Sure, basisse en neutrale stowwe

Hoofstuk oorsig

2 weke

Hierdie is die eerste keer dat leerders met sure en basisse kennis maak. Die benadering is om by die bekende te begin, en die onderwerp bekend te stel met behulp van leerders se ervaring met alledaagse sure en basisse. Ons sal ook eerste kyk na hoe ons sure en basisse in kos ervaar. Ons sal dan kyk na sure en basisse in die laboratorium, en die basiese eienskappe van sure, basisse en neutrale stowwe. Leerders sal weer na sure en basisse in meer detail in Gr. 9 kyk, wat ook die pH skaal en die reaksies van sure en basisse insluit,

3.1 Smake van stowwe (1 uur)

Take

Vaardighede

Aanbeveling

Aktiwiteit: Kyk na jou eie tong

Waarneming, vergelyking

Voorgestelde

3.2 Eienskappe van sure, basisse en neutrale stowwe (2 ure)

Take

Vaardighede

Aanbeveling

Aktiwiteit: Waar of vals?

Opspoor en herroep van inligting

Voorgestelde

Aktiwiteit: Sure en basisse in ons huise

Opspoor en herroep van inligting, waarneming, vergelyking, sortering en klassifisering

CAPS voorgestelde

3.3 Suur-basisindikators (3 ure)

Take

Vaardighede

Aanbeveling

Aktiwiteit: Bereiding en toetsing van rooikoolsap met suur en basis

Navolging van instruksies, praktiese vaardighede, waarneming, vergelyking

Voorgestelde

Aktiwiteit: Die maak van rooikoolindikator papier.

Navolging van instruksies, praktiese vaardighede

Opsioneel

Ondersoek: Hoe reageer lakmoes met sure en basisse?

Hipotetisering, doen van ondersoek, neerskryf van inligting, vergelyking, interpretering van inligting

CAPS voorgestelde

Ondersoek: Is rooikoolpapier geskik as 'n suur-basisindikator?

Ondersoek doen, inligting neerskryf, interpretering van inligting

Opsioneel

  • Watter smake kan ons met ons tonge waarneem?
  • Hoe verseker ons smaaksintuig ons oorlewing?
  • Wat is die unieke eienskappe van:
    • sure;
    • basisse; en
    • neutrale stowwe?
  • Watter huishoudelike stowwe is (of bevat):
    • sure;
    • basisse;
    • neutrale stowwe?
  • Hoe kan ons weet of iets 'n suur, 'n basis of 'n neutrale stof is?

Wat weet jy van sure? Sal jy aan 'n suur raak? Het jy al ooit 'n suur geproe? Dink jy dit is moontlik om 'n suur te proe sonder om jou tong te brand? Hoe dink jy sal dit voel wanneer 'n suur jou tong brand?

Voordat ons meer oor sure praat, laat ons eers die menslike tong beskou. Dit is 'n besonder interessante orgaan, wat 'n belangrike rol in ons ervaring van smaak speel.

Proe van stowwe

  • geur
  • sin
  • smaakknoppies
  • chemoreseptor
  • souterig
  • instink
  • tongkaart

Wat is jou gunsteling kos? Waarvan hou jy die meeste in jou gunsteling kos? Jy sal waarkskynlik sê dat jy net MAL is oor die smaak daarvan! Die smaak van ons gunsteling kos laat ons goed voel. Hoe proe ons ons kos?

Ons proe kos met behulp van klein strukture op ons tonge!

Kyk in die spieël en steek jou tong uit. Soek na klein, ronde knoppies. Hierdie word papillae genoem. Meeste van hulle bevat smaakknoppies. Die smaakknoppies is baie klein strukture wat sensitiewe hare het. Die chemikalieë in die kos wat jy eet los in jou speeksel op en gaan in oplossing. Hierdie chemikalieë stimuleer die fyn haartjies binne-in die smaakknoppies en skakel hierdie seine in impulse om. Hierdie impulse word na die brein gestuur, wat ons toelaat om die sensasie van smaak te ervaar.

Insekte het die mees ontwikkelde smaaksintuie. Hulle het smaakorgane op hulle voete,antennae, en monddele.

Leerders sal die senustelsel in meer detail in Gr. 9 Lewe en Lewende Dinge bestudeer, asook in Lewenswetenskappe indien hulle met hierdie vak in Gr.10 voortgaan. Vir die oomblik is hierdie slegs interessante inligting van hoe ons kos proe en onderskei tussen verskillende smake.

Ons het meer as 10 000 smaakknoppies in ons mond. Jy het selfs smaakknoppies op jou verhemelte.

Kyk na jou eie tong

Leerders kan die volgende aktiwiteit as huiswerk doen. Alternatiewelik, indien daar spieëls in die klaskamer beskikbaar is, kan leerders na hul eie tonge in die klas kyk. Indien dit in die klas gedoen word, probeer om 'n paar suurlemoene klas toe te bring sodat leerders daaraan kan proe en dan hul ervarings kan beskryf.

MATERIALE:

  • spieël
  • potlood
  • suikerwater
  • suurlemoensap

INSTRUKSIES:

  1. Kyk in die spieël na jou tong.
  2. Steek dit sover as jy kan uit en probeer om die papillae te sien. Is hulle in sekere gebiede groter?

Het jy al vantevore 'n suurlemoen geproe?

Maak jou oë toe en verbeel jou dat jy in 'n suurlemoenskyf in byt. Kan jy dié ervaring beskryf? Waarna proe die suurlemoen? Soet, suur, souterig of bitter?


Suur

Indien 'n suikeroplossing en suurlemoensap in die klas beskikbaar is, proe aan hierdie twee stowwe. Kyk of jy kan identifiseer waarop jou tong, en of jy die twee verskillende smake kan identifiseer.

Jou tong kan slegs vier geure waarneem

Jy kan selgs vier verskillende smake met jou tong waarneem. Kan jy hulle noem?


Soet, suur, bitter en souterig.

Die tongkaart.

Die vier hoofsmake wat die mees algemeen is, is soet, suur, souterig en bitter. Hierdie smake kombineer om die verskillende geure van ons kos te vorm.

'n Geur is 'n kombinasie van smake en reuke.

Hoe sal jy die smaak van appels klassifiseer? Soet en suur? Miskien 'n kombinasie?
Baie mense geniet die suur-souterige smaak van sout en asyn aartappelskyfies!

Daar is 'n goeie rede waarom ons van sekere smake en nie van ander hou nie.

