Die Biosfeer

Hoofstuk-oorsig

1 week

In hierdie inleiding tot die biosfeer word leerders blootgestel aan die komponente van die biosfeer, naamlik die litosfeer, hidrosfeer en die atmosfeer, asook die organismes wat in elk van hierdie sfere leef. Leerders moet die organismes, wat spesifiek aangepas is om in elk van hierdie sfere in verskillende temperature en by verskillende hoogtes bo seespieël te leef, kan identifiseer en sal leer hoe en waarom sommige organismes spesifieke aanpassings ontwikkel het om te oorleef. Leerders word dan gelei om te onderskei tussen die lewende en nié-lewende elemente van die biosfeer deur die sewe lewensprosesse te identifiseer (hersiening van Gr. 4-werk). Nadat die sewe lewensprosesse hersien is, leer hulle wat nodig is om die sewe lewensprosesse te onderhou, deur die benodigdhede vir lewe en die aanpassings wat organismes by ekstreme omgewingstoestande moet maak, te ondersoek. Hierdie werk skakel met werk wat in Gr. 5 en 6 behandel is oor die onderlinge afhanklikheid tussen lewende en nie-lewende komponente van die ekosisteem en voedselwebbe. Leerders gaan ook weer in Gr. 8 die biosfeer bestudeer, maar in die konteks van ekologie, en weer in Die Aarde en die Ruimte in Gr. 9, waar daar 'n groter fokus op die litosfeer en atmosfeer is.

In die afdeling oor "Vereistes vir die onderhoud van lewe" is daar 'n ondersoek van die ontkieming van sade en die kweek van saailinge onder verskillende toestande. Hierdie is die eerste Natuurwetenskaplike ondersoek in hierdie fase. Leerders herhaal die bekende ondersoek van die vereistes vir die onderhoud van lewe vir 'n boontjieplant. Leerders word egter vir die eerste keer blootgestel aan konsepte soos afhanklike en onafhanklike veranderlikes en leer meer oor grafieke. Soos wat leerders in die hoërskool ontwikkel, sal van hulle verwag word om meer en meer van die ontwerp en beplanning van die ondersoekke op hulle eie te doen, alhoewel hulle nog deur die stappe gelei word. NB: Ons stel voor dat hierdie ondersoek gelyktydig met die res van die inhoud gedoen word, sodat u sade kan kweek gedurende die week wat u die biosfeer behandel. U kan dit selfs later voltooi en die resultate en gevolgtrekking daarna doen.

Hierdie tabelle en hoe om dit te gebruik, asook hoe om bit.ly skakels na webtuistes en videos te gebruik, word verduidelik in die Onderwysersgids Oorsig aan die begin van die boek.

1.1 Wat is die Biosfeer? (1.5 ure)

Take

Vaardighede

Aanbeveling

Aktiwiteit: Waar dink jy kom lewe op aarde voor?

Identifisering, beskrywing, skryf

KABV aanbeveel

Aktiwiteit:Beskryf die komponente van die bioseer

Beskrywing, skryf

KABV aanbeveel

Aktiwiteit: Bestudeer die atmosfeer

Identifiseer, skryf

Opsioneel (Uitbreiding)

Aktiwiteit: Die watersiklus

Onthou, identifiseer, beskryf, skryf

Opsioneel (Hersiening)

Aktiwiteit: Hoe is organismes afhanklik van die litosfeer?

Identifisering, beskrywing, skryf

Opsioneel (Uitbreiding)

1.2 Vereistes vir die onderhoud van lewe (1.5 ure)

Take

Vaardighede

Aanbeveling

Aktiwiteit: Identifiseer die vereistes vir die onderhoud van lewe

Identifiseer, bespreking, groepwerk, skryf

KABV aanbeveel

Ondersoek: Wat is die vereistes vir die onderhoud van lewe by plante

Ondersoek, waarneming, aantekening, meet, trek grafieke, groepwerk

KABV aanbeveel

Aktiwiteit: Aanpassings van organismes

Identifisering, beskrywing, skryf

Opsioneel (Uitbreiding)

  • Wat is die biosfeer?
  • Wat is die koudste en warmste plekke waar lewe kan bestaan?
  • Hoe diep kan jy in die see gaan voordat jy nie meer enige lewe sal vind nie?
  • Is daar lewende organismes op die boonste punte van die wêreld se hoogste berge?
  • Hoe kan jy weet of iets lewend is en of dit nooit gelewe het nie?
  • Wat het organismes nodig om aan die lewe te bly?
  • Hoekom is dit so dat sommige organismes op sekere plekke kan leef terwyl ander organismes nie daar kan lewe nie?

Kom ons begin om die wêreld om ons, en hoe dit werk, te ontdek! Onhou, hierdie is jou boek! Jy moet dit gebruik om te ontdek en vrae te vra oor die wêreld óm jou, maar ook om oor jouself en wie jy is te leer. Moenie bang wees om notas in die boek te maak nie - maak jou eie notas vir jouself van dinge wat jy moet onthou en vra die vrae wat jy wil vra. Wees maar nuuskierig! Gebruik jou verbeelding oor al die moontlikhede wat jy alles met wetenskap kan doen en ontdek!

Wat is die biosfeer?

  • atmosfeer
  • biosfeer
  • afhanklik
  • omgewing
  • habitat
  • mikroörganisme
  • organisme

Al die definisies van "Nuwe woorde" wat in die boksies in die kantlyn gelys is, is in die woordelys aan die einde van hierdie afdeling.

Hierdie webtuiste het baie interessante artikels oor wetenskap en wetenskap-verwante beroepe. Dit is onder verskillende onderwerpe geklassifiseer en gee ook wenke oor hoe om hierdie artikels in die klaskamer te gebruik. As jy belangstel om die wetenskap van die regte wêreld in die klas te gebruik, gaan na die volgende skakel: http://www.sciencenewsforkids.org/news-in-the-classroom/

Het jy al tevore van die woord "sfeer" gehoor? Weet jy wat dit beteken? Die woord "sfeer" word gewoonlik gebruik wanneer ons van 'n ronde voorwerp praat (soos 'n bal). Wat beteken dit as ons praat van die biosfeer? "Bio" beteken dat dit iets met lewe te doen het. Byvoorbeeld "biologie" is die studie van lewende organismes. So, kan jy nou hierdie twee betekenisse bymekaarsit om uit te werk wat "biosfeer" beteken?

Die biosfeer is die plek waar lewe op die planeet Aarde voorkom. Wanneer ons van die biosfeer praat, praat ons van 'n baie groot sisteem (die hele wêreld) en hoe al die verskillende dele saamwerk om lewe te onderhou. Ons sal later na al hierdie verskillende dele kyk.

Die eerste persoon wat die term "biosfeer" gebruik het, was die geoloog Eduard Suess in 1875 toe hy 'n definisie vir die biosfeer gegee het as "the place on Earth's surface where life dwells."

Die biosfeer is waar daar lewe op ons planeet is, insluitende die grond en rotse, water en lug.

Die "Besoek" boksies in die kantlyne bevat skakels van interessante webtuistes en videos. Tik net die skakel in die adresbalkie op jou rekenaar.

