Lewe en Lewende Dinge Woordelys

  • aanpas: om te verander, geskik vir nuwe omstandighede

  • abioties: nie-lewend; sonder lewe

  • antibioties: 'n verbinding, wat soms deur mikroörganismes vervaardig word, wat die groei van bakterieë vertraag, of hulle doodmaak

  • bakterieë: mikroskopiese organismes sonder 'n ware kern wat in staat is om vele habitatte te bewoon (in lug, water, grond en die liggame van ander organismes)

  • bedreig: organismes wat gevaar staan om uit te sterf

  • bevolking (populasie): 'n groep organismes wat aan dieselfde spesie behoort, wat op 'n spesifieke tydstip in 'n sekere gebied saamwoon en daar kan voortplant

  • bevolkings-ekologie: die studie wat die oorsake van die groei of vermindering van die getalle van 'n spesie bestudeer

  • biosfeer: die deel van die aarde wat lewe kan onderhou

  • bioties: die term wat gebruik word om die lewende organismes in ekosisteme te beskryf

  • chemiese potensiële energie:: energie wat in die vorm van chemiese verbindings gestoor word

  • chlorofil: 'n groen pigment wat in sekere plante en sommige bakterieë teenwoordig is wat in staat is om stralingsenergie van die son vas te vang vir gebruik in fotosintese

  • chloroplast: 'n organel in groen plantselle wat chlorofil bevat; die struktuur waarin fotosintese in groen plantselle plaasvind

  • ekologie: die vertakking van biologie (lewenswetenskappe) wat die interaksies van organismes met mekaar, en met hul fisiese en chemiese omgewing, bestudeer

  • ekoloog: 'n wetenskaplike wat die onderlinge interaksies tussen organismes met mekaar en met hul omgewing bestudeer

  • ekosisteem: 'n gebied waarin die organismes van 'n gemeenskap met mekaar en met die fisiese omgewing wisselwerking het en van mekaar afhanklik is

  • energie-piramide: 'n driehoekige voorstelling van 'n voedselketting met die produseerders aan die basis en die verbruikers hoër op

  • fermentasie: die chemiese afbreek van stowwe (deur mikroörganismes soos bakterieë en giste) in die afwesigheid van suurstof met die vorming van koolstofdioksied en alkohol, en die vrystelling van energie

  • fiksasie (binding): die proses wanneer stikstof en koolstof vanaf hul anorganiese vorm in biologiese produkte geassimileer word, dit vind plaas tydens stikstofbinding (-fiksasie) deur bakterieë, en koolstofbinding tydens fotosintese

  • fotosintese: die proses in groen plante waartydens groen plante en sekere bakterieë stralingsenergie vanaf die son en water gebruik om glukose en suurstof te produseer

  • fungi: die koninkryk van organismes, wat muwwe, giste en sampioene insluit, wat nie chlorofil bevat nie, spore produseer en op organiese materie voed

  • gemeenskap: al die diere, plante en mirkoörganismes wat op 'n spesifieke tydstip in 'n spesifieke gebied saamwoon, met onderlinge interaksie tussen die organismes

  • glukose: 'n soort suiker wat tydens fotosintese geproduseer word

  • habitat: 'n spesifieke tipe omgewing waarin 'n organisme kan lewe

  • herbivoor: 'n dier wat hoofsaaklik plant-materiaal eet

  • hiberneer: instinktiewe gedrag van sommige diere waartydens hulle in 'n onaktiewe (dormante) staat verkeer om ongunstige toestande te oorleef (byvoorbeeld koue winters of voedseltekorte)

  • immuunstelsel: die stelsel wat die liggaam van diere beskerm teen infeksies, siektes en vreemde stowwe

  • infekteer / aansteek: 'n mikroörganisme wat die liggaam binnedring en vermeerder, wat die liggaam siek maak en skade kan aanrig

  • insektivoor: diere wat op insekte en ander klein ongewerweldes, soos wurms, voed

  • instink: 'n gedragspatroon wat biologies gedryf word deurdat dit nie willekeurige denke nodig het nie

  • interaksie / wisselwerking: om 'n uitwerking of effek op iemand of iets anders te hê deur baie nou saam te woon of te werk

  • kalkwater: 'n oplossing van kalsiumhidroksied in water wat melkerig-wit word in die teenwoordigheid van koolstofdioksied

  • kamoefleer: 'n aanpassing wat dit moontlik vir diere om met hul omgewing te kan saamsmelt, hoofsaaklik sodat hulle nie deur ander diere gesien kan word nie