Ons smaaksintuig beskerm ons

Net soos ons van kos wat lekker smaak hou en dit spesifiek uitsoek, is ons liggame ook geprogrammeer om kos met sterk bitter en suur smake te vermy. Dit help om ons teen gifstowwe, wat dikwels 'n bitter smaak het, te beskerm. 'Bitter' is ook die basiese smaak waarvoor ons tonge die mees sensitief is. Kos wat sleg geword het proe dikwels suur en mag ook 'n slegte reuk hê. Ons instink sal wees om dit te vermy, wat ons sal beskerm teen siektes veroorsaak deur die inneem van die organismes wat ons kos laat bederf het.

Amandelneute kan soet of bitter wees, afhangende van die tipe boom waarvan hulle af kom. Die soet amandels (wat ons eet) bevat nie giftige chemikalieë nie. Bitter amandels vanaf 'n ander boomspesie bevat chemikalieë wat vir mense giftig is.

Soet amandels, soos hierdie, is eetbaar, en anders as die wilde bitter amandels, bevat nie giftige chemikalieë nie.
http://www.flickr.com/photos/michaelsgalpert/3681442211/in/photostream/
Kakaobone kom vanaf kakaopeule. Sjokolade word vanaf kakao gemaak, maar kakao is baie bitter. Baie suiker word by sjokolade gevoeg om dit soet te maak! http://www.flickr.com/photos/michaelsgalpert/3681442211/in/photostream/

Die verband tussen die tong en chemiese stowwe sal gou duidelik word.

Eienskappe van sure, basisse en neutrale stowwwe

  • korrosief
  • suur
  • chemiese formule
  • essensieel
  • immuunstelsel

Wanneer ons wil sê dat iets die eienskappe van 'n suur het, gebruik on die byvoeglike naamwoord suur. Wanneer ons wil sê dat iets die eienskappe van 'n basis het, gebruik on die byvoeglike naamwoord basiese.

In die vorige afdeling moes jy jou verbeel hoe dit sou voel wanneer 'n suur jou tong brand. In die volgende afdeling gaan ons meer van sure leer. Ons sal leer dat hulle suur proe (en ook waarom dit nie 'n goeie idee is om hulle te proe nie!).

Ons sal ook leer van ander stowwe wat 'n spesiale verhouding met sure het. Hulle word basisse genoem. Laastens sal ons ook leer van stowwe wat nie sure of basisse is nie, maar neutrale stowwe is.

Sure

  • askorbiensuur
  • sitroensuur
  • mieresuur

Ken jy die name van enige sure? Dink hieroor as 'n klas en maak 'n lys van al die name van sure waarvan jy al gehoor het.


Hierdie kan op die bord gedoen word, en die leerders kan vir hulle antwoorde gevra word om neer te skryf. Sommige voorbeelde mag wees: asyn (wat asynsuur bevat), sitroensuur (wat in sitrusvrugte soos suurlemoene, lemoene en pomelos gevind word), askorbiensuur (ook bekend as Vitamien C, wat voorkom in tablette, kapsules of kou lekkergoed, en ook natuurlik voorkom in sitrusvrugte, tamaties, aarbeie), tartaarsure, ens).

Daar is baie verskillende sure. Jy mag alreeds 'n suur in die klas geproe het. Was dit die suikerwater of the suurlemoensap?

Vra die volgende vrae aan die leerders. Die antwoorde is: Die suurlemoensap bevat 'n suur. Die suurlemoensap was suur. Moedig leerders aan om in hulle werkboeke te skryf, en notas in die kantlyne en leë spasies te maak! Hulle moet nie huiwer om notas te neem tydens die klas terwyl die die konsepte verduidelik en bespreek word nie. Die neem van notas is 'n baie belangrike vaardigheid om aan te leer.

Hou jy van suurlekkergoed soo suurwurms? Die suur smaak kom vanaf fumaarsuur. Fumaarsuur is 'n natuurlike suur met 'n suursmaak, wat dikwels by kos gevoeg word.
Die sap van suurlemoene is ryk aan askorbiensuur (vitamien C) en sitroensuur, wat hulle suur laat smaak.

Alle sure smaak suur. Beteken dit dat alle sure veilig is om te proe? Definitief NIE! Vervolgens sal ons leer watter sure nie onder enige omstandighede aan geproe moet word nie.

Die Engelse woord 'acid' kom vanaf die Latynse woordacidus, wat 'suur' beteken.

Laboratoriumsuur

http://www.flickr.com/photos/maticulous/2552655853/
Gekonsentreerde soutsuur is baie korrosief en gevaarlik. http://www.flickr.com/photos/maticulous/2552655853/

Sommige sure is baie gevaarlik en moet baie versigtig hanteer word. Hierdie sure is korrosief. Hulle kan ernstige brandwonde op jou vel veroorsaak. Wetenskaplike dra altyd beskermende klere wanneer hulle hierdie sure hanteer. Dit sal baie gevaarlik wees om hulle te proe. Hierdie sure word mees dikwels gevind en gebruik in laboratoriums en sekere industriële prosesse. Ons sal na hulle as laboratoriumsure verwys.

http://www.flickr.com/photos/rdecom/4968163345/
Hierdie wetenskaplike is besig om 'n suur te hanteer, Kan jy sien dat hy beskermende klere, handskoene en 'n veiligheidsbril dra. http://www.flickr.com/photos/rdecom/4968163345/

Wees op die uitkyk vir hierdie etiket op bottels wat korrosiewe stowwe, soos sterk sure, bevat.

Die volgende tabel bevat die name en chemiese formules van die drie mees algemene laboratoriumsure. Al het jy nog nie geleer hoe om chemiese formules te skryf nie, het ons hulle hier ingesluit. Jy moet houers waarop hierdie formules is baie versigtig hanteer.

Leerders sal chemiese formules eers in Gr.9 Materie en Materiale in detail bestudeer. Hierdie is egter 'n goeie geleentheid om hierdie konsep aan hulle bekend te stel, veral sodat die leerders daartoe in staat sal wees om gevaarlike chemiese stowwe uit te ken.

Die chemiese formule van 'n stof vertel ons watter elemente dit bevat.

Naam van die suur

Formule van die suur

soutsuur

HCl

salpetersuur

HNO3

swaelsuur

H2SO4

Daar is baie ander laboratoriumsure wat ons nie gelys het nie.

Jy het 'n laboratoriumsuur binne-in jou liggaam?! Jou maag bevat soutsuur (HCl). HCl help om die kos af te breek vir vertering. Jou maag het 'n baie slymerige bolaag wat help om dit teen die sterk suur te beskerm.