Ons kan die term biosfeer op verskillende maniere gebruik. As ons praat van alle lewe op Aarde en die interaksie met die nié-lewende rotse, water en lug (atmosfeer), noem ons dit die biosfeer.

http://commons.wikimedia.org/wiki/File:Biosphere\_2\_Habitat\_\%26\_Lung\_2009-05-10.jpg
Biosfeer 2 is 'n mensgemaakte navorsingsentrum in die Arizona-woestyn in Amerika, waar wetenskaplikes 'n groot binnenshuise kunsmatige biosfeer gebou het. http://commons.wikimedia.org/wiki/File:Biosphere_2_Habitat_%26_Lung_2009-05-10.jpg

Jy kan meer leer oor Biosfeer 2, 'n fassinerende deurlopende projek om hierdie mensgemaakte biosfeer te onderhou. http://www.b2science.org/

Ons kan ook 'n spesifieke deel van 'n streek op Aarde, wat lewe onderhou, 'n biosfeer noem, veral as ons verwys na die omgewings waarin hulle lewe.

Op watter plekke, dink jy, is daar lewe op Aarde?

Hierdie is 'n inleidende aktiwiteit om te wys dat lewe orals op Aarde bestaan en ook om herinner te word aan werk wat oor habitatte gedoen is in Gr. 4-6. U kan dit ook gebruik om dít wat leerders weet van die term "lewe" te assesseer.

INSTRUKSIES:

  1. Die volgende tabel bevat foto's van verskillende plekke op Aarde. Beskryf wat elke foto wys.
  2. Besluit dan of jy dink dat lewe daar bestaan of nie. As jy wel so dink, noem 'n paar organismes wat daar lewe.

'n Plek op Aarde

Wat wys hierdie foto?

Dink jy daar is lewe? Indien wel, wat?

'n Plek op Aarde

Wat wys hierdie foto?

Dink jy daar is lewe? Indien wel, wat?

'n Woestyn met rotse, berge en gras.

Ja, hier is lewe.

Organismes sluit in:

  • slange
  • voëls
  • grasse
  • kaktusse
  • insekte
  • moontlik bokke, jakkalse, hase, ens.
  • moontlik mense (hierdie is 'n foto van 'n plek in Namibië).

'n Bergreeks wat met sneeu bedek is.

Ja, hier is lewe.

Organismes sluit in:

  • bome (aan die onderkant van die foto)
  • moontlik bere, sneeuluiperds, hase, ens.
  • moontlik mense

Die lug met wolke en voëls.

Ja, hier is lewe.

Organismes sluit in:

  • voëls
  • insekte

Grond met gras wat bo-op groei.

Ja, hier is lewe.

Organismes sluit in:

  • plante (grasse en struike)
  • insekte
  • erdwurms
  • mikroörganismes

Noudat jy hierdie aktiwiteit voltooi het, het jy agtergekom dat lewe oral op Aarde voorkom? Van die hoogste berge tot die diepste oseane, van die warmste woestyne tot die digste woude is daar lewe. Het jy ook agtergekom dat toe jy die plekke beskryf het waar lewe voorkom, jy woorde gebruik het soos grond, rotse, water, lug? Hierdie is alles deel van die biosfeer en hierdie dele het spesiale name.

Komponente van die biosfeer

  • aanpas
  • akwaties
  • komponent
  • hidrosfeer
  • litosfeer
  • mariene
  • materie
  • organies
  • fotosintese
  • respirasie

In die vorige aktiwiteit het ons gesien dat lewe gevind word in water, grond en rotse of in die lug om ons. Hierdie komponente vorm deel van die biosfeer en het spesiale name:

  • Litosfeer wat die grond en rotse insluit.
  • Hidrosfeer wat al die water insluit.
  • Atmosfeer wat alle gasse insluit.

Die biosfeer sluit die litosfeer, hidrosfeer en die atmosfeer in. Dit sluit alle lewende organismes, asook dooie organiese materiaal in.

Beskryf die komponente van die biosfeer

INSTRUKSIES:

  1. Bestudeer die volgende foto wat die komponente van die biosfeer wys.
  2. Identifiseer en beskryf die elemente van die litosfeer, hidrosfeer en die atmosfeer wat jy in die foto kan sien.
Die litosfeer, hidrosfeer en atmosfeer op Aarde.

VRAE:

Litosfeer:



Daar is rotse. Op plekke is dit hard, skerp, porieus en deur water verweer. Daar is sand. Dit is korrelrig, grof en bevat baie klein stukkies van skulpe en rotse.

Hidrosfeer:



Dit is seewater en seesproei. Sommige leerders mag dalk die waterdamp noem wat van die see verdamp. Die water is helder en vloei vinnig, die seewater smaak sout en skuim vorm bo-op die water.

Atmosfeer:



Dit is die gasse. Die lug sluit gasse in soos suurstof, koolstofdioksied en stikstof, Atmosferiese gasse is nie sigbaar nie, alhoewel die lug blou vertoon.

Alhoewel jy nie lewende organismes in hierdie foto kan sien nie, is daar baie lewende en dooie plante en diere wat op 'n strand soos hierdie kan leef. Maak 10 moontlike (aanvaarbare) raaiskote van die tipes organismes wat in hierdie omgewing kan leef. (Wenk: dink aan watter organismes in die see, sand en lug kan leef)




Leerder-afhanklike antwoord. Leerders behoort hulle te kan indink dat daar dolfyne in die water swem, of slakke of mossels op die rotse vassit, of seewier in die water en miskien mikrobes in die sand. Ander organismes kan krappe, seemeeue en ander voëls, baie soorte vis, haaie en walvisse in die diepsee, korale, anemone, ens wees.

Die vraag is spesifiek op hierdie manier ingesluit om die onderwyser te help om die leerders se vermoë te bepaal om tussen lewende (biotiese) en nie-lewende (abiotiese) komponente te onderskei.

Verskillende organismes kan op verskillende plekke in die biosfeer bestaan. Kom ons kyk na die verskillende komponente van die biosfeer en watter organismes daar voorkom.

Atmosfeer

Die atmosfeer is die laag gasse wat die Aarde omring. Die drie belangrikste gasse in die atmosfeer is stikstof, suurstof en koolstofdioksied. Die atmosfeer bestaan uit verskeie lae.

'n Pret informasiegrafiek oor die atmosfeer http://visual.ly/infographic-earths-atmosphere-top-bottom

Die aarde se atmosfeer het oor tyd verander. Ons suurstofryke atmosfeer is miljoene jare gelede deur alge gevorm.

Die atmosfeer

Leerders behoort die lae van die atmosfeer te ken - dit sal in meer detail gedoen word in Gr. 9 Planeet Aarde en die Ruimte. Die fokus van hierdie aktiwiteit is om te wys dat die atmosfeer eintlik 'n baie wye laag rondom die aarde is, maar dat lewe net voorkom in die onderste laag naby die Aarde se oppervlak waar aan die vereistes vir lewe voldoen word.

VRAE:

Bespreek met jou maat of jy dink dat organismes op aarde kan leef sonder die atmosfeer. Verduidelik waarom jy so dink.




Hierdie vraag is doelbewus ingesluit om debat uit te lok. Sonder die atmosfeer is lewe, soos ons dit ken, nie moontlik nie. Die suurstof en koolstofdioksied in die laer lae van die trofosfeer (wat aan die aarde raak), is nodig vir lewe sodat organismes kan respireer en plante kan fotosinteer. Die atmosfeer help ook om die Aarde warm te hou deur stralingsenergie vas te hou. Die atmosfeer beskerm ook lewe teen te veel UV-strale van die Son. Die Aarde is die enigste planeet in ons sonnestelsel wat lewe kan onderhou, deels te danke aan die atmosfeer.

