sy geheel uit een mineraal bestaan, of dit kan uit 'n kombinasie van verskillende minerale bestaan. Verskillende kombinasies van verskillende minerale in rotse sal tot verskillende rotstipes lei.

'n Kort inleiding tot minerale.

Watter minerale kry ons op Aarde?

Dit kan as 'n navorsingsprojek gebruik en as 'n geskrewe verslag aangebied word. 'n Nuttige hulpmiddel met relevante inligting vir hierdie aktiwiteit is hier te vinde: http://www.rsc.org/education/teachers/resources/jesei/minerals/students.htm

Hierdie skakel sluit ook 'n nuttige werkvel in wat gebruik kan word as 'n oefening aan die einde van die afdeling.

INSTRUKSIES:

In hierdie hoofstuk het jy meer geleer oor die aardkors en die minerale wat in rotse voorkom. Lees meer oor die aardkors en beantwoord die volgende vrae:

  1. Watter elemente is die volopste in die aardkors?
  2. Hoekom is hierdie elemente so volop?
  3. Hoe het die elemente in die aardkors beland?
  4. Hoekom is hierdie elemente belangrik?
  5. Wat dink jy is die belangrikste element(e) in die aardkors? Gee 'n rede vir jou antwoord.

  • Die Aarde bestaan uit vier konsentriese lae genaamd die binnekern, buitekern, mantel en kors.
  • Die litosfeer bestaan uit die soliede buitenste deel van die mantel, die kors en die sedimente wat dit bedek.
  • Die rotssiklus is 'n natuurlike, aaneenlopende proses waartydens gesteentes oor lang tydperke gevorm, afgebreek en opnuut gevorm word. Die rotssiklus het 'n aantal stappe.
  • Daar is drie soorte gesteentes: stollingsgesteentes, sedimentêre gesteentes en metamorfiese gesteentes.
  • Sedimentêre gesteentes word gevorm wanneer rotse op die oppervlak verweer en die klein stukkies rots, saam met plant- en dieremateriaal, afgeset word as sedimente op die bodem van mere, oseane en riviere. Mettertyd word meer en meer sedimentêre lae afgeset. Die gevolglike toename in druk veroorsaak verdigting (kompaksie) en die vorming van harde lae sedimentêre gesteentes.
  • Fossiele word dikwels in sedimentêre gesteentes aangetref omdat soos organismes doodgaan, party van hulle in die sedimentêre lae geïnkorporeer word.
  • Warm magma kom diep onder die oppervlak van die Aarde voor. Wanneer magma stadig onder die aardoppervlak afkoel, vorm dit intrusiewe stollingsgesteentes. Wanneer die magma deur die kors opstoot (soos byvoorbeeld in 'n vulkaan)koel dit vinnig af en vorm ekstrusiewe stollingsgesteentes.
  • Warm magma kan die omliggende rotse verhit en ander soorte gesteentes in metamorfiese gesteentes laat verander.
  • Verskillende kombinasies van elemente en verbindings vorm die minerale in die kors.

Konsepkaart

Gebruik die konsepkaart op die volgende bladsy om op te som wat jy in hierdie hoofstuk oor die litosfeer en rotssiklus geleer het. As jy meer skakels of inligting by die konsepkaart wil voeg, doen dit gerus.

Onderwysersnota

Hersieningsvrae

Die Aarde bestaan uit verskillende lae.

  1. Voorsien die volgende diagram van byskrifte: [4 punte]

  1. Wat is die verskil tussen deel C en D? [2 punte]



  2. Waaruit bestaan deel B? [1 punt]


  3. Gee drie voorbeelde van dinge rondom die skool wat deel uitmaak van deel A. [3 punte]



  1. C (die buitekern) is vloeibaar en D (die binnekern) is solied.

  2. Magma of gesmelte rots.

  3. sand, klippe, rotse, spoelklippe, klei (enige drie).

Waarom is daar soveel verskillende gesteentes op Aarde? [2 punte]



Gesteentes word deur baie verskillende prosesse gevorm en dit lei tot talle verskillende kombinasies van minerale in rotse.

Die diagram hieronder toon die vorming van een rotstipe. Bestudeer die diagram en beantwoord die vrae wat volg.

  1. Watter soort rotsvorming word in die diagram getoon? Gee 'n rede vir jou antwoord. [2 punte]



  2. Watter prosesse is by die vorming van hierdie soort gesteente betrokke? [2 punte]



  3. Wat sal gebeur as die gesteentes wat hier gevorm is dieper in die Aarde inbeweeg? [3 punte]




  1. Sedimentêre gesteente. Daar kan gesien word hoe die sedimentêre lae op die bodem van die see vorm.

  2. Sedimentasie en sementasie.

  3. Die gesteentes sal warmer raak wat meebring dat groter druk uitgeoefen word. Die gesteentes sal verdig en die chemiese verbindings daarin sal verander. Metamorfiese gesteentes sal vorm.

Fossiele word dikwels in sedimentêre gesteentes aangetref. Verduidelik hoekom dit die geval is. [4 punte]





Wanneer plante of diere doodgaan, eindig hulle oorblyfsels dikwels in die grond waar dit mettertyd met sand bedek word. Die sand word gekompakteer en raak uiteindelik sedimentêre gesteentes met die gefossileerde oorblyfsels van die plant of dier steeds in die rots.

Verduidelik die verskil tussen die vorming van stollingsgesteentes, soos graniet, en sedimentêre gesteentes, soos puimsteen. [4 punte]





Graniet is 'n intrusiewe stollingsgesteente. Dit vorm as magma onder die aardoppervlak, koel stadig af en vorm groot kristalle. Puimsteen is ekstrusiewe stollingsgesteentes wat vorm wanneer magma deur die kors na die aardoppervlak gestoot word waar dit vinnig afkoel en gasborrels vasvang.

Yster is 'n element wat in oorvloed op Aarde voorkom, veral in die kern van die Aarde. Yster kombineer met suurstof om hermatiet, die mineraalvorm van yster(III)oksied, te vorm. Hermatiet kom voor in sedimentêre gesteentes, byvoorbeeld in die Sishen-gebied in die Noord-Kaap.

  1. Wat is die formule vir yster(III)oksied? [1 punt]


  2. Hoe beland yster in sedimentêre gesteentes? [3 punte]




  3. Hoekom is hermatiet 'n belangrike mineraal? [1 punt]


  1. (Fe2O3)

  2. Sedimentêre hematietkristalle vorm wanneer verdampende oseane ysterneerslae in die sedimentêre lae agterlaat. Die yster kombineer dan met suurstofmolekules wat deur die proses van fotosintese gevorm word. Aanvaar ook 'n antwoord waar leerders 'n deel van die rotssiklus verduidelik, van magma tot sedimentêre gesteentes.

  3. Yster word gebruik om staal, vlekvrye staal, motors [enige geskikte toepassing] te maak.

Totaal [32 punte]