Ander sure in die kos wat ons eet is nie gevaarlik nie. Sommige is selfs noodsaaklik vir ons gesondheid en welstand. Kom ons kyk nou na sure wat veilig is om te hanteer.

Natuurlike en huishoudelike sure

Nie alle sure is gevaarlik nie. Een so suur is askorbiensuur, of vitamien C. Vitamien C help ons immuunstelsel. Watter kossoorte bevat vitamien C? Kyk na die prentjies.

Meeste mense assosieer lemoene met 'n hoë vitamien C inhoud, maar daar is ander kossoorte wat 'n baie hoër vitamien C inhoud het. Hierdie sluit in brandrissies, koejawels, aarbeie, rissies, broccoli, kiwi vrugte en papajas.

http://www.flickr.com/photos/dan4th/5317566258/
Kiwi vrug http://www.flickr.com/photos/dan4th/5317566258/
Aarbeie.

http://commons.wikimedia.org/wiki/File:Brocolli\_\%284700583979\%29.jpg
Broccoli. http://commons.wikimedia.org/wiki/File:Brocolli_%284700583979%29.jpg
Rissies.

As jy nie genoeg vitamien C in jou diëet kry nie, mag jy van die volgende simptome ervaar: jy mag maklik moeg word, maklik kneus, bloeiende tandvleis hê, droë vel en hare kry, en buierig word en gewig verloor. Hierdie is almal simptome van 'n verswakte immuunstelsel.

Ons sal die sure wat ons in kos vind natuurlike sure noem. Baie van hierdie sure word in die kombuis gevind. Om hierdie rede word hulle ook soms huishoudelike sure genoem.

Een baie bekende huishoudelike suur is asynsuur. Asyn is 'n mengsel wat bestaan uit 'n klein hoeveelheid asynsuur opgelos in water. Asyn is dus on oplossing van asynsuur in water.

Asyn en balsamiese asyn

Hierdie is 'n goeie plek om kortliks die konsepte wat in Gr.6 oor oplossings en mengsels geleer is, te hersien, en om na Hoofstuk 2 (oor die skeiding van mengels) terug te verwys.

Dit is mieresuur wat miere se byt laat brand. Die Engelse naam vir hierdie suur (formic acid) kom vanaf die Latynse woord vir mier - 'formica'.

Waar of vals?

INSTRUKSIES:

  • Kom ons hersien kortliks sommige van die konsepte wat ons sover geleer het.
  • Hieronder is 'n aantal stellings. Jy moet sê of hulle waar of vals is. As hulle vals is, moet jy verduidelik hoekom.

Waar of vals?

Ons kan drie smake met ons tong waarneem.


Vals. Ons kan vier smake waarneem, naamlik souterig, soet, suur en bitter.

Suur proe suur.


Waar

As ons wil weet of iets 'n suur is, kan ons dit net proe.


Vals. Nie alle sure is veilig om te proe nie, byvoorbeeld laboratoriumsure.

Alle sure is gevaarlik.


Vals. Daar is baie huishoudelike sure wat nie gevaarlik is nie, byvoorbeeld asynsuur en sure wat in kos voorkom.

Asyn is 'n mengsel van 'n klein hoeveelheid asynsuur wat in water opgelos is.


Waar.

Laboratoriumsure moet versigtig hanteer word en beskermende klere moet gebruik word.


Waar

Die volgende simbool beteken dat jy jou hande met hierdie stof kan was.


Vals. Hierdie simbool beteken dat hierdie stof korrosief is - dit is 'n waarskuwing.

Mieresuur word gewoonlik na verwys as Vitamien C.


Vals. Askorbiensuur word gewoonlik na verwys as Vitamien C.

Lemoene is die kossoort wat die meeste askorbiensuur bevat.


Vals. Daar is baie ander kossoorte wat meer askorbiensuur (Vitamien C)bevat, byvoorbeeld aarbeie en brandrissies.

Baie van die gaskoeldranke wat ons drink bevat koolsuur.

Dink jy dat dit moontlik kan wees vir 'n suur om swakker te word? Daar is een klas van verbindings wat kan maak dat sure swakker kan word. Hierdie tipe verbindings word basisse genoem.

Basisse

  • basis
  • neutrale stof
  • neutraliseer
  • alkali

Basisse kan sure neutraliseer, en andersom. Wat beteken dit om iets te neutraliseer?



Op hierdie vlak kan leerders aan neutralisasie dink as 'n proses waarin iets kragtig (en potensieel skadelik) in iets skadeloos omskep word (of ten minste in iets minder skadelik). Later aan (in Gr. 9) sal hulle leer dat die korrekte wetenskaplike definisie van neutralisasie is: "die proses waarin 'n suur met 'n basis reageer om 'n sout en water te vorm". Dit is belangrik om daarop te let dat 'n neutralisasie reaksie nie noodwendig tot 'n neutrale oplossing lei nie.

Wanneer 'n suur en 'n basis in die korrekte verhouding saam gemeng word, sal hulle mekaar neutraliseer. Dit beteken dat die mengsel wat bestaan uit die suur en die basis iets word wat nie 'n suur of 'n basis is nie, maar neutraal is. In die proses sal beide die suur en die basis hulle unieke eienskappe verloor.

Basisse en sure het chemiese eienskappe wat die teenoorgestelde van mekaar is. Ons kan aan basisse dink as die chemiese teenoorgestelde van sure.

Soos met sure, is daar sommige basisse wat baie gevaarlik is. Dieselfde gevaarsimbool wat gebruik word om mense te waarsku teen gevaarlike sure, word ook vir hierdie basisse gebruik. Sterk basisse reageer korrosief met ander materiale en kan jou vel brand. Hulle moet versigtig hanteer word en altyd slegs wanneer beskermende klere, soos laboratoriumjasse, handskoene en veiligheidsbrille, gedra word.

http://commons.wikimedia.org/wiki/File:Sodium\_hydroxide\_solution.jpg
Natriumhidroksied is 'n sterk basis wat in laboratoriums gebruik word. Sien jy die geel korrosiewe waarskuwingssimbool? http://commons.wikimedia.org/wiki/File:Sodium_hydroxide_solution.jpg

Ander basisse is matig genoeg om as skoonmaakstowwe in en om die huis gebruik te word. Dit beteken egter nie dat hulle heeltemal skadeloos is nie. Dit beteken net dat hulle met ander stowwe gemeng is sodat hulle nie so baie korrosief is nie.