Ons atmosfeer is besig om te ontsnap!(video)

Hidrosfeer

Die hidrosfeer bestaan uit alle vorme van water op Aarde.

Die watersiklus

Hierdie dien as hersiening van 'n deel van die vorige werk wat oor die watersiklus en die fases van materie gedoen is en skakel dit met verskillende akwatiese habitatte van organismes.

INSTRUKSIES:

  1. Bestudeer die volgende diagram wat die watersiklus op Aarde beskryf.
  2. Beantwoord die volgende vrae:

VRAE:

Onthou jy dat jy geleer het van die verskillende fases van materie? Die hidrosfeer sluit alle water in al die fases in. Kyk na die diagram van die watersiklus en identifiseer water in die verskilende fases van materie.




Water is 'n vloeistof in die see, damme, riviere, reën en dou.

Water is 'n vaste stof as sneeu op die berge (of as hael).

Water is 'n gas in die vorm van waterdamp in die lug.

Die watersiklus toon verskillende bronne van varswater en soutwater aan. Baie plante, diere en mikroörganismes het aangepas om in 'n akwatiese habitat te leef. 'n Baie klein persentasie van die wêreld se water is varswater en die res is soutwater. Lys soveel as moontlik verskillende tipes akwatiese habitatte waaraan jy kan dink, waar verskillende organismes kan bestaan.




Akwatiese habitatte sluit die volgende in: riviere, damme, mere, poele, vleie, riviermondings, grondwater en ondergrondse damme. Daar is verskillende tipes akwatiese habitatte in die see soos rotsagtige kusgebiede en rotspoele, diepsee en die ysbedekte pole.

Die woord "akwaties" beskryf iets wat met water te doen het. Akwatiese diere is dus diere wat in of naby water leef. Die woord mariene beskryf organismes wat in soutwater of die see leef. 'n Marinebioloog bestudeer organismes wat in die see voorkom.

Litosfeer

Leerders sal in baie meer detail kyk na die litosfeer in Gr 9 in die kennisafdeling Planeet Aarde en die Ruimte, waar hulle sal kyk na die rotssiklus asook mynbou in Suid-Afrika. Hierdie is 'n inleiding en die fokus is hier die interaksie van organismes met die litosfeer

Soos reeds genoem, sluit die litosfeer rotse, grond en sand op Aarde in. Organismes is afhanklik van die litosfeer op verskillende maniere. In die volgende aktiwiteit sal jy uitvind hoe.

Hoe is organismes afhanklik van die litosfeer?

INSTRUKSIES:

  1. Hieronder is verskeie foto's van interaksies van organismes met die litosfeer en wat verskillende maniere wys waarop organismes van die litosfeer afhanklik is.
  2. Gebruik hierdie foto's om 'n paragraaf te skryf oor hoe verskillende organismes op verskeie maniere afhanklik van die litosfeer is.

http://www.flickr.com/photos/cheezepix/1733216613/
Voëlneste http://www.flickr.com/photos/cheezepix/1733216613/
http://www.flickr.com/photos/sidelong/542808053/
'n Rotspoel http://www.flickr.com/photos/sidelong/542808053/

http://www.flickr.com/photos/71888644@N00/6310931034/
'n Termiethoop http://www.flickr.com/photos/71888644@N00/6310931034/
http://www.flickr.com/photos/dodo-bird/477583981/
'n Boom wat in die grond groei http://www.flickr.com/photos/dodo-bird/477583981/

Baie mense maak die fout om te dink dat plante groter word en groei vanweë die nutriënte wat hulle uit die grond absorbeer. Die grootste hoeveelheid organiese massa van 'n plant kom van koolstofdioksied wat gedurende fotosintese deur plante vasgevang word om organiese molekule te maak. Die belangrikste nutriënt wat plante uit die grond opneem is water. Plante neem relatief klein hoeveelhede minerale uit die grond op. As plante regtig grond geabsorbeer het, dan sou ons verwag dat die grond sou verminder en dat daar groot kraters langs 'n groot boom sou wees!

http://www.flickr.com/photos/dodo-bird/477499086/
'n Erdwurm in die grond http://www.flickr.com/photos/dodo-bird/477499086/
http://www.flickr.com/photos/87328375@N06/8434096665/
'n Modderhut http://www.flickr.com/photos/87328375@N06/8434096665/







Sommige van die dinge wat leerders behoort waar te neem is:

  • Diere woon in die litosfeer. Erdwurms leef in die grond en miere maak hulle neste van sand. Baie mikroörganismes leef in die grond.
  • Sommige voëls maak hulle neste op rotse en gebruik ook sand om hulle neste te bou.
  • Die meeste plante en bome het grond nodig om in te groei. Hulle absorbeer water en minerale en gebruik die grond om hulle wortels te anker.
  • Rotse van rotpoele langs die kuslyn. Rotspoele is die habitat vir baie verskillende organismes.
  • Mense gebruik modder en klippe om huise en ander geboue te bou.

Ons het nou na die verskillende dele van die biosfeer gekyk en gesien dat daar baie verskillende soorte organismes kan leef. Elkeen van die organismes waarna ons sover gekyk het moet aan die lewe kan bly onder daardie spesifieke toestande. Ons sê hulle moet kan aanpas om in hulle spesifieke habitat te kan oorleef. Wat beteken dit dus om aan die lewe te bly?

Eienskappe van lewende plante en diere

Dit is reeds in Gr.4 Lewe en Lewende dinge gedoen en daarna hersien in Gr.5 en 6.

  • abioties
  • sellulêre respirasie

Daar is sewe lewensprosesse wat by alle lewende organismes voorkom en wat bepaal of hulle lewend is of nie. kom ons kyk na die sewe lewensprosesse:

Alle lewende organismes moet kan beweeg. Bewegings hoef nie altyd groot bewegings te wees nie. Selfs plante beweeg ook as blomme en blare in die rigting van die son draai gedurende die dag.

Leerders mag wonder oor sekere diere wat nie beweeg nie (sessiele diere) soos see-anemone, klipmossels en korale. Gewoonlik beweeg hierdie diere wel gedurende 'n gedeelte van hulle lewensiklus en is dan sessiel in hulle volwasse stadium. Sommige diere kan stilstaan op een plek maar beweeg steeds sekere dele van hulle liggaam, soos klipmossels wat veeragtige aanhangsels het waarmee hulle die water rondswiep om kos te versamel.

  1. Alle lewende dinge het energie nodig vir lewensprosesse. Organismes kan energie uit voedsel vrystel deur 'n proses genoem sellulêre respirasie.

Alle lewende dinge moet sensitief vir hul omgewing wees. Dink aan een voorbeeld waarom diere prikkels uit hulle omgewing moet kan waarneem en skryf dit hieronder neer.


'n Voorbeeld hiervan is dat diere hulle kos moet kan waarneem om dit te kan vind. Hulle moet ook gevaar of temperatuurveranderinge in hulle omgewing kan waarneem en daarop reageer.

  1. Alle lewende dinge moet kan groei.
  1. Alle lewende dinge moet kan voortplant sodat hul spesies nie uitsterf nie.

Ons sal meer oor voortplanting in Hoofstuk 3 leer.

  1. Alle lewende dinge moet afvalstowwe kan uitskei.
  1. Alle lewende dinge het voeding nodig, omdat hulle voedingstowwe moet kan afbreek deur sellulêre respirasie, om energie vry te stel.