  • karnivoor: 'n dier wat hoofsaaklik dieremateriaal eet

  • kontamineer: ongewenste afvalstowwe wat 'n area besmet of besoedel waar dit skade kan aanrig, byvoorbeeld riool wat in 'n rivier beland en bakterieë wat 'n wond binnegaan

  • koors: gevaarlike hoë liggaamstemperatuur

  • migrasie: seisoenale bewegings van diere van een plek na 'n ander en (op 'n latere stadium) weer terug na die oorspronklike gebied

  • migreer: om van een gebied of habitat na 'n ander te beweeg, gewoonlik volgens seisoene

  • mimikrie: 'n aanpassing waar diere mekaar naboots (kopieër) wat gedrag of voorkoms betref

  • nagdier: 'n dier wat in die nag aktief is

  • omnivoor: 'n dier wat beide plant- en dieremateriaal eet

  • onoplosbaar: stowwe wat nie in 'n vloeistof kan oplos nie

  • ontbinders: organismes wat organiese materiaal, insluitende die oorblyfsels van dooie plant- en dieremateriaal, afbreek (ontbind) en terselfdertyd nuttige soute in die grond terugplaas, gewoonlik bakterieë en fungi

  • oorgedra: om te veroorsaak dat iets van een individu na 'n ander aangegee word, byvoorbeeld patogene mikroörganismes wat van een persoon na 'n ander beweeg

  • oplosbaar::stowwe wat in 'n vloeistof kan oplos

  • patogeen: 'n mikroörganisme wat siekte veroorsaak

  • perk: die limiet wat geplaas word op die grootte of hoeveelheid van iets wat beskikbaar of moontlik is

  • peulplante: 'n groep plante (insluitende lensies, ertjies, boontjies en grondbone) wat sade in 'n peul vorm

  • pigment: 'n molekule wat sekere golflengtes lig absorbeer en ander terugkaats om 'n kleur te produseer

  • predator: 'n dier wat ander diere as prooi vang en vir voedsel eet

  • primêre verbruikers: 'n organisme wat hoofsaaklik plantmateriaal as voedsel eet

  • produseerder: 'n organisme wat in staat is om sy eie voedsel te vervaardig, byvoorbeeld alle groen plante

  • protist: 'n lid van 'n diverse groep mikroörganismes wat nie virusse, bakterieë of fungi is nie; sommiges is dieragtig, soos die protozoa, ander is plantagtig, soos alge, of swamagtig, soos die slymswamme

  • respirasie: die proses waartydens energie uit die glukose van voedsel vrygestel word tydens 'n reeks chemiese reaksies; suurstof word gebruik en koolstofdioksied en water vrygestel

  • sekondêre verbruiker: 'n organisme wat herbivore of primêre verbruikers eet

  • siekte: 'n abnormale toestand van 'n organisme wat normale funksionering belemmer; by soogdiere sluit dit dikwels pyn, swakheid, koors en ander simptome in en kan die dood van die organisme veroorsaak

  • spesie: 'n groep organismes wat volgens gemeenskaplike kenmerke geklassifiseer word en wat onderling kan teel en vrugbare nakomelinge produseer

  • stikstof: 'n belangrike element wat deel vorm van proteïene in alle lewende organismes

  • stralingsenergie: energie wat lig- en ander vorms van bestraling bevat

  • stysel: 'n stof wat bestaan uit lang kettings glukosemolekules wat aanmekaar geskakel word; plante stoor die glukose wat tydens fotosintese gevorm word in hierdie komplekse vorm omdat dit nie oplosbaar is nie

  • terrestriële omgewing: 'n omgewing op droë grond

  • tersiêre verbruiker: 'n organisme wat sekondêre verbruikers eet; 'n karnivoor op die hoogste vlak van die voeselketting wat op ander karnivore voed

  • trofiese vlak: 'n voedingsvlak in 'n voedselketting of -piramide; alle organismes op dieselfde trofiese vlak verkry hul energie op 'n soortgelyke wyse

  • uitgesterf: 'n organisme wat nie meer bestaan nie, alle lede van die spesie is dood

  • verbruiker: 'n organisme wat nie sy eie voedsel kan produseer nie en daarom ander organismes as voedsel eet; ook genoem 'n heterotroof; byvoorbeeld alle diere en fungi

  • virus: 'n klein infektiewe agens wat gewoonlik siektes veroorsaak

  • voedselketting: 'n reeks van organismes wat aanmekaar geskakel word deur pyle, wat die rigting aantoon waarin die energie in voedsel van een organisme na die volgende vloei

  • voedselweb: 'n aantal voedselkettings wat ineengeskakel word om die organismes in 'n gebied se verskillende voedselbronne te illustreer