Sure en basisse in ons huise

Vir hierdie aktiwiteit moet leerders eers die produkte in die foto wat verskaf is identifiseer. Al hierdie huishoudelike produkte bevat basisse. Die volgende deel van die aktiwiteit is 'n demonstrasie wat vooraf voor in die klaskamer opgestel kan word. Instruksies en materiale vir die demonstrasie word hier beskryf:

MATERIALE:

  • vyf bakke
  • water
  • waspoeier
  • handy andy
  • koeksoda or bakpoeier
  • suurlemoensap
  • asyn
  • etikette vir elke bak, wat aandui watter produk in hulle is
  • 'n handdoek om hande mee droog te maak

INSTRUKSIES:

  1. Plaas die bakke in 'n ry op 'n tafel voor in die klas.
  2. Meng elkeen van die basisse (waspoeier, handy andy, bakpoeier) in afsonderlike bakke saam met 'n bietjie water.
  3. Gooi 'n bietjie suurlemoensap in 'n ander bak, en 'n bietjie asyn in die laaste bak.
  4. Plaas die bakke in 'n reguit lyn, sodat basisse en sure mekaar afwissel.
  5. Wanneer die leerders die tabel om die produkte te indentifiseer voltooi het, vra hulle om na vore te kom om hulle vingers in die bakke te sit om die verskillende stowwe te voel.
  6. Hulle moet oplet wat hulle voel, en moet hulle hande droogmaak tussen elke stof.
  7. Nadat hulle die verskil tussen sure en basisse gevoel het, kan die leerders na hulle lessenaars toe terug gaan om die aktiwiteit te voltooi.

As 'n uitbreiding kan leerders ook gevra word om die verskil tussen die droë poeier van die waspoeier en dieselfde poeier wanneer dit met water gemeng is, waar te neem. Basisse wat in water oplos word alkalieë.

Al die produkte in die prent hieronder bevat basisse. Watter van die produkte herken jy? Skryf hul name en waarvoor hulle gebruik word in die tabel neer.

'n Paar huishoudelike produkte wat basisse is.

Baie huishoudelike produkte (soos byvoorbeeld sekere appel-gegeurde sjampoes en skottelgoed opwasmiddels) bevat appel- of suurlemoengeursels as bymiddels. Dit is genoem dat sommige van hierdie produkte meer suur as basies mag wees. Maak seker dat al die produkte wat in die klas gebruik gaan word vooraf getoets is, om seker te maak dat al die basisse soos verwag word reageer.

Produk

Waarvoor word dit gebruik?

Produk

Waarvoor word dit gebruik?

Vlekverwyderaar (Vanish)

Die verwydering van vlekke vanaf klere

Windowlene

Vensters skoonmaak

Handy Andy

Oppervlakke skoonmaak (stoof, badkamer, kombuisoppervlaktes, ens.)

Bakpoeier

Bestanddeel in gebak

Koeksoda

Bestanddeel in gebak, ook 'n matige ontsmetmiddel

Bleikmiddel

Ontsmetting en die verwydering van vlekke

Skottelgoedseep

Was van skottelgoed,eetgery en breekgoed

Vervolgens sal jou onderwyser jou laat vorentoe kom om verskillende stowwe, wat òf sure òf basisse is, te voel. Al hierdie stowwe is veilig om aan te raak. Neem kennis van hoe hulle tussen jou vingers voel, en kom dan terug om die tabel in te vul.

Stof

Hoe het dit tussen jou vingers gevoel?

Is dit 'n suur of 'n basis?

Stof

Hoe het dit tussen jou vingers gevoel?

Is dit 'n suur of 'n basis?

Waspoeier

Glibberig

Basis

Suurlemoensap

Voel effens grof tussen die vingers

Suur

Handy andy/seep

Glibberig

Basis

Asyn

Laat 'n growwerige gevoel op die vel

Suur

Bakpoeier

Glibberig

Basis

Die basisse sal maklik wees om te beskryf aangesien hulle meestal redelik glibberig tussen die vingers voel.

VRAE:

Wat kan jy aflei oor hoe basisse voel?


Basisse voel glibberig.

Wat kan jy aflei oor hoe sure voel?


Oor die algemeen voel sure grof op die vel.

Wat moes jou onderwyser met die waspoeier doen voordat jy dit in die bak kon voel? Weet jy wat ons die oplossing noem wat ontstaan het? Indien wel, skryf dit neer, andersins sal jou onderwyser jou help.



Jou onderwyser moes water byvoeg om dit glibberig te maak. 'n Oplossing van 'n basis en water word 'n basiese oplossing genoem.

Alhoewel ons gesê het dat sure en basisse chemiese teenoorgesteldes is, watter eienskap het hulle in gemeen?



Baie sure en basisse is gevaarlik om aan te raak of aan te proe - hulle is korrosief.

Basisse wat in water kan oplos wordalkalieë genoem. As gevolg hiervan word die terme basis en alkali soms gesien as dat hulle dieselfde betekenis het. (Woorde wat dieselfde betekenis het word sinonieme genoem.)

Lasstens is daar 'n klas van stowwe wat nie sure of basisse is nie. Hulle word neutrale stowwe genoem. Ons sal hulle volgende ondersoek.

Neutrale stowwe

Ons het geleer dat wanneer 'n suur en 'n basis gemeng word (in die regte hoeveelhede), sal hulle mekaar neutraliseer. Dit beteken dat hulle saam na iets sal verander wat nie 'n suur of 'n basis is nie. Die suur en die basis sal dus beide hul kenmerkende eienskappe verloor. Die nuwe stof wat vanuit hierdie twee ontstaan, sal nie 'n suur of 'n basis wees nie. Ons noem dit 'n neutrale stof.

Sommige neutrale stowwe word gevorm wanneer 'n suur en 'n basis gemeng word en 'n neutralisasie-reaksie plaasvind. Ander stowwe is van die begin af neutraal. Hulle is dus nie produkte van 'n neutralisasie-reaksie nie. Die neutrale stowwe wat die bekendste is, is: water, tafelsout, suikeroplossing en kookolie.

Kookolie is 'n neutrale stof.

Ons het geleer van drie klasse van stowwe: sure, basisse en neutrale stowwe. Maar ons kan nie sê of 'n stof 'n suur, basis of neutrale stof is deur slegs daarna te kyk nie. Ons weet dat sure 'n suur smaak het, maar ons het ook geleer dat dit nooit 'n goeie idee is om aan chemikalieë te proe nie.