Leer meer oor die sewe lewensprosesses http://www.zephyrus.co.uk/characteristics.html

Noudat ons kan bepaal of iets lewend is of nie, kan ons kyk na wat lewende dinge nodig het om te oorleef, met ander woorde, wat is die vereistes vir lewe?

Vereistes vir die onderhoud van lewe

  • gunstig
  • vereiste
  • onderhou

Nadat ons die sewe lewensprosesse bestudeer het, weet ons nou dat plante, diere en ander lewende organismes moet kan doen om as lewend geklassifiseer te kan word. Om aan die lewe te kan bly is daar sekere dinge of omstandighede wat hulle benodig (moet hê). In hierdie afdeling gaan ons die vereistes bestudeer om lewe te onderhou.

Volhoubaarheid beteken dat iets vir altyd aan die gang of aan die lewe gehou kan word. Ons gebruik ook die woord volhoubaar as ons wil sê dat iets vir 'n lang tyd kan voorbestaan.

Identifiseer die vereistes vir die volhoubaarheid van lewe

Dia antwoorde van hierdie aktiwiteit is opgesom in die volgende teks. Om die leerders te kry om eers oor die antwoorde te dink en te bespreek sonder om dit net uit die teks te lees, laat hulle eers notas neem op 'n aparte stuk papier of notaboek en hou eers 'n klasbespreking, voordat hulle die werkboeke oopmaak en toegelaat word om notas te neem.

Verbeel jou jy is deel van die ontwerpspan vir die eerste ruimtestasie op die maan, soortgelyk aan die Internasionale Ruimtestasie wat reeds om die aarde wentel, maar dit is op die Maan!

Die Internasionale Ruimtestasie wat om die aarde wentel, soos van bo gesien.

Vind meer uit oor lewe op die Internasionale Ruimtestasie terwyl ruimtereisigers hulle alledaagse take verrig. http://www.nasa.gov/audience/foreducators/teachingfromspace/dayinthelife/index.html of http://www.nasa.gov/centers/johnson/about/resources/jscfacts/index.html

INSTRUKSIES:

  1. Werk in groepe van vier.
  2. Wat, dink jy, het die ruimtereisigers en plante wat op die nuwe Maanstasie gaan woon nodig om te kan lewe? Bespreek die vyf belangrikste vereistes wat jy sal moet verskaf sodat die ruimtereisigers en plante aan die lewe kan bly op jou maan ruimtestasie.
  3. Verduidelik waarom julle hierdie vereistes gekies het as die belangrikste om lewe te onderhou. Skryf die notas van jou groepsbespreking op die lyntjies wat verskaf word. Besluit watter een van julle groep julle bevindinge aan die klas gaan rapporteer.

Hou 'n groepbespreking en daarna 'n klasbespreking.









Leerder-afhanklike antwoord

Wanneer groepe klaar is met die bespreking van die belangrikste vereistes, laat groepe hulle lyste met mekaar bespreek en hou dan 'n klasbespreking. Maak 'n lys van hulle antwoorde op die bord en maak 'n merkie by elkeen wat herhaal word, bv. Voedsel / Suurstof / Water word dalk herhaal en moet dus 'n merkie kry elke keer wat dit herhaal word. So sal hulle gou kan sien watter vereistes die meeste herhaal word in die klas. Leerders sal waarskynlik eerder "Voedsel" as "Energie" identifiseer. Herinner hulle daaraan om ook te dink aan die plante wat nie voedsel nodig het om te eet nie. Vra die leerders watter term as 'n meer algemene term gebruik kan word in plaas van voedsel. Dit skakel met voeding in die sewe lewensprosesse. Die antwoord is dat lewende dinge 'n bron van energie nodig het. As leerders nie uitkom by die feit dat lewende organismes "geskikte / goeie / optimale temperature" nodig het nie, vra 'n paar leidende vrae soos: Dink jy dat die ruimtestasie verhit of verkoel moet word? Hoekom? Sal mense en plante kan oorleef op die temperature op die maan?", ens.

Lewende oganismes het sekere toestande nodig om aan die lewe te bly. Ons sê dat hierdie dinge of toestande lewe onderhou.

Jy behoort sommige van hierdie vereistes in die laaste aktiwiteit bespreek het. Het jy by dieselfe of soortgelyke vereistes uitgekom? Lewewende organismes het die volgende nodig om te ooleef:

  • energie
  • gasse
  • water
  • grond
  • geskikte temperature

Nou kyk ons 'n bietjie meer volledig hierna.

Energie: Alle lewende organismes het energie nodig om aan die lewe te bly en vir lewensprosesse. Plante het energie van sonlig nodig om te kan fotosinteer. Ander organismes kry hulle energie van die voedsel wat hulle eet.

Alle lewende organismes het 'n bron van energie nodig. Die gras en die bome kry hulle energie van die Son deur te fotosinteer. Die koei kry sy energie deur gras te eet.

Gasse: Alle lewende dinge het suurstof nodig vir sellulêre respirasie. Suurstof word gebruik om energie vry te stel uit voedsel en koolstofdioksied en water word geproduseer as afvalprodukte van respirasie. Groen plante het ook koolstofdioksied nodig om te kan fotosinteer.

Vra leerders wat hulle dink die Aarde se atmosfeer uniek maak. Ons atmosfeer bevat die regte gassse (suurstof en koolstofdioksied) om lewe te onderhou en ons atmosfeer beskerm ons ook teen skadelike strale van die son(soos UV-strale) deur sommige strale te absorbeer.

Alle lewende dinge het suurstof nodig, soos hierdie hond wat lug deur sy neus inasem.

Water is noodsaaklik vir lewe. Elke organisme op ons planeet het water nodig om te lewe.

Water is noodsaaklik vir lewe op aarde.

Wanneer ruimtevaarders soek na lewe buite ons sterrestelsel, soek hulle vir planete waar daar water is, omdat hulle glo dat waar daar water is, kan daar ook lewe wees.

Grond onderhou lewe op aarde. Die meeste plante is afhanklik van grond vir ondersteuning, minerale en water. Sonder grond sal plante nie voedsel kan produseer, waarvan ander diere afhanklik is nie.

http://www.flickr.com/photos/87743206@N04/8053614949/
Die meeste plante het grond nodig om in te groei. http://www.flickr.com/photos/87743206@N04/8053614949/

Nie álle plante het grond nodig om in te groei nie. Epifiete, soos mosse en orgideë, groei op ander plante of op rotse. Hulle kry hulle vog en minerale vanuit die lug en reën.

Gunstige temperature: Alle organismes is aangepas om by 'n spesifieke temperatuur te leef. Oor die algemeen het ons planeet gunstige temperature om lewe te onderhou. Die aarde is 'n optimale afstand vanaf die son sodat dit nie te warm is nie, soos op Mercurius, en ook nie te koud nie, soos op Neptunus.

Wanneer ons in Lewenswetenskappe die term "gunstig" gebruik, bedoel ons iets wat tot voordeel of optimaal is. Ons kan byvoorbeeld praat van gunstige toestande vir lewe praat.

Elke sterrestelsel het 'n "Goldilocks"-sone wat 'n streek is wat nie te warm (ver van die son)en nie te koud (naby aan die son)is om lewe te onderhou nie. Aarde is in die middel van ons sterrestelsel se "Goldilocks"-sone.

Kom ons vind wat die vereistes is om saailinge te laat groei.

