Planeet Aarde en die Ruimte Woordelys

  • aardplaneet (terrestriale planeet): 'n planeet met 'n rotsagtige oppervlak soos die Aarde s'n; die vier binneplanete in die sonnestelsel is aardplanete

  • Alpha Centauri: ons tweede naaste maklik sigbare ster na die Son; dit is in werkliheid twee sterre wat baie naby mekaar wentel

  • antenna: die skottel of ander toestel wat in 'n radioteleskoop gebruik word om radiogolwe op te vang

  • asteroïed: 'n klein, rotsagtige voorwerp wat om die Son wentel

  • asteroïedgordel: die gebied waar die meeste asteroïede in ons sonnestelsel voorkom; dit lê tussen die wentelbane van Mars en Jupiter

  • astronomiese eenheid(AE): die gemiddelde afstand tussen die Aarde en die Son; dit is gelyk aan sowat 150 miljoen kilometer

  • bewoonbare sone: die gebied rondom 'n ster waar water sy vloeibare vorm kan behou

  • dwergplaneet: 'n groot, ruweg sferiese voorwerp wat om 'n ster wentel en wat nie as 'n planeet geklassifiseer kan word nie, omdat dit nie groot genoeg is om ander voorwerpe uit sy wentelbaan te stoot nie

  • filament (superswermkompleks): 'n draadagtige struktuur in die ruimte wat sterrestelsels en sterrestelselgroepe en -swerms bevat

  • fotosintese: die proses waartydens groen plante en party ander organismes sonlig gebruik om voedsel uit koolstofdioksied en water te vervaardig, terwyl suurstof as neweproduk vrygestel word

  • galaktiese bult: 'n sferoïdale (rugbybalvormige) verspreiding van ou sterre in die middel van 'n sterrestelsel

  • galaktiese groep: 'n versameling van sowat 50 of minder sterrestelsels wat deur gravitasie (swaartekrag) bymekaargehou word

  • galaktiese skyf: die plat verspreiding van sterre, gas en stof in 'n sterrestelsel

  • galaktiese swerm: 'n versameling van 50 of meer sterrestelsels wat deur gravitasie (swaartekrag) bymekaargehou word

  • gasreus: 'n groot planeet wat hoofsaaklik uit gas bestaan met geen soliede oppervlak nie; die vier buiteplanete in die sonnestelsel is gasreuse

  • heelal: alles wat bestaan, insluitend alle planete, sterre, sterrestelsels, die ruimte tussen voorwerpe en alle materie en energie

  • hemelruim: geposisioneer in of met betrekking tot die lug, of die buitenste ruimte soos in sterrekunde waargeneem

  • kernversmelting (kernfusie): die proses waardeur sterre hulle energie opwek; ligte atoomkerne kom saam en versmelt om swaarder atoomkerne te vorm en stel energie in die proses vry; in die Son versmelt waterstofkerne met ander waterstofkerne om swaarder heliumkerne te vorm

  • kleurfout (chromatiese aberrasie): 'n optiese effek waar verskillende kleure lig in verskillende mate gebreek word in 'n lens; dit lei tot 'n verwronge beeld

  • komeet: 'n klein voorwerp bestaande uit ys en stof wat soms die binneste sonnestelsel binnedring; wanneer dit gebeur, verdamp 'n deel daarvan om 'n lang stert van ys en stof te vorm wat weg van die Son wys

  • konstellasie: 'n groep sterre wat 'n patroon in die lug vorm as dit vanaf die Aarde waargeneem word

  • konveksie: een van drie maniere om hitte-energie te gelei (die ander twee is konduksie en straling); soos 'n vloeistof of 'n gas verhit word, word dit minder dig en styg; terselfdertyd sink digter, kouer materiaal; dit skep 'n stroom van bewegende vloeistof of gas wat energie saam daarmee gelei

  • Kuipergordel: 'n gebied in die verste uiterstes van die sonnestelsel, verder weg as Neptunus se wentelbaan, gevul met triljoene klein voorwerpe

  • Kuipergordelvoorwerp: 'n klein ysvoorwerp wat verder weg as Neptunus se wentelbaan om die Son wentel

  • ligjaar: die afstand wat lig in een jaar aflê

  • ligminuut: die afstand wat lig in een minuut aflê

  • liguur: die afstand wat lig in een uur aflê

  • ontvangtoestel (ontvanger): 'n toestel wat radiogolfseine opspoor

  • Oortwolk: 'n hipotetiese groot wolk ysvoorwerpe (komete) rondom die Son aan die rand van ons sonnestelsel; dit is tussen 5 000 en 100 000 keer die afstand tussen die Aarde en die Son

  • primêre spieël: die spieël in 'n optiese teleskoop wat die lig opvang

  • Proxima Centauri: ons tweede naaste ster na die Son

  • SALT: die Suider-Afrikaanse Groot Teleskoop, die grootste ligteleskoop in die Suidelike Halfrond

  • SKA: Square Kilometer Array, ofte wel die Vierkantkilometeroprigting, die grootste beplande radioteleskoop in die wêreld

  • sonnestelsel: die Son en die groep planete en kleiner voorwerpe wat daarom wentel

  • sonvlek: 'n donker gebied of kol wat van tyd tot tyd op die oppervlak van die Son verskyn; sonvlekke is koeler as die res van die Son se oppervlak

  • sonwind: die aanhoudende vloei van gelaaide partikels vanaf die Son tot in die uiterstes van die sonnestel

  • spiraalarm: 'n gebied van sterre, gas en stof met 'n gekromde vorm wat uit die middel van 'n spiraalvormige sterrestelsel tol

  • ster: 'n groot bal brandende gas wat energie in die vorm van lig en hitte uitstraal

  • sterreleer: mitiese verhale oor die sterre, planete en konstellasies

  • sterrestelsel (galaksie): 'n versameling van miljoene of miljarde sterre, gas en stof wat deur swaartekrag bymekaargehou word

  • teleskoop: 'n instrument waarmee gekyk word na veraf voorwerpe en wat hulle helderder, groter en duideliker laat lyk. Party teleskope gebruik sigbare lig (optiese teleskope) en ander gebruik radiogolwe (radioteleskope)

  • vakuum: 'n groot, leë borrel in die ruimte wat tussen filamente voorkom

  • versterker: 'n toestel wat radiogolfseine versterk