Kom ons verbeel ons dat ons 'n onbekende stof het. Dit is kleurloos, en lyk net soos water. Dit is ook reukloos. Daar is geen fisiese leidrade wat wys of dit suur, basies of neutraal is nie. Hoe kan ons vasstel watter een van die drie dit is?

Suur-basisindikators

  • indikator
  • lakmoes

Wat doen die flikkerligte (in Engels "indicators") op 'n motor?

Vra aan die leerders hierdie vraag om die betekenis van die Engelse woord "indicate" (wat om te wys of aan te dui beteken),en waarvan die woord indikator kom, te beklemtoon. Wanneer die flikkerligte ("indicators") van 'n motor aan gaan, wys hulle aan ander motoriste dat die bestuurder van die motor van plan is na regs of links te draai.

In Engels beteken "indicate" om te wys of aan te dui.

Sure en basisse kan die kleur van sommige stowwe verander. In die volgende aktiwiteit gaan ons 'n stof wat van kleur verander as ons dit met 'n suur of basis meng, ondersoek.

Hierdie webwerf het 'n lys van huishoudelike produkte wat ook van kleur sal verander as hulle met sure of basisse gemeng word. Maak seker dat jy jou ouers vra of jy mag eksperimenteer voordat jy begin! http://antoine.frostburg.edu/chem/senese/101/acidbase/faq/household-indicators.shtml

Dit is waargeneem dat sommige van die huishoudelike indikators wat in die lys hierbo verskyn nie baie effektief is nie, byvoorbeeld tee en beet. Sommuge is meer sensitief, insluitende kerriepoeier en borrie. As ander indikatore saam met die klas ondersoek word, toets eers 'n paar vooraf om seker te maak watter die beste resultate lewer. Hier volg 'n lys van ander natuurlik-voorkomende indikatore wat in die klas gebruik kan word:

Het jy al ooit rooikool geëet? Dit is nie net smaaklik nie, maar is ook baie gesond. Ons gaan sien hoe rooikoolsap verander wanneer ons dit met verskillende stowwe meng.

Video van rooikool en swart tee as indikators

Die voorbereiding en toetsing van rooikoolsap met 'n suur en basis

'n Rooikool sal vooraf gekoop moet word. Rooikool is gedurende die winter en lente beskikbaar. Een rooikool behoort genoeg ekstrak te verskaf vir 'n hele klas leerders. Die ekstrak kan in die klas berei word, of dit kan vooraf gemaak word, en die metode (die sny, kook en sif van die rooikool en rooikoolsap) kan dan aan die leerders gedemonstreer word sonder dat die kool in die klas gekook hoef te word.

As 'n rooikool nie beskikbaar is nie, kan sommige van die ander voedselsoorte wat in die voorafgaande lys genoem word en ook natuurlike indikators is, gebruik word. 'n Ander voorbeeld wat maklik is om te gebruik en te kry, is swart tee.

MATERIALE:

  • een groot rooikool
  • pot met water vir koking
  • warmplaat (of stoof)
  • sif
  • skerp mes
  • houer vir rooikoolsap (roomys- of groot jogurthouer sal goed werk)
  • wit bord
  • asyn
  • koeksoda-oplossing

INSTRUKSIES:

Bereiding van die koolsap:

  1. Sny die kool in dun snye, en plaas dit in the pot.
  1. Voeg net genoeg water by om die snye te bedek.
  2. Kook dit oor lae hitte vir ongeveer 30 minute, terwyl water bygevoeg word om die kool te bedek indien nodig.
  1. Verwyder die pot vanaf die hittebron en laat dit heeltemal afkoel.
  2. Skei die sap vanaf die koolsnye deur dit in die roomyshouer in te sif.
  1. As dit in 'n yskas gehou word sal die rooikoolsap omtrent 3 dae lank hou.

Toets die koolsapindikator

  1. Plaas drie goot druppels van die koolsap versigtig op'n gladde, wit oppervlak ('n wit bord of teël sal goed werk).
  2. Voeg 'n paar druppels asyn by een van die druppels koolsap. Wat sien jy?
  3. Voeg 'n paar druppels koeksoda-oplossing by een van die oorblywende druppels koolsap. Wat sien jy?
Rooikoolsap gemeng met koeksoda (links) en met asyn (regs). Die blou druppel bo is die ongemengde sap.

Hierdie twee videos is beide demonstrasies van die koolsapindikator eksperiment wat die klas sopas gedoen het en .

In hierdie demonstrasievideos word die rooikoolsap verkry deur dit te meng met water in 'n versapper, in plaas daarvan om dit te kook. Beide metodes is ewe effektief om die sap vanuit die koolblare te verkry.

In die volgende aktiwiteit gaan ons die rooikoolsap bewaar deur dit te absorbeer op filtreerpapier en dit dan te droog, sodat ons dit later kan gebruik.

Die maak van rooikoolindikatorpapier

Indien die tyd dit toelaat, kan hierdie indikatorstroke in die klas saam met die leerders gemaak word deur van die koolsap vanaf die vorige eksperiment gebruik te maak. Indien daar nie genoeg tyd is nie, doen dit self buite klastyd, en gaan dan met die leerders deur die betrokke stappe en verduidelik aan hulle hoe dit gedoen is. Indien dit nie in die klas gedoen is nie, kan leerders ook aangemoedig word om hierdie aktiwteit saam met hulle ouers by die huis te doen indien hulle oor die vermoë en hulpbronne beskik.

MATERIALE:

  • stukke absorberende papier
  • rooikoolsap vanaf die vorige aktiwiteit in 'n houer
  • skêr
  • houer

Filtreerpapier werk die beste, of papier wat vir die verf van waterkleure gebruik word (verkrygbaar vanaf skryfbehoefte of kuns toebehore winkels); koffiefiltreerpapier of selfs papierhanddoek sal ook werk. Die koolsap moet nie te verdun wees nie; jy kan dit konsentreer deur deur dit oor lae hitte vir 20 minute te verhit en dit dan toe te laat om af te koel.

INSTRUKSIES:

  1. Plaas die absorberende papier in die koolsap.

  2. Verwyder na 30 minute die papier en laat dit op 'n warm plek om droog te word.

Die papier kan ook met 'n haardroër gedroog word, maar moet dit nie in direkte sonlig laat nie.

  1. Wanneer die papier heeltemal uitgedroog is, sny dit in repe (ongeveer 1 cm wyd). Die repe kan vir 'n lang tyd bruikbaar bly indien hulle in 'n droë plek gestoor word.