In vorige grade is van leerders verwag om 'n soorgelyke ondersoek te voltooi om die optimale toestande te bepaal vir sade om te groei. KABV stel voor dat hulle hierdie aktiwiteit herhaal om hierdie konsep van die vereistes om lewe te onderhou vas te lê. Onderwysers moet bepaal hoeveel van die leerders hierdie ondersoek in vorige grade gedoen het en moet aan leerders verduidelik dat die herhaling nié daar is om die vereistes te bepaal nie, maar om leerders die geleentheid te gee om te leer hoe om 'n wetenskaplike ondersoek uit te voer. Hierdie is dus weer ingesluit as 'n goeie geleentheid om die wetenskaplike metode te hersien en leerders kans te gee om dit te oefen (terwyl leerders reeds van hierdie uitkoms bewus is).

  • afhanklike veranderlike
  • hipotese
  • onafhanklike veranderlike
  • wetenskaplike metode
  • veranderlikes

Wat is die vereistes om lewe te onderhou by plante?

Begin om saailinge te kweek aan die begin van die kwartaal in die eerste les. 'n Voorstel is om die klas in groepe op te deel en aan elke groep 'n ander vereiste te gee om te ondersoek. Een groep moet byvoorbeeld ondersoek of water nodig is, die ander groep of lig nodig is en een groep moet ondersoek wat die gunstige temperatuur is vir die groei van saailinge. Elke groep moet ook 'n kontrole hê vir hulle poging om sade te laat ontkiem.

In hierdie ondersoek gaan ons boontjiesade (of enige ander sade) ontkiem. Elke groep in die klas toets 'n ander vereiste vir die ontkieming van en groei van saailinge.

'n Hipotese is 'n ingeligte raaiskoot oor die uitkoms van 'n ondersoek. Die hipotese word voor die aanvang van die ondersoek opgestel en moet geskryf word as 'n stelling in die toekomende tyd.

DOEL:

'n Wetenskaplike ondersoek het altyd 'n doel of 'n vraag wat jy wil beantwoord. Wat is die doel van die ondersoek? Skryf neer wat jy met die ondersoek probeer uitvind.



"Om uit te vind wat plante nodig het om te groei". ('n Doel moet altyd begin met "Om uit te vind / Om te kyk of...ens. Dit is anders as 'n wetenskaplike vraag soos: "Wat het plante nodig om te groei?)

HIPOTESE

'n Hipotese is waar jy 'n voorstel maak wat die uitkoms van die ondersoek gaan wees. Dit is 'n raaiskoot oor wat die resultate sal wees. Skryf 'n hipotese vir hierdie ondersoek.



Leerder-afhanklike antwoord. Die hipotese behoort 'n voorspelling in te sluit oor die noodsaaklikheid van grond, lig, water en gunstige temperature, bv "Die plant sal die beste groei in vol sonlig en glad nie in die donker nie."

VERANDERLIKES:

Wetenskaplikes gebruik dikwels ondersoeke om te soek vir oorsaak- en gevolgverwantskappe. Dit beteken dat hulle eksperimente ontwerp om te ondersoek hoe 'n verandering in een aspek 'n ander aspek sal affekteer. Hierdie veranderende faktore word veranderlikes genoem.

  1. Onafhanklike veranderlikes: Dit is die faktor wat jý in die ondersoek verander. Byvoorbeeld, as jy wil ondersoek of baie suiker jou gewig laat optel, dan is die hoeveelheid suiker wat jy eet die onafhanklike veranderlike. Jý beheer hoeveel suiker jy eet. Ons wil hê dat die ondersoek BILLIK moet wees, wat beteken dat slegs EEN onafhanklike veranderlike op 'n slag ondersoek word. Sodra die onafhanklike veranderlike verander word, neem die wetenskaplike waar watter effek dit sal hê. In die voorbeeld waar ondersoek word of suiker jou laat gewig optel, kan jy nie terselfdertyd ondersoek of oefening jou laat gewig verloor nie. Dit sal nie 'n billike toets wees nie.
  2. Afhanklike veranderlikes: Die afhanklike veranderlike is dit wat jy waarneem in die ondersoek. Dit is nie jý wat dit verander nie. Die afhanklike veranderlike se verandering word bepaal deur die onafhanklike veranderlike. Byvoorbeeld, in die ondersoek om te bepaal of om baie suiker te eet jou laat gewig optel, is die afhanklike veranderlike die hoeveelheid gewig wat jy optel (of verloor) as gevolg van die hoeveelheid suiker wat jy eet. Die hoeveelheid gewig wat jy optel word bepaal deur die hoeveelheid suiker wat jy eet. Afhanklike veranderlikes behoort op 'n objektiewe manier gemeet te word, verkieslik deur hoeveelhede te meet.
  3. Vaste veranderlikes: Dit is die faktore wat 'n wetenskaplike deurgaans onveranderd of konstant moet hou tydens die uitvoering van die eksperiment. In die ondersoek om uit te vind of meer suiker jou laat gewig optel, kan jy een persoon hê wat baie suiker eet en 'n ander persoon wat geen suiker eet nie, en dan kyk jy na hulle verandering in gewig. Vir die ondersoek om regverdig te wees, is daar 'n paar faktore wat konstant gehou met word. 'n Voorbeeld hiervan is dat albei die persone ewe veel oefening moet doen sodat dit nie hulle gewig beïnvloed nie. Dit is 'n vaste veranderlike.

Beklemtoon aan leerders dat afhanklike veranderlikes gemeet behoort te word deur GETALLE te gebruik, omdat dit gebruik kan word om tabelle en grafieke op te stel. Hulle behoort subjektiewe evaluerings soos "dit lyk soos" of dit "voel goed" te vermy.

    Vra die leerders of hulle aan enige ander vaste veranderlikes kan dink in dieselfde voorbeeld. Hulle kan dalk dink aan dinge soos die aanvangsgewig van die twee persone, wat dieselfde moet wees, hulle moet van dieselfde geslag, dieselfde ouderdom en albei moet gesond wees en nie siek nie, ens.

    Jy kan ook 'n kontrole vir die toets doen. In die voorbeeld oor die kweek van plante, kan jy een van die vereistes vir groei wegneem. In die kontrole sal 'n ander plant al die vereistes vir groei gegee word, insluitende die een wat by die ander plant weggeneem is. Nou kan jy die plant, waar jy die vereiste weggeneem het, vergelyk met die kontrole plant, wat al die vereistes het, en meet wat die verskil is.

    U as onderwyser kan besluit hoe u die eksperiment gaan uitvoer. Miskien kan leerders net waarneem of die plante ontkiem of nie, of hulle kan meet hoe lank hulle groei, hoeveel blare hulle het, ens. In die meeste gevalle sal die sade glad nie ontkiem en groei as dit in 'n donker kas of yskas geplaas word of geen water gegee word nie. Die beste toets is dus of die sade ontkiem of nie.

    Identifiseer die veranderlikes van hierdie ondersoek.

    Onafhanklike veranderlike. Wat wil jy verander?



    Leerders moet kan verduidelik dat hulle net een faktor mag verander, bv. om lig van die plant weg te neem (deur dit in 'n donker kas te plaas) of om water te verwyder (deur die plant nie nat te maak nie), terwyl al die ander faktore onveranderd moet bly.

    Afhanklike veranderlike. Wat sal jy meet om die effek van die onafhanklike veranderlike op die ontkieming en groei van sade te sien?



    Leerder-afhanklike antwoord

    Vaste veranderlikes en kontrolegroep. Wat sal jou kontrole wees en wat sal jy dieselfde hou tussen die ekspermentele (toets) plant en die kontrole plant?



    Leerders moet kan verduidelik hoe hulle die ander faktore dieselfde sal hou in elke geval, maar slegs een faktor op 'n slag te verander. Dit is belangrik dat leerders kan begryp hoekom 'n kontrolegroep nodig is wat al die nodige faktore / vereistes het wat dit sal laat groei. Ons stel voor dat meer as een kontrolegroep gebruik word.

    Bostaande vrae gee leerders die geleentheid om te dink oor veranderlikes en kontrolegroepe. Omdar Gr.7s dalk nog nie die geleentheid gehad het om met hierdie konsepte te werk nie, is dit noodsaaklik dat u tyd spandeer op die redes hoekom 'n kontrolegroep nodig is en waarom slegs een veranderlike by elke plant verander mag word. Gebruik die voorbeeld van of die eet van te veel suiker jou kan laat gewig optel, vir leerders om dít wat hulle in hierdie voorbeeld bespreek het, te kan toepas.

    Onthou dat jou kontrolegroep 'n spesiale groep is om jou resultate mee te vergelyk.

    METODE:

    Beplan in jou groep hoe jy jou ondersoek gaan doen. Dink aan watter vereiste jy gaan toets en hoe jy daardie vereiste gaan wegneem. As jy byvoorbeeld aan lig dink, waar gaan jy die sade plaas sodat hulle nie lig kry nie? Onhou, as jy aan lig dink, moet jy seker maak dat die eksperiment en die kontrole se sade ewe veel water kry. Sodra jy die ondersoek op rofwerkpapier beplan het en jy dit met jou onderwyser bespreek het, skryf dan die metode (in genommerde stappe) neer en verduidelik wat jy gaan doen.

    Soos die groepe hulle ontwerp bespreek, beweeg in die klas rond en kyk dat die leerders op die regte pad is. Bespreek dit met hulle en verskaf hulp. Help die leerders om maniere te vind om die vereiste te toets, veral as hulle die geskikte temperatuur moet toets. Miskien het jy 'n yskas waarin die leerders hulle sade kan plaas.(Jy moet dan ook in aanmerking neem of die plante lig sal kan ontvang in die yskas). Vind 'n geskikte plek in die klas vir die kontrolegroep plante, miskien in die vensterbank met genoeg lig. Hoeveel sade gaan die leerders gebruik vir elke eksperimentele toestand? Is een saad genoeg? Wat kan verkeerd gaan as net een saad gebruik word?

    'n Voorstel is om die leerders verskillende opsies te gee vir materiale vir die ontkieming van sade, bv. watte, koerantpapier of grond. Wat hulle ookal gebruik, dit moet dieselfde wees in die eksperiment en in die kontroleplante. Dit maak nie saak as verskillende groepe verskillende dinge doen nie. Dit moet eintlik aangemoedig word.

    Leerders moet dink daaraan hoe hulle die resultate gaan neerskryf voordat hulle met die eksperiment begin. As hulle net wil kyk of sade ontkiem of nie, kan hulle 'n tabel trek. As hulle die verskil in lengte van plante gaan meet, moet hulle 'n tabel daarvoor ontwerp en dan 'n grafiek van die data in die tabel trek. As hulle wil meet hoeveel plante groei, is dit makliker om eers die lengte met 'n toutjie te meet en dan die toutjie met 'n lineaal te meet.









    MATERIALE EN APPARAAT

    Maak 'n lys van die materiale en apparaat wat jy in die ondersoek gaan gebruik.







    Leerder-afhanklike antwoord

    RESULTATE EN WAARNEMINGS

    Gebruik hierdie spasie om die resultate van jou ondersoek neer te skryf. As jy wil waarneem of sade ontkiem of nie, moet jy 'n tabel daarvoor trek. As jy meet hoeveel die plantjies groei, het jy ook 'n tabel daarvoor nodig.











    Leerder-afhanklike antwoord. (Hieronder is voorbeelde van sommige soorte tabelle wat geteken kan word. Hulle mag hulp hiermee nodig hê en u kan dit op die bord teken. Leerders kan ook die resultate van mekaar se ondersoeke neerskryf).

    Tabel om te wys of plante ontkiem of nie.

    Vereiste wat getoets word

    Het die eksperimentele plant ontkiem?

    Het die kontrole-plant ontkiem?

    Lig

    Sommige het.

    Ja

    Water

    Nee

    Ja

    Geskikte temperatuur

    Nee

    Ja

    Indien die leerders 'n paar sade in elke eksperimentele groep / toestand gehad het, sal hulle dalk hulle resultate wil uitdruk as 'n getal of as 'n persentasie van die sade wat ontkiem het.

    Tabel om die groei van saailinge in lig- en in donker toestande oor tyd aan te dui.

    Dag

    Gemiddelde hoogte van saailinge en die donker (mm)

    Gemiddelde hoogte van saailinge in die lig(mm)

    0

    0

    0

    1

    0

    2

    2

    0

    5

    3

    1

    10

    4

    2

    15

    5

    3

    22

    6

    3

    30

    ANALISE

    Nadat ons resultate versamel het in die wetenskaplike ondersoek, moet die data geanaliseer word. Dit behels dikwels die trek van 'n grafiek. As jy die groei van sade oor tyd gemeet het, kan jy 'n lyngrafiek hiervan trek. As jy die aantal sade getel het wat ontkiem, kan jy dit in 'n kolomgrafiek aandui (op voorwaarde dat jy dieselfde hoeveelheid sade in elke groep gebruik het), of jy kan die persentasie sade wat onkiem het in 'n sirkelgrafiek wys. Jou onderwyser sal jou hiermee help.







    Leerder-afhanklike antwoord. 'n Voorbeeld van die lyngrafiek wat geteken kan word deur die inliging in die tweede tabel hierbo te gebruik. Tyd (onafhanklike veranderlike)word gewys op die x-as. Die hoogte van die plante is die afhanklike veranderlike en word op die y-as aangedui. Beide die eksperiment- en die kontroleplante se data kan dan op dieselfde grafiek geplot word om die groei tussen die twee groepe te vergelyk. Maak seker dat die intervalle ewe groot is op beide asse. Op beide asse moet die interval tussen twee punte 'n toename van dieselfde hoeveelheid aandui! (Bv. 0, 5, 10, 15, 20, 25, ens.) Die intervalle op die x-as en die y-as kan natuurlik van mekaar verskil om by die data te pas. Jy kan byvoorbeeld 'n interval van 1 op die x-as gebruik vir die aantal dae, maar 'n interval van 5mm op die y-as om die verandering in hoogte voor te stel.

    GEVOLGTREKKING

    Nadat jou resultate versamel is en 'n grafiek geteken is van hierdie resultate, gaan jy dit nou gebruik om tot 'n gevolgtrekking te kom oor die vereistes vir die volhoubaarheid van lewe vir plante. Die volgende vrae sal jou lei om tot 'n gevolgtrekking te kom.

    Ek het uitgevind...



    Leerder-afhanklike antwoord.

    Ek weet dit omdat...



    Leerder-afhanklike antwoord.

    Die ondersoek is billik omdat...



    Leerder-afhanklike antwoord.

    Ek kan hierdie resultate vertrou omdat...



    Leerder-afhanklike antwoord.