Ons sal die rooikoolpapierstrokies later gebruik as deel van die ondersoek.

Sekere ander stowwe kan ook van kleur verander wanneer 'n suur of 'n basis by hulle gevoeg word. Die kleurverandering is 'n aanduiding dat hulle met 'n suur of basis gereageer het. Daarom noem ons hulle suur-basisindikators.

Die bekendste suur-basisindikator is 'n stof wat lakmoes. genoem word.

Blou en rooi lakmoespapier.

Lakmoes is 'n gekleurde stof wat vanaf die pigmente van 'n lewende organisme wat mos genoem word, kom. Pigmente is gekleurde stowwe wat in die natuur gevind word.

Lakmoes kom van die pigmente in die mos wat op baie verskillende plekke, maar veral op rotse, groei.

Lakmoesoplossing word gewoonlik in papier ingeweek, waarna die papier gedroog en in stroke, wat ons "lakmoespapier" noem, gesny word. Hierdie proses is soortgelyk aan dié vir die rooikoolpapier wat ons vroeër gemaak het. Lakmoespapier is beskikbaar in twee kleure: blou en rooi.

Hoe dui lakmoespapier aan of 'n stof 'n suur of 'n basis is? In die volgende aktiwiteit sal ons ondersoek hoe lakmoes reageer in die teenwoordigheid van sure en basisse.

Kleurvolle chemie met sure en basisse deur van huishoudelike produkte gebruik te maak (video)

Hoe reageer lakmoes in die teenwoordigheid van sure en basisse?

CAPS stel voor dat verskeie dranke getoets word om vas te stel of hulle sure, basisse of neutraal is. 'n Voorstel is om eers die ondersoek wat hier beskryf word te doen om vas te stel hoe lakmoes met sure en basisse reageer, en dan as daar tyd is as 'n uitbreiding hiervan die leerders te kry om verskillende dranke soos water, gewone tee, rooibos tee, lemoensap, melk, koffie en enige gaskoeldrank te toets om te sien of hulle sure, basisse of neutrale stowwe is.

DOEL: Om te bepaal hoe lakmoes reageer in die teenwoordigheid van 'n paar huishoudelike sure en basisse.

HIPOTESE: Wat is jou hipotese vir hierdie ondersoek?



Leerders sal waarskynlik nog nie weet hoe lakmoes met sure en basisse reageer nie, en dus mag hulle later moet terugkom om 'n nuwe hipotese te formuleer wanneer hulle hul gevolgtrekkings opskryf. Hulle moet nie aangemoedig word om na hierdie spasie terug te kom en dan die oorspronklike hipotese uit te krap en met 'n nuwe een, wat hulle weet waar is, te vervang nie. Hierdie is 'n belangrike konsep in wetenskaplike ondersoeke - 'n hipotese is 'n voorgestelde verduideliking, wat verder deur middel van die wetenskaplike metode getoets moet word. 'n Mens kan dan bepaal of die hipotese waar was (en dus aanvaar word), òf of dit vals is (en verwerp word), en daar dus 'n nuwe voorgestelde hipotese nodig is.

MATERIALE EN APPARAAT:

Dit is aan te beveel dat die houers duidelik gemerk word om seker te maak dat die leerders nie tussen die verskillende stowwe deurmekaar raak nie.

  • klein houers (proefbuise of jogurthouers) gevul met die volgende stowwe:
    • water
    • sodawater
    • asyn
    • suurlemoensap
    • suikerwater (1 eetlepel opgelos in 'n koppie water)
    • koeksoda (1 eetlepel opgelos in 'n koppie water)
    • Handy Andy (1 eetlepel opgelos in 'n koppie water)
    • aspirien (Disprin) (1 tablet opgelos in 2 eetlepels water)
    • skottelgoed opwasmiddel (1 teelepel opgelos in 'n koppie water)
    • enige ander stowwe wat algemeen in die huis gebruik word en wat nie gevaarlik is nie
  • lakmoespapier (blou en rooi)
  • glas- of plastiekstawe (plastiek teelepels sal ook goed werk).

METODE:

  1. Sny 'n klein stuk (1 cm lank) blou- asook 'n rooi lakmoesstrook vir elke stof wat jy gaan toets.
  2. Gebruik die plastiek teelepel of staaf om slegs 1 druppel water op die blou lakmoes te plaas. Doen dieselfde met 'n stuk rooi lakmoes.
  3. Het die blou lakmoes van kleur verander? Het die rooi lakmoes van kleur verander?
  4. Herhaal die prosedure vir die toetsing van al die stowwe wat aan jou gegee is. Jy moet die teelepel of staaf met water afspoel tussen elke toets.
  5. Hou al jou toetsstowwe, want jy gaan hulle later nodig hê vir 'n ander ondersoek.

RESULTATE EN WAARNEMINGS

Teken jou waarnemings in die tabel aan. As jy sommige van die stowwe nie gebruik het nie, trek hulle dood en skryf opskrifte vir jou stowwe in die leë rye.

Stof

Kleur met blou lakmoes

Kleur met rooi lakmoes

Water

Sodawater

Asyn

Suurlemoensap

Suikerwater

Koeksoda

Handy Andy

Aspirien

Skottelgoed opwasmiddel

ANALISE:

Kom ons kyk nou na ons waarnemings om te sien wat ons gevolgtrekking is.

Hoe wys die lakmoespapier wanneer die stof 'n suur is?



In 'n suur verander die blou lakmoes na rooi, en bly die rooi lakmoes rooi.

Watter van die stowwe wat jy getoets het is sure?



Afhangende van die stowwe wat jy gebruik, maar volgens dié wat hier gelys is, is die sure: sodawater, asyn, suurlemoensap, en aspirien.

Hoe wys die lakmoespapier wanneer die stof 'n basis is?



In 'n basis bly die blou lakmoes blou, en verander die rooi lakmoes na blou.

Watter van die stowwe wat jy getoets het is basisse?



Afhangende van die stowwe wat jy gebruik, maar volgens dié wat hier gelys is, is die basisse: koeksoda, handy andy, en skottelgoed opwasmiddel.

Hoe sal jy 'n neutrale stof beskryf?



Leerder-afhanklike antwoord.

Hoe wys die lakmoespapier dat 'n stof neutraal is?


Nie die rooi of die blou lakmoespapier sal van kleur verander wanneer 'n stof neutraal is nie.

Watter van die stowwe wat jy getoets het is neutraal?


Water en suikeroplossing.

Waarom dink jy moes jy die glasstaaf of teelepel tussen elke toets afspoel?