    Terwyl ek die eksperiment uitgevoer (gedoen) het, het ek ook uitgevind dat...



    Leerder-afhanklike antwoord.

    As ek die ondersoek weer sou doen, sal ek die eksperiment verbeter deur...



    Leerder-afhanklike antwoord.

    Wat het jy geleer deur hierdie wetenskaplike ondersoek?

    Skryf 3 tot 5 sinne neer waar jy verduidelik wat jy geleer het met die uitvoering van die eksperiment deur die wetenskaplike metode te volg.




Kyk hoe groei boontjieplante:

Elke organisme kan oorleef en bly voortleef in sy omgewing, omdat dit die eienskappe bekom het om spesifieke dinge op 'n spesifieke manier te kan doen in sy omgewing. Ons sê dat hulle aangepas het om in 'n spesifieke omgewing te oorleef.

Om te leer oor aanpassings is die voorloper vir die verstaan van die konsep van natuurlike seleksie en evolusie waaroor ons later in die kwartaal leer. Maak seker dat leerders verstaan dat 'n organisme nie uit eie wil hulle liggame kan verander, of self leer om te oorleef in 'n spesifieke omgewing, in 'n enkele generasie (leeftyd) nie. Hierdie aanpassings vind plaas oor verskeie generasies as gevolg van natuurlike seleksie waar organismes wat beter aangepas is in 'n omgewing, 'n beter kans het om te floreer en baie nakomelinge te hê. Die nakomelinge sal die ouers se gene hê en sal hierdie eienskappe (aanpassings) wat hulle ouers help oorleef het, van hulle ouers erf. Onderwysers hoef nie reeds detail hieroor vir leerders te leer nie, maar moet seker maak dat leerders nie onder die indruk is dat enige organisme kan "besluit" om 'n aanpassing te maak nie.

Aanpassings vir lewe

Dink jy dat 'n ysbeer in die Kalahari en 'n gemsbok in Antarktika sal kan oorleef? Hoekom of hoekom nie?

Bespreek hierdie met die leerders. 'n Ysbeer sal oorverhit in die Kalahari woestyn en 'n gemsbok sal verkluim in Antarktika.

Hierdie diere is baie spesifiek aangepas om in hulle omgewing te oorleef. Alle organismes is aangepas by hulle omgewings. In die volgende aktiwiteit gaan ons meer voorbeelde van hoe organismes by hulle omgewing angepas is ondersoek.

Aanpassings van organismes.

INSTRUKSIES:

  1. Bestudeer die onderstaande foto's van verskillende organismes in verskillende omgewings.
  2. Beantwoord die vrae.
  3. Dit mag nodig wees om bietjie ekstra navorsing in boeke of op die internet te doen om jou vrae te antwoord.

VRAE:

Kyk na die foto's van 'n pikkewyn in die water en 'n arend wat in die lug vlieg. Hulle is albei voëls, maar leef in heeltemal verskillende omgewings. Wat maak die pikkewyn beter aangepas vir water en die arend beter aangepas vir vlug?

http://www.flickr.com/photos/kankan/19828575/
'n Pikkewyn in die water. http://www.flickr.com/photos/kankan/19828575/
http://www.flickr.com/photos/kkoshy/8576660148/
'n Visarend besig om 'n vis te vang. http://www.flickr.com/photos/kkoshy/8576660148/

Hoe, dink jy, is die pikkewyn aangepas om in water te swem? Wenk: Waarvoor gebruik hy sy vlerke? Het hy klein of groot vere? Hoe, dink jy, help dit hom?



Die pikkewyn is aangepas om in water te swem. Hy gebruik sy vlerke as swempote om mee te swem. Sy vere is klein en baie fyn, wat help om hom waterdig te maak.

Daar is nog 'n paar aanpassings wat ons kan bespreek: Pikkewyne kan hulle asem lank ophou en baie diep duik om kos te vang. Die feit dat pikkewyne wit en swart is help hulle om in die water gekamoefleer te wees om vir predators weg te kruip. (Hulle lyk donker van bo af soos die water en lig soos die lug van onder af). Pikkewyne het selfs aangepas om sout seewater te drink.

Hoe, dink jy, is die arend aangepas om te vlieg en sy prooi te vang? Wenk: Kyk na sy vere en vlerke.



Visarende het baie lang vlerke en lang vere om hulle te help vlieg en hulle te help om deur die lug te sweef en dan hulle prooi van bo af te gryp.

Daar is nog 'n paar aanpassings wat ons kan bespreek: Hulle het lang kloue waarmee hulle hulle prooi kan gryp. Hulle het ook groot stertvere wat hulle kan uitsprei om hulle te help om hulle spoed te beheer wanneer hulle vlieg.

Daar is twee baie vernuftige predatore wat in Suid-Afrika voorkom: die witdoodhaai en die leeu. Beide hierdie diere is baie vaardig om hulle prooi te vang, maar in omgewings wat baie verskillend van mekaar is.

http://commons.wikimedia.org/wiki/File:Great\_white\_shark\_south\_africa.jpg
'n Witdoodhaai by Gansbaai, Weskaap. http://commons.wikimedia.org/wiki/File:Great_white_shark_south_africa.jpg
http://www.flickr.com/photos/diamondglacieradventures/5737115639/
'n Leeuwyfie wat 'n buffel aanval in die Nasionale Krugerwildtuin. http://www.flickr.com/photos/diamondglacieradventures/5737115639/

Watter eienskappe het die haai wat hom geskik maak om in die see te woon en prooi te vang? Wenk: Kyk na sy vaartbelynde liggaamsvorm en skerp tande.



Die witdoodhaai is aangepas om baie vinnig deur die water te beweeg omdat sy liggaamsvorm so vaartbelyn is. Hy het ook vinne en 'n stert om mee te swem. Hy het skerp tande waarmee hy sy prooi byt.

Watter eienskappe het die leeu wat hom geskik maak om in die savanna te woon en sy prooi te vang? Wenk: Kyk na die kleur van sy pels en die gras, asook sy sterk bene.



Die leeu is ligbruin van kleur sodat hy gekamoefleer is om in die savanna / bos sy prooi te bekruip. Hy het vier sterk bene met sterk kloue om sy prooi mee te jaag en te vang.

Ons het nou gekyk hoe 'n paar diere op Aarde aangepas is by hulle omgewings. Daar is nog baie meer organismes met baie unieke en interessante aanpassings. In die volgende hoofstuk gaan ons meer leer oor die verskeidenheid van plante en diere op Aarde.

Het jy opgelet na die BESOEK boksies met skakels in die kantlyne? Jy kan net hierdie hele skakel in die adresbalkie van jou internet se soekenjin intik, op jou rekenaar, tablet of selfoon en dan druk jy enter, soos hieronder:

Dit sal jou lei na ons webtuiste waar jy na die video kan kyk of jy kan sommer net aanlyn na ons webtuiste kyk. Wees nuuskierig en ontdek nog meer op ons webtuiste!

Opsomming

  • Lewe op planeet Aarde bestaan in die biosfeer.
  • Die biosfeer bestaan uit die litosfeer, hidrosfeer en die atmosfeer asook vele lewende organismes en dooie organiese materiaal.
  • Daar bestaan baie verskillende lewende organismes in die biosfeer.
  • Dinge kan as lewend geklassifiseer word as hulle aan die sewe eienskappe van lewe voldoen:
    • Beweging
    • Voortplanting
    • Sensitiwiteit - Waarneming van die omgewing
    • Groei
    • Respirasie
    • Ekskresie (Uitskeiding)
    • Voeding
  • Lewende dinge het energie, gasse, water, grond en geskikte temperature nodig om te oorleef.
  • Lewende dinge is geskik of aangepas vir die omgewing waarin hulle leef.

Konsepkaart

Gedurende die jaar gaan ons die vaardigheid ontwikkel om konsepkaarte te ontwerp in Natuurwetenskappe. Die "Sleutelkonsepte" wat hierbo gelys is, is 'n opsomming in vol sinne. 'n Konsepkaart is 'n ander manier om inligting (idees en konsepte) op 'n meer visuele manier te verskaf. Die voordeel van 'n konsepkaart is dat dit die verwantskappe tussen verskillende konsepte wys. Dikwels het die konsepkaart 'n "fokusvraag" waarvan die ander konsepte uitstraal - in hierdie boek is die fokusvraag die hoofonderwerp van elke hoofstuk. Die verwantskappe tussen verskillende konsepte word gewys deur pyle met skakelfrases, soos "lei na", "sluit in", "kan ook wees", "word gebruik vir", "hang af van", "is afhanklik van", ens.

Soos die jaar vorder, sal leerders al hoe meer dele van die konsepkaarte self moet invul en sal dan hopelik hulle eie kan teken teen die einde van die jaar. Hierdie onderwysersgids bevat die volledige weergawe van elke konsepkaart. Moedig u leerders aan om die konsepkaarte te leer en dit te verstaan aan die einde van elke hoofstuk voordat hulle die hersieningsvrae doen. Help die leerders om die konsepkaarte te verstaan en te "lees" deur vir hulle te help om sinne saam te stel. In hierdie geval kan hulle byvoorbeeld lees: "Die biosfeer bestaan uit dooie organiese materiaal en lewende dinge. Lewende dinge kan plante, diere of mikroörganismes wees. Lewende dinge is aangepas by hulle omgewing en kan die volgende sewe prosesse uitvoer: Hierdie is....."

Leerders moet leer hoe om te leer! Hierdie is 'n vaardigheid wat hulle later in hulle skoolloopbaan baie sal help omdat hulle baie meer inligting sal moet inneem en baasraak. Konsepkaarte is een hulpmiddel wat gebruik kan word om inligting op te som en om te verstaan hoe verskillende konsepte aan mekaar verbind is. Ware kennis en begrip kom net wanneer jy met 'n begrip geworstel het en nie net die feite gememoriseer het nie.

"Knowledge is real knowledge only when it is acquired by the efforts of your intellect, not by memory." - Henry David Thoreau

Weet jy nou wat 'n konsepkaart is? Ons gaan deur die loop van hierdie jaar in Natuurwetenskappe meer leer oor hoe om ons eie konsepkaarte te maak.

Hierbo is die "Sleutelkonsepte" vir hierdie hoofstuk. Dit is 'n geskrewe opsomming en die inligting van hierdie hoofstuk is deur die gebruik van woorde opgesom. Ons kan ook 'n konsepkaart van hierdie hoofstuk maak van hoe konsepte (idees en onderwerpe) in hierdie hoofstuk inmekaar pas en en hoe dit aan mekaar verwant is. 'n Konsepkaart gee ons 'n meer visuele manier om inligting op te som.

Verskillende mense verkies om op verskillende maniere te leer; sommige mense hou daarvan om geskrewe opsommings te maak, terwyl ander weer daarvan hou om konsepkaarte te maak wanneer hulle leer en studeer. Hierdie is nuttige vaardighede om te hê, veral later in die hoërskool en na skool.

Kyk bietjie na die onderstaande konsepkaart vir "Die Biosfeer". Voltooi die konsepkaart deur die sewe prosesse van lewe in die oop spasies in te vul:

Onderwysersweergawe

Hersieningsvrae

Verduidelik wat die biosfeer is. [2 punte]



Die biosfeer is waar lewe op aarde bestaan. Dit sluit die atmosfeer, litosfeer en die hidrosfeer in.

Gee 'n voorbeeld van iets wat in elk van die volgende aangetref word: [3 punte]
  1. Litosfeer:

Rotse of sand

Hidrosfeer:


Water, bv. oseane en die see, mere, riviere

Atmosfeer:


Gasse, bv. koolstofdioksied, stikstof, suurstof

Bespreek hoekom die atmosfeer belangrik vir lewe op Aarde is. [2 punte]




Die atmosfeer is die lae van gasse rondom die aarde. Die atmosfeer bevat belangrike gasse wat onontbeerlik vir lewe op aarde is, naamlik suurstof vir respirasie en koolstofdioksied vir fotosintese in plante. Die lae van die atmosfeer is 'n filter vir skadelike sonstrale, en hou die warmte-energie van die sonstrale vas in die atmosfeer, om die geskikte temperatuur vir lewe op aarde te behou. Weersveranderinge vind plaas in die laer dele van die atmosfeer waar reën, sneeu, hael in die watersiklus sorg dat die plante op land water kan kry.

  1. Verbeel jou dat 'n buiteruimtelike wese op 'n meteoriet ('n vallende rots uit die ruimte) op die aarde aankom. Jy moet probeer uitvind of dit op dieselfde manier lewe as wat ons lewe verstaan. Stel sewe vrae op om vas te stel of hierdie organisme lewe en of ons dit as lewend kan klassifiseer. [7 punte]






Wat is die vereistes vir die voortbestaan van lewe op aarde? [5 punte]



Organismes het energie, gasse, water, grond en geskikte temperature nodig.

  1. Kyk na die volgende foto's van organismes in hulle omgewings. Beantwoord die vrae oor hoe hulle aangepas is.

Kameelperd

Hoe is 'n kameelperd aangepas om sy kos te eet. Wenk: Hulle eet die blare van bome. [1 punt]


Kameelperde het lang nekke sodat hulle die blare aan die boomtoppe kan bykom.

Nog 'n aanpassing van kameelperde wat u kan noem, is dat hulle baie growwe tonge het, sodat hulle nie seerkry as hulle blare van takke aftrek wat vol dorings is nie.

'n Kaktus

Hierdie kaktus is aangepas om in warm, droë omgewings te oorleef. Hoe, dink jy, stoor dit water vir lang tydperke? Wenk: soek sy blare.[1 punt]


Die kaktus het dik vleesagtige stingels waarin water gestoor kan word as daar nie water beskikbaar is nie. Die blare het verander tot dorings.

Hoe, dink jy, het die kaktus aangepas om te voorkom dat ander diere dit eet? Wenk: Wat is op die stingels? [1 punt]


Die kaktus het lang, skerp dorings om te voorkom dat diere dit eet.

Nog 'n aanpassing wat jy kan bespreek: Die stingels het 'n dik waslaag wat waterverlies voorkom.

'n Stokinsek.

Kan jy die stokinsek op die foto sien? Hoe, dink jy, is dit aangepas om veral vir predatore weg te kruip? [1 punt]


Hierdie insek is baie goed gekamoefleer en lyk net soos die stokke rondom hom. Dit beskerm hom teen predatore wat hom wil eet.

Dink terug aan die wetenskaplike ondersoek wat jy in hierdie afdeling gedoen het. Evalueer hoe goed jy dink jy die wetenskaplike metode gevolg het, sodat jou eksperiment billik is of nie. [2 punte]



Leerder-afhanklike antwoord

Totaal [25 punte]