Jy het nodig om dit te doen om kontaminasie en vermenging van die stowwe te vermy, andersins mag daar byvoorbeeld 'n bietjie suur oorbly wanneer 'n basis getoets word, wat die lakmoespapier se kleur kan laat verander en 'n verkeerde resultaat vir die basis kan gee.

GEVOLGTREKKING:

Skryf 'n gevolgtrekking gebaseer op jou resultate gegrond op die oorspronklike doel van hierdie ondersoek.



'n Gevolgtrekking moet reageer op die doel en hipotese van die ondersoek. In hierdie geval was die doel om te bepaal hoe lakmoespapier reageer met sommige huishoudelike basisse en sure. 'n Gevolgtrekking is dus: In reaksie op sommige huishoudelike sure en basisse work rooi lakmoespapier blou in basisse en bly rooi in sure, en blou lakmoespapier word rooi in sure en bly blou in basisse. Beide rooi en blou lakmoespapier sal onderskeidelik rooi of blou bly in die teenwoordigheid van neutrale stowwe. Leerders kan sien of hulle hul hipotese behoort te aanvaar of verwerp.

Uitbreiding: As jy tyd in die klas saam met jou onderwyser het, gebruik jou kennis van hoe lakmoes met sure en basisse reageer om sommige van die dranke wat jy elke dag drink te toets. Jy kan lakmoespapier gebruik om aan te dui of die dranke soos gewone tee, rooibostee, lemoensap, melk, koffie en gaskoeldrank, basisse, sure of neutraal is. As jy dit doen, skryf jou bevindings hier neer:




Die eerste vyf minute van hierdie video () bevat 'n baie duidelike demonstrasie van sure en basisse met behulp van 'n universele indikator. Die hele video is meer as 'n uur lank en sluit 'n reeks chemiese eksperimente en demonstrasies in. Die demonstrasies is baie goed ontwerp en uitgevoer, en die video kan gebruik word as 'n baie handige hulpmiddel om baie chemiese konsepte in die klaskamer te illustreer, alhoewel slegs die eerste deel op hierdie hoofstuk betrekking het.

Ons kan die volgende omtrent lakmoes sê:

  • Blou lakmoes word gebruik om vir sure te toets:
    • sure verkleur blou lakmoes na rooi.
    • basisse en neutrale stowwe verander nie die kleur van blou lakmoes nie.
  • Rooi lakmoes word gebruik om vir basisse te toets:
    • basisse verkleur rooi lakmoes na blou.
    • sure en neutrale stowwe verander nie die kleur van rooi lakmoes nie.

Wat van die rooikoolpapier wat ons vroeër gemaak het? Kan hierdie papierstroke gebruik word om te bepaal of iets suur of basies is? Kom ons vind uit.

Is rooikoolpapier geskik as suur-basisindikator?

Hierdie is 'n opsionele uitbreidingsaktiwiteit.

DOEL: Om te bepaal of rooikool 'n geskikte suur-basisindikator is.

MATERIALE EN APPARAAT:

Leerders kan die gebergde stowwe van die lakmoes ondersoek wat hulle vroeër gedoen het gebruik. Vul die oplossings aan indien nodig.

  • klein houers met dieselfde stowwe as in die vorige ondersoek
  • rooikoolpapierstroke
  • glas- of plastiekstawe

METODE:

  1. Gebruik 'n klein strook rooikoolpapier (2 cm lank) vir elke stof wat jy gaan toets.
  2. Week 'n vars stuk papier in elk van die toetsoplossings. Verander die papier van kleur? Skryf die kleur van die papier in elkeen van die stowwe op die toepaslike plek in jou tabel neer.

RESULTATE EN WAARNEMINGS

Teken jou waarnemings in die tabel aan.

Stof

Kleur met rooikoolpapier

Water

Sodawater

Asyn

Suurlemoensap

Suikerwater

Koeksoda

Handy Andy

Aspirien

Skottelgoed opwasmiddel

VRAE:

Watter van die toetsstowwe is sure? (Bevestig met die resultate van die lakmoes ondersoek wat jy vroeër gedoen het.)



Leerder-afhanklike antwoord.

Na watter kleur het die rooikoolpapier verander in die toetsstowwe wat sure was?


Die rooikoolpapier behoort in 'n suur na 'n rooi-pienk kleur te verander.

Watter van die toetsstowwe is basisse? (Bevestig met die resultate van die lakmoes ondersoek wat jy vroeër gedoen het.)



Leerder-afhanklike antwoord.

Na watter kleur het die rooikoolpapier verander in die toetsstowwe wat basisse was?


Die rooikoolpapier behoort in 'n basis na 'n blou-groen kleur te verander.

Het die rooikoolpapier van kleur verander in al die stowwe? As daar stowwe was wat nie die kleur van die papier verander het nie, skryf hul name hieronder neer.


Leerder-afhanklike antwoord.

Is hierdie stowwe suur, basies of neutraal (kyk ook weer na jou lakmoes-toets resultate)?


Leerder-afhanklike antwoord.

Dink jy dat die rooikoolpapier 'n goeie suur-basisindikator is? Hoekom sê jy so?



Leerder-afhanklike antwoord. Hulle behoort op te let dat 'n goeie indikator iets is wat jou kan vertel of iets 'n suur of basis is deurdat dieselfde papier na verskillende verander afhangende van of dit in 'n suur of basis is.

Opsomming

  • Ons tonge kan 4 verskillende smake onderskei, naamlik soet, souterig, suur en bitter.
  • Ons smaaksintuig beskerm ons teen die eet van kossoorte wat skadelik is, en stimuleer ons om voedsame en energieryke kosse te eet.
  • Sure en basisse is chemiese teenoorgesteldes van mekaar.
  • Alhoewel dit nie 'n goeie idee is om chemikalië te proe nie, het sure 'n suur smaak en proe basisse bitter.
  • Wanneer hulle in oplossing in water is, voel sure grof en basisse glibberig.
  • Sommige sure en basisse is teenwoordig in kossoorte en huishoudelike produkte. Hierdie is relatief veilig om the hanteer. Ander is dikwels korrosief en moet slegs gehanteer word as jy beskermende klere dra.
  • Stowwe wat nie basisse of sure is nie, word neutrale stowwe genoem.
  • Wanneer 'n suur met 'n basis in die regte verhoudings (hoeveelhede) gemeng word, neutraliseer hulle mekaar. Dit beteken dat hulle hul sterkte as 'n suur of basis verloor.
  • Sommige stowwe verander van kleur wanneer hulle met 'n suur of 'n basis reageer. Hierdie stowwe word suur-basisindikators genoem. Een huishoudelike voorbeeld van 'n suur-basis indikator is rooikoolsap.
  • Lakmoes is die bekendste van alle suur-basisindikators. Dit verander nie van kleur in die teenwoordigheid van 'n neutrale stof nie, maar reageer met sure en basisse op die volgende wyse:
    • lakmoes is rooi in die teenwoordigheid van 'n suur; en
    • lakmoes is blou in die teenwoordigheid van basis.

Konsepkaart

Die menslike tong kan 4 verskillende smake proe. Watter smake is dié? Vul hulle in die spasies hieronder in. Jy moet ook die deel van die konsepkaart wat oor indikators handel voltooi. Kan jy uitwerk hoe om dit te doen? Jy moet die kleur invul wat lakmoes word (of bly) in òf 'n suur òf 'n basis (òf 'n neutrale stof).

Onderwyser se weergawe.

Hersieningsvrae

Die blokkie hieronder is vol inligting omtrent sure en basisse.

Jy moet die konsepte in twee kolomme in die tabel sorteer. Een kolom is getiteld 'Sure' en die ander is getiteld 'Basisse'. Skryf elke idee in die korrekte kolom. As 'n idee in elke kolom pas, moet jy dit in beide skryf. [16 punte]

Idees

  • Suur smaak
  • Bitter smaak
  • Wynsteensuur
  • Koeksoda
  • Voel glibberig
  • Voel grof
  • Asyn
  • Sepe
  • Suurlemoensap
  • Sitroensuur
  • Mieresuur
  • Bleikmiddel
  • Verkleur rooi lakmoes na blou
  • Verkleur blou lakmoes na rooi
  • Korrosief

Sure

Basisse

Sure

Basisse

Suur smaak

Wynsteensuur

Voel grof

Asyn

Suurlemoensap

Sitroensuur

Mieresuur

Verkleur blou lakmoes na rooi

Korrosief

Bitter smaak

Koeksoda

Sepe

Voel glibberig

Bleikmiddel

Verkleur rooi lakmoes na blou

Korrosief

Om hierdie vraag te merk behoort die eerste 9 items in die suurkolom gemerk te word, asook die eerste 7 in die basisse-kolom. Dit word gedoen om leerders te ontmoedig om eenvoudig die hele lys in beide kolomme te plaas.

Hieronder is nog 'n klomp woorde wat jy moet gebruik om die sinne wat volg te voltooi. Skryf die sinne volledig uit. Elke woord mag slegs een maal gebruik word. [11 punte]

Woorde

  • Indikator
  • Suur
  • Rooikool
  • Bitter
  • Giftig
  • Korrosief
  • Neutraliseer
  • Soet
  • Neutraal
  • Lakmoes
  • Souterig

Die bekendste van alle suur-basisindikators word_____ genoem.


Die bekendste van alle suur-basisindikators wordlakmoes genoem.

'n Stof wat ander stowwe wegvreet, word _____ genoem.


'n Stof wat ander stowwe wegvreet, word korrosief genoem.

Kossoorte wat _____ is, proe dikwels bitter.


Kossoorte wat giftig is, proe dikwels bitter.

Sommige wetenskaplikes glo dat die menslike tong 4 smake kan proe. Hierdie smake is: _____, _____ ,_____, en _____.



Sommige wetenskaplikes glo dat die menslike tong vier smake kan proe. Hierdie smake is: souterig, soet, bitter and suur (in enige volgorde).

'n Suur-basis _____ is 'n stof wat van kleur verander wanneer dit met 'n suur of basis reageer.



'n Suur-basis indikator is 'n stof wat van kleur verander wanneer dit met 'n suur of basis reageer.

_____ is stowwe wat nie sure of basisse is nie.


Neutraal stowwe is nie sure of basisse nie.

'n Suur sal 'n basis _____ (en andersom).


'n Suur sal 'n basis neutraliseer (en andersom).

Die sap van _____ is 'n baie goeie suur-basisindikator.



Die sap van rooikool is 'n baie goeie suur-basisindikator.

Gee 'n voorbeeld van 'n sterk suur en 'n sterk basis wat algmeen in laboratoriums gebruik word. [2 punte]


Sterk sure sluit in: soutsuur, salpetersuur en koolsuur, en 'n sterk basis is natriumhidroksied.

Skryf een of twee sinne om te verduidelik wat bedoel word met die term neutraliseer. [2 punte]





Skryf 'n kort paragraaf om te verduidelik hoe laboratoriumsure gehanteer behoort te word. Jou paragraaf moet die volgende woorde bevat: korrosief; smaak; klere. [3 punte]






Sal alle sure jou tong brand, of is dit aanvaarbaar om aan sommige sure te proe? Verduidelik jou antwoord. [2 punte]



Sommige huishoudelike sure kan geproe word. Sommige huishoudelike sure kom in ons kos voor. Laboratoriumsure moet nooit aan geproe word nie.(opsioneel)

Gee 2 voorbeelde van sure wat veilig is om te proe. [1 punt]


Voorbeelde van sure wat veilig is om te proe: asyn, suurlemoensap, askorbiensuur (vitamien C), sitroensuur (enige ander aanvaarbare voorbeelde; leerder moet 2 noem).

Hoe sal jy daartoe instaat wees om 'n suur te herken wanneer jy dit proe? [1 punt]


Ons herhen hulle as sure deur hulle smaak; sure het 'n suur smaak.

Hoe waarsku ons smaaksintuig ons waneer kos nie eetbaar is nie? [2 punte]





Het jy al van suurreën gehoor? Lees die volgende gedeelte en bestudeer die diagram. Antwoord dan die vrae wat volg.

Watter twee gasse wat tot die vorming van suurreën lei, word in die teks en diagram genoem? [2 punte]


Swaeldioksied en koolstofdioksied.

Waar kom hierdie gasse vandaan? [2 punte]



Hulle kom vanaf fabrieke, kragstasies en motoruitlaatpype.

Hierdie gasse kombineer met waterdruppels in die atmosfeer om sure te vorm. Wat is sommige van die omgewingseffekte van suurreën. Bestudeer die diagram vir leidrade.[3 punte]




Suurreën kan ook geboue beskadig omdat dit dit klip 'wegvreet'. Watter eienskap van sure laat dit toe om dit te doen? [1 punt]


Sure is korrosief en kan dus oppervlaktes oor tyd wegvreet.

Totaal [48 punte]